Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

BERGREDE-REEKS NO 12

SPLINTER EN BALK (Matteus 7:1-6)

Die sielevyand – die satan/duiwel/draak/slang – probeer altyd om ‘n Christen se getuienis te ruïneer deur hom/haar óf onbesonne fanaties te maak óf apaties te maak!

Twee dinge wat ‘n kind van God baie afstomp en sy getuienis kragteloos maak is liefde vir geld en bekommernis en angs. Dit het die Here Jesus in die vorige paragraaf gesê.

Maar daar is nog iets wat ‘n Christen se getuienis groot skade berokken. En dit is ywer! Ywer om ander te oordeel. Dit is skadelik omdat dit van ‘n mens ‘n skerp onregverdige kritikus van jou mede-gelowiges maak. En dis dodelik gevaarlik.

Duideliker as wat die Heiland dit in Mat 7:1-6 uitspel, kan dit nie. Eintlik is dit ‘n bietjie van ‘n komiese beeldspraak wat Hy gebruik, want die Griekse woorde wat ons vertaal met “splinter” en “balk” dui op iets BAIE klein (amper soos ‘n stukkie roet) en iets BAIE groot (‘n groot massiewe houtbalk).

Die Here sê dus: “Moenie soos die huigelaars wees wat vir iemand sê: ‘O my broer, kyk net daardie mikro-klein stukkie roet in jou oog’ terwyl jyself ‘n houtbalk het wat uit jou eie oog steek – wat alle ander mense kan sien, maar nie jyself nie!”

In die lig van vers 6 kan dit NIE beteken dat ‘n Christen glad nie onderskeidingsvermoë mag hê nie. Ons sal net nou sien wat vers 6 beteken. Ons moet gesonde oordeelsvermoë hê wanneer dit kom by die uitdeel van geestelike Waarheid aan verskillende mense. Ons moet die waarheid van die Evangelie kan onderskei van vervalsing en dwaling.

Dit waarna Jesus egter in verse 1-5 verwys, is die sondig-menslike geneigdheid om die foute van ander mense raak te sien en uit te wys en mense te veroordeel terwyl eie foute verbygekyk word. En dit terwyl eie sondes en probleme meesal honderde kere groter is as ander mense s’n. Dit is ‘n tendens wat tipies is van die gevalle sondige menslike natuur. En dit is in wese niks anders as huigelary nie. Dit is hoe geestelike duisternis manifesteer.

‘n Praktiese voorbeeld hiervan wat ons almal ken is skinder. Die mens wat stukkies roet in ander se oë sien, is nooit tevrede alvorens hy/sy nie daaroor PRAAT nie. So ‘n mens kom nie tot rus alvorens ander mense nie ook kennisgeneem het van die stukkie roet in die ander se oog nie. Dit mag wees dat die roet in die ander se oog regtig ernstig is en verkeerd is, maar vir iemand om daaroor met ander te gaan praat, is ‘n baie groter sonde en verkeerdheid. Dis soos ‘n reuse houtbalk in vergelyking met ‘n stukkie roet.

Iemand het miskien jare gelede ‘n groot fout begaan en sleg drooggemaak, maar dis verby en daar was menslike en Goddelike vergifnis. Maar die roet-soeker vind baie jare later daarvan uit en gaan praat daaroor. DIT is die houtbalk. Terwyl die ander persoon se sonde ‘n stukkie roet is.

Dink maar net hoe die Here Jesus self vir Judas – Sy verraaier- ten alle koste beskerm het teen die ander dissipels. Hy het geweet wat in Judas se hart broei, maar Hy het hom nooit aan die ander bekend gemaak nie. Tot op die end, het die ander nie geweet wie die verraaier is nie. Selfs aan die paasete die aand voor die kruisiging, gee Jesus nog vir Judas brood – terwyl Hy ook brood aan al die ander gee. Maar dan sê Hy: “My verraaier is die een aan wie ek die brood gee”! Terwyl Hy dit vir almal gegee het! Hy maak nie Judas se goddeloosheid aan die ander bekend nie.

‘n Ander vorm van roet-soek/splinter-soek is die tipe Christen wat altyd ander Christene en veral predikante onder die soeklig het om te kyk waar hulle afdwaal van die “waarheid” soos wat die roet-soeker die waarheid verstaan of wat ookal die roet-soeker se persoonlike reëls en standaarde is. Sulke mense se kritiese en negatiewe gees is soos die duisternis self. Op Facebook moes ek al ‘n hele paar sulke mense blok. En in die bediening het ek al met heelwat te doen gehad. Ons praat nie eens van mense wat my bel of sms’e stuur na afloop van ‘n RSG uitsending nie! As ek oor genade praat, vra hulle of ek dan nie aan bekering glo nie. As ek oor bekering praat, vra hulle waarom ek die genade vertrap. As ek oor Jesus praat, vra hulle of ek dan nie aan die Drie-Eenheid glo nie. Praat ek oor die mens se beslissing, wil hulle weet waarom ek die uitverkiesing verwerp. Praat ek oor uitverkiesing, wil hulle weet of die mens dan net ‘n willose marionet is. Voorbeelde is legio. Omdat hulle met soveel vooroordeel na die prediking luister, luister hulle ook nie baie goed nie, want hulle kan nie wag om te kritiseer nie. En NIKS oortuig hulle nie. Dit is vreesaanjaende sonde. Dis ‘n vreeslike ding as ‘n mens blind is vir die massiewe houtbalk in jou eie oog.

Dit is soos Jesus vir die Laodisense sê: “JULLE sê ons is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie, MAAR JULLE WEET NIE dat julle in werklikheid arm, blind en naak is nie”. (Openb 3). Om nie te weet nie, is byna die ergste wat ‘n mens kan oorkom. Om ‘n opinie oor jouself te hê wat verskil van God se opinie! Dis net God se vrye genade wat ‘n mens hiervan kan verlos.

Splinter-soekers skuil gewoonlik agter opregte omgee en liefde om hulle kritiek te regverdig. Maar dit is op geen manier liefde nie. Jesus se hantering van Judas wys hoe liefde doen. Liefde maak nie sonde openbaar nie. Dit bedek ‘n menigte sondes.

In Galas 6:1 verduidelik die apostel Paulus so mooi hoe ons te werk moet gaan wanneer ons ‘n probleem by ‘n mede-gelowige ontdek. Hy sê ons moet so ‘n persoon gaan heel/herstel in ‘n gees en gesindheid van sagmoedigheid terwyl ons op onsself let sodat ons nie self in versoeking kom nie! Die woord “herstel” beteken letterlik “om ‘n gebreekte been te spalk”. Met die sagmoedigheid van ‘n tandarts wat geduldig wag totdat die verdowing so deeglik deurgewerk het, dat daar geen pyn of ongemak moontlik is nie en hy dan eers versigtig boor om seker te maak dat daar nie pyn is nie.

Die sleutel van die geheim is dus die “agape” liefde. Dit is die liefde van God self – wat ‘n mens slegs op een manier in jou lewe kan kry en dit is deur van Bo gebore te word. Ja, wanneer die Seun van God in jou lewe instap, verander alles. En jy en ek moet WEET dat dit verander het en dat ons waaragtig verander is!

Dit is hierdie bonatuurlike liefde wat nie meer daarin belangstel om ander se foute en probleme en sondes bloot te lê nie. Wanneer jou binneste gevul is met ‘n besef van hoe onbeskryflik SY liefde vir jou as armsalige mens is, smelt jou hart. Kyk net in Romeine 5 hoe het Hy jou en my liefgehad TERWYL ons nog Sy blatante vyande was. Toe ons op ons heel slegste was, het Hy ons ingesluit by Sy liefde. ‘n Liefde wat bereid was om Sy eie lewe vir ons af te lê. Hy soek nie fout by ons en gaan blaker dit uit nie. Hy lê Sy lewe af vir ons ontwil. Hy het my liefgehad toe en nie “liefhêbaar” was nie. Dis waarom ek dieselfde met ander mense wil gaan doen. Dis asof ek nou met gesuiwerde oë na ander kyk.

Met dit alles gesê, kom die Here dan by vers 6 – wat klink asof Hy dit wat Hy pas gesê het, weerspreek!

Nadat Hy gesê het dat Sy volgelinge NIE ander mag oordeel nie, sê Hy nou: Dis wel belangrik om te oordeel! Hoe moet ons dit verstaan?

Dit weerspreek nie verse 1-5 nie. Dit bring ‘n noodsaaklik balans. Indien vers 6 nie daar was nie, kon verse 1-5 dit laat klink het of ‘n Christen op geen manier mag oordeel nie. Uit vrees dat ons splinters of roet in ander se oë soek, sou ons te bang wees om byvoorbeeld dwaling en vals leer uit te wys, of kerklike tug en dissipline toe te pas, of sondes uit te wys. Die Skrif beveel ons dan om die “geeste te toets” en vals profete te ontmasker. Hoe moet ons dit regkry as ons nie mag oordeel nie?

Daar is dus ‘n balans nodig: NEE, nie oor ander agteraf praat en oordeel en veroordeel met ‘n balk in jou eie oog nie, JA onderskeid tussen mense maak met die doel om te help en nie te veroordeel nie.

Vers 6 klink so: “Moenie dit wat heilig is vir die honde gee nie en moenie julle pêrels voor die varke gooi nie – sodat die varke dit nie vertrap nie en die honde nie dalk omdraai en julle verskeur nie”!

In die destydse wêreld was “honde” verstaan as gevaarlike gediertes en nie soos ons vandag aan ‘n hond as ‘n troeteldier dink nie. En ‘n vark was in die Jood se gedagte ‘n onrein dier wat nie geëet mog word nie. Met “honde en varke” verwys Jesus dus na ‘n sekere tipe ongelowige (nie alle ongelowiges nie): Diegene wat dit wat heilig is, die pêrels – dit is die Waarheid van die Evangelieboodskap – laster en verwerp en vertrap.

Daar is ‘n sekere tipe ongelowige wat – met betrekking tot die Waarheid van die Woord – ‘n hond en vark is.

Die Heiland sê: “Onderskei wanneer jy met so ‘n tipe mens te make het – en moenie die pêrel vir hom gee nie!

Skielik klink dit nou of die Here van ons ‘n hoë vlak van intoleransie en vooroordeel verwag!

Wat Hy in werklikheid sê, is dat ‘n Christus-gelowige ‘n sekere vlak van geestelike onderskeidingsvermoë moet hê en in sekere gevalle teen sekere mense op ‘n bepaalde manier moet kan diskrimineer/onderskeide maak. Daar is sekere geestelike waarhede wat ‘n gelowige nie met sekere mense moet deel nie.

Wat op aarde beteken hierdie mondvol? Wat is die Bybelse konteks waarbinne ons hierdie teks moet verstaan? Bedoel die Here ons moet nie die Evangelieboodskap met ongelowiges deel nie? Die hele res van die Skrif sê tog ons MOET!

Konsentreer asb nou soos nog nooit tevore nie!

Die veronderstelling wat agter hierdie teks lê is dat nie alle mense gered is of gered gaan word nie. En onder diegene wat nie gered word nie, sal daar altyd diegene wees wat die Evangelie op só ‘n manier teenstaan, soos ‘n wilde hond en vark, dat die Christen nie met so iemand verder bemoeienis moet maak nie.

In Mat 15:14 sê Jesus: “Los hulle uit. Hulle is blinde leiers van blindes. As ‘n blinde ander blindes lei, sal beide in ‘n gat val.” Met ander woorde: “Wat daardie mense betref – moenie aanhou om met hulle “te karring” nie.”

Die Here Jesus self het – tydens Sy aardse bediening en prediking – onderskeid gemaak in terme van wát Hy aan wíé geleer het.

Soos ons in Lukas 23:3,9 lees waar Jesus deur beide Pilatus en Herodus verhoor word. Vir Pilatus antwoord Hy op wat hy vra, maar nie vir Herodus nie. Herodus – wat God se stem in sy lewe stilgemaak het deur Johannes die Doper se kop af te kap en wat net wondertekens wil sien en geen begeerte het om tot bekering te kom nie – verkry geen antwoord van Jesus nie. Die Here weier om die pêrels vir Herodus te gee. Maar vir Pilatus gee Hy dit.

Vir die Ryk Jongman sê Hy nie ‘n woord van genade of geloofsvertroue nie. Hy slaan hom met die Wet. “Gaan verkoop alles wat jy het en kom volg my”. En toe die man nie kans sien nie, het Jesus nie vir ‘n oomblik die standaard verlaag om dit vir hom makliker te maak nie.

Vir die Kanaanitiese vrou sê Hy eenvoudig: “Ek kan nie die brood (Evangelieboodskap) wat vir die kinders (Jode) bedoel is vir die hondjies (nie-Jode) gee nie”.

Of dink aan Hand 13:46 waar Paulus hom in Antiochië vasloop in die aggressiewe Jode wat die Waarheid laster en verwerp. En dan sê hy vir hulle: “Aangesien julle nie julleself die ewige lewe waardig ag nie, gaan ek nie verder vir julle die Woord verkondig nie. Ek gaan nou na die heidene toe”.

Net so kom die Apostel van liefde, Johannes, en sê hy in 2 Joh:10-11) dat daar sekere mense is wat ons nie in ons huise mag ontvang nie. Dit is mense wat hardnekkiglik die Godheid van Jesus Christus ontken en dit beveg.

Daar kom ‘n tyd wat ons moet sê: “Daardie en daardie persoon kom nie op ons kansel nie, want sy verkondiging is nie suiwer nie”. OF “Ons distansieër ons van….”

Om in die naam van liefde allerlei dwaalleer te duld en sondes goed te praat en almal voor die voet te omhels, is ‘n tipe liefde wat vreemd is aan die Skrif. Dit mag dalk ‘n humanistiese New Age liefde wees, maar beslis nie Christus se liefde nie!

U sien, AL die waarheid van die Bybel is nie vir die hardnekkige onversetlike onbekeerde ongelowige se ore bedoel nie! Sekere waarheid wel, soos byvoorbeeld die waarheid van sy persoonlike sonde, skuld en verlorenheid asook die waarheid dat God sondaars by Christus se dood ingesluit het.

Maar daar is sekere waarhede wat ‘n mens eers werklik kan hoor wanneer die Heilige Gees in jou werk en jy oop en ontvanklik en gebroke raak. Byvoorbeeld die waarheid van die Christelike etiek, gebed, vrug van die Gees. Tewens, alles wat in die Bergrede staan, is slegs bedoel vir die ore van die mens wat die Here wil volg. Onthou hoe begin die Bergrede? Jesus sê: “Dit wat ek nou gaan sê is vir die arm van gees is, vir wie God sagmoedig gemaak het.”


Dieselfde beginsel geld ook vir die hoë Bybelse standaard vir kerklidmaatskap en gebruik van die sakramente. Net soos wat nie alle waarhede in die Skrif vir die ongelowige bedoel is nie, so ook nie kerklidmaatskap nie. En ook nie toegang tot die nagmaal nie. Lidmaatwees van die plaaslike gemeente impliseer lid wees van die Liggaam van Christus. Sommige mense is geneig om te dink dat hulle reguit op pad is hemel toe omdat hulle lidmaat van die gemeente is of gedoop is of nagmaal gebruik. Dit is growwe misleiding! Die waarheid is net andersom:
Omdat ‘n mens deur geloof in die klaargemaakte werk-van-Jesus-op-die-kruis tot redding gekom het, is jy lidmaat van die gemeente.

Terug by vers 6: Die evangelieboodskap moet aan alle ongeredde mense verkondig word.


Maar daar is sekere mense wat
meer is as ongered. Hulle hoor die Boodskap, maar verag dit en bespot dit. Aggressief soos wilde honde en onrein soos varke. Hulle afgestomptheid, verharding, blindheid en trots vervreem hulle totaal van die Here se Woord. Van sulkes sê die Here: “Skud die stof van julle voete af en gaan verder na ander wat bereid is om te luister. Moenie dit wat heilig is vir die honde gee nie”. Daar kom ‘n tyd wanneer ‘n Christen moet ophou om die kosbare pêrels vir die varke te gooi.

Jare gelede was daar ‘n Christenvrou wat getroud was met ‘n baie bose man. Sy was só besorg oor sy saligheid, maar sy het tevergeefs met hom gepraat. Wanneer daar ‘n sterk boodskap op Radiokansel was, het sy met opset die radio kliphard gestel sodat hy kon hoor. Sy het briefies met boodskappies in sy kosblik gesit wanneer hy gaan werk. Maar al hierdie dinge het hom net harder en harder gemaak.

En toe besluit sy: Van nou af, gaan ek bid. En ek gaan LEEF. Maar niks weer sê nie. Ek gaan nie meer met hom karring nie.

Sy het opgehou om dit wat heilig is vir die honde te gee.

Kan u raai wat gebeur het? Op ‘n dag, het die Gees van God hom tot kragdadige bekering gebring.

Is daar hoop vir hierdie tipe mense? Die goeie nuus is: Omdat Jesus uit die dood opgestaan het, is daar altyd hoop. God is soewerein, Hy kan doen wat Hy wil, hoe Hy wil en wanneer Hy wil. Maar wat belangrik is in hierdie mense se geval is nie Christene se woorde nie, maar hulle lewenswandel en gebede. Ek glo dat – wanneer byvoorbeeld iemand soos die klipharde verharde Britse ateïs – Richard Dawkins – tot redding sal kom, sal dit deur die lewensvoorbeeld van ware Christene wees. Nie deur hulle gekarring met hom nie. Nie deur woorde nie. Maar deur die magnetiese aantrekkingskrag van die LEWE van die Here Jesus in en deur die gelowige man/vrou.

Category Bergrede Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)