Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Doopdiens: Henno vd Merwe – 13 September 2020
Ewige Verbond. Skriflesing: Handelinge 2: 38-39
Alle doopbeskouings wat alle kerke voorstaan, is eintlik gebaseer op afleidings wat gemaak word op grond van Bybelse gegewens. Die Skrif is nie ‘n dogmatiekhandboek wat ‘n hoofstuk bevat oor WIE in ‘n gemeentekonteks gedoop moet word en HOE daar gedoop moet word nie.

Nee, wat almal doen, is om na Bybelgegewens te kyk en dan vandaaruit bepaalde afleidings te maak.

Die Bybel sê byvoorbeeld glad nie wíé gedoop moet word binne ‘n gemeentekonteks nie. Jy kan nie die praktyk wat binne ‘n sendingkonteks gevolg word, net so van toepassing maak op ‘n gemeentekonteks nie.

Dink net aan die volgende twee scenarios:

NOMMER 1: Evangelisasiewerk word op ‘n sekere plek gedoen en die Evangelie word aan buite-kerklikes verkondig. En die Heilige Gees bring ‘n klompie mense tot redding in Christus Jesus. Wat word dan gedoen? Hulle word onderrig en gedoop. En hulle vorm ‘n nuwe gemeente. Hulle was nog nooit voorheen gedoop nie. Hulle was buite-kerklik of heidene of behorende tot ‘n ander godsdiens. Hulle word dus vir die eerste keer gedoop wanneer hulle Christus as Saligmaker bely.

NOMMER 2: Noudat hulle ‘n gemeente gevorm het en daar nog en nog nuwe gelowiges toegevoeg word, kry ons ‘n gevestigde gemeente. Die sigbare kerk. God se verbondsgemeenskap. En kinders word weldra binne hierdie gemeente gebore. Onmiddelik nou die vraag: Hoe gemaak met daardie kindertjies van gelowiges? Hoe moet hulle hanteer word? Moet hulle gedoop word? Hoe moet hulle gesien word? As aanhangsels tot die gemeente omdat hulle nog nie kan bekeer nie? Is hulle makgemaakte heidene? Moet daar net vir hulle gebid word? En waar is die opdrag in die Skrif om vir hulle te bid? Uit wie word Christus se gemeente gekonstitueer? Bestaan die gemeente uit mense wat ‘n getuienis van verlossing het en is hulle kindertjies sekondêre aanhangsels OF bestaan die gemeente voluit uit gelowiges-en-hulle-kinders en is die kinders deel van die gemeente?

Die voorbeelde van doop in die NT het betrekking op scenario nr 1, maar daar is geen voorbeelde van scenario nr 2 nie.

Daar is in die Nuwe Testament geen voorbeelde van iemand wat binne gemeentekonteks gedoop word nie. Die doopvoorbeelde in Handelinge vind plaas in ‘n kerkplantingsituasie – wat verskil van ‘n gemeentekonteks. Om dáárdie voorbeelde te neem as praktiese model vir ‘n gemeente, is ‘n afleiding wat sommige kerkgroepe maak.

Nêrens word daar in die NT pertinent gesê wat met gelowiges se kindertjies moet gebeur nie. Niks word eksplisiet gesê oor die posisie van kinders binne die gemeente nie – wat hulle is en waar hulle inpas nie.

Om te weet waar kindertjies van gelowiges inpas, moet ons na alle Bybelse gegewens kyk – beginnende aan die begin van die OT – en daaruit ‘n konklusie maak. Ons kan nie ‘n klompie NT voorbeelde van die doop van gelowiges binne ‘n kerkplantingsituasie neem en (byvoorbeeld) daaruit konkludeer dat die kinders binne ‘n gemeentekonteks gebore, uitgesluit is van God se verbond nie – en dit nadat hulle vir duisende jare van OT heilsgeskiedenis juis INGESLUIT was!

Die doop is uit en uit ‘n sigbare teken van inlywing in Christus se sigbare kerk – die sigbare gemeentekonteks waar God se verbondsgemeenskap met Sy mense elke dag afspeel. Dis ook ‘n teken van apartgesit / opsygesit te wees vir die Drie-enige God.

Ons gebruik in ons algemene idioom nog steeds die begrip DOOP wanneer ons praat van groentjies wat by ‘n skool of ‘n koshuis ingelyf word. Die nuwelinge by ‘n koshuis word deur die seniors GEDOOP, sê ons. Bedoelende – hulle word by die koshuislewe ingelyf.

Die vraag is of – volgens die Skrif – die kerk/gemeente/verbondskonteks uit individuele gelowiges bestaan of uit gelowiges-en-hulle-kinders? Wat konstitueer die gemeente van Christus? Is die kinders van gelowiges 100% deel van die gemeente (soos in die OT tyd) of moet hulle as semi-heidene/buitestaanders gesien word? Moet hulle gedoop word of moet daar net vir hulle gebid word (inseën). Waar in die Bybel vind ons die eksplisiete opdrag of voorbeeld van so ‘n inseëning binne gemeentekonteks? Antwoord: Daar is nie so iets nie. Dit word wel in sommige kerke en groepe gepraktiseer, maar dis op ‘n afleiding gebaseer sonder enige opdrag van God af.

In die OT-tyd was die kindertjies van gelowiges vir duisende jare volkome deel van die verbondsgemeenskap en daarom was hulle – as teken van daardie inlywing & opsygesit wees – besny.

‘n Mens sou logies dink dat – indien dit nou skielik sou verander in die NT-tyd – dit ‘n reuse kabaal sou veroorsaak waaroor die Apostels nie genoeg sou kon skryf nie. En tog gebeur dit nie. Tewens, die hele NT getuig daarvan dat God se werksmetode nie verander het nie. Hy sluit nog steeds gesinne by Sy gemeente in.

Die rede waarom ons – binne die gereformeerde geloofstradisie – glo dat die kindertjies van gelowiges wél gedoop moet word, is die volgende:

In die Ou Testament het God ‘n belofte aan gelowiges en hulle kinders toegesê en hulle sodoende by Sy verbond ingelyf en ‘n teken (besnydenis) daarvan moes aan gelowiges en hulle kinders (vroulikes was by manlikes ingereken en daarom was die besnydenis vir seuntjies genoegsaam) gegee word.

In die Nuwe Testament het God presies dieselfde belofte aan gelowiges en hulle kinders herhaal en daarom moet die teken daarvan (doop) aan gelowiges en hulle kinders gegee word.

Ná Pinkster was die besnydenis gewoon nie meer nodig nie, want wie gedoop is, besit alreeds die inhoud van wat die besnydenis beteken het (Kolos 2:11-12).

In Handelinge 2 – waar die NT-kerk sy begin het – en die eerste bekerings (binne ‘n kerkplantingskonteks) plaasvind – vind ook die heel eerste openbare bediening van die doop plaas. Nou beveel die Apostel Petrus die mense om met water gedoop te word en as basis vir hierdie doopopdrag gebruik hy presies dieselfde formule wat God in Genesis 17 gebruik het toe Hy die besnydenis ingestel het (die Jode sou dit dus goed verstaan het):

“Want (die rede vir die doop) die belofte van die Gees is vir julle en vir julle kinders en (later) vir almal wat nog daar ver is en wie die Here na Hom toe sal roep..”

Die doop moet dus ontvang word OMDAT die Vader se belofte vir hulle en hulle kinders is.

Dis ‘n presiese spieëlbeeld van wat in Genesis 12 & 17 gebeur waar die Abrahamverbond begin en God Sy belofte aan Abraham en sy nageslag gee met die opdrag dat hulle besny moet word. En dit is opvallend hoe Petrus in Handelinge 2 die woorde gebruik wat God in Genesis 17 tot Abraham gerig het: “Ek rig my verbond op tussen my en jou en jou nageslag na jou”.

Die interessante is egter dat die belofte van die Heilige Gees – wat volgens Petrus aan die Nuwe Verbond gelowiges en hulle kinders toekom – inhoudelik presies dieselfde belofte is as wat God aan Abraham gegee het.
Hoe weet ons dis dieselfde belofte? Kyk nou hierna:

Aan die einde van Lukas en begin van Handelinge (wat eintlik een geskrif is) word telkens van die sogenaamde “belofte van die Vader” gepraat. Sien Luk 24:49 en Hand 1:4. En weer 2:39.

Vraag is: WAAR het die Vader die belofte van die Heilige Gees gegee? Antwoord: In Genesis 12 en 17 toe Hy Sy belofte aan Abraham en sy nageslag gegee het! En dit staan klinkklaar in Galasiërs 3:14 > “In Christus kom die seën van Abraham na die nie-Jode sodat ons die beloofde Gees deur die geloof mag ontvang.”

Die beloofde Gees is die seën wat deur die Vader aan Abraham beloof is. En presies daardie belofte kom in die Nuwe Verbond aan gelowiges en hulle kinders toe. Die Nuwe Verbond is dus die Abrahamverbond in sy vervulde gestalte. Dit vorm ‘n naatlose eenheid dwarsdeur die heilsgeskiedenis en kinders van gelowiges is al die pad ingesluit. Hulle word nie ná Pinkster skielik uitgesluit nie.

Gelowiges en hulle kinders is steeds deel van die verbondsfamilie van God wat tot sigbare uitdrukking kom in die sigbare plaaslike gemeente. Kinders van gelowiges word dus nie as semi-heidene of buitestanders hanteer nie, maar as verbondskinders. En interessant genoeg: ALLE ware Christus-gelowiges (van alle kerke) hanteer spontaan hulle kinders as verbondskinders – OOK Christene wat die kinderdoop verwerp! Instinktief WEET alle ware Christene tereg dat hulle kindertjies ingelyf is by die gemeente. En volgens die Skrif is die doop die teken van hulle opname in die publieke lewe van die gemeente. Daardie kindertjies word nie gereken onder ongeredde mense se kinders nie. 1 Kor 7:14 sê eksplisiet dat gelowiges se kinders (selfs waar nét die man of vrou Christus-gelowiges is) HEILIG is – bedoelende opsygesit vir die Here.

Die doop is ook die teken en versekering van die reggestel-wees-met-God-in-Christus-se-bloed wat slegs deur geloofsvertroue en bekering verkry word (nes die besnydenis was > Rom 4:11 > en die besnydenis – wat dus ‘n geestelike teken was – is aan 8 dae oue kindertjies bedien – kindertjies wat nog nie kon bekeer nie).

Die doop is NIE die teken van gelóóf nie, maar van die INHOUD wat deur geloof ontvang word!! Die doop opsigself red nie. Dit vertel van (wys heen na) die kruisredding. Die doop was nie sonde af nie. Dit wys heen na die bloed van Christus wat reinig. Dit is die waarborg aan die gedoopte van: “Deur op Christus te vertrou SAL jy reggestelwees-met-God besit. Jy SAL. Dis God se belofte. Swart op Wit”. En daardie waarborg bly lewenslank van krag.

Die gedoopte moet dus begelei word tot persoonlike bekering en vertroue op Christus vir saligheid. Presies soos in die OT tyd, waar diegene wat liggaamlik besny was, ook in die hart besny moes word. Dis die doel/oogmerk waarom hulle van kleins af deelgehad het aan God se belofte en deel het aan die gemeentekonteks en deel het aan die verbondsgemeenskap. Dis die doel waarom hulle besny was. Om die Here werklik te leer ken! Om hulle hoop ten volle op God se belofte van die komende Verlosser, Messias, te vestig en sodoende reggestel-wees-met-God te besit. En vir diegene wat die Here se verbond in Sy gesig teruggegooi het (soos ‘n groot persentasie gedoen het) – in hulle geval het hulle besnydenis TEEN hulle getel en hulle oordeel verswaar.

‘n Kindjie van verloste Christus-gelowiges IS van God se kant af reeds (sonder die doop en moet juis daarom gedoop word!)
1 – Ingelyf by die sigbare kerk en dus ingelyf by God se verbondsfamilie en is daarom nie ‘n aanhangsel by die gemeente of ‘n heiden en buitestander nie
2 – afgesonder en apartgesit van ander wat buite is
3 – ingesluit by God se belofte van verlossing en seën in Christus Jesus (die belofte van die Gees)
4 – die voorwerp gemaak van God se besondere seën
5 – die ontvanger gemaak van God se belofte dat hy/sy volkome reggestel-wees-met-God deur geloof sal ontvang

Dit is wat die Here God bedoel wanneer Hy in Eseg 16 en 23 sê dat gelowige ouers kindertjies VIR HOM in die wêreld bring. Hy sê daar dat sulke kindertjies SYNE is. Dit beteken dat hulle apartgesit is vir die Here. Hulle is onder Sy belofte. En die doel/oogmerk daarmee is dat hulle Hom sal leer ken as hulle Here en Verlosser en met Hom in ‘n ware lewende verhouding sal begin leef as geredde en verloste mense. Dit is klinkklaar die leer van die hele OT. Dis die inhoud van die Abrahamverbond. En omdat die Nuwe Verbond die vervulde Abrahamverbond is, is dit ook die plek en posisie van die kindertjies van Nuwe Verbondsmense!

‘n Mens kan jouself nie indink onder watter oordeel iemand sal kom wat van geboorte af deur die Here binne HIERDIE TIPE van verbondsgemeenskap ingelyf was, wat in al hierdie voorregte gedeel het en dan NIE met die Here begin leef nie. NIE tot redding kom nie. NIE die vrugte van bekering voortbring nie. En met die daad (of in die gesindheid van die hart) uitbreek uit die verbondsgemeenskap uit.

Mens kan steeds aan die Here se kerk behoort en so ‘n onverloste wees wat in werklikheid uitgebreek & weggebreek het. Só ‘n mens se doop sal uiteindelik TEEN hom/haar tel op die Groot Dag. Soos die besnydenis TEEN diegene van die OT-kerk wat hul rug op die verbondsgemeenskap gedraai het, getel het. Jy wil nie graag ooit jouself in so ‘n posisie voor God bevind nie.

Gelukkig is daar nog hoop, want die inhoud en betekenis van jou doop word nie tot niet gemaak deur jou verset teen die Here nie. Wanneer God eenmaal aan ‘n mens Sy gawes gegee het, trek Hy dit nooit weer terug nie (Rom 11:25). Daar is dus nog ‘n geleentheid vir bekering. Gryp die inhoud van jou doop met albei hande aan en draai weg van jou eiegeregtigheid en werp jouself op Christus soos ‘n mens op ‘n valskerm sal vertrou wanneer jou vliegtuig neerstort. En Hý wat by jou doop eerste na jou toe uitgereik het toe jy nog nie eens pappa of mamma kon sê nie, sal jou nie uitwerp nie (Joh 6:37).

Ten slotte: WAAR sien ‘n mens watter posisie die kindertjies van gelowiges binne die kerk/gemeente/verbondsgemeenskap beklee soos God dit van Sy kant af sien?

Ons sien dit in die OT waar die profete vorentoe kyk na die Messiaanse tyd wat kom – wat niks anders is as die tyd van die kerk van Christus nie. Jesus is die Messias en ná Sy koms en uitstorting van die Heilige Gees het die tyd aangebreek waarin ons nog steeds vandag is – die tyd wat die OT profete in die verte gesien het. En opvallend hoe hulle praat oor die kinders se plek in die Nuwe Verbond.

Wonderlike dinge word gesê, byvoorbeeld dat die Here die lammers (kinderskape!) in Sy arms dra en ook op Sy bors (Jes 40:11) en dat God Sy Gees ook op die gelowiges se kinders sal uitstort en Sy seëninge op hulle nageslag. Hierdie kinders sal groei en later self bely: “Ek is die Here s’n” (Jes 44:3-5) (Let op: Die Here stort EERS Sy Gees en seën uit, dan word die kind groot en dan kom die belydenis van sekerheid van saligheid!).

Die Here verklaar verder dat Sy verbond behels dat Sy Gees wat op Sy mense is en Sy Woord wat in hulle mond is, nie uit die mond van hulle kinders en die kinders se kinders sal wyk nie (Jes 59:21). Die hele oogmerk waarom die Here die huwelik tussen gelowiges gee is juis sodat vandaaruit ‘n Godvresende nageslag kan voortkom (Mal 2:15). Die Here wil die kinders van Sy mense sterk vestig (Psalm 102:78), want Sy geregtigheid is vir die kinders gegee (Psalm 103:17).

Die plek van die kind binne die Nuwe Verbond word so mooi uitgespel in Jeremia 32:39: “Hulle sal My mense wees en Ek sal hulle God wees..” (die bekende verbondsformule wat van Abraham af deurloop tot in Openbaring)… “En Ek sal hulle een hart gee om My te vrees ter wille van hulle eie heil en die heil van hulle kinders ná hulle. Dit sal ‘n ewige verbond wees.”

Wat die NT dus nie so duidelik sê oor die kind se plek binne die kerk nie, sê die OT – veral in gedeeltes waar daar oor die Messiaanse tyd gepraat word. Dit geld dus 100% vir ons vandag, want ons is nou in die Messiaanse tyd!

Wat beteken die doop NIE en wat beteken dit WEL?
1 > Die doop is nie ‘n naamgee-seremonie nie. Henno het sy naam gekry toe Henroux hom by Binnelandse Sake gaan registreer het. Henno se naam word wel by die doop aan God-drieënig se Naam gekoppel omdat hy PERSOONLIK deur God by die verbond ingelyf is

2 > Die doop is nie die weergeboorte nie. Dit bewerk nie wedergeboorte nie. Dit is ook nie ‘n teken en waarborg dat Henno alreeds weergebore is nie.

3 > Die doop is nie ‘n belofte van God nie. Henno ontvang geen belofte die oomblik van sy doop nie. Hy is alreeds onder die belofte – en daarom moet hy gedoop word.

4 > Die doop het niks te make met die ouers se gelofte nie. Die doop kan ook bedien word sonder dat Henroux en Mieke enige gelofte aflê. Waarom hulle wél ‘n gelofte aflê, is omdat hulle die primêre persone is wat vir Henno se geestelike opvoeding verantwoordelikheid dra.

5 > Die doop vind nie plaas op grond van die ouers se geloof in Christus nie. Die doop word nie bedien op grond van enigiemand se geloof in Christus nie. Die BASIS vir die Christelike doop is ALTYD God se belofte. HY is die handelende en sprekende Persoon hier teenwoordig.

Hoe wonderlik dat die ware doop iets is wat God doen – wat Hy nooit weer terugtrek nie en wat lewenslank die vaste basis bly op grond waarvan ‘n mens vir die eerste keer jouself op Christus Jesus mag werp, maar ook so vir die res van jou lewe. Halleluja vir die WARE Evangelie!

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)