Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 9
1 Timoteus 5: 17-25
Tema: Die prag van Christus in ordereëls

Dit is aangrypend om te sien watter noue verband die Heilige Gees plaas tussen die gesin en die gemeente. Die gesin is eintlik die gemeente in die kleine. In die agtergrond vibreer daar natuurlik die hele tyd die realiteit van God se verbond. Want ons weet dat die God van die verbond altyd binne gesinsverband werksaam is – veral om meer mense in die koninkryk in te bring.

En in hierdie hoofstuk is die Apostel Paulus besig om vir die jonger Timoteus – op daardie stadium leraar van die gemeente in Efese – praktiese ordereëlings neer te lê. Want binne ‘n huis moet daar orde wees. En die gemeente is God se huisgesin.

Die wonder is egter dat – indien ‘n mens mooi kyk – jy IN hierdie ordereëlings die prag van die Here Jesus sien skitter. Christus self kom na vore in dit wat vir ons soos dorre reëlings klink.

Hier is ‘n praktiese voorbeeld.

Indien ‘n Christus-gelowige vrou ‘n lidmaat van die gemeente is en sy het in haar familie ‘n weduwee wat swaar trek, moet sy self vir haar sorg en mag die gemeente nie hiermee onnodiglik belas word nie.

Die gemeente moet egter vir weduwees sorg wat heeltemal alleen agtergelaat is. Sodoende moet daar regverdigheid geskied, want die Here is regverdig. Dis HY wat in gesinne en gemeentes sigbaar moet word. SY beeld/reg/prag moet weerkaats word. Daarom moet SY regverdigheid in hierdie spesifieke situasie uitstraal.

U sien hoe word die Here se regverdigheid en reg hier weerkaats.

Net soos wat daar regverdigheid/reg moet geskied teenoor weduwees, net so ook teenoor die ouderlinge – veral dié wat spesifiek afgesonder is vir die Woordbediening. In ons dag sal dit die predikante/leraars wees. Hulle is ouderlinge, maar hulle spits hulle toe op die bediening van God se Woord.

Hulle moet materieël goed versorg word, sê die Apostel. Dit staan ook net so geskryf in 1 Korint 9: 9-11 en Rom 15:17.

Hierdie is nie Paulus se eie idee – omdat hy dalk wou hê gemeentes moes vir HOM sorg nie, want ons weet dat hy opsetlik van hierdie reg afstand gedoen het en tente gaan maak het vir ‘n inkomste. Hy was allermins op geld & goed ingestel.

Nee, dis nie Paulus se idee nie, maar die Heilige Gees leer dit in die OT-Skrif in Deut 25:4. Die bees wat hard werk deur graan te dors, se bek mag nie toegebind word nie, want hy moet kan vreet terwyl hy werk. EN : Die arbeider is sy loon werd, het Jesus self in Lukas 10:7 gesê.

Toe Paulus hierdie verse geskryf het, was dit – wat ons in ons NT ken as Lukas-evangelie – waaruit daardie aanhaling van Jesus se woorde kom – nog nie op skrif nie, maar Jesus se woorde was wel baie sekuur mondeling oorgelewer en Paulus haal daardie mondelinge oorlewering in vers 18 aan as 100% gesaghebbend. Dit IS wat Jesus gesê het, sê die apostel. En dit – tussen hakies – gee vir ons vandag die sekerheid van hoe pynlik akkuraat die mondelinge oorlewering was – om nie eens te praat van die kopiëring (oorskryf) van dit wat op skrif was nie!

Woordbedienaars is dus ouderlinge wat hulle toespits op prediking en die gemeente moet toesien dat hulle na behore vergoed word ten einde hulle in staat te stel om hierdie werk voltyds te kán doen. Hulle moet letterlik uit die Evangeliebediening leef soos die bees wat graan dors van dieselfde graan moet kan eet terwyl hy besig is om te werk.

En die ander ouderlinge – wat nie voltydse Woordbedienaars is nie – moet toesien dat dit só gebeur.

Dit is nie ‘n beroep wat hierdie Woordbedienaarouderlinge beoefen nie. Dit is ‘n roeping wat hulle uitleef.

Byna sonder uitsondering maak predikante wat Woordbediening as ‘n beroep beoefen ter wille van ‘n inkomste, een of ander tyd ‘n mate van mislukking daarvan. Dit MOET ‘n ware roeping wees wat as ouderling uitgeleef word. Selfs al is daar nie ‘n noemenswaardige inkomste nie, moet die Goddelike roeping so ‘n persoon nog steeds voortdryf.

Kan u die prag en skoonheid van die HERE in hierdie verse/ordereëlings hoor? Die weerkaatsing van SY billikheid, SY heilige reg, SY absolute regverdigheid, SY ontfermende omgeehart, SY versorging. DIT is wat ons in Christengesinne en gemeentes moet sien.

Dit wat betref verse 17 & 18…

Nou dan verse 19-21…

Kyk, dit is slegs ‘n ware APOSTEL wat kon sê: “Ek beveel jou om jou hieraan en hieraan te hou.” Die ware, outentieke apostels het met ‘n unieke en onherhaalbare Godgegewe gesag opgetree.

Paulus en Timoteus was in ‘n sekere opsig dus nie op ‘n gelyke vlak nie. Timoteus was ‘n gemeenteleraar en sy taak was om die apostel se leer te verkondig. En net dit. Niks meer en niks minder nie. En die apostel kon vir hom sê: “Ek beveel jou om te dit en te dat…”

En tot vandag toe is DIT wat in ware gemeentes van Christus gedoen moet word.

Gemeentes is nie volmaak nie en daarom kan ‘n mens verwag dat daar soms klagtes oor – byvoorbeeld – ouderlinge sal kom. Die sielevyand werk ook kliphard om onmin te saai, want hy haat dit wanneer ‘n gemeente onder die Here se seënende hand is. Die rus en eenheid moet ten alle koste versteur word.

Timoteus moes egter versigtig wees om sommer maar net klagtes teen ouderlinge aan te neem nie. Daar moes 2-3 getuies wees – soos Deut 19:15 bepaal. Sodoende kan baie onbenullige klagtes in die kiem gesmoor word. Werklike ernstige klagtes wat gewig dra, sal selde voorkom indien die ouderlinge vooraf goed gekeur was – soos die apostel dit vroeër in die brief uiteengesit het.

Wanneer daar egter wél ernstige klagtes kom, moes Timoteus nie skroom om op te tree en dissipline toe te pas nie. Soos Jesus dit in Matteus 18: 15-17 uitgespel het.

Die skuldige moet tereggewys word – in die teenwoordigheid van die ander ouderlinge. Sodoende kan almal besef hoe heilig die Here is en kon dit ‘n waarskuwingsein uitstuur. Die heiligheid van God word hierin weerkaats.

Die gemeente van Christus is ‘n ruimte waar sonde nie ‘n vastrapplek mag kry nie.

Dink net hoe moeilik moes dit vir die jong Timoteus wees om SULKE tipe van optrede (tughandeling) deur te voer – veral wanneer die aangeklaagde veel ouer is as hyself.

Maar, die welsyn van die gemeente en die stryd teen die sonde vereis dit. Dit vereis onpartydige optrede. So ernstig is dit, dat die apostel vir Timoteus voor ‘n eed stel – in die teenwoordigheid van die Vader en Christus en die uitverkore engele.

Ja, die engele wat NIE saam met Lucifer tot ‘n val gekom het nie, was deur God se genadige verkiesing bewaar. Hulle het nie NIE tot ‘n val gekom omdat hulle beter was as die ander nie, maar omdat God hulle verkies het om behoue te bly.

En volgens gedeeltes soos 1 Kor 4:9 en 11:10 en Efes 3:9-10 kyk hierdie engele na wat in die Here se kerk aangaan. Hoe dit werk, weet ons nie presies nie. Wat dit behels, weet ons ook nie. Maar DAT gemeentewees ‘n heilige en ernstige saak is, staan vas en ons kan dit duidelik sien in Paulus se instruksies aan Timoteus. Dit is so ‘n ernstige saak, dat selfs die engele dit dophou.

Ons kyk vervolgens na vers 22..

Ons moet versigtig wees om nie vers 22 los te maak van die voorafgaande 3 verse nie. Dit gaan met ander woorde nog steeds in vers 22 oor klagtes wat teen ouderlinge ingebring kan word en hoe dit hanteer moet word.

Lees weer vers 22….

Paulus praat nie hier van die lukrake los-en-vas manier van iemand die hande oplê soos wat dit vandag in sommige kringe gebeur nie.

Hy praat van die gebruik in die vroegste kerk waar ouderlinge die hande opgelê is wanneer hulle deur die gemeente afgesonder is vir hulle dienswerk. Dit was ‘n simboliese handeling wat aandui dat die HERE die persoon toerus en opsysit vir ‘n spesifieke taak.

Later – ongeveer teen die 3de eeu – was dit gebruiklik om ook ‘n berouvolle sondaar – wat ná ‘n tughandeling in die gemeente heropgeneem word – die hande op te lê.

Maar in vers 22 verwys Paulus na die handoplegging by die afsondering van ouderlinge vir hulle dienswerk. DIT moenie oorhaastig toegepas word nie, sê hy. Dit is dus hoe Timoteus voorkomend moes optree om te verhoed dat dissipline enigsins teen ouderlinge toegepas word – waarvan hy in verse 19-21 gepraat het. Hy moes dit probeer verhoed deur nie oorhaastig daardie-en-daardie mense as ouderlinge te kies en dus hande op te lê nie! U sien dus hoe vers 22 met die voorafgaande verse skakel.

Timoteus moes nie TE haastig wees om ouderlinge aan te stel nie. Want, indien daar foute gemaak word met die keuring van moontlike kandidate en die verkeerde manne word bevestig, sou Timoteus en die ander ouderlinge medeskuldig wees aan hulle sonde. Dis baie belangrik voor die Here dat nie Timoteus of ander ouderlinge of diakens hulle moes laat besmet deur ander se afvalligheid nie.

Let mooi hierop: Dis nie die aksie van hande-oplê as sulks wat vir Timoteus kon skade berokken nie, maar die feit dat die oorhaastige aanstelling (hande-oplê) van ouderlinge verkeerde mense tot die leierskap van die gemeente toelaat – DIT is wat die skade kan berokken.

Die oplê van hande van iemand wat (byvoorbeeld) in sonde leef OF die oplê van hande DEUR iemand wat in sonde leef, kan nie op ‘n magiese, misterieuse (bose) manier sondes/bose geeste op iemand oordra nie. Dis NIE wat die apostel hier leer nie. Dit is nie die hande-oplê OPSIGSELF wat die probleem is nie.

Wat hy egter wél sê, is dat God heilig is en dat ‘n gemeente ernstig moet wees met wié hulle tot die leierskap verkies.

En dan vers 23 …

Timoteus het te kampe gehad met spysverteringsprobleme en die apostel is daaroor besorg omdat die HERE omgee.

Ja, ‘n mens kán inderdaad ‘n ware kind van die Here wees en steeds met liggaamlike siektes en kwale loop. Dis gewoon onwaar – soos die hedendaagse voorspoedspredikers verkondig – dat ‘n Christus-gelowige gesond en welvarend moet wees. Dit is sonder meer vals leer.

Dit is ook onwaar dat die unieke apostoliese gawe van genesings direk te verrig, dwarsdeur die kerkgeskiedenis sou voortduur. Hier – in die laat-apostoliese tydperk – toe Paulus hierdie brief vir Timoteus skryf – doen die apostel NIE dít wat hy in die beginfase van die apostoliese era gedoen het nie – en dit is om eenvoudig vir Timoteus te genees nie. Nee, hy beveel eerder die gebruik van medikasie aan. ‘n Bietjie wyn in hierdie geval.

Vroeër het Paulus en die ander apostels eenvoudig vir siekes gesê: “Jy is gesond” of “die Here genees jou” soos in Handelinge 28:8 waar die einste Paulus vir Publius se pa genees het. Of Handelinge 3:6 vir die bedelaar: “In die Naam vd Here, staan op en loop.”

Tydens die aanvangsfase van die Christelike Kerk het die Here deur die Apostels en apostelmedewerkers buitengewone wonders op hulle woord verrig om die Evangeliebediening te rugsteun en ook as teken vir die Jode dat die verlossing nou na die nie-Joodse nasies deurgebreek het. Genesings was deel daarvan en ook die gebruik van vreemde landstale en direkte profetiese openbarings.

Maar nadat die kerk gevestig is, het hierdie manifestasies afgeneem. Dieselfde Paulus het byvoorbeeld vir Trofimus siek in Milete agtergelaat (2 Tim 4:20) en hom nie genees nie – ook in die laat-apostoliese tydvak. Dieselfde geld hier vir Timoteus met sy swak maag.

Die apostels het ‘n unieke en onherhaalbare bediening gehad naamlik om die fondasie van die kerk te lê (Efes 2:20) en daarom kan en mag hulle bediening nie vandag nageboots word nie.

Dit beteken geensins dat die Here nie meer – nadat die apostoliese tydperk verby was (en tot vandag) – siekes genees nie! Natuurlik doen Hy dit. Maar Hy doen dit slegs wanneer en waar Hy kies om dit te doen en meesal in antwoord op gebed – soos Jakobus 5 dit verduidelik.

Dis ook nie nodig dat spesiale gesalfde mense vir siekes moet bid nie. Enigiemand kan dit doen – en in besonder die ouderlinge van die gemeente soos Jakobus 5 die instruksie gee.

Soms genees die Here ook sonder enige gebed – net omdat Hy wil en omdat Hy volkome soewerein is – soos in die geval van Epafroditus in Filip 2:27. Of andersins d.m.v medikasie en mediese behandeling – soos in die geval van Timoteus hier in vers 23.

Ten slotte dan verse 24-25…

Eerste indrukke kan bedrieglik wees! DIT is wat Timoteus in gedagte moes hou wanneer kandidate vir ouderlingskap oorweeg word.

Vers 24 sluit dus by vers 22 aan, waar die apostel vir Timoteus vermaan om versigtig te wees WIE as ouderlinge aangestel word.

Verse 24-25 wys hoe moeilik hierdie onderskeidingsvermoë is. Want die versoeking is om vinnig te let op eerste indrukke en dan oorhaastig mense as ouderlinge te kies. Maar dit kan daartoe lei dat die verkeerde persone in die gemeente se leierskap kom, omdat dit eers later blyk dat hulle lewens nie suiwer is nie. Hulle morele ontrou aan Christus is aanvanklik weggesteek en kom eers later aan die lig.

Nie soos by sommige wat SO oop en bloot ontrou is, dat hulle sondes hulle as’t ware vooruitloop na die Groot Dag van oordeel en die Regter wat sal oordeel toe nie.

DAT daar ‘n finale Dag van afrekening kom, is terloops duidelik in die apostel se denke – oral in al sy briewe. Al sê die hedendaagse mense wat en al spot hulle hoe – die apostels leer DAT die Groot Dag ‘n realiteit is en daarom weet en glo ons dat dit so is!

Punt is: of die sonde openlik of in die geheim van die hart is, dit SAL uiteindelik aan die lig kom. Jesus verklaar in Matteus 10:26 daar is niks bedek wat nie bekendgemaak sal word nie. Iets wat nou gefluister word, sal dan van die dakke af uitbasuin word.

Dieselfde is egter ook die geval met goeie werke, ‘n praktiese lewe van Godsvrug wat voortkom uit ‘n lewende geloofswandel met die Here. Daar is DIT wat geleef en gedoen word vir almal om te sien. Maar daar is ook DIT waarvan die linkerhand nie weet wat die regterhand doen nie. Maar, op die lange duur, kan die nuwe lewe in Christus nie weggesteek word nie. Dit SAL na vore kom! Dit is nie moontlik om ‘n geheime agent vir die Here te wees nie. SO leer die Here Jesus in Matteus 5:16.

Soms word die vrug van weergeboorte dus meteens sigbaar. Soms word dit eers met verloop van tyd sigbaar. Daarom moes Timoteus nie haastig wees met die verkiesing van ouderlinge nie.

Verstaan u hoe hierdie ordereëlings die prag van Christus in die gemeente laat skyn? Dit gaan nie oor ons en ons opinies en ons gemak en ons watookal nie. Dit gaan alles net oor Hom!

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)