Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

BERGREDE-REEKS NO 10

WIE BESIT JOU BESITTINGS? – Matteus 6: 19-24

‘n Boer het eendag met blydskap vir sy vrou vertel dat hulle beste koei aan tweeling-kalfies geboorte gegee het. Die een rooi, die ander wit. “En weet jy wat?” sê hy vir haar. “Die Here het my gelei om een van die kalwers aan Hom te wy. Ons gaan hulle saam grootmaak en dan – op die regte tyd – gaan die een verkoop word en die geld vir die Here se werk gegee word en die ander een verkoop word en die geld hou ons vir onsself.”

Maar watter een sal die Here s’n wees, die rooie of die witte?” wil sy vrou weet. “Ag, ons hoef nie nou reeds te besluit nie. Ons maak hulle net saam groot en verkoop hulle later van tyd”

‘n Paar maande later kom die man by sy vrou en lyk baie hartseer. “Ek het slegte nuus. Die Here se kalf is dood.”

Maar jy het dan gesê ons hoef nie vooraf te besluit watter een die Here s’n is nie” antwoord sy.

O ja, in my hart het ek maar altyd geweet dit is die witte en nou is dit juis die witte wat dood is”.

Dit is altyd die HERE se kalf wat sterf, is dit nie?

Tensy daar ‘n stuk nuutword in ons binneste gebeur en ons onsself begin afvra: “Is ek wérklik ‘n kind vd Here? En indien ek dit is, wie besit my besittings?” Want volgens Jesus, is dit OF die Here God wat my besittings besit en ek dien Hom OF my besittings besit my en ek dien my besittings!

Waaroor die Here vlymskerp-reguit in Mat 6 praat, is die OORWINNING wat elke Christus-gelowige se deel is. Onthou: Jesus verkondig GOEIE nuus! Die OORWINNING wat kom wanneer ons gawes, talente, geld, besittings, tyd, ambisies en visies aan HOM oorgegee is en ons dit gebruik om die onvernietigbare rykdomme van Sy ewige koninkryk te soek en te dien.

‘n Volgeling van die Here Jesus Christus se hart moet gefokus wees op die manier hoe die Here se “kop werk”. Bedink die dinge wat daarBo is (Kol 3). Dit is die klimaat van die hele Bergrede. Die praktiese lewe wat ‘n Christen daagliks uitleef, moet gegrond wees op Hom en nie op mense se opinies of lofprysing nie.

Dit is veral van toepassing op hierdie spesifieke saak wat so ‘n reuse invloed op alle Christene se lewens uitoefen: Geld. En besorgdheid/angstigheid – soos ons volgende Sondag sal sien. Dis twee goed wat hand aan hand loop – soos ons almal sekerlik uit ondervinding weet.

Vanuit ‘n bybels-geestelike oogpunt gesien, moet ons iets verstaan: Om nie baie geld en besittings te hê nie, is nie noodwendig ‘n deug nie. En om baie te besit, is nie noodwendig sleg nie. En andersom.

Die bedoeling van die Here se lering in Mat 6:19-24 is nie om enigiemand wat iets besit, pak te gee of te laat skuldig voel nie. Mens kan hierdie woorde lees of die prediking hoor en skuldig voel omdat jy ‘n nuwe motor kon bekostig of Arts Cape toe kon gaan vir ‘n vertoning of selfs net elke maand se kruideniersware kan bekostig – terwyl duisende ander nie kan nie!

Maar die Here Jesus laat ‘n duidelike waarskuwing hoor. Eintlik ‘n sielsdeursoekende vraag: “Is daar iets wat God meer kan beledig as dat Hy jou verlos het van die slawerny van sonde, dat Hy jou by Christus ingesluit het, dat Hy aan jou alle dinge gegee het om te geniet, dat Hy jou op die naam geroep het – en dan wys jy met jou besluite en dade dat jy eintlik GELD dien?!

Die sielsdeursoekende vraag is dit: Die ware lewende God sluit alle ander sogenaamde gode uit. Daarom kan niemand twee gode dien nie. Jy sal altyd die een minder liefhê as die ander. Dink jy regtig dis moontlik om God en geld/besittings gelyktydiglik te dien?

Die Here praat van MAMMON. Die woord beteken: “die ding waarop jy vertrou”. Dis eintlik ‘n Hebreeuse woord wat gebruik was vir enige materiële besitting, maar die wortelbetekenis van die Hebreeuse woord beteken: “Om toe te vertrou aan”. Met ander woorde MAMMON beteken letterlik: Die besittings wat iemand aan iemand anders se sorg toevertrou vir veilige bewaring.

Met verloop van tyd het die betekenis van die woord egter al hoe meer negatief geraak: “dit waarop ‘n mens vertrou”. Dit het in volksmond die naam van ‘n afgod geword: “Die besittings waarop jy vertrou”. Iets wat jou god geword het. Iets wat die sentrale plek in jou gedagtes en hart gekry het. Dit is in hierdie sin wat die Here die woord MAMMON gebruik. Jy kan nie op twee gode vertrou nie. Dis die een of die ander. Kies en kies vandag! Kies NOU en nie môre nie, want môre kan jy en mammon in die verderf wees!

MAMMON is dus nie geld opsigself nie. Nêrens leer die Skrif dat geld sleg of boos is nie. Die wortel van alle boosheid is nie geld nie. 1 Tim 6:10 sê dit is die liefde vir geld wat die wortel van alle boosheid is. Die probleem is nie geld of besittings nie. Die probleem is die mens se hart. Dit is waarom die wedergeboorte die hart verander. Dit is waarom die Skrif sê: “My seun, gee my jou hart” (Spr 23:26).

Maar is die saak regtig só ernstig? Wel, lees Matteus 6:19-24 en oortuig jouself. ‘n Liefde vir besittings sal jou liefde vir die Here verkoel, jou getuienis as Christen vernietig en jou beroof van ‘n geestelike oorwinningslewe. Dit is die Here se boodskap in hierdie paragraaf.

Die hele res van die Bybel bevat voorbeelde van mense wat in die vangstrik van Mammon getrap het.

Byvoorbeeld Agan (Josua 7). Die feit dat Agan in die geheim ‘n bietjie silwer en goud – wat die Here se volk as bangoed van die vyand geneem het – onder sy tent begrawe het, het veroorsaak dat Israel nie teen die vyand kon staande bly nie. Nadat die magtige Jerigo deur ‘n wonderwerk van God geval het, kon Israel nie die klein dorpie Ai oorwin nie. Tewens, Ai se manne het meer as 30 van die Here se mense doodgemaak. Die hele volk was ‘n verloorpad as gevolg van die geldjies wat onder Agan se tent begrawe was. Dit was nie ‘n klein privaat aangeleentheid nie. Dit was ongehoorsaamheid aan God. En almal het daardeur skade gely. Mammon was in Agan se hart.

En so was dit Mammon wat iemand soos Gehasi se hart beetgehad het, sodat die oordeel van melaatsheid hom later getref het (2 Konings 5).

In die NT sien ons hoe Annanias & Saffira dood neerslaan omdat hulle nie die volle waarheid gepraat het oor die verkoopsom van eiendom nie (Hand 7).

En dan is daar natuurlik die ryk jongman vir wie Jesus aanraai om alles wat hy besit te gaan verkoop en die geld vir die armes te gee en dan vir Jesus te volg. Dit beteken nie dat dit verkeerd is om iets te besit nie. Dit beteken ook nie dat ‘n mens nie ‘n volgeling van Jesus kan wees alvorens jy nie van al jou besittings en geld ontslae geraak het nie. Dit beteken wel, in hierdie spesifieke man se geval, dat Mammon op die troon van sy hart gesit het. En Jesus druk Sy goddelike vinger op die presiese probleem, naamlik die man se hart. Die troon van sy hart en die valse god wat daar sit. Jesus praat nie teen Mammon nie. Hy praat teen die HART wat vir Mammon as afgod dien.

Jesus praat nie téén geld en goed nie. Hy praat teen die HART wat geld en goed as afgod aanbid en dit verkeerd gebruik en aanwend en die Here se koninkryk heel onder aan die lysie het – of glad nie op die lys het nie. Hy praat teen die HART wat op ‘n Sondagmôre die tuin versorg in plaas van om in die erediens te wees. Hy praat teen die HART wat 95% tyd en energie aan geldmaak spandeer ten koste van familie en kinders en die geestelike versorging van die gesin. Soos Demas wat die teenswoordige wêreld bó die Apostel Paulus se prediking gestel het.

Vers 21 van ons gelese paragraaf, is dus die sleutel en hartklop van alles: “Waar jou skat is, sal jou hart ook wees”. Die hart, die sentrale troonkamer van jou menswees, fokus op die vals god. En dit vernietig uiteindelik jou menswees.

Of soos verse 22-23 dit stel: As jou oog siek of blind is, is jou innerlike mens in duisternis. Jou oog is soos ‘n venster, want daardeur kom die lig in jou binneste in. As die venster skoon is, stroom die lig in die vertrek in en vul elke hoekie van die kamer.

Net so ook geestelik: As jou geestelike fokus en visie aangetas is, is jou menswees in ‘n krisis. En liefde vir Mammon tas jou geestelike sig aan. Dit maak jou geestelik blind. Die hoeveelheid en kwaliteit lig wat in ‘n mens se innerlike siel kom, word bepaal deur die toestand van die venster (geestelike sig) waardeur die lig moet inkom. En daardie sig word belemmer deur ‘n verkeerde en sondige ingesteldheid teenoor geld en besittings. ‘n Sondige ingesteldheid teenoor Mammon is soos ‘n geestelike katarak wat jou geestelike sig verswak. Dit is uiteraard ‘n reuse gevaar.

Kan ek vir u vra: Sien jy en ek geestelike dinge duidelik of nie? Of is jou en my visie van God en Sy koninkryk verdof deur geestelike katarakke wat veroorsaak word deur ‘n sondige en ongesonde ingesteldheid teenoor Mammon?

Wanneer mense kla dat hulle nie die Bybel kan verstaan nie of dat God ver voel of hulle sommer net verward voel oor geestelike sake en die Christelike lewe oor die algemeen – dan is DIT soms die oorsaak van die probleem. So ‘n man en so ‘n vrou ken die paadjie deur die geldmarkte beter as die pad deur die Ou Testament en Nuwe Testament. Hulle weet meer van die JSE en die FTSE 100 as wat hulle weet van wat Paulus vir die Romeine geskryf het. Dit is die tipe mens wat Efesiërs in die OT soek.

Daar was ‘n boer wat hoog in aansien was en baie plase besit het en miljarde in beleggings gehad het. Hy was regtig “suksesvol” soos mense dit sal sien. Hy het een jaar soveel ge-oes dat daar nie plek vir alles was nie. Hy moes drasties sy stoorgeriewe vergroot. Hy het planne beraam en besluit hoe hy sy store sal vergroot en nuwes bou. Die kostes was van geen belang nie. Absoluut kleingeld. Hy het by homself gedink: “Wow, awesome! Ek het nou soveel, ek kan eintlik net sowel ophou boer en net die res van my lewe geniet en rondhang en niks doen nie. Ek kan eintlik nou net mal gaan. Eet, drink en oorsee gaan”.

Daardie aand sê die Here vir hom in ‘n droom: “Al is jou IK 170, is jy ‘n stupid fool. Voor die son môre opkom, gaan jy ‘n hartaanval kry, jou vrou gaan met jou Panorama Mediclinic toe jaag, maar jy gaan nooit die sonsopkoms sien nie. En wat het jy dan? Jy, wat ryk is in jouself, maar brandarm in God? (Lukas 12:13-21).

Baie min mense wat in Mammon se greep sit, besef dit of erken dit. Ek weet nie of ek al ooit so ‘n mens teëgekom het nie. Daar is mense van wie ek duidelik kan sien dat hulle verdeelde harte het, maar hulle is self blind daarvoor en sal dit nooit erken nie. Dit is mense wat die Here se woorde in Mat 6:19-24 dringend nodig het, maar dit nie besef nie. Hulle het bekering nodig, maar dink dit geld vir iemand anders.

Dit is waarom 2 Kor 4:6 so wonderlik vertroostend is. Die Heilige Gees doen vir ‘n mens die Godswonder. Hý kom ongevraagd en Hý laat Sý lig in ‘n mens se binneste skyn. En DAN gebeur dinge. Dis soos die oorspronklike skepping toe God net gesê het: LAAT DAAR LIG WEES. En daar was lig. Of soos Lasarus wat nie in die dood kon bly toe Jesus roep: LASARUS KOM UIT!

Die Blye Boodskap is dit: Die blindheid vir die gevaar waarin ons onsself bevind en wat ons nie kan verwyder nie, kan HY verwyder en Hy doen dit ook!

Net so min as wat ‘n reuse kameel deur die piepklein oog van ‘n naald kan gaan, net so min kan ‘n Mammondienaar die koninkryk van God ingaan (Mat 19:24).

Maar JESUS het deur die naald se oog gegaan in Sy vreeslike dood en heerlike opstanding. En Hy trek ons saam met Homself deur die oog! DIT is hoe ‘n Mammondienaar die koninkryk ingaan. IN en SAAM met Jesus. Halleluja vir die ware hoop!

Category Bergrede Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)