Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

BERGREDE-REEKS NO 3

Tema: Jesus en die Bybel

Skrif: Matteus 5: 17-20

‘n Ding wat jy self gebou en aanmekaargesit het, is baie spesiaal en waardevol. Veral as jy vir ure aaneen met die instruksies geworstel het en nie kop of stert kon uitmaak wat daar aangaan nie. Totdat die lig uiteindelik opgaan! Op ‘n stadium voel jy die instruksies kán nie reg wees nie! Maar uiteindelik, snap jy hoe dit werk!

Is die Bybel ook só? Dat dit soms voel: op hierdie en hierdie punt kán dit nie reg en akkuraat wees nie.

Kán die Bybel reg, akkuraat en foutloos wees wat álles betref?

Kan iemand regtig op water loop en het God regtig in 6 dae alles geskep deur net te praat en is al die morele standaarde regtig nog vandag van toepassing?

Deesdae trou mense veel later in hulle lewe: Is dit regtig haalbaar om van hulle dekades en dekades van onthouding en selibaat en reinheid te verwag?

Ag, die Bybel is sekerlik oor die algemeen ‘n wonderlike boek en die basiese boodskap is die waarheid, maar is daar nie dalk sekere van die dinge waar ons maar ‘n bietjie ons eie pad kan loop nie? Moet ons regtig bevestig dat ALLES in die Skrif van God kom, geïnspireer is deur die Gees, gesaghebbend is, onbreekbaar en sonder enige foute en tekortkomings?

Wel, die groot vraag is sekerlik nie wat óns opinie is nie, maar wat Jesus self daaroor gesê het. Helder en duidelik staan dit in Mat 5:17-20 opgeteken! Dis nie eintlik vir misverstand vatbaar nie!


Hierdie 4 verse is natuurlik deel van ‘n bre
ër konteks, naamlik die sogenaamde “bergpredikasie” (Matt 5-7) waarin die Here Jesus doodgewoon vir Sy volgelinge verduidelik wat dit beteken om Hom te volg. Wat beteken dit prakties dat die koninkryk van God in jou lewe is. Hoe lyk jy as die Heilige Gees jou lewe beheers. Hoe lyk die kerk waar die Gees heers?

Die hele bergpredikasie is niks anders nie as ‘n uiteensetting van die vrug van die Gees waarvan ons on Galasiers 5 lees. Ons het iets daarvan alreeds gesien in die eerste klompie verse van Matt 5: die saligsprekings, die kenmerke van ‘n Geesvervulde mens asook die feit dat die Geesvervulde mens sout en lig in die wêreld is.

Die Here se volgelinge wat na Hom luister, was almal Jode en hulle sou dalk ‘n bietjie ongemaklik wees met wat Hy sê, want hulle – as Jode – sou sekerlik opdragte en bevele en wet van Hom verwag het. Hulle was immers manne van die Joodse TORAH – die onderrig uit die wet van Moses.

Maar Jesus skuif die fokus na HOMSELF! Hyself is in die sentrum. Maar dit beteken nie Hy staan dalk TEENOOR die Torah of die OT of die Bybel nie?!

En dit is nou waar verse 17-20 inpas. Dit is Jesus se opmerkings teenoor Sy Joodse dissipels, om vir hulle te sê wat Sy eie posisie ten opsigte van die Skrif is. En wat Sy volgelinge se posisie teenoor die Skrif sal wees indien hulle Hom volg.

Die indeling van die 4 verse is baie eenvoudig: JESUS SE SIENING VAN DIE BYBEL (verse 17-18) en DIE CHRISTEN-GELOWIGE SE SIENING VAN DIE BYBEL (verse 19-20)!

JESUS EN DIE BYBEL (verse 17-18) > Die Here Jesus praat baie reguit en sê: “Ek het nie na die wêreld gekom om een jota of titteltjie van die wet en profete te ontbind (ongeldig te maak) nie, maar eerder om dit alles te vervul”.

Wet en profete” is die Joodse manier om na die hele OT te verwys. Die NT verwys op verskeie maniere na die OT as geheel. Byvoorbeeld: Skrif, wet, profete, wet-en-profete-en-psalms. Op sommige plekke stel die Meester Sy eie woorde gelyk met die gesaghebbende OT Woord v God en voorspel Hy dat die Heilige Gees sal kom en dat Hy die apostels sal lei om ‘n verdere gesaghebbende woord te spreek (wat uiteindelik die NT geword het).

Wat Jesus van die OT-Skrif gesê het, is ook waar van ons eie Bybels.

Dit wat Jesus van die Skrif sê, is wonderlik. Hy het ‘n geweldige hoë sig op die Skrif gehad. En dit behoort ook ons sig te wees.

Hy sê Hy het nie gekom om ‘n titseltjie van die Skrif te ontbind nie. Die Griekse woord is kataluoo en word op drie ander plekke in Matteus gebruik waar dit onder andere na die vernietiging van die tempel verwys. Die afbreek van die tempel. Die neerwerp van die tempel (Mat 24:20; 24:61; 27:40). Jesus het nie gekom om enige deeltjie van die Skrifte te vernietig, neer te werp, ongeldig te maak nie. Jesus is nie Iemand wat kat en muis met die Bybel en die gesag van die Skrif speel nie.

‘n Mens sal natuurlik onmiddelik ‘n hele paar vrae wou vra, nie waar nie? Vrae soos: Wat van al die goed in die OT wat ons nie meer nakom nie? Ons offer nie meer diere nie, ons kom nie meer die voedsel-wette na nie, ons eet skulpvis, ons kom nie meer die fynere Sabbatsregulasies na nie. In Markus 7 het Jesus byvoorbeeld self alle voedsel rein verklaar. In Hebr 7-9 word die hele OT-priester kultus gerelativeer.

Hoe kan Jesus sê dat Hy niks van die OT-Skrif ter syde gestel het nie?

Die antwoord gee Hy in vers 17: Hy het gekom om die ganse OT-Skrif te VERVUL. Grieks: Pleruoo. ‘n Woord wat 15 keer in Matteus gebruik word.

Die woord het hoofsaaklik drie betekenisse: 1 Hy is/doen wat van Hom voorspel was in die OT (1:22); In Homself beliggaam Hy die hele Israelse geskiedenis (2:15); Hy doen self alles wat in die OT vereis word (3:15).

As die Here Jesus dus sê dat Hy die OT-Skrif in Homself VERVUL het, bedoel Hy daarmee dat Hy dit kom VOL MAAK het! Hy het self alles perfek uitgeleef namens ons en Hy BELIGGAAM alles wat daar staan. Hy is die Een na wie die hele OT heenwys. Hy is die kleur wat die wit-en-swart OT invul.

Ons ontbind dus nie enigiets in die OT nie, maar ons lees dit deur ‘n spesifieke lens – die lens is Christus.

VOORWAAR EK SÊ VIR JULLE (vers 18) – ‘n Eed-sweer formule. Met ander woorde: Luister nou, laat Ek vir julle iets gewigtig sê. …

Julle sal die hemele sien verbygaan. Julle sal die sterre van die hemel sien val en die kataklismiese einde van die heelal beleef, alvorens julle een jota of tittel van die Skrif sien ontbind word of tot niet gaan. Nie een enkele kolletjie nie. Die jota en tittel van die Hebreeuse alfabet is die heel kleinste lettertjies. Kolletjie en strepie. Blykbaar is daar 66000 jota’s in die Hebreeuse Bybel.

Jesus kon nie op ‘n meer dramatiese wyse Sy absolute aanvaarding en goedkeuring en hoë beskouing van die Skrif gee nie, nie waar nie? Elke kolletjie en strepie van die Woord is so langdurend soos die heelal self.

As dit die Here Jesus se siening van die Bybel is, wat behoort óns s’n te wees? Logiese vraag! Ons s’n behoort uit Syne te vloei!

DIE CHRISTEN EN DIE BYBEL (verse 19-20) > Elkeen wat een van die geringste/minste van hierdie gebooie breek – en ander mense só leer – sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele. Maar elkeen wat dit positief doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

BREEK – Grieks luoo. Ons vind hierdie woord ook in Johannes 10:35: Die Skrifte kan nie gebreek word nie.

Iemand wat enigiets in die Skrif relativeer of ongehoorsaam is en ander mense hierin saamneem, sal die minste genoem word in die koninkryk. Hy/sy sal steeds in die koninkryk wees, maar skade ly (1 Kor 3:15).

Jy maak nie jouself meer relevant deur met die Skrif te peuter of te mors of te torring nie. Jy sal nie die wêreld op ‘n beter manier bereik deur die Skrif te verslap of te relativeer nie. Soms dink ons dat ons die Skrif moet versag of meer verteerbaar probeer maak, meer smaaklik moet maak, meer aantreklik vir die ongeredde mens moet maak.

Wel, die Here dink nie jy is oulik as jy dit doen nie. Hy dink jy is die minste in die koninkryk.

Dit is nie koninkryksleefstyl om nie ernstig met die Bybel te wees en dit nie te lees nie en beter te weet as wat daar staan en ander uit te lok om dieselfde te doen nie – hetsy met woorde of voorbeeld.

Hoeveel dosente en onderwysers leer hulle studente en leerders (openlik of op subtiele manier) dat hulle nie eintlik die Boek kan vertrou nie. Mens hoor soms van dosente wat daarop uit is om Christen-studente af te breek. Ek is baie dankbaar ek gaan nie in JOU twee skoentjies in die oordeel staan nie, professor! Dit gaan verseker die donkerste dag van jou lewe wees!

Kyk na vers 20. Geweldig diepsinnig. Die volgeling van die Here Jesus moet – wat betref sy/haar siening van die Skrif en toewyding aan die Skrif – die Fariseërs se geregtigheid (hulle praktiese reg-wees wat betref die skrif) OORTREF!

Daarmee gee Jesus nie ‘n wet/reël wat ons moet probeer nakom om onsself opgetrek te kry tot in die koninkryk nie! Ons kom nie in die koninkryk deur te probeer om beter as die Fariseërs of wie ookal te wees nie. Ons kom in die koninkryk deur Jesus wat Sy mense van hulle sondes verlos het (Mat 1:21). Dis klaar en afgehandel.

Wat die Here egter hier verduidelik is hoe iemand lyk wat alreeds deur Hom verlos is en alreeds in die koninkryk is en Hom volg. Hoe lyk so ‘n persoon se verhouding met die Skrif?

As jy deur die Here nuutgemaak is, sal jou verhouding met die Skrif dit prakties wys! ‘n Belydenis van geloof wat geen verskil in jou lewe maak nie, en geen verskil in jou verhouding tot jou Bybel maak nie, beteken niks.

Die Fariseërs was DIE ernstige Christene van hulle tyd. Hulle het uitgeblink met Skrifkennis en erns met die Skrif. Hulle was die beste!

Maar Jesus kyk na hulle en dan sê Hy: “Dis nie die soort geregtigheid wat ek soek nie.” Die Fariseërs was godsdienstig sonder dat hulle wedergebore was, sonder dat die Here hulle nuut en vry gemaak het. Sonder verbondenheid aan Hom. Hulle geregtigheid was net uiterlik. Aangeplak. Hulle wou daarmee ‘n plekkie in die koninkryk verdien! Daarom het hulle hulle menslike tradisies gebruik om die Woord te relativeer en ter syde te stel. Hulle het nie dit gehad waarvan Jeremia 31 praat nie: Die Woord op die hart geskryf. Of Esegiël 36: ‘n Nuwe gees in jou binneste. Hulle het nie ‘n HART gehad wat aan die brand was vir die Here nie! En dis presies wat Hy wou gehad het! Maar hulle was legaliste.

‘n Legalis is iemand wat dink hy kan deur die goed wat hy doen en die goed wat hy nie doen nie, guns by God kry!

Iemand wat egter ‘n HART het vir gehoorsaamheid en vir die Woord van God, is nie ‘n legalis nie. Dis gewoon ‘n Christen! ‘n Volgeling van Jesus Christus. Om ‘n volgeling van Jesus Christus te wees en ‘n nuwe gees te hê en aan die brand te wees vir Hom – beteken om die HELE Bybel ernstig te neem. Dis die vrug wat uit jou en my sal voortkom.

Wat leer Matteus 5:17-20 dus vir ons? Twee goed:

1 Die vrug van die Heilige Gees in ons lewe veroorsaak dat ons ALLES in die Bybel liefhet en ALLES ernstig opneem en Bybelliefhebbers word en die gesag van die Skrif onverswak vashou.

Ons blaai nie deur Levitikus en sê “ag, hierdie goed is so “weird” dat ons dit onmoontlik ernstig kan neem” nie.

Ons dink mos die Here sal seker okay met ons wees as ons op hierdie manier met die Bybel werk! Ons dink Hy sê: “Alles is okay man, so lank jy My net liefhet, vergeet van Levitikus”.

Nee, die Here sê: “Jy beter aandag gee daaraan, want in My opinie is dit nie irrelevant nie. Jy lees dit net verkeerd. Lees dit deur MY as lens te gebruik.”

Jy sal nooit hoor dat Jesus iets sê soos: “Ag, vergeet maar eers van die wonderwerke en die skeppingsverhaal en die kronologië en geslagsregisters.” NOOIT.

Daarom: twyfel nie vir een oomblik aan die krag, effektiwiteit, genoegsaamheid, perfeksie, helderheid en heerlikheid van die Woord van God nie!

Toe die Heiland in een van Sy grootste krisisse was – die versoeking in die woestyn – het Hy nie die hulp van miljoene engele ingeroep nie (hoewel Hy kon!). Weet u wat het Hy gedoen? Hy het drie maal uit Deuteronomium aangehaal!

2 Die tweede dinge wat Mat 5:17-20 vir ons leer is dit: Ons kyk na alles in die Bybel in die lig van die Here Jesus Christus. Ons blaai nie deur die Bybel en sny goedjies uit nie. Ons vra telkens: Hoe moet ek DIT sien – deur die lens van die kruis? Hoe wys dit na Jesus? Hoe het dit die weg vir Hom voorberei? Hoe het Hy dit en dat uitgeleef in my plek?

Laat die mense maar sê dat Tafelberg Gemeente se mense die Bybel aanbid in plaas van om God te aanbid.

Ons antwoord aan sulke mense is: Ons dink nie meer van die Bybel as wat Jesus self doen nie. Elke jota en tittel is belangrik. As jy vertroue het in Christus, het jy ook vertroue in die Boek waarin Hý soveel vertroue het!

Category Bergrede Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)