Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG GEMEENTE
1 THESSALONISENSE – REEKS NO 2
Tema: Merktekens van ‘n ware getuie
Skrif: 1 Thessalonisense 2: 1-12

‘n Mens is nogal geneig om negatiewe konnotasies te heg aan die begrip “evangelis”. Mens dink onwillekeurig aan die Amerikaanse TV-evangeliste – van wie baie bekend is vir hulle materialisme en rykdom. Van sommige kry mens die idee dat hulle net kyk wat hulle kan inpalm.

Dit is natuurlik ligjare ver verwyder van die NT-konsep van ‘n “evangelis” – soos wat die apostel Paulus self was. In die eerste 12 verse van 1 Thes 2, vind ons 4 duidelike merktekens van ‘n ware evangelis – eintlik van ‘n ware GETUIE vir die Here Jesus Christus – iemand wat Sy Naam probeer uitdra (dit geld dus vir elke ware Christen).

Gister het ons gesien op watter manier die gemeente in Tessalonika ontstaan het – ná slegs 3 weke se prediking deur Paulus (vgl Hand 17). In daardie 3 weke was daar talle ware bekerings, maar daar was ook felle opposisie deur onbekeerde Jode – soveel so dat Paulus en Silas uit Tessalonika moes vlug. Uit Atene het Paulus toe vir Timoteus na Tessalonika gestuur om uit te vind hoe dit met die nuut gestigde gemeentetjie gaan. Timoteus het terugrapporteer dat dit baie goed gaan en dat hulle al die kenmerke vertoon van mense wat werklik tot verlossing in Christus gekom het.

Paulus se haastige vlug uit Tessalonika – ná net 3 weke se bediening – het egter vir sy opponente – die onbekeerde Jode in Tessalonika, wat die oproer aangeblaas het – baie skietgoed gegee, want húlle het vir die nuwe gelowiges gesê: “Sien julle watse soort mens is díé Paulus! Dit is nou hoe hy vir julle omgee. Hy is ‘n tref-en-trap evangelis, man. Hy vlug sommer wanneer daar bietjie teenstand kom. Hy gee nie regtig vir julle om nie. Dit gaan vir hom oor sy eie naam. Hy los julle sommer net so vir die wolwe.”

Dit is hierdie aanklagte van sy opponente, wat die agtergrond vorm van hfste 2 & 3 van die eerste brief aan die Tessalonisense. Hier in hfst 2 verdedig hy homself teen die aanklag dat hy net aan homself dink en dat hy ‘n valse prediker is. Dis asof hy wil sê: “Ek is nie wat hulle vir julle sê ek is nie. Kyk, ek dra ál die kenmerke van ‘n ware, getroue en opregte getuie vir Christus. Ek is die ware artikel. Ek het julle nie om die bos gelei toe ek vir my kort bediening by julle was nie.”

Eintlik verdedig Paulus nie sy eie reputasie (wat hy in ander mense se oë is) nie, maar die egtheid van die evangelieboodskap, want hy wou nie hê die gemeentetjie in Tessalonika moes enigsins twyfel aan die Waarheid wat hy hulle geleer het nie. Omdat hulle aan hóm kon glo, kon hulle sy Boodskap glo! Omdat hý – wat Paulus is – ‘n egte en ware getuie is, is sy Boodskap ook eg. Dis ‘n boodskap wat van God kom. Hulle kon met vrymoedigheid daaraan vashou.

Vier merktekens van ‘n getroue getuie vir Christus.

1. ‘n Getroue getuie VOLHARD/HOU AAN (vv 1-2). “Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op ‘n mislukking uitgeloop het nie. Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, het God ons die moed gegee om die evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting.”

Ons besoek aan julle was nie tevergeefs nie. Die aanklag van sy kritici was: “Paulus is stert tussen die bene ná 3 weke weg. Watter sukses het hy nou eintlik behaal?” Maar hy verwerp die aanklag. Hy wys hulle daarop dat sy sending wél suksesvol was. Maar kyk nou mooi wáárna verwys hy hulle as bewys dat hy suksesvol was. Nee, hy verwys nie na die sigbare vrug op sy bediening nie. Hy verwys nie na die aantal eg bekeerde gelowige verloste geredde mense nie. Hy verwys nie na die groot getal mense wat binne 3 weke tot redding gekom het nie. Hy maak tewens glad nie eens daarvan melding nie.

Wat is sy bewys van sukses? Dat hy getrou was om die evangelieboodskap aan hulle te bring ten spyte van opposisie en ten spyte daarvan dat dit hom soveel gekos het. Hy was getrou. Al wat saakgemaak het en al wat punte getel het, was dat hy getrou was – t.s.v erge teenkanting.

In Hand 16 sien ons hoe die apostel in Fillipi erg gegésel is omdat hy gepreek het. Ná so ‘n géseling was ‘n mens letterlik byna dood. En tog is hy van Fillipi af Tessalonika toe – sonder siekverlof en sonder ‘n aftydjie/ruskansie. Terwyl hy goed weet dat daar ‘n nuwe ronde vervolging in Tessalonika sou kom. Sonder ‘n vakansiebreek, gaan hy egter Tessalonika toe en bring die Boodskap. Maak nie saak hoeveel mense tot redding kom nie. Hy is getrou, in die bek van die leeu. Dis al wat tel.

U sien, ‘n getroue getuie doen sy werk, ongeag moeilikhede. Dit was die groot bewys dat Paulus nie ‘n vervalste evangelis was nie. Ten spyte van die feit dat dit hom soveel gekos het, het hy volgehou en getrou gebly en wou hy die Boodskap by mense kry. Suksesvolle evangelisasie is getroue evangelisasie. Getroue evangelisasie is suksesvolle evangelisasie.

Dis moeiliker as wat dit klink. Want dit is moeilik om te volhard terwyl daar dalk geen sigbare vrug is nie.

2. ‘n Getroue getuie is ‘n goeie RENTMEESTER (vv 3-6a). “Ons prediking berus nie op dwaling nie. Dit kom ook nie voort uit onsuiwere beweegredes nie. Dis sonder bybedoelings. Nee, God het ons gekeur en Sy Boodskap aan ons toevertrou en só verkondig ons dit. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag. Met vleitaal hou ons ons nie op nie. Hebsug was nooit ons motief nie. Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie.”

Paulus se opponente het gesê sy boodskap kom voort uit dwaling. Dis sommer net sy eie uitvindsel. Sy motiewe was onsuiwer. Hy wou maar net ‘n klomp mense hê wat hom volg. ‘n Klomp godsdienstige aanhangers.

Deesdae hoor ons ook weer sommige teoloë wat beweer dat Paulus die Christelike Geloof uitgedink het. Dis sy uitvindsel, sê hulle.

Die waarheid is dat Paulus van die Here die Boodskap ontvang het en dat hy dit maar net aangegee het – soos ‘n goeie rentmeester. ‘n Rentmeester is iemand wat iemand anders se belange (gewoonlik geld) namens hom bestuur.

Die Here het aan Paulus die Boodskap toevertrou en Paulus het dit net uitgedeel aan ander sonder om mense te probeer plesier. Hy was nie ‘n dienaar van ménse nie. ‘n Getroue getuie probeer nie mense behaag nie, maar vir God. Hy het aan ons die Boodskap van die Here Jesus gegee. Ons taak is net om dit aan ander deur te gee. Net dit: aangee aan ander.

Hoe maklik kom die versoeking om die Boodskap ‘n bietjie aan te pas om by die mense se smaak te pas. Dit is algemeen vandag. Praat nie oor die hel nie. Laat na om te praat oor God se oordeel, oor sonde, oor totale verdorwenheid, noodsaak van bekering. Skuur skerp kante weg sodat die Boodskap sag op mense se ore val. Nie te veel aanstoot gee nie. Nie ‘n ware rentmeester nie. Sien Jeremia 23: die kenmerk van alle vals profete.

3. ‘n Getroue getuie ken SELFOPOFFERING (vv 6b -9). “Ons het nooit allerhande eise aan julle gestel nie. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos ‘n ma wat haar kinders vertroetel. Ons het nie net die evangelie aan julle gegee nie, maar ook ons eie lewe. Julle onthou immers hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle ‘n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie.”

Die beskuldiging van Paulus se opponente was dat hy net voorgee dat hy vír die gelowiges in Tessalonika is, maar dat eie gewin sy eintlike oogmerk was. Net die teenoorgestelde was waar. Hy was so opreg besorg oor hulle dat hy sy regte prysgegee het. As bedienaar van die Woord het hy die reg gehad om van hulle geld te vra vir sy lewensonderhoud, maar hy het liewer self gewerk en geswoeg om ‘n inkomste te genereer om geen las op hulle te lê nie. Selfopofferende liefde soos ‘n ma vir haar kinders. Hy het eerder homself aan hulle gegee as wat hy dinge van hulle ge-eis het. Hy het betrokke geraak by die mense se lewens/ homself met hulle gedeel, al was sy verblyf by hulle so kort. Geen tref en trap evangelis nie. Sy werk as die Here se getuie het ingehou dat dit hom iets gekos het. Vir Jesus het dit Sy lewe gekos. Vir Paulus het dit harde werk en die géé van homself gekos. ‘n Groot merkteken van ‘n egte, opregte en ware getuie vir die Here Jesus: selfopoffering.

4. ‘n Getroue getuie het INTEGRITEIT (vv 10-12). “Julle is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. Ons het elkeen van julle behandel soos ‘n pa sy kinders. Ons het elkeen bemoedig en aangespoor en het dit julle op die hart gedruk om tot eer van God te lewe. Hy wat julle roep om in Sy koninkryk in te gaan en aan Sy heerlikheid deel te hê.”

Dis absoluut ongelooflik hoe die Apostel – in ag genome die kort tydjie wat hy by die Tessalonsense was – só tussen hulle geleef het, dat die mense sy lewe kon sien en dít hulle kon aanspreek en kon oortuig van sy integriteit. Hy kon nie veins nie. Hy was 7 dae per week tussen die mense – in plaas daarvan om net een maal per week sigbaar te wees en voor die mense te verskyn tydens ‘n kerkdiens. Dán kon jy so maklik veins en ‘n groot vertoning lewer. Maar, waar mense jou gedurig sien, kan jy geen vertoning lewer nie. Jy kan nie voorgee nie. Jy kan die Christelike lewe aan ander modelleer. Hulle kan jou integriteit sien en oortuig word van die egtheid en waarheid van die evangelieboodskap.

Dit is die uitdaging aan almal van ons wat egte Christene is: om daagliks tussen mense die waarheid van die Here Jesus vir mense sigbaar te maak deur ons lewens. Nie eerstens deur dit wat ons vir mense sê nie, maar deur wat hulle kan sien. Die Christelike integriteit. Kollegas, familie (moeilikste), woonstelmaats, mede-studente ens.

Dít is die groot uitdaging voor die deur van alle opregte en toegewyde volgelinge van die Here Jesus Christus: om by die werk, skool, familiekring of waar ookal sigbare getuies vir die Here te wees sonder om noodwendig baie te praat.

Die wêreldbekende evangelis Billy Graham se seun, Franklin Graham (wat vandag ook ‘n bekende evangelis is) het tydens sy jongmensdae vir ‘n tyd lank deur groot periodes van twyfel en geestelike koudheid en donkerheid en selfs afvalligheid gegaan. Vandag getuig hy egter dat hy in daardie donker tye altyd geweet het dat die evangelieboodskap die Waarheid is, want sy ouers het dit gelééf – nie net gepreek nie. Dit het ingebrand in sy kindergemoed!

Kom ons laat nou net vir Paulus eenkant en fokus vir ‘n oomblik op onsself – elkeen wat in die Here Jesus gered is (en dus outomaties ook Sy getuie is).

‘n Vrug wat die Heilige Gees in ons produseer is hierdie 4 kentekens van egtheid. Dit is nie die resultaat van ons inspanning en tandekners nie. Dit kom van die Gees. Dis so bevrydend.

Kyk net weer daarna: 1) Bereidheid om net volhardend getrou te wees, al is daar byna nooit sigbare vrug nie, 2) Bereidheid om net die Boodskap onvervals aan ander deur te gee, 3) Selfopoffering, prysgee van eie gemak en gerief, 4) Die bereidheid om onsself te investeer in ander mense te lewens sodat hulle ons integriteit kan sien en oortuig word van die waarheid van die evangelie.

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)