Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

BERGREDE-REEKS NO 13

VRA EN JY SAL ONTVANG (Matteus 7:7-11)

Wanneer ‘n kind vir sy pa iets vra, sal hy sy versoek plooi volgens hoe hy sy pa se temperament ken. Indien die pa kort van draad en suinig is, sal die kind so ordentlik moontlik probeer wees en so min as moontlik vra. As die pa vrygewig is en ‘n innemende geaardheid het, sal die kind baie vrymoedigheid hê.

Geestelik werk dit ook so. ‘n Christen-gelowige bid volgens hoe hy vir God sien en hoe hy/sy God se hart verstaan. As jy die genadige en vriendelike Vader-hart van God verstaan soos wat die Here Jesus dit kom openbaar het, sal jy met vrymoedigheid bid.

Dit is presies wat die Here Jesus in die volgende paragraaf van Sy bergrede leer (Mat 7:7-11): God die Vader is inderdaad genadig, oop, warm, vriendelik en vrygewig teenoor mense wat deur Christus Sy kinders geword het. As jy vra, sal jy ontvang. As jy soek, SAL jy vind. As jy klop, SAL daar vir jou oopgemaak word. Dis onmoontlik dat jy brood vra en ‘n klip sal ontvang. Of ‘n slang as jy vis vra. Geen aardse pa sal so iets doen nie. Hoeveel te meer God die Vader wat die perfekte vader is. Die Vader is dus nie suinig, hard, wraaksugtig of leedvermakerig nie.

Wanneer ‘n mens so na hierdie Godswoorde luister, kom die vraag onwillekeurig by jou op: Beteken dit dan dat my Vader ALLES wat ek begeer en vra, sal gee? Dit is tog duidelik wat daar staan. Dit klink soos ‘n universele belofte dat God Homself daartoe verbind om vir ons alles te gee wat ons begeer en vra. Alhoewel geen aardse pa vir sy kind alles sal gee wat hy begeer en vra nie! Watter aardse pa sal byvoorbeeld vir sy 12 jarige seuntjie ‘n vuurwapen gee net omdat hy dit begeer en vra? As ONS nie so met ons kinders werk nie, is dit te betwyfel of God so sal werk. Punt is: Verse 7-11 klink of dit so werk!

Daar is Christene wat hierdie verse buite konteks neem en dan in die grootste neerslagtigheid en depressie beland wanneer die Here NIE gee wat hulle begeer nie. Want dit voel dan asof God onbetroubaar is. Dit kan veroorsaak dat sulke mense se geestelike lewe in duie stort, want hulle voel hulle kan nie meer die Woord letterlik neem nie.

Daarom is dit so kern-belangrik dat ons die paragraaf binne die konteks moet verstaan. Dit is al manier om die werklike betekenis te ontgin. Die woorde van 7:7-11 is nie losstaande woorde wat die Here sommer uit die lug gryp nie. Dit staan binne ‘n raamwerk, wat reeds by hoofstuk 5 begin.

‘n Mens sou kon sê dat byna alles wat Jesus in hoofstukke 5-6 gesê het, enige ernstige Christen kan lam maak. Want die standaard is hoog. Onthou dit is ‘n prentjie van die Here se EIE lewe wat deur die gelowige manifesteer deur die Heilige Gees se vrug. Maar, wanneer ‘n mens dit hoor is jy geneig om te voel: “Sjoe, hoe sal hierdie wonderlike lewe OOIT uit my lewe kan vloei?”

Kyk byvoorbeeld ook na die eerste 6 verse van hoofstuk 7. Die tema is OORDEEL of BEOORDELING. God se oog is op ons, want hierdie lewe is die voorbereidingskool vir die groot lewe wat kóm. Daarom: Wees waaksaam om nie ander mense te oordeel nie. Kyk na die balk in jou eie oog. Met die oordeel waarmee jy oordeel, sal jy self geoordeel word. Ensovoorts.

Wat gebeur hier? ‘n Kind van God hoor hierdie standaard en besef net: “Ek het elke dag ontsaglike behoefte aan Gods genade! Wie is tot hierdie dinge in staat? My behoefte is die volheid van die Heilige Gees in my lewe. My behoefte is om gereinig te word van waar ek faal. Ek wil net deur Hom beheers word. Maar ek weet nie aldag HOE nie!”

Sy antwoord op hierdie uitroepe is eenvoudig: VRA en jy SAL dit ontvang! Die voorsiening is 100% tot jou beskikking in Christus. Vra Hom daarvoor. En moenie ophou nie. Dis al!

U sien dus hoe verse 7-11 nie ‘n algemene universele belofte is van: “God sal jou alles gee wat jy begeer” nie, maar dit is die Here se spesifieke belofte aan Sy kind wat eie geestelike nood en behoefte ontdek en wat ‘n hartsbegeerte het om ‘n Geesvervulde lewe te leef. Só iemand SAL vind! Vir só iemand sal daar verseker oopgemaak word!

Dit is dus belangrik om te verstaan dat hierdie beloftes spesifiek vir Christus-gelowiges geld en nie vir alle mense in die algemeen nie. Ja, die Here stort verseker Sy goedheid op alle mense uit (Mat 5:45). Ongelowiges kan ook soms gebedsverhoring beleef (Bv Cornelius – Hand 10:4). Maar hulle mag nie verkeerdelik daaruit aflei dat hulle geredde verlostes is nie! Die feit dat God in Sy goedheid ook soms ongeredde mense se gebede verhoor, reflekteer die waarheid van Romeine 2:4 naamlik dat God deur middel van Sy GOEDHEID mense tot bekering wil bring. Dit is Sy manier om hulle nader te trek. Maar die vyand maak hulle wys dat God vir hulle so goed is OMDAT hulle reeds Sy verloste kinders is! En sodoende maak hy hulle valslik gerus. Ons het dus uiters fyn onderskeidingsvermoë nodig wanneer dit by hierdie saak kom!

Ons moet noukeurig let op WIE die JULLE is van wie die Here in Mat 7:7-11 praat. Die antwoord: Dis diegene aan wie Hy die hele Bergpredikasie gerig het, naamlik Sy dissipels, Sy volgelinge (5:1). Die beloftes van gebedsverhoring is op HULLE van toepassing.

En HOE word ‘n mens ‘n kind van die Vader? Joh 1:12-13 verduidelik hoe. “Aan almal wat vir Jesus AANGENEEM het, het Hy die outoriteit gegee om kind van God te word. Aan diegene wat NIE deur die wil van ‘n mens gebore is nie, maar uit God gebore is”. As jy op die definitiewe punt in jou lewe kom om IN CHRISTUS die nuwe lewe en nuwe natuur daadwerklik AAN TE NEEM, is jy die Vader se kind.

Dan is God jou VADER – dit beteken dat Hy in jou belangstel, dat Hy oor jou besorg is, dat Hy na jou omsien, dat Hy ‘n plan met jou het, dat Hy vir jou die beste wil gee. Wat ookal met jou gebeur, Hy stel intens in jou belang. En Hy gee nie bose slegte goed vir jou nie. Hy gee nie slange en skerpioene en klippe nie. Ja, ons dink en voel dat Hy TEEN ons is wanneer slegte goed met ons gebeur. Maar dis pure onsin. Sy fokus is om goeie gawes te gee. En Lukas 11 se weergawe van Mat 7:7-11 sê vir ons WAT hierdie goeie gawes is. Dit is die Heilige Gees. En in die Gees, het en besit ons alles.

Die belangrike beginsel wat Mat 7:7-11 leer is dit: Al is ek ‘n Christus-gelowige, moet ek steeds VRA vir dit wat God beloof het. VRA en jy sal ontvang. Of in die negatief volgens Jakobus 4:2: Julle het nie omdat julle nie vra nie! As ons nie ontvang nie, lê die fout by onsself en nie by God se vrygewigheid en Sy hartklop nie. Ons vra nie en dikwels vra ons wel, maar met verkeerde self-sugtige motiewe, sê Jakobus in die volgende vers.

‘n Mens kan nie die belangrikheid van hierdie beginsel genoeg beklemtoon nie. Hier is die antwoord op die innerlike versugtings van so baie kinders van God. Geen Christen sal dit uitbasuin nie, maar hoeveel innerlike kwelvrae is daar in Christenharte wat klink soos: “Waarom lyk dit of ek nooit werklik oorwinning in my geestelike lewe sal kry nie? Waarom bly ek gebind deur sekere boesemsondes? Waarom sukkel ek so om die Bybel te lees? Waarom is ek so ‘n kragtelose getuie vir die Here?” Ensovoorts.

In baie gevalle is die antwoord: Omdat ek nie erns maak met gebed nie. Ek VRA Hom nie vir Sy seën nie. Ek soek nie werklik Sy aangesig nie. Dit gaan uiteindelik maar steeds oor MY en nie Sy eer nie.

Persoonlik is dit by my so dat, wanneer ek voel dat daar nie die gewenste krag in die prediking en onderrig is nie en daar min getuienisse is van lewensverandering, dan dryf dit my tot gebed. En meer gebed. En meer gebed. Ek het geleer dat daar slegs EEN antwoord is: gebed en nogmaals gebed. Eintlik moet ek sê: ‘n lewenswyse van gebed en nie net vat-en-los gebed wat uit nood gebore is nie.

As ‘n mens na hierdie gedeelte in die Grieks kyk, sien jy iets wat jy nie in die Afrikaans sien nie. En dit is die beginsel van, wat in Engels genoem word, “prevailing prayer”. Gebed wat volhard, wat aanhou.

In die Afrikaans lyk dit of Jesus net sê ons moet vra en klaar. Maar in die oorspronklike Grieks kry jy twee basiese tipes bevelsvorme (imperatiewe): Aoristus en praesens. Aoristus imperatief = Jy moet eenmalig iets doen op ‘n spesifieke tyd. Praesens imperatief = Jy moet aanhou om dit of dat te doen. Doen dit sonder ophou!

Hier gebruik Jesus die Praesens imperatief. Vra aanhoudend. Moenie ophou nie. Bid DEUR. Bid TOTDAT die antwoord kom. Vra, soek, klop aanhoudend. Volhardende gebed, dus. Volhard in gebed deur daarvan ‘n lewenswyse te maak. Dra sorg dat jy ‘n binnekamer het. Laat jou lewe daaromheen draai, soos ‘n mot om ‘n kers. Dis presies wat die apostel Paulus bedoel met BID SONDER OPHOU in 1 Thes 5:17.

Dit is soos die man wat om middernag ‘n onverwagse besoeker kry en toe ontdek dat hy nie genoeg kosvoorraad het om aan die persoon voor te sit nie. Hy gaan klop toe sy buurman op. Aanvanklik is die ou knorrig, maar toe die man met beslistheid aanhou vra, het hy hom gegee wat hy vra.

Of wat van die verontregte weduwee wat aanhou neul in die ore van die onregverdige regter totdat hy aan haar reg laat geskied (Lukas 11:5-10 en Lukas 18:1-8). Dit is stories wat Jesus vertel het om die beginsel van volhardende gebed tuis te bring. Gebed wat nie handdoek ingooi nie! Sulke gebed sal sonder twyfel groot uitkomste sien!

Nou is dit aan die ander kant só dat ons Vader nie oorgehaal hoef te word deur ons volhardende gebed nie! Hy sien ons harte en ons behoeftes meer as wat ons dit self weet. En Hy is ons ver voor in antwoorde en voorsiening. Soos Romeine 8 leer dat die Heilige Gees alreeds vir ons intree terwyl ons nog nie eens mooi weet wat om te bid nie! Die Gees woon nie net in Sy kind en hoor en sien die kind van God se aanhoudende gebed nie. Hy is self die Een wat die inisiatief neem en ons aanpor en aanspoor in gebed EN Hy is die Een wat Sy EIE gebed deur ons uiter. Dit is eenvoudig te wonderlik vir woorde.

Dit alles klink soos ‘n weerspreking, maar in God se Raad is dit nie. Aan die een kant: Ons moet volhardend bid. Aan die ander kant: Voordat ons nog begin bid, is die antwoord reeds daar. Ons Vader gee om, Hy is goed, Hy hoef nie gemanipuleer te word nie. Hy ondersoek ons harte en sien ons behoeftes en is verheug om te voorsien – ook in die skynbaar onmoontlike.

Is dit ‘n weerspreking in terme? Nee. Hoe die legkaart pas, weet ons natuurlik nie. Maar dat dit nie ‘n weerspreking is nie, sien ons in die Here Jesus se eie lewe op aarde. Aan die een kant is Hy die Seun van God en al Sy Vader se voorraadkamers was permanent tot Sy beskikking. Aan die ander kant was dit Sy sielspassie om volhardend te bid. Voordat Hy die Twaalf gekies het, het Hy die hele nag deur gebid (Luk 6:12). Tewens Sy gewoonte was om dikwels na verlate plekke te gaan om te bid (Luk 5:16). Hy het dikwels in die oggend vroeg – terwyl dit nog donker was – na ‘n plek van afsondering gegaan om te bid (Mrk 1:35).

Was daar ‘n weerspreking in Jesus se eie lewe? Aan die een kant: Sy Vader se krane is altyd oopgedraai. Aan die ander kant bid Hy volhardend – selfs nagte deur. Dis onmoontlik dat dit ‘n weerspreking kan wees. Dit is twee waarhede waaraan ons gelyktydiglik moet vashou.

Langs die noordwes kus van Skotland is ‘n groep eilande genoem die HEBRIDES eilande. Die grootste eiland is Lewis. Op hierdie eiland is ‘n dorpie met die naam Barvas.

In die jare veertig, het hier twee susters in dieselfde huisie gewoon, Christine en Peggy Smith. Hulle was 84 en 82 jaar oud. Peggy was blind en Christine krom getrek van erge artritis. Hulle kon nie meer eredienste bywoon nie. Die geestelike klimaat op Lewis was baie kommerwekkend. Byna geen jongmense het meer dienste bygewoon nie. Die gemeentes het mank gegaan aan dooie vormlike godsdienstigheid. Die predikant was diep moedeloos.

Maar Peggy en Christine is bo-natuurlik beetgepak met ‘n passie en het begin om te bid, dag en nag. Hulle het die belofte in Jesaja 44:3 aan die Here voorgelê: “Ek sal water uitgiet op die dorstiges en vloedwater op droeë grond”. So het hulle aangehou: maand in en maand uit. Hulle het geweier om NEE as antwoord van die Here te aanvaar. Hulle was absoluut belas met ‘n goddelike belastheid.

In 1949 het die Here vir Peggy ‘n visioen gewys van kerke gepak met jong mense. Sy het gevoel hulle predikant moet vir Duncan Campbell, ‘n evangelis van Skotland, laat kom om dienste te hou.

Wat hulle nie geweet het nie, was dat daar ‘n klompie manne in ‘n skuur begin saambid het – ook in Barvas. Een aand het hulle so ‘n gewaarwording van God se teenwoordigheid beleef, dat hulle met groter en groter vrymoedigheid en meer geloof begin bid het.

Om ‘n baie lang storie kort te maak: Duncan Campbell het gekom vir twee weke wat toe 3 jaar geword het. Een van die magtigste geestelike ontwakings in die kerkgeskiedenis het die eiland Lewis tot in sy fondamente geskud. Oral op internet sal u daarvan te lese kan kry indien u meer wil weet.

Die beginsel is egter dit: Klop aanhoudend en vir julle sal oopgemaak word. Die Lewis-ontwaking was voorafgegaan deur die volhardende gebed van ‘n groepie mense wat belas was vir die geestelike toestand van hulle eiland. En God het geantwoord bó wat hulle ooit kon bid of dink!

Category Bergrede Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)