Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

Skrif: Hebreërs 1: 1-3
KERSDIENS > Tema: Die heerlikheid van die Here

Die Heilige Gees het deur die profeet Jesaja gesê: “Bring die goeie nuus. Iemand sal kom wat roep: ‘Maak vir die Here ‘n pad in die woestyn.” Ná hierdie man se koms, sê Jesaja, “sal die heerlikheid vd Here geopenbaar word.” (Jes 40:3-5).

800 jaar later was ‘n man met die naam van Johannes die Doper hierdie “stem wat roep in die woestyn” (Mat 3:1) wat beteken dat Jesus se geboorte/koms die openbaring van die heerlikheid van God (waarvan Jes 40:5 praat) was. Tewens, die hele konsep van die “heerlikheid van God” omring die geboorteverhaal. Die Skrif sê dat die engele roep: “Eer aan God in die hoogste.” En volgens Luk 2:9 het die skaapwagters só bewus geword van die heerlikheid van God dat hulle baie bang geword het.

Maar wat presies is hierdie “heerlikheid van God”?

Dit is die manier waarop God se persoon/karakter/eienskappe manifesteer na die mens se kant toe. Die heerlikheid van God is met betrekking tot God soos wat helderheid is m.b.t. die son en natheid m.b.t. water en hitte m.b.t. vuur. M.a.w. enige plek waar God Homself openbaar, sal Sy heerlikheid sigbaar word, soos byvoorbeeld in die ganse skepping. Alles wat bestaan is ‘n resultaat van Sy Persoon/natuur. Die kleinste blommetjie en skoenlapper. ‘n Boom. Die sterrehemel. Die skepping maak iets van God se heerlikheid bekend.

En tog het die Here ook van tyd tot tyd, dwarsdeur die OT, in Sy omgang met Sy mense, iets meer van Sy heerlikheid geopenbaar. Dit word genoem die sogenaamde Shekínah. ‘n Sigbare manifestasie van Sy heerlikheid. Adam het iets daarvan beleef vóór die sondeval in die tuin wanneer die Here met hom gewandel het. Jare later, wou Moses méér van die Here se heerlikheid sien as wat in die skepping sigbaar is. “Here, wýs vir my U heerlikheid” (Eks 33:18). “Indien jy dit moet sien, sal jy sterf” antwoord die Here. “Maar ek sal jou in ‘n rotsskeur wegsteek en jou toemaak sodat jy My heerlikheid net in die verbygaan sien.”

In Eksodus 16 lees ons dat, toe die Here aanvanklik die volk met die manna gevoed het, hulle ook iets van Sy Shekinah heerlikheid gesien het. By berg Sinaï, het God se heerlikheid die hele berg gevul in die vorm van ‘n gloeiende vuur (Eks 24:17). En in Eks 40 staan daar dat die heerlikheid van die Here die tabernakel gevul het. Tewens, altyd daarná was Sy heerlikheid fisies sigbaar bó die allerheiligste van die tabernakel in die vorm van ‘n wolk wat op een plek hang.

Vlgs Levitikus 9 het Sy heerlikheid ook spesiaal gemanifesteer toe die Levitiese priesters die eerste keer in diens gestel is. Die heerlikheid van die Here het ook verskyn toe die Here die aarde laat oopskuif het en die opstandige Korag, Datan en Abiram lewendig na die doderyk afgedaal het (Num 16). Uiteindelik, nadat Salomo se tempel voltooi is, het die heerlikheid van die hemel die plek só gevul dat die volk op die grond neergeval het in aanbidding (2 Kron 7).

U sien die enigste ware lewende God openbaar nie net Sy heerlikheid in die skepping nie, maar ook op spesiale maniere in die onuitspreeklike Shekínah-verskynings.

En tog was dit elke keer steeds nog ‘n onverstaanbare/onverklaarbare/ondeurgrondelike/onpeilbare misterie. Aan die eenkant was die Shekínah ‘n ware openbaring van die heerlikheid van die Here, maar aan die ander kant was die Here se heerlikheid steeds vir Sy ou volk ‘n geslote boek.

Jy kry nêrens ‘n direkte beskrywing van die Shekínah nie. Daar is slegs één plek in die hele OT waar jy wel ‘n beskrywing kry en dit is in Eseg 1 waar Esegiël al stotterende ‘n beskrywing gee van die visioen wat hy gesien het van God se heerlikheid – nadat die hemel vir hom oopgegaan het. U kan dit gerus gaan lees in Eseg 1:

Hy sien ‘n storm uit die noorde, ‘n groot wolk. Vlamme het heen en weer geflits en daar was ‘n helder skynsel om die wolk. Van binne uit, uit die vuur uit, het dit geblink soos gloeiende wit metaal. Daaruit het vier wesens te voorskyn gekom. Hulle het ‘n mensvormige voorkoms gehad, maar elkeen het vier gesigte en vier vlerke gehad.

Hulle bene was reguit en hulle voete was soos beeskloue en het geblink soos koper wat opgevryf is. Al vier wesens het gesigte en vlerke gehad. Die een se vlerke het aan die een langs hom s’n geraak. Die wesens het nie van koers verander wanneer hulle beweeg nie. Elkeen het reg vooruit beweeg. Elkeen het vier gesigte gehad. Die vorms van hulle gesigte was so: voor – dié van ‘n mens, regs – dié van ‘n leeu, links – dié van ‘n bul, en agter – dié van ‘n arend. Elke wese het dus vier gesigte gehad. Sy twee boonste vlerke was oopgesprei en het aan dié van die wesens weerskante geraak; met die twee ander vlerke het hy sy lyf bedek. Die vorm van die wesens, hulle voorkoms, was soos dié van gloeiende kole vuur; hulle was net soos die vlamme wat heen en weer tussen hulle beweeg het. Die vuur het helder geskyn en blitse het uit die vuur geskiet. Die wesens het soos weerlig heen en weer geskiet. Ook het Esegiël ‘n wiel op die grond langs elke wese gesien. Die voorkoms van die wiele en hulle afwerking was soos dié van edelstene. Hulle kon in die rigting van enige van hulle vier kante beweeg, maar hulle het nie van koers verander as hulle beweeg nie. Die wiele was groot en indrukwekkend en al vier se vellings was rondom vol oë. Wanneer die wesens beweeg het, het die wiele saam met hulle beweeg, en wanneer die wesens van die grond af opgestyg het, het die wiele ook opgestyg. Bokant die wesens se koppe was iets wat gelyk het soos ‘n uitspansel, blink en skrikwekkend soos ‘n ysberg. Die uitspansel was bokant hulle koppe oopgespan. Ek het die geruis van hulle vlerke gehoor. Wanneer hulle beweeg, was dit soos die geruis van ‘n sterk waterstroom, soos die stem van die Almagtige, soos die gedruis van ‘n menigte mense bymekaar, soos die gedreun van ‘n leërmag. Bokant die uitspansel bo hulle koppe was daar iets soos saffier met die vorm van ‘n troon, en daarop was ‘n gestalte met die voorkoms van ‘n mens, hoog daarbo. Van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan boontoe, het dit vir my gelyk na die glans van gloeiende wit metaal, na iets soos vuur met ‘n rand rondom, en van wat gelyk het na sy heupe, daarvandaan ondertoe, het dit vir my gelyk na vuur met ‘n helder glans rondom. Die glans rondom was soos dié van die reënboog in ‘n wolk na die reën.

Dis die enigste direkte beskrywing van die Shekínah verskyning van God se heerlikheid in die hele Bybel.
En wat beteken dit alles?

Antwoord: Niemand, niemand op planeet aarde weet nie. Geen Skrifverklaarder weet nie. Tewens Esegiël het self ook nie geweet nie. Hy probeer woorde vind. Hy beskryf in simboliese taal dít wat nie beskryf kan word nie. Hy probeer kommunikeer dít wat nie gekommunikeer kan word nie. Die Shekínah is ‘n geslote boek. Ja, ‘n direkte beskrywing en tog steeds ‘n geslote boek!

En tog, sê Habakuk, sal daar ‘n dag kom wanneer die aarde gevul sal word met die kennis van die heerlikheid van die Here soos water die seebodem toedek. Dan sal daar nie meer so ‘n beperking wees op die mense se kennis van die heerlikheid van die Here nie.

Dis wat Jesaja 40:5 ook beloof: “Die heerlikheid van die Here sál geopenbaar word.” ‘n Groot ontsluiting sal plaasvind. ‘n Voller openbaring. Selfs die eie Woorde van God aan Sy OT profete was nog nie hierdie volledige ontsluiting van die heerlikheid van die Here nie. Die skepping was dit nie. Die Shekínah was dit nie. Die woorde van die profete was dit nie. Daniël moes byvoorbeeld van die Here hoor dat hyself nooit die presiese inhoud van sy eie profesië sal verstaan nie. Dit bly vir sy eie oë verborge (Dan 12:8). Presies soos Petrus jare later sou sê in 1 Petr 1:10-12 naamlik dat die OT profete probeer naspeur het presies waarop hul woorde betrekking het, maar dit was nie aan hulle geopenbaar nie.

‘n Mens sou kon sê dat die skepping net ‘n fluistering was van God se heerlikheid. Dit was beperk. Die Shekinah was ook net ‘n fluistering. Die profetewoorde was al reeds ‘n hoorbare stem. God fluister deur Sy skepping. Hy fluister deur die Shekinah. Hy praat deur die profete. Maar die beperking bly steeds van krag. Die volheid kom steeds kort.

Wánneer sal die Here dan hard uitroep en nie net fluister of praat nie?

En toe gebeur dit.
Hebreërs 1:1: “In die verlede het God baiekeer en op baie maniere met ons voorvaders gepraat deur die profete. Maar nou, in hierdie laaste dae, het Hy met ons gepraat deur die Seun. Uit Hóm straal die heerlikheid van God en Hy is die ewebeeld van die wese van God. Hy is verhewe bo die engele en Sy Naam voortrefliker as hulle naam.”

In die koms van Jesus, fluister/praat God nie meer nie. Hy ROEP. En Hy roep finaal. Hy bly nie meer stil nie. Hy is nie meer onsigbaar nie. Hy openbaar nie meer Homself net gedeeltelik nie. Hy verberg nie meer Homself agter Sy skepping/Shekínah/simboliese profetewoorde nie. Hy ontsluit Homself ten volle in/deur Sy geliefde Seun, ons Here Jesus Christus. In Hóm sien/ken jy álles van die lewende God.

Soveel so dat Paulus in 2 Kor 1:20 sê dat ál God se beloftes in Jesus ja & amen is…. tot die heerlikheid van God. Alles van God se heerlikheid is ja & amen in die Here Jesus Christus. Hý is bo alles & almal. Hy is DIE SEUN. Beter as ‘n profeet. Groter as die profete. Groter as die engele. Groter as die priesters. Groter as Moses. Groter as Aäron. Hy is die Seun. Uit Hom straal die heerlikheid van God (v 3). Hy is die onuitspreeklike weerkaatsing van God. Sy lig en helderheid.

Daarom sê Johannes in Joh 1:4: “Die Woord het mens geword en tussen ons gewoon en ons het Sy heerlikheid gesien.”

Die woord “uitstraal” in Hebr 1:3 beteken om lig/hitte uit te straal. Uit Jesus van Nasaret straal God self. Hy is die presiese afdruk van God.

Sien 2 Kor 4:4, Kolos 1:15. Ook Kolos 2:9.

Jy sien nie net ‘n babatjie in Betlehem se krip lê nie. Jy sien die lewende God van hemel & aarde in ware menswees. Elke keer wanneer ons Here Jesus iemand van sonde vrygespreek het of ‘n blinde/dowe genees het of ‘n stom tong losgemaak het of gesag oor ‘n demoon geneem het of iemand se trane afgedroog het, is God se heerlikheid openbaar.

Sy heerlikheid is geopenbaar in hoe Hy man-alleen (sonder enige hulp) die reiniging van alle uitverkorenes se sondes bewerkstellig het (v 3). Man-alleen het Hy Sy mense vir ewig gered en verlos op die kruis. Hy het die werk klaargemaak. Daarom het Hy gaan SIT aan die regterhand van die Majesteit in die hoë hemel (v 3). Die OT priesters – wat die offers gebring het in die tabernakel/tempel moes heeltyd bly staan. Daar was geen stoel nie. Want hulle werk was nooit afgehandel nie. Dit was onvolmaakte offers. Maar, ons Here Jesus het gaan SIT. Want Sy verlossingswerk was volmaak en voltooid en afgehandel.

Sien u die boodskap van Kersfees?

Ek wil ten slotte u aandag fokus op 2 Kor 3:10. “Die heerlikheid van vroeër is nie te vergelyk met die heerlikheid van nóú nie.”

Die heerlikheid van God in die tyd vóór Christus (wat verbygaande was) wás inderdaad wonderlik. Maar dit is vaal in vergelyking met die heerlikheid van God soos geopenbaar in die aangesig van ons Here Jesus Christus (wat blywende is).

Eintlik kan dit glad nie vergelyk word nie. Dink hoe het Esegiël geswoeg om iets van die heerlikheid te beskryf in allerlei simboliese taal. Byna asof hy daarna gekyk het met doek oor die kop. Versluierde oë. Só het tewens ál die OT gelowiges na die heerlikheid van God gekyk – met ‘n sluier oor die kop.

Luister nou na die wonderlike vers 18: “Maar ONS weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem.”

Is dit nie wonderbaarlik nie?
Luister verder: “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here, wat die Gees is.”

Wedergebore mense is mense in ‘n proses van transformasie. Ons kyk nie meer gesluierd na die heerlikheid van die Here soos Esegiël nie. Die sluiers is af. Ons ken Christus. Hy het met ons persoonlik ontmoet. Sy Gees het kragtig in ons kom werk. En Hy doen dit nog steeds. Ons kyk na Hom. Ons leef met Hom. Hy leef met ons. En namate ons na Hom kyk en met Hom omgaan, verander Hy ons en weerkaats ons meer en meer van Sy heerlikheid. Ons word gaandeweg verander na Sy beeld deur die werking van die Heilige Gees. Ons kyk na Hom en word verander.

Ons wéét ons het verder gevorder as waar ons verlede Kersfees was. Ons beleef en ondervind die groei, die verandering in onsself. En dit vervul ons met onbeskryflike sekerheid en blydskap.

Category Advent 2020

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)