Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG GEMEENTE
1 THESSALONISENSE – REEKS NO 6
Tema: ‘n Lewe wat God behaag
Skrif: 1 Thessalonisense 5: 12-28


‘n Paar kinders het eenmaal probeer om ‘n legkaart te bou sónder om na die prent te kyk. Ná ‘n lang gesukkel het hulle moed opgegee. Die prent het iets uitgebeeld van ‘n 17de eeuse koning wat met sy raadgewers vergader. Uiteindelik het die kinders die prent nadergetrek. Toe sê een: “Haai, nou sien ek. Die koning is in die middel van die toneel.” Toe hulle dít eers gesien het en die prentjie van die koning uitgepak het, pas die res heel maklik inmekaar.

Dit is byna wat met die destydse gelowiges in Tessalonika gebeur het. Voordat Paulus daar aangekom en die Boodskap van Jesus begin verkondig het, was die mense in geestelike duisternis. Die stukkies van hulle lewenslegkaart wou net nie by mekaar inpas nie.

Maar, toe Paulus vir hulle wys dat Jesus die Koning is en dat Hý in die middel is en hulle begin na HOM draai, toe begin die legkaart pas. Hulle het hul bekeer van die afgode en die lewende God begin dien, sê die apostel. Koning in die middel.

Die oomblik toe dít gebeur het, toe vra hulle: “Hoe kan ons nou begin lewe om die Here te behaag en Sy hart bly te maak?” Uit pure dankbaarheid dat Hy hulle verlos het, wil hulle nou só lewe dat hulle Hom behaag.

Dit is die tema van hfste 4-5, waar Paulus vir hulle ‘n klompie praktiese dinge wys hóé hulle lewens God kan behaag. Uit pure dankbaarheid en nie om punte te verdien nie. Wanneer ‘n mens liefhet WIL jy mos die ander persoon behaag. Dit kom vanself.

In die laaste klompie verse van die brief, noem Paulus ‘n paar praktiese goed, een na die ander. Dit maak dit moeilik om daaroor te preek, want dit is ‘n klomp losstaande gedagtes, maar ek wil dit opsom/saamvat in 4 stellings wat só klink:

Indien kinders vd Here sou vra: “Hoe kan ons in ons gemeente die Here behaag – om vir Hom dankie te sê dat Hy ons gratis & verniet gered het?”, dan sê 1 Thes 5: 12-18 vir ons hóé ons dit kan doen:

1 deur jou geestelike leiers te respekteer (vv12-13),

2 deur lief te wees vir mekaar (vv 14-15),

3 deur te lewe deur die Heilige Gees (vv16-22) en

4 deur op die Here te vertrou (vv 23-28).

1 In ons gemeente behaag ons die Here deur ons leiers te respekteer (vv12-13).

Broers, ons vra julle: Erken die mense wat so hard onder julle werk en julle in opdrag van die Here lei en teregwys. 13 Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar”.

Binne ons huidige kultuur – wat daarop uit is om leiers by te kom & af te kraak – is hierdie woorde erg van toepassing.

Ons leef binne ‘n informele era, waar leiers op gelyke vlak gestel word met jan-alleman en waar jan-alleman hom die reg voorbehou om altyd van beter te weet.

So maklik kan hierdie tydsgees die Here se kerk binnedring en die HGees bedroef.

Dit is die Here se onomwonde wil dat gemeenteleiers geag moet word t.w.v hul werk. Dit beteken egter nie dat daar geen verskille mag wees nie. Tewens, wanneer leiers dwaling verkondig of afwyk van die Woord of op ‘n onwyse manier in verkeerde rigtings beweeg, móét daar verskil word en selfs opgetree word teen sulke leiers.

Opvallend dat die Apostel eintlik sê dat die gemeenteleiers hul respek moet verdien deur hard te werk en die gemeente te lei en ook tereg te wys – m.a.w deur met ‘n goddelike roeping HERDERS vir die skape te wees.

Gemeentelede kom baie gou agter of hulle leiers/pastors werklik “in opdrag van die Here” werk, sonder om soos diktators op te tree en met geen begeerte om vir hulleself enige iets te wil bekom nie, maar die Here Jesus as Meester te volg.

Só ‘n tipe pastor wil nie mense rondom homsélf vergader nie, maar die mense na die Here Jesus wys en aan Hom knoop.

Dink maar net aan die Here Jesus se eie gesindheid waarvan ons lees in: “Die Seun van die Mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe af te lê as losprys vir baie.”

‘n Gemeente weet of/wanneer hulle leier/s hierdie ingesteldheid het. Indien wel, móét hulle in liefde met hom/hulle saamleef. Dan sal daar volkome vrede wees. Moenie jou leier aanvat of vir hom kwaad wees omdat hy die Woord verkondig wat, volgens Hebr 4:12-13, “’n skerp tweesnydende swaard is wat siel en gees skei en die gedagtes & bedoelings van die hart beoordeel sodat dit voel asof alles oop en bloot is voor Sy oë” nie. Moenie die geestelike leier kwalik neem wanneer die Gees deur die Woord met jou praat en jou diepste innerlike ontbloot nie. Ja, dit voel dalk asof die leraar alles van jou weet en van jou skinder van die kansel af, maar in werklikheid bedien hy net die Woord en dit is die HGees wat met jou praat. Ons moet dus rég onderskei wat gebeur wanneer die Woord bedien word en ons moet ons leiers sien as dienaars van Christus.

2 In ons gemeente behaag ons die Here deur lief te wees vir mekaar (vv14-15).
“14 Ons druk julle dit op die hart, broers: Wys die leeglêers onder julle tereg, praat die kleinmoediges moed in, help die swakkes, wees met almal geduldig. 15 Sorg dat niemand ‘n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie. Beywer julle liewer altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense”.

Die Here se gemeente is ‘n familie, waar almal vir almal omgee – veral wanneer iemand struikel – sonder om te veroordeel en te skinder, maar eerder die ander te beskerm.

Ek dink altyd aan hoe die Here Jesus vir Judas beskerm het en nie sy sonde aan die ander 11 dissipels bekend gemaak het nie. Soveel so dat hulle tot op die end nie geweet het wie die verraaier sou wees nie. Jesus het nooit Judas se ware karakter aan die ander bekend gemaak nie. Hy het hom beskerm en tot in die laaste oomblik geleentheid vir bekering gebied.

Die Apostel noem 3 groepe in die gemeente:

diegene wat leeglê,

die wat kleinmoedig is en

die wat swak is.

Dalk het die leeglêers ophou werk omdat hulle verwag het dat die wederkoms van Jesus enige oomblik kon aanbreek en dat dit onnodig is om verder te werk. Ons weet nie. Ons weet ook nie of die kleinmoediges bekommerd was oor wat van medegelowiges wat tot sterwe gekom het sou word nie.

Daar is honderde dinge wat kinders van die Here kleinmoedig kan maak. Twyfel. Kommer oor die toekoms. Kommer oor rand-en-sent. Sommige mense is net van geaardheid gespanne en bekommerd. Swak gesondheid. Druk by die werk. Druk by die huis. Daar is altyd mense in die gemeente wat spesiale sorg nodig het.

Hy noem ook die “swakkes”. Dalk diegene wat teen versoekings (van seksuele aard) veg. Eintlik is álmal swak, maar somtyds meer swak as ander kere. Dan is ‘n mens geneig om in die gemeente rond te kyk en te dink dat álmal so sterk lyk – net jý is ellendig. Jy voel jy sal nóóit so wonderlik soos so-en-so kan wees nie. Jy voel jy het nie die vrymoedigheid om met enigiemand te praat oor jou stryd nie.

Nee, ons is álmal swak. En ons het mekaar nodig. Dit is baie makliker om één potlood te breek as ‘n hele bondel potlode! Saam is ons sterk. En kyk wat sê die Apostel: die gelowiges moet onderlinge sorg toepas. Dit is nie die pastor se alleentaak nie. ‘n Vinnige epos of SMS, ‘n spesiale woordjie, die gee van ‘n Skrifgedeelte of die oornooi vir ete – kan ‘n wêreldse verskil maak.

3 In ons gemeente behaag ons die Here deur te lewe deur die Heilige Gees (vv16-22).

16 Wees altyd bly. 17 Bid gedurig. 18 Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. 19 Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20 Moenie profesieë geringskat nie, 21 maar toets dit alles, behou wat goed is, 22 en bly weg van alles wat sleg is”.

Dis ‘n mondvol! Maar, in die sentrum staan dít: moenie die vuur van die HGees uitblus nie. So in die gees van PINKSTER nie waar nie?

Die Christelike lewe IS ‘n lewe deur die HGees. Dit was deur die Gees se werking wat ons aanvanklik die Here kon leer ken en dit is deur die Gees wat ons groei en volhard. Álle ware Christene wat hul vertroue vir redding op Jesus geplaas het, besit die HGees.

Ongelukkig laat ons Hom nie altyd toe om ONS te besit en te beheers nie. Ons bedroef Hom dikwels omdat ons nie begeer dat Hy meer & meer van ons moet besit nie.

Namate Hy egter meer van ons besit, sal die lewe-deur-die-Gees na vore kom met al die kenmerke wat hier genoem word: blydskap, gebed, dankbaarheid en toewyding aan die Woord.

Dit is diep sake, want wie kan voortdurend bly wees, bid en dankbaar wees? Geesvervulde Christene verloor hulle werk, staan geliefdes aan die dood af, ly aan depressie, verhoudings ly skipbreuk, 100e dinge gebeur wat seermaak, dinge loop skeef ens. Moet mens dan met ‘n aangeplakte glimlag rondloop en prewel “dank die Here, dank die Here, O, ek is só bly oor al my ellendes”? Is dit wat blydskap, gebed en dankbaarheid beteken?

Natuurlik nie. Hy sê nie “wees OOR alle omstandighede dankbaar nie, maar IN..” Nie blydskap OOR alles nie, maar IN alles. Geesvervulde blydskap en dankbaarheid en gebed is nie gekoppel aan omstandighede nie, maar aan die onveranderlike God en Sy beloftes. Hý is altyd dieselfde, altyd liefde, altyd op die troon.

Namate ‘n mens jou afhanklikheid van Hom leer ken, spoel gebed byna vanself uit jou uit – soos ‘n kroniese hoes. Dink jy aan iemand, bid jy vir hom/haar; kom jy in ‘n sekere situasie, bid jy daaroor; word jy versoek, bid jy daarin – ensovoorts.

‘n Verdere kenmerk van ‘n lewe-in-die-Gees, sê die Apostel is “skat profesieë nie gering nie (minag dit nie)”.

Wat op aarde sou dit beteken?

‘n Mens moet verstaan hoe daardie eerste Christene eredienste gehou het.

Die prediking & briewe van die Apostels was God se Woord en hulle het dit aanvaar sonder om dit te toets of te betwyfel.

Maar, die Here het ook d.m.v. “profetiese woorde” gepraat. Hulle het hulle samekomste oopgestel vir enige gelowige wat voel dat hy/sy iets bemoedigend/opbouend/stigtelik/vertroostend/vermanend vir die gemeente wil sê/bid/sing.

Die Gees het nie net d.m.v die Apostels of pastors (wat die Apostels se woorde & OT gepreek het) gepraat nie, maar d.m.v enige Geesvervulde gelowige.

Profetiese woorde het niks te make met toekomsvoorspellinge of om bonatuurlike goed te sien en te praat nie. Dit gaan oor woorde wat opbou & stig & vermaan.

Maar dáárdie woorde was nie sonder meer aanvaar ás Woord van God nie. Dit moes geweeg & getoets word (1 Kor 14:29).

Nou sê die Apostel vir die Tessalonisense: “Moenie profetiese woorde sonder meer minag nie. Toets dit en kyk of dit in lyn is met die Apostels se prediking & OT.”

In ons dag beteken dit dat dit wat in die Bybel staan onderhandelbaar is – maar ook dat ons nie dít wat medegelowiges sê sonder meer moet minag nie, want dit kán wees dat die Gees deur hulle praat. Dit kán profetiese woorde wees. Dit moet egter getoets & geweeg word in die lig van die Skrif.

Wat ons eie eredienste betref is die leraar veronderstel om die Skrif (OT & Apostels se woord) so akkuraat moontlik uit te lê. In soverre dit akkuraat is, IS dit sonder meer God se Woord en dit word aanvaar en gehoorsaam. Waar die leraar eie gedagtes invoeg, mág dit die Gees wees wat profeties praat, maar dit moet deur die gemeente getoets & geweeg word.

Waar gelowiges dít deel wat hulle vermoed die Gees op hul hart lê, mag dit regtig die Gees wees wat praat, maar dit moet deur die hoorders getoets & geweeg word.

‘n Geesvervulde gemeente is 100% toegewy aan die Bybel as Woord van God én minag nie dít wat die Here deur medegelowiges wil sê nie.

4) In ons gemeente behaag ons die Here deur die Here te vertrou om ons aan Hom toegewyd te maak (vv23-28).

Mag God, wat vrede gee, julle volkome aan Hom toegewyd maak en julle geheel en al, na gees, siel en liggaam, só bewaar dat julle onberispelik sal wees wanneer ons Here Jesus Christus weer kom! 24 Hy sal dit ook doen, want Hy wat julle roep, is getrou. 25 Broers, bid ook vir ons. 26 Groet al die medegelowiges met ‘n soen van Christelike broederskap. 27 In die Naam van die Here dring ek by julle daarop aan dat hierdie brief aan al die gelowiges voorgelees word. 28 Die genade van ons Here Jesus Christus sal by julle wees”.

Is dit nie asemrowend nie? Ja, dit ís óns wat moet en sal poog om tot die Here se welbehae te leef en aan Hom toegewyd te wees, maar kyk nou hierdie verrassing:

dit is al die tyd Hý wat ons aan Hom toegewyd maak!

Omdat Hy dit doen, doen ons dit.

En daar is niks onseker in hierdie verband nie. Hy SAL dit doen.

Hy sal ons selfs op só ‘n wyse bewaar dat ons onberispelik sal wees by Sy wederkoms. Daarom kan Hy vertrou word.

‘n Geesvervulde gemeente vertrou Hom omdat Hy alreeds beloof het. Wat ‘n wonderlike Here is Hy nie!

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)