Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 TIMOTEUS-REEKS NO 11
1 Timoteus 6: 11-21
Tema: Die goeie stryd van die geloof!

Op hierdie punt in die brief, die slotparagraaf, ontvang Timoteus ‘n baie persoonlike woord van die apostel Paulus. Hy word naamlik aangespreek as “man van God”. Dit is geweldig! Hy is in diens van die Here, hy praat die Here se Woord en hy verteenwoordig Hom. Is dit nie ontsettend nie!

In die OT is die begrip “man van God” gebruik vir manne soos Moses, Samuel, Elia, Elisa en Dawid. En Timoteus weet dit maar al te goed! En nou hoor hy van sy geestelike vader dat HY – Timoteus – “man van God” is.

Dit is nie ‘n kompliment nie, dit is ‘n groot verantwoordelikheid. Want kyk, dit kom met ‘n dubbele opdrag: Hy – man van God – moes tegelykertyd WEGVLUG én NAJAAG! Kind van God, man van God, vrou van God, jy moet wegvlug en najaag – sonder ophou! Aanhoudend!

Hy moes tegelyk wegvlug/weghardloop van die sondes wat in verse 3-10 genoem is en ook JAAG na die vrug van die Heilige Gees.

Daagliks moet die kind van die Here die keuse maak van VLUG. Letterlik vlug. En jaag ná die dinge wat naby die hart van God is en eie is aan Christenwees. Dinge soos opregtheid – niks van skyn en voorgee nie. Toewyding aan die Here, geloofsvertroue, ‘n brandende hart, die aanhou en volharding, minsaamheid, sagmoedigheid, gebrokenheid, sagtheid.

‘n Christen is gedurig besig om weg te vlug van iets en te jaag na iets anders. In kerklike taal word gepraat van “daaglikse bekering”.

Dis soos ‘n atleet op die baan of ‘n stoeier in die kryt. Daar is nie veel kans vir speletjies nie. ‘n Kind van God het min tyd vir speletjies. Dis ‘n daaglikse wedloop. Die atleet SPAN letterlik sy/haar kragte in om die prys te behaal.

Eenkeer, was die koets wat vir John Wesley moes optel om hom na ‘n bedieningspunt te vervoer een minuut laat. Toe sê hy vir die koetsier: “Jy het my nou van 1 minuut beroof wat ek my Here en Meester kon gedien het.” Een minuut was vir John Wesley intens kosbaar.

O, as ek en jy regtig volgelinge van die Here Jesus is, moet ons tog nie kosbare tyd vermors nie. Nie eens minute nie. Ons moet die Here vra dat Hy ons sal help om ons kortstondige lewe met dringendheid te leef. Leef jou lewe met dringendheid. ‘n Atleet op die baan het nie tyd om rond te kyk nie.

Vers 12 stel dit so pragtig. “As jy daaraan dink, Timoteus, dat jy in Christus gered IS en dat die ewige lewe verseker in Christus jou ewige prys IS – dan is dit mos oor en oor die moeite werd om jou in te span om weg te vlug van sonde en die Gees se vrug na te jaag. Dis dan waartoe jy geroepe is met ‘n Goddelike roeping. Dink net daaraan. Jy is onlosmaaklik verbind hiertoe”.

MAN VAN GOD beteken dus dat Timoteus ‘n roeping van God ontvang het. En tyd vir speletjies is verby. Dit bring verantwoordelikheid mee. Binne in ‘n Christen, sit ‘n stuk koorsagtigheid. Die Boodskap moet uit!

Benewens God se roeping, was daar dus ook Timoteus se belydenis voor baie getuies in die gemeente. Timoteus het sy geloofsoortuiging openlik bely, want Christenwees is nie iets wat in die geheim bedryf word nie. Maar belydenis voor ander, bring ook groter verantwoordelikheid mee. En so is dit met ons almal die geval.

Verse 13-14 vervolgens ….

Vir die Here, is daar nie neutrale, grys areas nie. Dis of só of só. Dis waarheid of leuen. Lewe of dood. Hemel of hel.

Iemand wat eenmaal aan Christus verbonde is, moet dus voluit vir Hom leef. Niks minder kan geduld word nie. Dis voluit of dis niks.

Timoteus was deur God geroep en in Sy diens gestel. Hy het dit in die openbaar bely. Nou bly daar slegs een ding oor: Hy moet stiptelik en onberispelik wees in die uitvoering van sy hoë roeping. En daarmee AANHOU! Selfs tot op die dag van die wederkoms van Christus. En vir die apostel kon die wederkoms nog in hulle leeftyd plaasvind. Maar, dit is ook so naby as ‘n mens se eie dood – wat ook enige dag kan plaasvind.

Timoteus moes dus 1 > sy dienswerk getrou vervul en 2 > toesien dat die evangelieboodskap onbesmet bly en nie in diskrediet kom nie. Die Grieks van vers 14 – wat van ‘n opdrag praat – bevat beide hierdie aspekte. Daar is nie opsies nie. Dit MOET so gebeur.

In sy agterkop het Paulus natuurlik steeds die nabye gevaar van dwaalleraars se invloed. Met alle mag moes dit teëgewerk word. En vandag steeds so.

HOE ernstig die apostel oor hierdie opdrag aan Timoteus (en eintlik aan ons almal) is, blyk dat hy in vers 14 ‘n dubbele eedformule gebruik met God die Vader en die Here Jesus as getuies.

Wat hy vir Timoteus sê, is dat Timoteus net so moet volhard in die goeie stryd as wat die Here Jesus getrou, moedig en standvastig was. Is dit nie ontsettend nie?

Johannes 19:7-11 beskryf vir ons hoe Jesus voor Pilatus onwrikbaar getrou aan Sy Vader was. Hy het teenoor Pilatus getuienis afgelê van die Waarheid van die Evangelie en dit daarná met Sy eie bloed bevestig.

Sal die Here dan nie ook vir Timoteus (en ons) help om ook standvastig te wees nie? Die innerlike lewenskrag daartoe kom tog immers van die Vader wat lewe skenk. Daar is mos geen manier waarop Timoteus en ons uit ons eie standvastig kan bly nie. Maar die Vader gee die lewe en die Here Jesus inspireer ons met Sy eie standvastigheid. Goeie nuus voorwaar! Dink daaraan: Hy inspireer jou met Sy eie standvastigheid!

Vers 15 …..

Niks is so glorieryk in die Skrif soos die wederkoms van die Here Jesus Christus nie. Die Apostel Paulus het dit onomwonde verkondig. Dis die ware toekomshoop van elke ware gelowige. En wanneer Paulus daaroor praat, doen hy dit in ‘n lofprysing – soos hier in vers 15.

Hier praat hy van Jesus se koms as Sy “verskyning”. Op ander plekke soos in 1 Korint 1:7 en 2 Thes 1:7 noem hy dit die OPENBARING van Sy koms! Jesus is dus reeds teenwoordig, maar sal op ‘n gegewe oomblik geopenbaar word. Dis ‘n geweldige gedagte! Die woord VERSKYN hou hande daarmee.

Christus is dus nie tans afwesig en moet van iewers af KOM nie. Nee, Hy is reeds ten volle hier, maar is nog nie geopenbaar nie. Dit sal egter gebeur op die presiese tyd wat die Vader bepaal het. ‘n Tyd wat niemand weet nie, sê Jesus in Matt 24:36. Dis totaal onmoontlik om dit op watter manier ookal te bepaal. Deur die eeue tot in ons dag het baie probeer om dit te doen, maar altyd klaaglik misluk.

Daar is slegs EEN persoon wat daarvoor sorg dra dat die openbaarmaking van die heerlike Seun van God beslis sal plaasvind en dit is God die Vader. En die feit dat Hy daarvoor sal sorg, gee vir ons absolute gemoedsrus en sekuriteit. Die heelal is in Sy hand geborge. En dit is die beste hand wat daar is! Daar bestaan gewoon niks beter nie.

Want WIE is God die Vader presies? Hy is absoluut goed en daar is niks duister of boos in Hom nie. Hy is die salige. En Hy is die absolute heerser. Van alle konings, is HY die Koning. En van alle here, is HY die heerser. Die woord HERE (Kurios) beteken die oppergesag – soos die Romeinse keiser homself genoem het. Maar – die waarheid is: God self is die mees verhewe heerser wat daar is. Mense wat deur Christus aan HOM behoort, besit dus ‘n wonderlike sekuriteit.

Vers 16….

Wat ‘n kragtige, pragtige en magtige stuk lofprysing is hierdie vers nie! Hieruit weet ons dat dit die WARE Heilige Gees was wat die apostel Paulus se lewe in besit gehad het – want die Heilige Gees se taak is mos juis om ons oë weg te draai van onsself en op die lewende God te fokus. Die Gees maak die kind van God se hart vol van die Vader en die Seun! Dit is Sy bediening!

In vers 16 fokus die Gees – deur Paulus – op die Vader. En wat sê Hy van die Vader?

Slegs HY alleen besit onsterflikheid. Dit beteken nie dat Hy nie onsterflikheid aan byvoorbeeld Christus-gelowiges kan skenk nie. Hy kan en Hy doen! Maar dat Hy ALLEEN onsterflikheid besit beteken dat Sy onsterflikheid uniek is en Hy die Bron van alle lewe is. Dit onderskei Hom van alles en almal. Onsterflikheid wat Christus-gelowiges besit, is ‘n ONTVANGE onsterflikheid – dat ons die ewige lewe mag hê deur Christus se opstanding. Maar dit beteken nie dat die Christen ‘n klein godjie is wat ontsterflikheid net soos God besit nie.

Benewens onsterflikheid, bewoon God ook ontoeganklike lig. Die skittering van die heerlikheid van Sy woonplek is so oorweldigend dat geen mens dit kan nader en bly leef nie. So leer Psalm 104:1-2 en Eksodus 33:17-23.

As gees is God dus onsigbaar vir die gewone menslike oog soos Kolos 1:15 leer. Daarom is Hy ook onbereikbaar vir die sondaar sodat niemand nog ooit Sy volle heerlikheid kon aanskou nie. Die eer en ewige krag en mag kom slegs aan HOM toe. Dit is feite. En om net te dink dat mense wat deur Christus se bloed met God versoen is, vir ewig in hierdie glorie sal kan leef.

Maar ook nou reeds kon Timoteus – en ons – weet dat ons nie bevrees hoef te wees in ons diens vir Christus nie – omdat God in sy mag en krag met ons is en dat hy in staat is om Sy koninkryk tot oorwinning te voer.

Verse 17-19 vervolgens ….

Die vorige paar verse se lofprysing was ‘n onderbreking van die apostel se gedagtegang, want hy was nog besig om teen die verleiding van rykdom te waarsku. Dus keer hy nou weer tot daardie onderwerp terug.

Materiële welvaart is nie uitsluitlik iets wat tot sonde verlei nie. Dit kan ook positiewe waarde vir ‘n Christen hê, maar dan moet dit reg gebruik word. Die apostel het dit nie teen GELD nie, maar teen die verdorwenheid van die gevalle mens se hart. Die gevalle menslike hart sal altyd geneig wees om 4 dinge te wil doen:

1 > hoogmoedig en groothartig word
2 > op die welvaart self te vertrou
3 > die Here tweede te stel
4 > op die eie self te fokus

Dis presies hierteen wat Paulus waarsku. En hy noem dit so op die ry af. Dit kan opgesom word met twee hoofgevare:

1 > Heimelike hoog-dink van jouself
2 > valse vertroue op die welvaart self

Efes 5:5 noem dit omomwonde AFGODERY of te wel ‘n verbreking van die eerste gebod. En dit is nie speletjies nie. Materialisme is steeds die hoofafgod van ons dag. Daarom is die apostoliese uitwysing van die onsekerheid van rykdom baie gepas en aktueel. Waar die lewende God tweede viool speel, is daar moeilikheid. By iemand wat glorieryk uit die Heilige Gees weergebore is, MAG dit nie gebeur nie.

Wat by ‘n Christen pas, is om raak te sien wat die Here se ware bedoeling is met die oorvloed wat Hy so ryklik skenk. Hy wil hê die Christen moet dit geniet tot Sy eer. Hy wil geloof en aanbid word deur die manier hoe Sy kinders Sy gawes administreer. En hulle moet ANDER met hulle welvaart seën en bedien (vers 18).

Hoe meer die fokus wég van die self is en op die Here gefokus is, hoe makliker is dit om weg te gee en mededeelsaam te wees. Dit is die ewige lewe in Christus wat die EINTLIKE ware lewe is en die beste belegging ooit!

Wêreldse mense dink materiële welvaart is lewe wat regtig LEWE is. Maar die Christen weet beter: lewe wat regtig LEWE is, is die belegging in God se koninkryk, waar mot en roes nie kan verniel nie. Eer aan die Here vir Sy glorieryke waarheid!

Verse 20-21 ten slotte….

Met hierdie twee verse sluit die Apostel Paulus die brief aan Timoteus af. En ons kry hier dit wat die swaarste op sy hart is. Laaste woorde is altyd dit wat die swaarste weeg.

En dit is: Handhaaf ten alle koste die suiwer waarheid van die apostoliese leer en vermy absoluut alles wat daarvan afwyk.

Soos iets waardevols wat aan iemand toevertrou word vir veilige bewaring, so was die inhoud van die Waarheid van die Evangelie aan Timoteus toevertrou en hy moes dit korrek administreer.

En so ook ons vandag. Hierdie pakket van waarheid word dikwels in die NT “die geloof” genoem. Dis nie geloof in die subjektiewe sin van die woord, die persoonlike hartsvertroue van die Christen nie. Nee, dit is die objektiewe waarheid WAAROP vertrou word. Die inhoude van die Evangelieboodskap – soos die apostels dit gesaghebbend verkondig het in 100% korrelasie met die OT. Dit is “DIE GELOOF”.

Diegene wat gehoor gee aan dwaalleer, het reeds totaal weggedwaal van hierdie geloof, sê Paulus. Daar bestaan geen grys, neutrale area nie. Dit is OF, OF. OF jy is heelhartig by die Woord OF jy het iewers verdwaal.

Diegene wat verdwaal het, gee altyd voor dat hulle nou eers regtig die waarheid ontdek het en almal moet in HULLE kamp kom om reg te kom. Hulle het die finale geestelike “kennis” ontdek. Vals profete gee altyd voor dat HULLE lering die ware kennis van die waarheid is. Nee, dit het nie die toets van 2000 jaar lange kerkgeskiedenis deurstaan nie, maar dit is NOU ontdek. “Vandag weet ons”, hoor ons so dikwels van sommige kerkleiers.

Wel, die apostel sê daardie is maar net ‘n gebabbel. Onheilige, sinlose praatjies. En wie die Here ken, moet dit vermy. Anders is jy ook ‘n afgedwaalde, sê Paulus. Hierdie goed het ‘n suigkrag. Dit moet gehaat en vermy word.

Die manier hoe dit vermy moet word, is om positief en aktief die waarheid na te jaag, te bewaar, te bestudeer, te koester, te ken en jou daar in te grawe. As ‘n mens gevul is met kosbare goud, sal plastiek diamante jou nie bekoor nie. Wie versadig is, wil nie eens heuning eet nie, sê Spreuke 27:7

VUL JOU MET GOUD, sê Paulus vir Timoteus, vir die gemeente in Efese en vir ons – en weet dat God se guns op jou rus.

Category 1 Timoteus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)