Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 5

Tema: Beloofde rus

Skrif: Hebreërs 4:2-16

Wanneer ‘n skilder absoluut tevrede is met sy/haar produk, dan teken hy sy naam op die skildery, tree terug en bewonder die prag van wat hy vermag het. Die skilder rus nie omdat hy moeg is nie. Die rus van ‘n skilder is die viering van tevredenheid en prag en afgerondheid!

Dit is presies wat God se rus/ Sy sabbat beteken!

Dis ‘n viering van 4 dinge: 1) die prag van hoe perfek die skepping was asook 2) die prag van die mens – oorspronklik as beeld en gelykenis van God in onskuld en reg-wees-met-God. 3) die beloofde land Kanaan waar Sy mense kon gaan woon en waar die Messias gebore sal word. 4) hoe perfek die mens in Christus herstel is as beeld en gelykenis van God – in onskuld en reg-wees-met-God!

God se ewige sabbatsrus is Sy absolute oortuiging wat Hy aangaande die mens het – naamlik dat die mens deur Christus volkome reggestel is met God. Sy rus is Sy tevredenheid met wat Hy sien. Hy sal nooit hierdie rus/viering/oortuiging prysgee of van opinie verander nie. Miljoene der miljoene mense se ongeloof sal Hom nie van oortuiging laat verander nie, want dit is ‘n oortuiging wat in Jesus se suksesvolle dood en opstanding veranker is. Dit is ‘n ewige Rus!

Sy begeerte is dat elke mens dieselfde moet begin sien as wat Hy sien! Hy is absoluut tevrede met wat Hy aangaande die mens sien, want Hy kyk deur die bril van die sukses van Jesus se kruisdood. En Hy nooi ons om dieselfde aangaande onsself te begin sien as wat Hy sien! Die blaamloosheid, die vryspraak, die onskuld, die ewige reg-wees met Hom.

Die mens wat dit begin glo, kom self ook tot innerlike rus. So iemand begin om te rus van sy eie pogings en probeerslae en inspanning en goeie werke om in God se guns te kom en begin om net vir God te geniet.

Aan die anderkant: Wanneer die mens NIE God se rus glo nie, lei dit onvermydelik tot persoonlike onrus en onrustige pogings om in God se goeie boekies te kom. Alleen die ongeloof veroorsaak dat die mens nie God se rus geniet nie. Alhoewel die ongeloof nie God se rus tot niet maak nie! Die ongeloof veroorsaak egter dat die mens dit nie kan beleef en geniet nie! Met al die negatiewe gevolge wat daarmee saamgaan!

Neem die Israeliete wat die beloofde land Kanaan moes gaan beset as voorbeeld: God se rus/sabbat was Sy oortuiging dat Hy hulle perfek verlos het uit Egipte, dat hulle meer as oorwinnaars was en dat die land Kanaan alreeds aan hulle behoort het. Die gevolg van hulle uitredding uit Egipte was dat hulle nou oorwinnaars in Hom is, mense met ‘n hemelse identiteit! Dit was Sy oortuiging oor hulle. En Hy wou hê hulle moes aangaande hulleself sien wat Hy sien.. en Kanaan in besit neem!

Maar hulle het nie oor hulleself gesien wat Hy oor hulle sien nie. Hulle het Hom nie geglo nie en het ‘n baie minderwaardige siening van hulleself gehad. Hulle het ‘n leuen oor hulleself geglo: “Ons is soos springkane teenoor die reuse wat in Kanaan woon” het hulle gesug.

Nee, dit het nie God se oortuiging/Sy rus verander nie, maar het veroorsaak dat hulle nie Kanaan kon ingaan nie. Hulle het hulleself buite gehou deur leuens te glo! Terwyl die volgende geslag wél vir God geglo het en onder leiding van Josua ingegaan het.

Eeue later praat iemand soos Dawid egter weer van die ingaan in God se rus (in Psalm 95). Dit is dus nie iets wat net op die destydse Israeliete betrekking gehad het nie. Dis ‘n belofte wat voortgaan. Dit is uiteindelik in Jesus Christus vervul. En die belofte van Sy rus geld vandag nog steeds! God vier die klaargemaakte werk van Jesus, die perfeksie daarvan en die mensdom wat daarby ingesluit is! Dit is Sy sabbatsrus. Sy tevredenheid. “Dit is volbring”. Soos ‘n skilder die afgerondheid en prag van sy skildery geniet.

En elke mens wat dit begin raaksien en Hom daarvoor begin glo, beleef dit ook self, gaan ook self die rus in:

Wow, ek hoef nie meer dit en dat te doen en te probeer om in God se guns te kom/bly nie. Jesus se klaargemaakte werk hou my binne God se guns. Ek ervaar nou oneindige rus. Die rus van perfeksie. Ek is pragtig vir Hom – danksy Jesus. Ek beleef nou die beloofde land van melk en heuning – danksy Jesus.”

Die eerste lesers aan wie die skrywer van die Hebreërbrief geskryf het, was Jode wat Christene geword het en wat dus die rus van God ingegaan het. Hulle het iets begin verstaan van die lekkerte van nie meer God se guns hoef te verwerf deur eie pogings nie. Hulle het begin rus van hulle eie werke en begin rus in God se rus, Sy oortuiging oor hulle naamlik dat hulle blaamloos, vrygespreek en 100% aanvaar is op grond van die sukses van wat Jesus gedoen het.

Maar hulle het verflou in hierdie oortuiging. Waarskynlik as gevolg van erge vervolging van die owerheid se kant af. Hulle het begin wonder of hulle nie na die Judaïsme – waarmee hulle as Jode grootgeword het – moes teruggaan nie. Dit sou egter beteken dat hulle geestelik agteruitgaan in plaas van vooruitgaan! Hulle sou die belewenis van God se rus verloor. Nie van Sy kant af nie, maar in hulle eie ervaring. Hulle sou weer moes terugval op eie pogings om hulle god se guns te bekom. Hulle sou – soos die eertydse Israeliete – in die woestyn sterf sonder om die beloofde land te beleef.

In hoofstuk 4 wys die skrywer vir hulle hoe ernstig hierdie saak is. Hy wil hulle tot besinning bring. Kom ons kyk hoe doen hy dit. Hy antwoord op 4 vrae wat hy verwag hulle sou vra!

1 Vers 2-3 > Het die Israeliete wat in die woestyn gesterf het nie maar dalk net nie die voordele gehad wat óns het nie? Antwoord: Nee, hulle het! “Ons het die blye boodskap ontvang net soos hulle”. Dieselfde blye boodskap wat ons ontvang het, het hulle ontvang. Hulle het die belofte van God se rus ontvang. En ons ook.

Hulle probleem was egter dat hulle nie vir God daarvoor geglo het nie. Die prediking wat hulle gehoor het, het hulle nie goed gedoen nie. As gevolg van die negatiewe manier waarop hulle die prediking ontvang het. Hulle het nie die prediking geglo nie. Hulle het dit nie ernstig geneem nie. Daarom het hulle afvallig geword.

‘n Mens ontvang die Heilige Gees se bediening in jou lewe deur te glo wat jy hoor (Gal 3:1) en jy beleef die Gees as afwesig deur nie te glo wat jy hoor nie. So eenvoudig soos dit.

Om na die prediking van die blye boodskap te luister, is ‘n ernstige saak! Erediensbywoning is nie sommer net ‘n bietjie tydverdryf nie! Wat jy hoor, moet geglo word. Wat jy hoor, moet gekombineer word met glo.


Dis soos ‘n ou vir ‘n meisie s
ê: Ek het jou lief. Daardie belofte roep om ‘n antwoord, ‘n respons. Glo sy hom, sal sy sy liefde beleef. Glo sy hom nie, sal die verhouding eventueel verbreek word – al is sy liefde steeds dieselfde. Met intense emosie sal hy vir haar sê: “As jy nie bereid is om my woord te neem nie, is geen verhouding moontlik nie”.

Vergelyk dit met wat God vir die Israeliete gesê het (vers 3): “Ek het in my toorn ‘n eed afgelê dat hulle nie in my rus sal ingaan nie.”

Daardie woord “toorn” beteken eintlik “intense opwelling van emosie”. Die Griekse woord “orge” beteken “passievolle begeerte” of “sterk uitbarsting van emosie”.

Met die intense emosie van iemand wie se liefdesverklaring betwyfel word, het die Here vir die Israeliete gesê: “Julle kan nie my rus ingaan as julle my nie glo nie”.

Dit wys vir ons hoe belangrik dit is dat die prediking met glo gekombineer moet word.

2 Verse 4-11 > Het God se belofte van rus dalk ‘n vervaldatum? Was dit net geldig by die skepping en vir die destydse Israeliete onder leiding van Josua? Antwoord: Nee! Ja, God is in ‘n rus – die viering van hoe volkome Hy die mens verlos het. Dit kan nooit weer herroep word nie. Sy rus vir die mens is dat die mens kan stop om deur middel van eie inspanning en goeie werke te probeer om in Sy guns te kóm. Die sewendedag Sabbat was ‘n prentjie van Sy rus. Die land Kanaan was ‘n prentjie van Sy rus.

Maar daar stop dit nie. Eeue later beloof die Here dit steeds deur Dawid. En Jesus het, met Sy suksesvolle en klaargemaakte werk, die rus geword vir elke mens wat Hom daarvoor wil glo. Die rus het absoluut geen vervaldatum nie! Dis steeds geldig – hier en nou!

Dit is voorwaar goeie nuus, is dit nie?

3 Verse 12-13 > Hoe kan ek weet of ek nie dalk buite God se rus leef nie? Antwoord: Gee jouself blootstelling aan God se Woord. Die blye boodskap van Sy rus is die mees lewegewende, dinamiese, lewensveranderende invloed denkbaar. Dit is nie ‘n dooie Woord nie, maar lewend en aktief. Dit sny soos ‘n chirurg se skalpel. Skerper as ‘n soldaat se swaard. Dit dring in tot in die diepte van die mens se bestaan. Dit dring die mens se innerlike lewe kragtig binne en impakteer jou lewe.

Die blye boodskap van die beloofde rus, is regtig God se ware en gesaghebbende Woord. Die effek wat dit op ons het, is die klinkklare bewys. Daar is nie ‘n manier hoe dit ‘n menslik gefabriseerde feeverhaaltjie kan wees nie.

Maar ek en jy moet onsself doelbewus blootstelling aan hierdie Woord gee! Soveel as moontlik!

Die aktiewe en kragtige Woord sal vir jou wys of jy nog in die woestyn van ongeloof rondswerf en dit sal jou denke verander sodat jy Hom kan begin glo. Die Woord – deur die werking van die Gees – het die vermoë om “metanoia” (denkeverandering) te bewerkstellig.

4 Verse 14-16 > Ek wil so graag in God se rus bly tot die einde van my lewe. Hoe moet ek dit doen? Antwoord: Daar is Iemand wat alreeds namens jou en my in die perfekte Rus leef – as ons verteenwoordiger. Hy is ons Hoëpriester. Priester = iemand wat die mense by God verteenwoordig. Bemiddelaar.

Dit is onsinnig om terug te draai na ‘n godsdienssisteem soos die Judaïsme, met sy feilbare menslike priesters, as jy vir Christus as ewige Hoëpriester het!

Christus verstaan ons so goed. Hy was en is steeds mens net soos ons. Hy was tussen ons. Maar Hy het tot anderkant die fisiese hemele gegaan en is in die Vader se teenwoordigheid as ons verteenwoordiger. En Hy is VIR ons, nie teen ons nie. Daarom is daar geen rede waarom ons ons greep op die Rus waarop ons vertrou, hoef te verslap nie! Ons kan ons oë van onsself wegdraai en op Hom vestig.

Moenie aan Hom dink as onsimpatiek of gevoelloos nie. Hy is die Hoëpriester wat Hom volkome met ons identifiseer binne die konteks van ons menslike broosheid. Hy verstaan volkome en het medelye met ons swakhede. Hy is ook in staat en genoegsaam gekwalifiseerd om te kan help. Sy troon is ‘n troon van glorie, maar ook ‘n troon van genade. Ons is altyd welkom in Sy omhelsing. Hy is vrygewig en oorvloedig in goedheid. Hy weet hoe swak ons in onsself is. Hy weet hoe besoedel selfs ons heiligste oomblikke is en hoe ons geloofsvertroue vermeng is met onsekerheid. Dis nie nodig om ons swakhede vir Hom weg te steek nie. Met iemand wat omgee soos wat Hy omgee, kan ons altyd oop kaarte speel. Ons swakhede kwalifiseer ons vir Sy troon, want dit is ‘n genadetroon. Dit is die plek vir mense wat sukkel. Die goed wat ons dink wat ons DISkwalifiseer vir die Troon, is juis die goed wat ons KWALIFISEER vir die Troon.

Dit is die manier hoe ons in die rus bly. Deur ons aanhoudend, dag vir dag, te verlustig in ons Hoëpriester. Die Bybel en gebed is ons twee kosbaarste middele. Liefde vir die Woord en gebedsasemhaling is die twee basiese maniere hoe ‘n Christen volhard.

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)