Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG GEMEENTE
1 THESSALONISENSE – REEKS NO 3
Tema: Merktekens van ‘n ware pastor
Skrif: 1 Thessalonisense 2:13 – 3:13

Min mense sal daaroor verskil dat die Apostel Paulus ‘n suksesvolle en geseënde pastor was. Met “pastor” word bedoel = herder van die Here se gemeente, soos vandag se predikante & ouderlinge.

Paulus was egter nie suksesvol omdat hy ‘n welsprekende prediker was nie (vgl 1 Kor 2:4 – sy boodskap het mense oortuig NIE deur welsprekendheid nie , 2 Kor 10:10 – in sy fisiese teenwoordigheid by die gemeente is hy mak en beteken nie veel nie). Hy het nie mense getrek met sy preekvermoë nie. Hy was blykbaar glad nie so welsprekend nie. Sy opponente het gesê sy skryfwerk het veel meer trefkrag as sy praatwerk.

Wat van Paulus ‘n suksesvolle pastor gemaak het, was sy lewensvoorbeeld wat sy woorde ondersteun het (sien 1 Kor 4: 17-20 – Timoteus sal julle kom herinner aan hoe ek gelewe het en wat ek julle geleer het. In die koninkryk gaan dit nie oor praat nie, maar oor wat jy in jou lewenswandel DOEN). Die krag van Paulus se bediening het uit sy lewe gekom. Sy lewenswandel het sy woorde onderstreep. Daarop fokus ons gelese gedeelte. Die merktekens van ‘n ware pastor. U sou vanaand se boodskap kon gebruik as ‘n riglyn waarvolgens u vir my, die kerkraadslede en dalk ander mense wat u ken wat pastors is (dalk familie) kan bid.

Gisteraand het ons gesien wat die agtergrond van hfst 2 & 3 is, naamlik die aanklagte van Paulus se opponente wat in Tessalonika was. Hulle het allerhande lelike goed van hom gesê teenoor die klompie nuwe bekeerlinge wat onder sy kort bediening van 3 weke in Tessalonika tot redding gekom het.

Paulus het vir 3 weke daar bedien, ‘n klompie mense het tot verlossende redding gekom en die Here het ‘n nuwe gemeente (uit niks) tot stand laat kom. Die verre meerderheid Jode het onbekeerd gebly en hulle was Paulus se felle opponente. In hfst 2-3 antwoord hy so tussen die lyne op hulle valse beskuldigings. Kyk ons van naderby daarna, leer ons ‘n paar geweldige belangrike geestelike beginsels. In ons gelese gedeelte, sien ons die merktekens van ‘n ware pastor (Paulus self).

Daar is DRIE merktekens: 1) 2: 13-16 > Paulus se prediking. 2) 2:17- 3:9> Paulus se passie. 3) 3: 10-12 > Paulus se gebed. Die merktekens van egtheid van ‘n ware pastor, word gesien in sy (deesdae ook “haar”) prediking, sy passie en sy gebedslewe. Kom ons loop net so vers vir vers deur die gedeelte en kyk na hierdie merktekens:

1) 2: 13-16 > Paulus se prediking: Dit is darem ‘n geweldige aanmatigende ding om vir iemand om te sê: “Wat jy van my gehoor het, is nie mensewoorde nie, maar dis God se Woord.” (v13). Is dit nie aanmatigend nie? En tog is presies juis dít die aanspraak van die hele NT. Die Here se Apostels (wat saam met Hom was vanaf Sy doop deur Johannes die Doper en Hom ná Sy opstanding uit die dood gesien het, wat ooggetuies was – Hand 1:11) het almal met ‘n unieke gesag gepraat. Niemand anders ná hulle sou ooit weer daardie gesag hê nie. Hulle prediking het die fondament van die kerk gelê (Efes 2:20). En ná hulle dood is hulle prediking deels op skrif vasgelê in ons NT.

Paulus se apostoliese prediking het dus unieke gesag gehad. Dit was die Woord van God. Hy prys die Tessalonisense dat hulle dit só raakgehoor en aangeneem het.

Maar geen pastor in die afgelope 2000 jaar ná die apostels, kon nog ooit weer só ‘n aanspraak maak nie! Tensy…. tensy die pastor die Apostoliese prediking getrou naspreek. Die enigste manier waarop ‘n pastor kan sê: “So sê die Here” is wanneer hy die prediking van die Apostels (soos in die NT (en OT) opgeteken is) sekuur náspreek. Enigiets wat daarvan afwyk, is mensewoorde en is kragteloos – al klink dit dalk hóé welsprekend en wys! Enigiets, in die naam van prediking, wat afwyk van ‘n sekure naspreek van die Apostoliese woord, is niks meer as net ‘n vrome gebabbel nie.

Ons taak is om die Bybel toe te laat om self te praat en om met geen van ons eie idees te kom nie. Want ons hét geen eie idees nie. Moderne liberalistiese predikers vul hulle prediking met eie woorde en gedagtes en skuur die Woord weg waar iets hulle nie aanstaan nie, soos byvoorbeeld, alles in die Bybel wat met die menslike rede bots.

Ons hoor en sien dikwels in die media hoe moderne teoloë ons wil wysmaak dat baie van die beelde wat in die Bybel gebruik word om aan te dui wie/wat God is, uitgedien is en vir vandag se mense ‘n aanstoot is. U kan die gebabbel hoor. ‘n Vrome geklets. Dit is die rede waarom soveel mense Sondae na kerkdienste toe gaan en niks hoor nie! Nie werklik hoor wat die Bybel regtig self sê nie! Hulle hoor net ‘n menslike gebabbel!

Nee, die Woord self het krag, want dit is God se Woord. Iemand het eenkeer gesê: “om te verstaan waarom Billy Graham se eenvoudige 20 minute boodskappies so ‘n geweldige respons van die skares kry, moet jy tel hoeveel keer hy die Woord aanhaal binne daardie 20 minute.” Iemand het eenkeer tydens een van Billy Graham se boodskappe, getel: meer as 60 Skrifaanhalings in 30 minute! Hy probeer om sy boodskap op die Skrif alleen te bou.

Die Woord, wat nie mensewoorde is nie, het krag. En die uitwerking van daardie Woord op die mense in Tessalonika, is die bewys van daardie krag (v14). Mensewoorde kon nie só ‘n uitwerking hê nie. Die uitwerking was dat die mense se lewens verander het. Hulle het tot geloof en bekering gekom. Binne 3 weke het ‘n gemeente van Christus uit letterlik niks uit opgestaan. En hulle het onmiddelik vervolging begin kry. Hulle het vir Christus begin ly onder die onbekeerde Jode. Dit is ‘n merkteken van egtheid. ‘n Mens op wie die Woord ‘n uitwerking het, sál op die een of ander manier in hierdie wêreld moeilikheid kry (Sien 3:4!). Dis die uitwerking van Paulus se prediking. Die uitwerking bewys dat dit nie mensewoorde was nie!

Want hier is die manier waarop die Here werk (v16): iemand bring aan mense die boodskap van die evangelie van Jesus se kruisverlossing en daardeur word mense in hulle eie ondervinding gered!

Maar satan probeer dit verhinder. En destyds het hy die onbekeerde Jode gebruik om dit te verhinder. Hulle het gedink hulle doen God ‘n guns, intussen het hulle in Sy pad gestaan – soos hulle ook met Jesus se kruisiging gedoen het. Daarmee verdoem Paulus nie die Jode nie. Hy was immers self ‘n Jood. Maar hy laat geen twyfel daaroor nie, dat hulle (as nasie, nie individue) God se verlossing in Christus verwerp en daarom onder die oordeel staan presies net soos enige ánder onverloste mens.

U sien die eerste merkteken van ‘n ware pastor: Sy prediking is ‘n suiwere naspreke van die geskrewe Woord en dit het ‘n duidelike uitwerking op mense. Slegs hierdeur bou die Here vir Hom ‘n gemeente op.

2) 2:17 – 3:9 > Paulus se passie: In hierdie paragraaf verskuif die fokus na hoe die Apostel geleef het teenoor die gemeente in Tessalonika – die passie wat in sy hart gegloei het. Hier sien ‘n mens allermins ‘n suur, streng, bekrompe tipe mens – soos ‘n mens soms in jou kop die prentjie van die Apostel Paulus het. Geensins. Sy hart klop warm vir sy mense in Tessalonika, al was sy fisiese bediening daar net 3 weke lank. In 2:17 – 3:9 sê hy vir hulle eintlik net een ding oor en oor: Ek het julle lief. Ek het julle lief. Ek het julle lief. Ons sien hier sy passie vir hierdie jong bekeerde mense.

Kyk net hoe vloei dit uit hom uit.

“Ek was so bekommerd oor julle. Ons was wel uit die oog, maar nie uit die hart (2:17). Ek het so daarna verlang om na julle te kom. Ek het alles gedoen om julle te kon besoek. Keer op keer het ons probeer kom, maar die satan het my verhinder” (v 18). (Ons weet nie waarna hy verwys nie, maar daar moes sekere goed gebeur het waarin hy die werk van die duiwel gelees het. Hy spesifiseer nie).

Verder: “Wanneer die Here Jesus kom, sal júlle my kroon en beloning wees” (v 19). “Wanneer die Here Jesus kom, sal júlle my beloning wees. Al wat ek met my kan saamneem die ewigheid in, is ménse. Geen ander toekenning of wat ek ookal op aarde verwerf het, sal dán van waarde wees nie. Niks wat ek besit het, sal dan waarde hê nie. Net maar die mense wat ek tot ontmoeting met die Here Jesus kon help”. Ja, die mens wat ánder tot geloofsvertroue in die Here Jesus Christus help, sal skitter soos die sterre in die hemel (Dan 12:3).

Geen wonder dat die Apostel soveel opregte blydskap oor die Tessalonisense gehad het nie (3:9). “In al ons nood en swaarkry, het ek sommer weer moed geskep, toe ek van Timoteus hoor dat julle vasstaan in die Here. Wanneer julle vasstaan in die Here, dan lééf ek werklik.” (3:8).

Is dit nie ‘n pastor wie se hart warm klop met ‘n passie, wat só oor mede-Christene voel nie? “Ek leef werklik namate julle vasstaan in die Here.” Paulus was net halfpad aan die lewe, wanneer hy onseker was oor sy medegelowiges se verhouding tot die Here Jesus Christus. O, wat ‘n passievolle hart! Die hart van ‘n ware pastor.

Ons moet ook nie miskyk watter geweldige opoffering dit vir die Apostel was om vir Timoteus na Tessalonika te stuur om te gaan vasstel hoe dit met die gelowiges in Tessalonika gaan nie!

Toe Timoteus weg was, het Paulus letterlik as die énigste Christen in Athene agtergebly (3:1). Toe Timoteus weg is, het Paulus letterlik geen ander mede-Christen by hom gehad nie. Daar was blykbaar geen ander Christen in die hele Athene van wie Paulus geweet het nie. Daarin moet ons ook iets van Paulus se passie sien. Dat hy bereid was om sulke tipe opofferings te maak.

Tot watter mate gee óns werklik om vir mense van wie ons weet dat hulle medegelowiges is?

So duidelik die tweede merkteken van ‘n ware pastor: Die gloeiende passie vir ander gelowiges – veral diegene wie die Here aan sy sorg toevertrou het.

3) 3:10-12 > Paulus se gebed: ‘n Merkteken van ‘n ware pastor is sy passie vir gebed. Niks op aarde is wonderliker as gebed nie. Dr Martyn Lloyd-Jones het gesê ‘n mens vind jou hoogste vervulling as mens wanneer jy neerkniel voor die lewende God van hemel en aarde.

En tog is daar niks anders moeiliker as gebed nie. Dit is vir die mens se gevalle natuur baie baie moeilik. Dit kos geweldige ystere dissipline om ‘n gesonde gebedslewe in stand te hou. Probeer jy om dit ernstig te doen, kan jy nie glo hoeveel dinge daar opduik wat dit wil vernietig nie.

Die apostel sê vir die Tessalonisense dat hy “dag en nag met sy hele hart” gebid het dat hy hulle weer te siene mag kry. Dit beteken nie dat Paulus 24 uur per dag niks anders gedoen het of dat hy ‘n 24 uur gebedsbyeenkoms aan die gang gekry het nie. Dit beteken wel dat hy ‘n man was wat met God gewandel het – of dit dag was of nag. Gebed het sy lewe deursuur. Dis wat dit beteken. Hy het omgegee vir sy mense in Tessalonika. Daarom het hy gebid terwyl hy stort, wanneer hy in sy motor ry op Athene se besige paaie of wanneer hy (as ongetroude man) sélf sy skottelgoedjies was.

Wát bid hy vir hulle? Dat die Here ‘n pad sal oopmaak sodat hy hulle weer kan besoek (3:11). Dat hulle liefde sal groei en toeneem (3:12). Dat hulle heilige lewens sal leef (lewens opsygesit vir die Here) en onberispelik voor die Here sal staan by Sy wederkoms (3:13).

Op die hele kwessie van heiligheid kom hy terug in die volgende hoofstuk wanneer dit oor seksualiteit gaan. Later in die week meer daaroor.

Maar kan ons nie by die Apostel baie leer oor wát om vir medegelowiges te bid – anders as die afgesaagde gebede van “Here seën tog asb vir Jan-en-familie” nie! Ons kan bid dat Jan-en-sy-familie mag toeneem in liefde en dat hulle in alle opsigte mag toeneem in praktiese heiligheid. Dat hulle ‘n oorwinningslewe sal lewe. Want wanneer die Here Jesus verskyn, sal Jan-en-sy-mense ook daar wees en mag hulle dan onberispelik voor Hom staan.

Die merkteken van ‘n ware pastor: omdat hy liefhet, bid hy. Ware gebed, het brandstof nodig. Die brandstof van hartspassie. Die enigste motivering waarom ons ons ooit regtig met ander sal bemoei, is wanneer ons regtig vir hulle (geestelik) omgee. Die enigste rede waarom ons gedring sal voel om 30 minute per dag aan voorbidding te spandeer, is omdat ons harte gevul is met ‘n passie vir mense. En ons vir mense persoonlik bid met gedagtefoto’s van elk voor ons oë. En ons nadink oor elk wanneer ons bid. Ek weet van iemand wat letterlik ‘n stuk karton met ‘n klomp foto’s van die mense vir wie hy bid, voor hom staanmaak terwyl hy bid. Dan kyk hy na die foto’s en dink ná oor elk en bid intelligent. En baie vinnig is 30 minute hopeloos te min vir sulke energie-eisende werk.

John Welsh (vroeg 17e eeu), die Skotse godsman, het ‘n kombers gehad wat langs die bed op die grond gelê het. In die middel van die nag, wanneer die gebedslas op sy gemoed te groot raak, rol hy van die bed af en maak hom met die kombers toe en worstel vir ure in gebed vir sy gemeentelede. En wanneer sy vrou (die dogter van John Knox) wakker word en hom aanpraat, antwoord hy: “O vrou, weet jy dan nie hoeveel mense daar in my gemeente is vir wie ek voor die Here verantwoordelik is nie?”

‘n Merkteken van ‘n ware pastor, is – sonder twyfel – sy passie vir gebed.

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)