Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

2 TIMOTEUS – REEKS NO 1
Tema: Bevry van vrees
Skriflesing: 2 Timoteus 1: 1-7

2 Timoteus was die laaste brief wat die Apostel Paulus ooit geskryf het. Kort hierna, het hy sy Here en Heiland Jesus Christus verheerlik deur die marteldood in Rome te sterf. In Johannes 21:19 sê Jesus vooruit vir Petrus hoe hy – wat Petrus is – God sal verheerlik met sy dood as martelaar. ‘n Waaragtige kind van God se dood verheerlik God – in besonder veral ‘n martelaarsdood.

Die brief wat ons dus nou begin bestudeer, was die apostel Paulus se heel laaste geskrif.

LEES WEER VERSE 1-2

Ja, ons sou kon raai hoe hy die brief sal begin. Nie met allerlei storietjies en ditjies en datjies nie. Hy klim onmiddelik in by die noodsaaklike wat gesê moet word.

Hy bevestig eerstens sy Godgegewe gesag as wettige apostel (gestuurde). Timoteus het goed geweet wie/wat Paulus is, maar die brief moes ook aan die gemeente in Efese, waar Timoteus leraar was, gelees word. En HULLE moes nie twee sekondes twyfel oor die outoriteit – apostoliese gesag – van die brief nie. Dis God se eie Woord – uit en verby – geen twee stories daaroor nie!

Die brief moes dus eerbiedig word as Woord wat onder leiding van die Heilige Gees geskryf is – INGEGEE is deur die Heilige Gees (2 Petr 1:21). En die Here Jesus self het die apostel hiertoe opdrag gegee. Hy is wat hy is deur God se wil. En hy skryf onder God se wil.

Dit sê so geweldig baie vir ONS wat hier in die 21ste eeu die brief lees. Dit sê iets omtrent die gesindheid waarmee ons hierdie brief (en die hele Bybel) in ons harte en lewens moet ontvang. Want tussen die eerste lesers en ons is daar (in beginsel) geen verskil nie. Wat vir hulle geld, geld vir ons. Daar bestaan eenvoudig nie ‘n ander manier om hierdie brief (en die hele res van die Skrif) te ontvang nie. NOOIT mag ons ons verskilletjies met die Skrif aanteken of onsself bo die Skrif handhaaf nie. Dit is OF volledige gehoorsaamheid OF dit is niks!

Die kern van wat die Apostel verkondig is DIE (let op bepaalde lidwoord) belofte van die ewige lewe wat in Christus Jesus ‘n absolute realiteit is.

Die Evangelieboodskap kom met ander woorde na ons toe as DIE BELOFTE. In die OT die onvervulde belofte en in die NT die vervulde belofte. Maar presies dieselfde belofte. Alle prediking is daarom BELOFTEPREDIKING. Die Bybel word as eenheid saamgebind deurdat dit EEN BOODSKAP het – die belofte van die ewige lewe in Jesus Christus. Elkeen wat in Jesus Christus is, mag weet dat hy/sy die ewige lewe in Hom besit! Dit is die kern van die hele Bybel. Net dit. Wie DIT in vertroue omhels, sal wegstap van die oue dinge en die LEWE besit. En wie dit in ongeloof wegwys, sal verlore gaan.

Die Here Jesus het DIE BELOFTE in Sy geboorte uit die maagd, sy gehoorsaamheid, sy onskuldige lyding, sy dood, sy begrafnis, sy opstanding en hemelvaart waargemaak vir elkeen wie die Vader voor die skepping aan Hom gegee het en wat met bekering kom en sy/haar hoop daarop begin plaas.

Ja, die vervulde belofte hou stand vir ELKEEN wat waaragtig op Jesus hoop. Soos ‘n mens op jou valskerm hoop wanneer die vliegtuig na benede stort. Dit is wat geloof op Christus is.

Timoteus het op só ‘n manier aan Jesus vasgeklou!

Hy was die apostel Paulus se geestelike kind.

En die apostel weet dat sy eie dood op hande is. Dit is sy laaste brief.
Daarom wil hy sien dat sy geliefde geestelike seun die werk moet voortsit – nie as apostel nie – dit kon hy nooit wees nie – maar as LERAAR van die apostoliese leer. Toegerus met God se vrye guns en jammerhartigheid en bonatuurlike vrede.

Ja ENIGE mens wat die BELOFTE VAN DIE EVANGELIE omhels soos wat jy ‘n valskerm vertrou, IS altyd die voorwerp van God se genade en barmhartigheid en vrede! Altyd. Altyd!

LEES WEER VERSE 3-4

Ons moet dit goed verstaan. Omdat Paulus ‘n outentieke APOSTEL was, hoor ons in sy woorde die Here se woorde en sien ons in sy voorbeeld die Here se hartklop.

In sy toegeneëntheid tot Timoteus, sien ons dus die Here Jesus Christus se ontferming teenoor Sy dienskneg wat ontmoedig was in sy bediening in Efese. Dis hoe die hartklop van die Here is. En dit reflekteer in die apostel se ontferming.

Paulus is so uiters dankbaar teenoor die Here God vir sy genade (onverdiende vrye guns) in Timoteus se lewe en bediening. En Paulus ag vir Timoteus DEEL van God se genadeverbond. Hy sien ‘n kontinuïteit tussen sy eie (Paulus se) voorouers se geloofswandel en sy eie – alhoewel sy eie ouers volbloed Jode was wat nog nie van Christus geweet het nie, MAAR hulle het (as OT gelowiges) gelowig vasgehou aan God se belofte aan Abraham dat daar ‘n Verlosser aan die kom is.

Paulus self – aan die ander kant – het uit die vervulde belofte aan Abraham geleef, want hy het vir Jesus geken. Hy het vasgeklou aan die opstanding van Jesus. En die koms van Jesus was die vervulling van God se belofte aan Abraham. Die vervulde verbondsbelofte aan Abraham is dus die voorwerp van Paulus se vertroue. Sy ouers het vasgeklou aan die BELOFTE en hyself aan die VERVULDE belofte. Maar dit is wesenlik een en dieselfde belofte. Hy erken dus die verbondskontinuïteit vanaf die OT oor na die NT tydvak.

NIE die wettiese Fariseërs nie, maar die OT-mense wat VOOR Christus se koms geleef het en wat die belofte van die komende Messias omhels het (geglo het), was presies net so gered en verlos as die NT-gelowiges wat NA Christus se koms leef (soos Paulus self) en die vervulde belofte omhels (glo).

Daar was nie twee verskillende maniere waarop mense voor en na Christus se koms gered was nie. DAWID byvoorbeeld was nie op ‘n ANDER manier gered as ‘n ware Christen vandag in die 21ste eeu nie. BEIDE omhels God se verbondsbelofte in Christus. DAWID die onvervulde belofte en die 21ste eeuse Christen die VERVULDE belofte.

Ja, Paulus was in boeie in Rome. Maar, sy gewete was skoon – hy was aan niks skuldig nie. Aan niks skuldig nie??? Hoe kon dit? Was hy dan sondeloos perfek? Nee, hy was aan BAIE dinge skuldig. Maar tóg was hy aan niks skuldig nie. Want hy was gewas in die bloed van Jesus Christus. Dit is die ENIGSTE manier om ‘n skoon gewete te bekom. En met ‘n skoon gewete te sterf!

Die apostel wou net een ding: Hy wou die Here Jesus Christus voluit dien. En hy het daarvan werk gemaak om vir die jong Timoteus te bid. So dikwels as wat die geleentheid daar was.

O, hy verlang so om vir Timoteus weer te mag sien. Die band in Christus wat hulle saambind, is enorm sterk. Dis sterker as enige ander inter-menslike bande.

Die apostel weet dat sy eie sterwe naby is. Hierdie sou sy laaste brief wees. Die vorige keer toe hulle afskeid geneem het, het Timoteus baie gehuil. Die apostel was sy geliefde geestelike vader.

Ja, die familieband wat Christus Jesus se bloed tussen gelowiges skep, is baie sterker as die band wat natuurlike bloed tussen mense wat nie die Here ken nie, skep.

LEES WEER VERS 5

Kyk nou hoe haak hierdie versinhoud aan by vers 3 waar die apostel na homself verwys het – hoe hyself uit ‘n verbondsagtergrond gekom het. En nou sê hy dieselfde van Timoteus. Want Timoteus – wat NIE ‘n etniese Jood is nie – se ma en ouma was wel Christus-gelowiges.

Paulus is so dankbaar vir die opregte geloofsvertroue wat in Timoteus se hart leef. “Ongeveins” beteken dat Timoteus heeltemal anders was as die vals leraars. Hulle bely ook geloof, maar dit is vals want hulle vrug bewys dit.

Net soos Paulus self kon terugkyk op voorgeslagte wat God geken het, kan Timoteus ook sien op sy ma en ouma in wie die Heilige Gees die ware geloof laat ontvlam het. Waar slegs een van die ouers ‘n Christus-gelowige is die kinders apartgesit vir die Here (1 Kor 7:14). Daardie kind is binne die verbondsklimaat en atmosfeer en onder die invloed van gebed en Woord en kerk. Die belofte van Abraham (soos vervul in Christus en die gawe van die Heilige Gees) is immers bedoel vir gelowiges EN hulle kinders (Hand 2:38-39).

Die Here God werk ongetwyfeld deur geslagte en families en hierin sien ons weer die kontinuïteit en voortgang van God se genadeverbond.

Timoteus se pa word nie genoem nie omdat hy ‘n Griek was en waarskynlik nooit tot redding in Christus gekom het nie. Maar met ‘n Christus-gelowige ma en ouma, was Timoteus – van God se kant – en kragtens die belofte – ingesluit by die verbond volgens 1 Kor 7:14.

Natuurlik moes hy ook persoonlik tot bekering en geloofsvertroue in Christus kom. ‘n Belofte moet aangeneem word. Waarskynlik was dit juis Paulus self wat hom hiertoe gehelp het. Dis waarom hy Timoteus sy geestelike kind noem.

Kinders van gelowiges is ingesluit by die verbond en deel van die kerk en gemeente en beslis is hulle nie heidene nie, maar hulle is ook nie outomaties wedergebore nie. Hulle is PER BELOFTE ingetrek in die kerk. Die Woord van God roep elkeen op tot persoonlike geloofsbeslissing.

Hoewel Timoteus waarskynlik tydens Paulus se eerste sendingreis in Listre tot bekering en geloofsvertroue gekom het en sekerheid van saligheid verkry het, sien ons uit Paulus se woorde dat Timoteus tog veel verskuldig was aan sy ma en ouma se onderrig.

Die apostel het geen twyfel oor die egtheid van Timoteus se verlossing nie. In hom leef ‘n ware vertroue op Christus se kruisredding.

Maar, as gevolg van die apostel se gevangenskap, het Timoteus ontmoedig geword. Daarom wys Paulus hom op sy moeder en grootmoeder se geloofsvertroue ten spyte van moeilike omstandighede. Dit is daardie volhardende vertroue wat WEL in Timoteus se binneste teenwoordig was. Daarvan is Paulus oortuig.

LEES WEER VERS 6

Die jonge Timoteus was net ‘n mens en het aanmoediging nodig gehad. Hy was geneig om bang te word (1 Kor 16) en wou dalk vanaf Efese na ‘n makliker werkkring oorbeweeg (1 Tim 1:3).

Met vaderlike sorg praat die apostel hom dus moed in. Die geestelike voorregte wat hy geniet het asook sy hemelse roeping, moes hom voortstu/voortdryf. Die genadegawe in hom, moes nie uitdoof nie. Toe hy destyds in Listre deur die ouderlinge en gemeente afgesonder was tot die bediening (Hand 16) en die ouderling hom die hande opgelê het (1 Tim 4), het die apostel Paulus ook aan die handopleggingsplegtigheid deelgeneem.

Die handoplegging was nie ‘n magiese handeling waarmee en waardeur Heilige Gees-gawes oorgedra was op mense nie. Dit was simbolies. Dit was simbolies van die bevestiging van die feit dat dit die HERE is wat aan Timoteus sekere gawes vir die bediening geskenk het. Die handoplegging was net ‘n sigbare bevestiging daarvan. Dis nie die handoplegging SELF wat iets vermag nie!

Indien die Here roep, dan rus Hy ook toe. God se gawes gaan nie oor persoonlike verryking nie, maar oor effektiewe diens aan ander.

Die handoplegging was aan Timoteus ‘n teken van versekering: God HET jou toegerus dus moenie twyfel nie.

Maar, Timoteus kon en moes hierdie gawes “aanwakker”. Soos ‘n kwynende kooltjie aangeblaas word om weer in ‘n vlam uit te breek.

Net soos wat die Heilige Gees se vuur geblus kan word (1 Thes 5:19), só is die Gees se gawes vir die Woordbediening ‘n vlam wat uitgedoof kan word indien dit nie versorg word nie. Timoteus se neerdrukkende gemoedstoestand het – byvoorbeeld – die realiteit van God se gawes in hom, versmoor. Nou moes dit aangeblaas word deur gebed en hernude vertroue en ‘n wilsbesluit om dit gehoorsaam te gaan uitleef.

Dis wonderlik om te mag weet dat ek nie NUWE gawes van die Heilige Gees weer en weer en weer nodig het nie. Want dit wat Hy EENMAAL gegee het, trek Hy nooit weer terug nie (Rom 11:25).

Ek kan net opnuut weer doelbewus gaan LEEF vanuit dit wat ek alreeds uit genade besit. Hernude gebed en toewyding en erns met sonde en voortgaande diepe bekering, bring gou weer ‘n nuwe belewenis van die Gees se teenwoordigheid.

LEES WEER VERS 7….

Hierdie woorde is nie bedoel om vir Timoteus te vermaan nie. Eerder om hom aan te spoor.

As mens – in sy persoonlikheid – was hierdie dienaar van die Here – Timoteus – geneig tot vreesagtigheid en beskroomdheid – MAAR dit mag nie die uitvoering van Sy Woordbediening vertroebel nie. Kragtens weergeboorte, het die Heilige Gees immers tog aan Timoteus ‘n geestesingesteldheid geskenk wat NIE lafhartig en bang is nie. Al beur sy persoonlikheid in daardie rigting, is die inwonende Gees van Christus sterker. Timoteus is alreeds deur Hom toegerus. Wie weergebore is, wie ‘n Christus-gelowige is, IS toegerus. Toegerus met innerlike krag. Dit is nie iets wat GEVOEL word nie. Dit is iets wat GEGLO moet word – omdat God so sê.

God se belofte moet dus omhels word. ‘n Christen leef nie deur gevoelens nie, maar deur geloofsvertroue wat geskoei is op God se beloftewoord. Die vertroue gryp nie een of ander idee vanuit die lug nie. Dit staan op God se beloftewoord – swart op wit in die Bybel en persoonlik toegesê in die doop en nagmaal.

Dit is ‘n gegewe feit: Die Heilige Gees maak nie ‘n Christen bang en lafhartig nie.

Iets soortgelyk staan ook in Romeine 8:15. Die innerlike krag wat die Heilige Gees gee, stel ons in staat om leiding te gee en in moeilike omstandighede staande te bly.

Daarby laat Hy ons met selfverloëning vir God gehoorsaam en vir ander tot diens wees. Die Heilige Gees is immers die Gees van selfbeheersing. Die Christen besit dus beheer oor sy/haar liggaam en gees – al voel dit HOE. Die waarheid is: indien jy ‘n Christus-gelowige is, HET jy die selfbeheersing.

Die wonderlike is dat hierdie eienskappe nie uit die mens is nie, maar dat dit vrug van die Heilige Gees is. Waar Hy teenwoordig is, produseer Hy hierdie lewende vrug – wat niks anders is as die lewe van die Here Jesus Christus self nie.

Category 2 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)