Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

BERGREDE-REEKS NO 9

WANNEER JY BID – Matteus 6: 5-15

Ek moet bieg dat ek ‘n persoonlike stryd het waarmee ek al vir meer as 30 jaar worstel: hoe kan iets wat so duidelik God se wil vir my lewe is, so intens moeilik wees? GEBED is baie duidelik die Here se wil vir my lewe. Tog is daar min goed waarmee ek so sukkel as met gebed. Dis gewoon net baie moeilik om ‘n gedissiplineerde gebedslewe te hê. Soms gaan dit goed vir ‘n tyd, maar dan kom die onvermydelike insinking weer.

Dalk ken jy ook iets van hierdie stryd. Dis ‘n worsteling om net vir 60 sekondes op gebed te konsentreer, wat nog te sê 60 minute, wat nog te sê 120 minute! Voor jy jou kom kry, is jy weer op jou selfoon besig! Dalk het jy al met groot erns probeer, maar handdoek ingegooi en gesê “ag nee wat, ek sal nooit ‘n gebedstryder vir die Here kan wees nie. As ek nie eens van 4 uur tot 4.05 kan bid nie, hoe moet ek ooit van 4-8vm bid soos baie van die gebedshelde van wie ek in boeke lees? Jammer, dis nie ek nie. Ek sal meeleef in die kerk en my Bybel bestudeer en van die Here getuig en probeer om mense na die Here te lei, maar vir gebed sien ek nie kans nie”.

Of daar kan kinders van die Here wees wat wel reeds op hierdie pad ‘n ent weg gevorder het en wat ‘n bestendige gebedslewe het, wat daagliks spesifieke tye het van Bybellees, dalk ‘n geestelike joernaal skryf en regtig tyd in gebed spandeer.

Maar, indien jy eerlik moet wees, gaan dit ook maar nie elke dag so voortreflik nie. Die meeste van die tyd voel dit maar koud en dood met baie min dinamiek. Jy bid dalk vir ‘n halfuur of uur, maar dit voel meesal soos ‘n stuk sleur. Dit verg uiterste wilskrag en deursettingsvermoë. Daar is beslis nie die hemelse plofkrag en Heilige Gees-salwing waarvan jy in boeke lees nie. En jy wonder: Is dit regtig die moeite werd? Is daar nie beter dinge om my tyd mee te verwyl nie?”

Dis so kosbaar om te sien hoe simpatiek die Here met ons moeites is. Daar is by die Heiland geen sprake van harde veroordeling nie. Tewens, in Romeine 8 lees ons dat – wanneer ons nie weet wat om te bid nie – die Heilige Gees self vir ons intree met onuitspreeklike versugtinge. Wanneer ons die diepe oortuiging & aansporing & innerlike versugting ervaar om te wil bid, kom dit ongetwyfeld van die Heilige Gees af. Dit kan nooit uit die menslike natuur kom nie. Dit is hemelgebore. En Hy wat jou roep, doen dit ook (1 Thes 5). As jy die innerlike roeping beleef en daaraan toegee, saamgaan/meegaan op die pad wat die Gees lei, sal jy ook Sy bekragtiging ondervind.

In Sy Bergpredikasie is die Here Jesus ook baie simpatiek wanneer Hy oor praktiese gebed praat. Die Fariseërs het vormlike religieuse gebedspatrone gehad, wat eintlik ‘n stuk geestelike doodsheid was. Dit is nodig dat die Here vir ons moet kom leer wat gebed regtig is. Dit is presies wat Hy hier doen.

Eers sê Hy wat gebed NIE is nie en dan wat dit WEL is.

Wat is gebed nie. Twee dinge wat ons NIE moet doen nie.

Eerstens: Nie huigel nie. Huigel beteken om ‘n masker op te sit. Soos ‘n akteur. Om iets te wees voor ander mense wat jy nie werklik is nie. Om voor te gee. Dis nie wie ek regtig is nie, maar ek sit hierdie masker op sodat mense kan dink dat ek dit is. Ek sit hierdie “gebed-masker” op wanneer ek in die omgewing kom van mense wie ek wil hê moet goed dink van my en ek haal die masker af wanneer ek by mense kom by wie ek skaam voel om ‘n ernstige volgeling van die Here Jesus Christus te wees.

Eerste ding wat gebed NIE is nie: Dit is NIE om tot ander mense te bid nie! Dis nie maskerdra nie. Dis nie voorgee nie.

Tweedens, gebed is nie babbel nie. Die ophoop van ‘n klomp leë frases. Ons moenie dink ons gebed is meer effektief net omdat ons baie woorde gebruik nie. Gebed is nie om tot JOUSELF te bid nie!

Jesus het dit egter nie in beginsel teen lank bid OF saam met ander bid nie. In Lukas 6 lees ons dat Hyself dwarsdeur die nag gebid het.

Hy het dit ook nie teen die herhaling en herhaling van sekere sake in gebed in nie. Het Hy dan nie self in Getsémane dieselfde ding drie maal na mekaar gebid nie? En dieselfde bewoording gebruik nie?

Jesus het dit ook nie teen BAIE bid en ERNSTIG bid nie. In Lukas 18 lees ons Sy gelykenis waarin Hy vertel van die vrou wat dag en nag aan die regter se deur klop. En Hy vertel dit om daardeur te sê dat ons moet bid en bid en bid sonder om handdoek in te gooi. Juis dit is ‘n uitdrukking van geloofsvertroue, sê Hy.

Wat bedoel die Here dan wanneer Hy sê dat gebed nie meer effektief is wanneer ons baie woorde gebruik nie?

Dit gaan oor wat in ons hart aangaan. Hoe ons oor God dink. Hoe ons Hom sien. Die verkeerde prentjie van Hom is wanneer ons dink Hy word besonderlik beïndruk deur ons baie woorde en korrekte uitdrukkings. Dit gaan egter nie vir Hom oor statistiek nie. Hy sit nie met ‘n stophorlosie en hou telling van hoe lank ons bid nie. “Daar’s hy, daar is sy nou by die halfuur-merk verby, nou vir die uur. As sy by ‘n uur kan uitkom, sal ek besonderse seëninge uitstort.” Die Here sit nie en tel ons gebedswoorde nie. “500, 600, 1000, 1500…”

Die Here Jesus het dit oor ons HART, ons innerlike motivering en manier hoe ons verkeerdelik oor God dink. Ons dink solank as wat ons net gebed aframmel is die saak reg. Ons moet net doen wat Hy wil hê en dikwels is dit net woorde en is ons hart glad nie daarin nie. Daarin verskil ons nie van – byvoorbeeld die Boeddiste se gebedswiele nie. Wanneer ons aframmel “Ons Vader wat in die hemel is, laat U Naam geheilig word” OF “Ek glo in God die Vader die Skepper van die hemel en die aarde..” … hoe verskil ons van die Boeddis wat hulle gebedswiele draai en hoop die gebedjies wat op die wiele geskryf staan, vlieg die ruimte in en bereik die een of ander godheid se oor!

Die vormlike sê van ‘n klomp woorde maak gebed sleg en dood. Dit word lewelose pligpleging. Dis gebed wat net lippe is en min (of geen) hart en verstand.

Die goeie nuus staan in vers 8! Ons HOEF God glad nie te beïndruk met ons woorde en formules nie! Ons hoef Hom nie in ‘n vervoering te kry met ons emosies en besieldheid nie. Want Hy WEET wat in ons aangaan en wat ons nodig het nog VOORDAT ons sover kom om te bid! Ons verras Hom nooit. Hy is ons altyd ‘n tree voor!

Nou maar waarom dan enigsins bid? Indien Sy Vader alles vooraf geweet het wat Hy gaan bid, waarom het die Here Jesus soveel tyd aan gebed spandeer? Soms NAGTE deur. Soms voordat dit lig word in die oggende (Mark 1:35). Sy Vader het ALLES van Hom geweet en tog spandeer Jesus soveel tyd aan gebed. Waarom? Waarom was Hy self so ernstig oor gebed? Waarom werk Hy daardie selfde erns in Sy kinders se harte?

Antwoord: God het dit so verordineer dat Hy ons gebed gebruik as een van die maniere waardeur Hy Sy wil laat geskied en waardeur Hy Sy koninkryk bestuur. Hy is absoluut in staat om alles te doen SONDER ons gebed. Hy het niemand se gebed nodig nie. Maar Hy het besluit Hy gaan doen wat Hy doen DEUR ons gebed. Is dit nie asemrowend nie? Hy wil respondeer op ons gebed deur meer genade uit te stort. Hy WIL dit so doen! Gebed is een van hierdie middele wat Hy op ‘n wonderbaarlike manier gebruik om Sy koninkryk te laat kom. Hy maak van ons Sy medewerkers. En so leer Hy ons om ons totale afhanklikheid te besef en ook om Sy heerlikheid te sien. Gebed is absoluut ‘n leerskool om mense hulle afhanklikheid te leer verstaan. Geboë knieë (‘n knielende figuur) is ‘n simbool van swakheid en afhanklikheid! Dit is waarom biddeloosheid sinoniem met ongeloof is. Biddeloosheid sê eintlik net een ding: “Ek is okay in myself, dankie! Dit gaan oor my, nie oor Hom nie”. Dit is wat by die sondeval gebeur het: God uit, mens in! Biddeloosheid is ‘n mosie van wantroue in God.

Ware gebed weet deur die geloof wie God regtig is. Gebed weet dat God my liefdevolle Vader is wat vol medelye en genade is. Gebed verwag graag alles van Hom. Gebed gee aan Hom eer en heerlikheid, want gebed erken ruiterlik: Alles gaan oor U!

Om alles op te som: Ware gebed is ‘n uitdrukking van ‘n ware verhouding tot die Here. Dis ‘n uitdrukking van afhanklikheid en kruisiging van die eie self. Dis die 180 grade wegdraai van wat die sonde is – naamlik self-op-die-troon. Gebed bely = Die Here is op die troon! Gebed fokus op Sy teenwoordigheid.

Die tweede helfte van ons Skrifgedeelte gaan oor die positiewe vraag wat gebed WEL is. En die antwoord wat die Here gee, is die oorbekende sogenaamde “modelgebed” of “Onse Vader” gebed.

Ons het ‘n klompie jare gelede ‘n hele preekreeks gehad oor die Onse Vader gebed en daarom sal ons nie nou weer in detail daarop ingaan nie. Ek wil dit egter opsom deur u aandag te fokus op DRIE belangrike waarhede:

As jy wil weet wat ware gebed is:

1 Hou in gedagte MET WIE jy praat. Die groot voorreg van die Christen-gelowige is om met die lewende God as VADER te mag praat. Gebed is nie net ‘n godsdienstige ritueel nie. Dit is om werklik met ‘n regtige Iemand te praat! Hy is teenwoordig. Sy Gees is nader aan my as wat my eie lewe aan my is. En Hy luister na my. En Hy is my Vader. Hy is egter nie alle mense se Vader nie. Aan almal wat vir Jesus aangeneem het, aan HULLE het Hy die reg gegee om kinders van die Vader te wees, die wat nie uit die wil van ‘n man gebore is nie, maar uit God gebore is (Joh 1:12). Slegs die mense wat werklik vir Jesus ken, ken vir God as hulle Vader. Jy word nie GEBORE in God se familie nie. Jy word WEERGEBORE in Sy familie. Jy word AANGENEEM as kind wanneer jy Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser en Saligmaker ontmoet. So ‘n mens is bevoorreg om vir God VADER te mag noem. 245 keer in die NT word na God as Vader verwys. Romeine 8:15.

Vader-begrip” kan vir sommige Christene maar ‘n moeilike saak wees. ‘n Mens is geneig om jou eie aardse vader-begrip op God te projekteer, nie waar nie? Indien ‘n mens grootgeword het in ‘n situasie waar jou pa afwesig was of jou mishandel het, kan jy daardie negatiewe vader-begrip op God projekteer en dit teruglees in die Bybel in. Terwyl ons eintlik ons vader-begrip vanuit die Bybel moet kry! In Christus is God die perfekte Vader. En diegene wat in Christus is, is Sy kosbare kinders. Hy wil dat ons met Hom omgaan en ons hart met Hom deel en ook hoor hoe Hy Sy hart met ons deel in die Skrif. Voeg daarby dat ons Vader absolute outoriteit besit – Hy is “in die hemel” – die plek van heerskappy, koningskap, gesag.

Ons bid dus a) onder gesag (in die hemel), b) in gemeenskap/fellowship (ons), c) in intimiteit (Vader).

Dis eenvoudig onmeetlik ondenkbaar groot om te dink dat die grote God in der waarheid jou en my VADER is! Die almagtige oneindige God kom op ‘n absoluut persoonlike vlak met ons leef. “My Vader is GOD…!! Wow!!!”. Geen wonder die Evangelie is GOEIE NUUS nie!

Verstaan u waarom egte gebed meer te make het met ‘n besef van wie God is as wat dit te make het met korrekte protokol. Dit is ten diepste wat die Here Jesus vir ons in hierdie paragraaf wil leer. Die Bybels-christelike gebed is totaal iets anders as die tipe gebed wat ‘n mens in ander godsdienste aantref. Bybels-christelike gebed het meer te make met TOT WIE ons bid as HOE ons bid. Dit gaan oor verhouding en nie oor ritueel nie.

Dus, as ons wil weet wat ware gebed is, hou eerstens in gedagte met WIE jy praat.

Tweedens: Hou in gedagte wat regtig saakmaak! Kyk na die eerste helfte van die Modelgebed. Wat sien jy? Sy eie eer en heerlikheid staan voorop! Sy Naam, Sy koninkryk, Sy wil. Ja, ALLES maak vir Hom saak, maar sekere sake staan voorop. “Vader ek wil eerstens sien dat U NAAM grootgemaak sal word, dat U koninkryk gestalte kry, dat mense by U wil uitkom.” Sien? Die gebed is God-gesentreerd, nie mens-gefokus nie. Sy NAAM is immers Hyself! Hom, Hom, Hom, Hom. Die Heilige Gees wat in die gelowige woon, wys altyd na Hom, Hom, Hom! Geesvervuld is om Christus-gefokus en Vader-gefokus te wees. Geesvervulde gebed klink so: “O Vader ek begeer dat die Naam van Jesus geken sal word, uitgedra sal word. Wil U nie vir Uself ‘n Naam maak in Kaapstad nie? Hier is soveel mense wat nie weet wie U is nie. Wat in onkunde sterf. Nie honderde nie, maar duisende moet tot kennis van Christus kom.”

Dus, as ons wil weet wat ware gebed is, hou eerstens in gedagte met WIE jy praat en tweedens wat regtig saakmaak!

Hou derdens in gedagte wat jy regtig nodig het. Ja, ons hét fisiese behoeftes. “Daaglikse brood”, noem Jesus dit. Brood, nie steak nie. Wat ons regtig nodig het.

Vir die meeste van ons is ons daaglikse brood ‘n vanselfsprekendheid. Dis net altyd daar. En ons vergeet soms dat dit uit en uit ‘n gawe van Bo is. VANDAG se brood, nie môre s’n nie. Ons gevalle natuur is maar altyd oor die toekoms besorg. Daarom is ons vol angstigheid en bekommernisse omdat ons die toekoms beleef nog voordat dit by ons uitgekom het! “Wat as…”

Die Here gee egter genade vir VANDAG – die duur les wat die Israeliete ook moes leer toe die Here elke dag vars manna gegee het. Hulle kon nie manna stoor vir môre nie. Môre sal sy eie vars manna ontvang.

Wat ons regtig nodig het, behels nie net fisiese behoeftes nie, maar ook verhoudingsbehoeftes en geestelike nood. Ons is sondaars en sonde bederf verhoudings. Daarom het ons vergifnis nodig. Vergifnis van God maar ook van mekaar. Net soos ons ook behoefte het om ander te vergewe en vry te spreek – NIE om God se vergifnis te verdien nie, maar om te wys dat onsself Sy vergifnis ken. Wie die Here se vergifnis ken, kan ander vergewe. Wie nie ander vergewe nie, wys daarmee dat hulle nie die Here se vergifnis ken en ondervind nie. My en jou sonde teenoor God is in elk geval miljoene keer meer en groter as die goed wat mense aan ons doen. As ons insig daarin het, kan ons ander vryspreek, soos onsself vrygespreek is.

Maar waarvoor moet ‘n Christus-gelowige enigsins vergifnis vra as hy/sy klaar op die kruis 100% vergewe is? Alle sonde, ook toekomstige, is tog op die kruis betaal en uitgewis. Waarom dan nog enigsins op sonde fokus? Moet ons nie net op die vergifnis fokus en klaarkry nie? Of hou die Here nog heimelik goed teen ons?


Die antwoord is: Nee Hy hou niks teen Sy kind nie. Nie vandag nie en ook nie môre nie. Maar Sy kind staan in ‘n dinamiese verhouding met Hom en daarom wil die kind Hom nie bedroef nie en wil Hy ook nie bedroef word nie. Soos dit in enige verhouding werk. Dink aan ‘n gesin. Geen pa sal sy kind, wat droogmaak, die huis verbied en hom/haar onterf nie! Maar die kind se droogmakery vertroebel die klimaat binne verhoudings en dit word slegs reggestel deur jammer-sê en vergifnis. Dit is die dinamika van verhoudings.

Ons het dus verhoudingsbehoeftes.

Maar ons het ook geestelike nood. Ons het ‘n vyand – satan en sy demoniese ryk. Lees Efes 6 en oortuig jouself. Ons is geneig om af te dwaal, te verkoel en vir versoekings te val. Hoe meer insig ons het in die vyand se strategië en ons eie swakhede, hoe meer sal ons hiermee erns wil maak in gebed. Dit is waarom die Here ons leer bid: “Lei ons om nie vir versoeking te val nie en verlos ons van die bose”. Om dit nie te bid nie, is om naïef te wees en nie insig te hê in die vyand se taktiek en ons eie swakheid nie. Behalwe dat ons daaglikse brood en sondevergifnis nodig het, het ons nodig om waaksaam te wees.

Altyd wanneer ons bid, kan ons hierdie drie-ledige riglyn gebruik: 1 Onthou met Wie jy praat… 2 Onthou wat regtig saakmaak….. 3 Onthou wat jy regtig nodig het.

Met hierdie 3 riglyne in gedagte, bid dan net vanuit jou hart en verstand. Praat met die Here soos wat jy met ‘n vriend praat. Vergeet mooi woorde. Praat net. En weet dat jou Vader jou liefhet en die Gees jou help.

Category Bergrede Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)