Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HEBREËRS-REEKS NO 4

Tema: Die gevaar van afdwaling

Skrif: Hebreërs 3:1 – 4:1

In ons reis deur die Hebreërbrief, het ons nou hoofstukke 1-2 in drie boodskappe voltooi. Vanoggend die 4de studie en ons bestudeer hoofstuk 3.

As ‘n mens noukeurig na Hebr 3 kyk (streng gesproke moet 4:1 daarby ingesluit word), sien jy dat dit in 3 dele verdeel: 3:1 = ‘n Aansporing. 3:2-6 = ‘n Stuk onderrig. 3:7-4:1 = ‘n ernstige waarskuwing.

Ons gaan nou die gedeelte volgens hierdie drie indelings bestudeer.

Voordat ons egter aan die werk spring, laat my toe om net ‘n opsomming te gee van wat ons in ons tot dusver in ons studie van hoofstukke 1-2 geleer het:

Ongeveer in die jaar 65nC was daar iewers in Italië ‘n gemeentetjie van die Here Jesus wat uit bekeerde Jode bestaan het. Dit was Jode wat tot geloof in die blye boodskap van Jesus Christus gekom het en gevolglik die godsdiens van die Judaïsme – waarmee hulle grootgeword het – afgesweer het.

Waarskynlik a.g.v. die kwaai vervolging wat hulle – as Christene – van die kant van die Romeinse owerheid ontvang het en ook dalk omdat die Christelike Geloof maar bra vaal lyk in vergelyking met die Judaïsme, het hulle moedeloos begin raak en dit sterk oorweeg om weer na die legalistiese Judaïsme terug te keer – en dus die evangelieboodskap die rug toe te keer.

In effek sou dit beteken dat hulle ongeloof in die plek van geloof stel. Dat hulle sou beweeg van rus na onrus, van sekerheid na onsekerheid.

Dit is belangrik dat ons moet verstaan wat sekere begrippe in die Hebreërbrief beteken:

ONGELOOF: Die glo van ‘n leuen oor jouself en oor God: dat jy nog nie 100% volkome is in die Here se oë nie en dat jy iets aan die saak moet doen!

GELOOF: Die glo van die waarheid oor jouself: dat jy in Christus reeds volkome is in God se oë!

Ongeloof = vernietig die mens.

Geloof = laat volle menswees na vore kom.

Die hele mensdom is verdeel in geloof en ongeloof.

GELOOF: Die ontdekking van wat God se oortuiging aangaande jou is: Jy is 100% met Hom versoen deur die sukses van wat Jesus gedoen het. God se oortuiging aangaande jou word dan ook jou eie oortuiging aangaande jouself. Elke keer wat die Hebreërbrief van “geloof” of “rus” praat, dan is dit wat hy bedoel.

ONGELOOF: Glo ‘n leuen oor jouself. En dit lei tot ‘n werkegodsdienssisteem van jouself probeer opdompkrag tot ‘n hoër vlak. Elke keer wat die Hebreërbrief van “ongeloof” praat, dan is dit wat hy bedoel.

Die skrywer van die Hebreërbrief (wat heel waarskynlik ‘n apostel was) wil sy lesers oortuig om nie die Here Jesus te verloën nie. Hy doen dit deur vir hulle daarop te wys dat, wanneer ‘n mens van die Here Jesus wegdraai, jy die mees heerlike verlaat en teruggaan na die minderwaardige: van lig na duisternis. Wáárom na ‘n OT-gebaseerde werkegodsdiens terugdraai? Die OT is nie eens opsigself volledig sonder Jesus nie. Jesus is God se finale en volkome Woord. Ja, die Judaïsme roem daarop dat die Wet deur die bemiddeling van engele aan Moses gegee was. Maar Christus is ‘n miljoen keer meer as die engele.

Die skrywer wil sy lesers daartoe bring om Christus opnuut raak te sien en Sy heerlikhede te bedink, want dit is hoe ‘n mens se geestelike vlam weer hoog vlam. Elke keer wanneer jy na Jesus kyk, sien jy wat God se werklike oortuiging oor jou is en wat die waarheid oor jou is. Jesus IS die waarheid oor jou. As jy stip na Jesus kyk, sien jy hoe Hý jou eie onskuld en heiligheid en aanvaarbaarheid-voor-God vergestalt! Jou oorspronklike onskuld – wat jy voor die skepping reeds in God se hart gehad het – het Jesus kom verlos en dit vir jou kom teruggee. Dis namate jy op Hóm fokus, wat jou geestelike vlam helder begin brand.

Dit bring ons dan nou by 3:1 > ‘n Stuk aansporing! En wat is die aansporing? Ek som dit op in my eie woorde:

Let noukeurig op Jesus! Dink oor Hom, bestudeer Hom, mediteer oor Hom. Want in Hom sien jy – soos in ‘n spieël – wie jyself in God se oë is! In Hom sien jy dat jy heilig (opsygesit) is vir God. Jy is ‘n broer/suster – deel van Gods gesin. Jy het ‘n roeping. Jy is deur God self geroep. Daarom het jou lewe verander.

Die Judaïsme waarheen julle liewe mense wil terugkeer, kyk terug op Moses en Aäron. Moses is mos Judaïsme se groot apostel (gestuurde). En Aäron die hoëpriester.

Maar in die Evangelieboodskap is Jesus beide! Hyself is apostel en hoëpriester in Een Persoon! Hy is baie groter en MEER as wat Moses en Aäron ooit was, want hulle was maar net vooruitwysers na Jesus wat sou kom!”

U hoor die aansporing? Jesus, Jesus, Jesus! Kyk noukeurig na Hom! In Hom weet jy hoe heilig en geroep jyself is. Dit laat jou geestelike vlam hoog brand! Want – in Jesus – ontdek jy vir die eerste keer wie jyself werklik is!

U hoor die aansporing in vers 1?

En hieruit volg die stukkie onderrig in 3:2-6:

Waaat? Is Jesus REGTIG groter as Moses en Aäron?? Beslis die vraag wat ‘n volbloed Jood sou vra.

Antwoord? Ja, Hy is! Verseker is Hy groter as Moses – om mee te begin!

Die groot ding van Moses was mos sy getrouheid, sy betroubaarheid. Hy was getrou binne die huishouding/familie van God – wat die volk Israel was. As Moses nie getrou gedoen het wat die Here aan hom toevertrou het nie, dan sou die Here se mense nooit Egipte verlaat het en die beloofde land betree het nie!

Net so was Jesus getrou in die taak wat Sy Vader Hom gestuur het om te doen. As Hy sou ingee op versoekings of vasgesteek het voor die kruis, sou geen mens met God versoen word nie.

Wat egter goed raakgesien moet word, is die feit dat Jesus die Seun van God is terwyl Moses net ‘n dienaar was. Jesus is geregtig op veel meer respek en eer soos ‘n bouer meer eer werd is as die gebou wat hy gebou het.

In enige huishouding het die seun/erfgenaam ‘n totaal ander status as die bediende. Dit is die verskil tussen Jesus en Moses. Dit is die verskil tussen die genade en die wet. Want Jesus vergestalt genade en Moses vergestalt die wet (Joh 1:17). Genade is superieur bó die wet.

Binne die huishouding van God regeer die genade, nie die wet nie. Christus, nie Moses nie.

En wie/wat is hierdie huis/huishouding? Dis ons! Dis die internasionale NT-kerk wat uit mense van alle nasies bestaan. Wátse mense? Almal wat deur dik en dun vashou aan die hoop van die Blye Boodskap van God se genade in Jesus!

Dit was ook van die Hebreërs waar, hulle was ook 100% deel van hierdie huishouding, maar hulle gedagtes was besoedel om die hoop van die evangelieboodskap te laat vaar en terug te keer na ‘n godsdienssisteem van geen-hoop – waar hulle weer van voor af ‘n leuen oor hulleself sou moes glo. Die leuen van: “ek is onderdeur, ek is onversoen, ek is ‘n verlorene, ek is nog nie waar ek moet wees nie. Daarom moet ek dit en dit en dit doen om te verbeter en God se guns op my te kry”.

Die kenmerk van iemand wat werklik die evangelieboodskap omhels en wat innerlik nuut geword het en deur die Heilige Gees verander is en wedergebore is, is dat so ‘n persoon aanhou en aanhou en aanhou en aanhou om God se oortuiging te glo, ten spyte van mislukkings, teleurstelling, versoekings, val en opstaan, terugslae, aanvegtings, vervolging en marteling … AANHOU met Jesus, is DIE kenmerk van iemand wat werklik die Lig gesien het.

Maar ons moenie dink dat ‘n mens wat die Lig gesien het sommer so maklik vir 40-50 jaar sal aanhou (volhard) nie. Die aanhouery gaan dikwels met intense stryd gepaard. En hierdie aanhouery vind soms plaas deur middel van aanmoediging en aansporing en vermaning – soos wat die Hebreërskrywer met sy lesers doen. Hy het nie moed opgegee met hulle nie. Hy sien hulle steeds as broers en susters, as huishouding van God. Hy dink nie hulle is verlore of sal verlore gaan nie. Maar sy aansporing en sy opeenstapeling van argumente is deel van die manier wat die Heilige Gees gebruik om hulle in geloofsvertroue vas te hou en hulle dieper aan Christus te knoop. En deur die eeue het die Gees die Hebreërbrief gebruik om miljoene Christene te inspireer en te motiveer om aan te hou.

So, dit is dan die stukkie onderrig in verse 2-6.

Dit bring ons dan laastens by die waarskuwing in 3:7-4:1.

Dit is ‘n baie ernstige waarskuwing!

Die skrywer verwys sy lesers weer eens terug na die volk Israel se wedervarings in die verre OT-tyd toe hulle deur die woestyn op pad was na die beloofde land, maar byna die hele volk gesterf het as gevolg van ongeloof. Hulle was ALMAL uit Egipte gered en tóg sterf byna almal! Almal was gered uit Egipte, maar tog sterf byna almal in die woestyn as gevolg van ongeloof. Hulle harte was verhard. Hulle was opstandig. Hulle harte het weggedwaal van die Here. Hulle het nie Sy weë geken nie. Hulle het sondige, ongelowige harte gehad. Hulle het weggedraai van die lewende God. Hulle was verhard deur die misleiding van sonde. Daarom kon hulle nie die Here se rus ingaan nie. En kon hulle nie die beloofde land betree nie.

Dit alles beteken egter nie dat hulle nie in God geglo het nie. Hulle het Sy wonders dag na dag beleef. Hulle was gered uit Farao se mag. Hulle het die Here daagliks beleef. Met hulle eie oë het hulle die wolkkolom gesien wat voor hulle uit trek.

Wat word dan bedoel met hierdie woorde: ongeloof, verharding, opstandigheid, wegdwaling?

Gaan lees gerus Numeri 13 en sien vir uself waarom daardie geslag Israeliete nie die beloofde land kon ingaan nie. Nie omdat hulle nie in God geglo het nie. Maar omdat hulle ‘n leuen oor hulleself geglo het! Hulle was verward oor hulle eie identiteit. Hulle het nie mooi verstaan wat die Here hulle gemaak het nie.

Kyk wat sê hulle in Numeri 13:33 > “Ons is soos springkane in vergelyking met die reuse wat in die land woon”. Terwyl hulle werklike identiteit-in-die-Here was dat hulle Sy kinders is, dat hulle meer as oorwinnaars is wat beslis die land Kanaan in besit sou kon neem!

Hulle ongeloof was: hulle het ‘n leuen geglo oor hulleself en hulle eie verlossing. Hulle het gedink hulle is nie verlos nie, terwyl hulle in werklikheid verlos was! Hulle kon nie snap wat die Here se oortuiging oor hulle is nie. Sy oortuiging was dat hulle baie groter as die reuse van Kanaan was. Maar hulle kon Hom nie glo vir dit waaroor Hy oor hulle oortuig was nie. Hulle oortuiging oor hulleself kon nie in lyn kom met Sy oortuiging oor hulle nie.

DIT was Israel se sonde – die sonde wat hulle uitgekul het uit hulle ware identiteit.

Dit was dus nie die Here wat die Israeliete uitgesluit het uit die beloofde land nie – hoewel Hy diep bedroef was. Hulle het hulleself uitgesluit! Sy rus was hulle s’n. Maar hulle het onrus verkies. Hulle kon nie vashou aan die geloofsoortuiging wat hulle gehad het tydens die uitredding uit Egipte nie. Tóé was hulle seker dat hulle verloste oorwinnaars in God is. Nou was hulle oortuiging dat hulle verloorders is, net springkane!

Die Hebreërskrywer pas dit alles toe op sy lesers. Indien hulle sou teruggaan na Judaïsme, sou dit bewys dat ook húlle die Here se oortuiging oor hulleself verwerp. Dat hulle nie snap dat Vader hulle by Jesus ingesluit het en dat hulle verloste oorwinnaars is nie. En dat hulle in Jesus alles besit nie. En dat hulle daarom weer die werke van die wet wil gaan opneem om oorwinnaars te word. Moses bó Jesus stel!

Is dit nie vreeslik om te dink dat ‘n mens ‘n volledig verloste mens in Christus kan wees en nogtans in die duistere verlorenheid van misleiding, onkunde, misleidende gevoelens van uitgesluitwees verstrengel kan wees. Jy kan ingesluit wees by Sy rus en nogtans in onrus leef. Die beloofde land is werklik joune, maar jy sterf in die woestyn. Jy is volkome vry maar nogtans leef jy soos ‘n slaaf. Jy is ‘n hemelkind, maar beur hel toe!

Is dit nie verskriklik erg nie?

Ek kan nie genoeg beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons moet verstaan wat die Hebreërskrywer met begrippe soos “sonde, verharding, ongeloof” bedoel nie.

Ons moenie dit verstaan binne die raamwerk van hoe ons vandag daaroor dink nie. Met “sonde” bedoel hy nie vloek en skel en moor en skinder en haat nie. Met “ongeloof” bedoel hy nie dat sy lesers dalk nog nie ‘n “sondaarsgebed” gebid het nie en dat hulle dalk onbekeerd is omdat hulle nog nooit vir “Jesus in hulle harte ingenooi” het nie!

‘n Mens lees soms die Hebreërbrief en sien in jou gedagtes die eerste lesers as Jode wat almal die “sondaarsgebed” gebid het en Christene geword het, maar nou het hulle ongelukkig afgedwaal en allerlei gruwelike sondes soos haat, moor, steel en owerspel gepleeg en daarom is die Here vir hulle kwaad en wil hulle nou liewer maar teruggaan na die Judaïsme!

Niks is verder van die waarheid nie!

Met “sonde” en “ongeloof” verwys die skrywer na sy lesers se onvermoë om die Here te glo vir wat Sý oortuiging oor hulle is – naamlik dat hulle volkome is in Sy oë op grond van Jesus se sukses – en dat hulle om daardie rede weer na ‘n godsdiens wou teruggaan waar hulle hulself met reëls en regulasies en offerhandes moes gaan opwerk van “springkaanstatus” tot “oorwinnaarstatus”.

Dit is hierdie tipe ongeloof waarmee ‘n mens wat alreeds aan ‘n koningstafel sit, homself uitsluit en op straat vir krummels gaan bedel. Identiteitsverwarring.

Al die bewyse is daar dat ek ‘n prins is. Maar dis te goed om waar te wees. Ek is oortuig dat ek in die bloedige son moet bedel vir ‘n snytjie brood. Met watter gevolge? Ek is meesal honger. My geld is min. My voete is seer gestaan. Ek was ook al aangerand. Dit gaan oor die algemeen sleg. Terwyl ek ‘n prins IS!

Terwyl die toesegging van Sy rus absoluut van krag is, moenie dat dit later blyk dat een van ons agtergebly het nie!

Category Hebreers Reeks

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)