Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS OOR 1 PETRUS
NR 3: Lewende stene
SKRIF: 1 Petrus 2: 1-12

Die woordjie DAN in vers 1 is nogal belangrik, want dit koppel die opdrag wat in vers 1 vervat is, aan die voorafgaande hoofstuk en veral die laaste twee verse daarvan.

Hou in gedagte dat in die oorspronklike manuskrip van 1 Petrus, daar nie hoofstuk- en versindelings was nie. Alles was aaneen geskryf in die Grieks. Dis die latere vertalers wat die indelings gemaak het.

Met ander woorde, wat die Apostel sê is die volgende:
“Aangesien julle – Christus-gelowige lesers van hierdie brief – deur God se almagsdaad weergebore is uit die ewige Woord en julle gevolglik tot geloofsgehoorsaamheid gekom het, DAAROM is julle in staat om vanuit hierdie nuwe lewe wat in julle is, heilig te leef en elke vorm van kwaad – wat nie by julle nuwe lewe in Christus pas nie – stop te sit. Hou gewoon op daarmee! Want julle kán ophou as gevolg van die krag van die nuwe lewe wat reeds in julle teenwoordig is. Goed soos skinder en kwaadpraat en bedrog en voorgee en huigel pas by die ónverloste mens in wie God nie die nuwe lewe uitgestort het nie. Dit is die werke van die gevalle sondige natuur, die vlees. Maar júlle leef alreeds deur die Heilige Gees – dus – laat dit dan in julle praktiese lewe sigbaar word.

Hoor jy wat sê die Apostel?

Hy sê beslis NIE: Hou op met dit en dat SODAT julle heilig kan word en die nuwe lewe deelagtig word nie. Dit is wat ons geneig is om te dink hy sê… Nee, hy sê: OMDAT julle alreeds by Jesus Christus ingesluit is en weergebore is uit die onverganklike Saad van die Woord, STAAK met die goed wat nie pas by Christus Jesus nie.

Die Christen leef nie om iets te WORD nie, maar hy/sy leef vanuit wat hy IS. Dit sien ‘n mens so duidelik deur 2:1 met die einde van hoofstuk 1 te koppel.

Daarom dan: STOP met die kwaad en LEEF vanuit die lewende Here Jesus wat jou nuutgemaak het.

U sien, in die Evangelieboodskap is VOLGORDE baie belangrik.

Die volgorde is: Besef EERS hoe genadig die Here teenoor jou was/is en DAN volg die gehoorsaamheid as ‘n vrug. Besef dat Hy goed is. Die HERE is goed. Die Here IS goed. Die Here is GOED. Elke mens wat op Christus begin vertrou het vir saligheid, weet uit eie ondervinding hoe genadig en barmhartig die lewende Here in werklikheid is. ‘n Volgeling van Jesus proe en smaak iets van God se goedheid, selfs in die bitterste omstandighede. Richard Wurmbrand wat vir 14 jaar in ‘n kommunistiese tronk in Romenië aangehou is en wreed gemartel is, sê dat – met tye – hy so gevul was met die teenwoordigheid van Christus dat dit gevoel het of hy kan oopbars.

Nou klink die Apostel se argument soos volg (verse 2-3): “Die feit dat jy die goedheid van die Here leer ken het, moet jou aandryf om Sy genade meer en meer te leer ken en ondervind – deur Sy Woord na te jaag. Die smagting na die Woord is die manier hoe ‘n Christus-gelowige groei. Die Woord is soos suiwer geestelike melk!

Petrus gebruik die beeld van ‘n pasgebore baba wat na melk smag. Eintlik is dit omtrent al waaroor so ‘n outjie se lewe gaan. En ons almal weet wat gebeur indien die melk nie beskikbaar is nie!

Dit is dus eintlik ‘n baie sterk beeld wat Petrus gebruik. Die groei van die baba het alles te make met die dors na en inname van melk.

Geestelik werk dit dieselfde. Iemand wat die Woord afskeep, se geestelike lewe kwyn en ly skade. Hoe meer ‘n kind v God iets daarvan beleef dat die Woord regtig God se Woord is en met sonde breek en behoefte aan die Waarheid besef en erken en dors na geestelike groei, na daardie mate sal die begeerte na geestelike melk ontwikkel en groei.

Daarom dan die oproep en uitnodiging in vers 4: KOM! Kom na Hom – na Jesus. En hou in gedagte: Die apostel praat met mense wat alreeds Christene is. Hierdie is dus ‘n oproep aan Christene (wat alreeds in beginsel na Christus gekom het) om aan te hou kom! Veral deur daaglikse vertroue op die Woord – die geestelike melk! In die Grieks is die gedagte van om te kom, met die doelwit om te blý in Sy teenwoordigheid. Byna soos die loot in die wingerdstok (Joh 15). Of die bou met stene op ‘n fondasie. Die hoeksteen van die gebou is die Here Jesus Christus.

Dit is die beeld/metafoor wat die Apostel gebruik – soos die Heilige Gees hom meevoer om te doen. Die gelowiges is die bakstene en Christus die hoeksteen. “Bakstene, kom na die hoeksteen en laat julle inbou – om vir altyd te bly, vir altyd deel van die gebou te wees.

Christus is ‘n lewende hoeksteen, want Hy is onverganklik uit die dood opgewek. En Hy leef in ‘n lewende verhouding met Sy verloste liggaam, die kerk. Maar Hy is terselftertyd ook die steen tot struikeling vir almal wat ongered leef. Soos die Skrif sê. Die een word gebou OP die hoeksteen en ander val hom te pletter OOR dieselfde steen. Want jy sien, die gevalle mens wat nie deur die Heilige Gees verlig is nie, sal altyd hierdie hoeksteen verwerp.

Dink net hoe is hierdie Hoeksteen deur die vals leraars en geestelike leiers van Israel ondersoek en met minagting verwerp. By Jesus kan elke mens wat met die seer van verwerping worstel, tuis voel. Hy ken dit. MAAR: Die opstanding van Christus uit die dood was God die Vader se teken van goedkeuring van Christus. Dit is al wat eintlik belangrik is. God se stempel van goedkeuring.

Maar, indien die Here Jesus die fondasiesteen is, wat is die Christus-gelowige dan? Antwoord: die bakstene waarmee die geestelike huis gebou word. Die huis is die ware kerk, die ware liggaam van Christus. Die verloste mens word ten nouste met Christus geïdentifiseer en verenig sodat dieselfde lewe wat in Hom is, ook in hulle is.

Die wonder is dus dat God die Vader besig is om ‘n geestelike huis te bou deur alle gelowiges in te bou – op hulle plek te plaas en met mekaar te integreer.

Maar let op die bevel/opdrag in vers 5: LAAT julle opbou. Ja, dit is God se werk, maar die weergebore mens is ook aktief in gehoorsaamheid. Dit beteken nie God en mens werk sáám nie – asof elkeen sy deel het om te doen nie. God doen alles. Maar Sy alles-doen bring die mens in beweging en die mens hoor dit as ‘n opdrag tot gehoorsaamheid. LAAT! Soos Filip 2:13 dit stel: Dis God wat in julle werk om te wil en te werk. En 100% van die “bakstene” se toewyding en oorgawe is slegs deur die Here Jesus se perfeksie vir die Vader aanneemlik.

Ons het nooit, maar nooit meriete in onsself nie, maar ons is toegevou en ingesluit by Jesus se 100%. DIT is hoe die Vader daarna kyk. Uit SY oogpunt gesien, vervul die NT gelowiges nou die funksie wat die OT gelowiges gehad het – ALMAL is nou geheilig – dit beteken: opsygesit vir Hom – en ALMAL is Sy priesters wat nie diere nie, maar geestelike offers van lof en aanbidding aan God bring.

In die OT het priesters vir mense ingetree, diens gelewer, voorbidding gedoen, mense na die Here gebring. In die NT is dit van alle gelowiges die geval, nie net van sommige nie.

Dis so wonderlik om te sien hoe die Apostel se denke die heeltyd deur die SKRIF gelei word – altyd die Skrif. Bedoelende natuurlik die OT – die absolute Woord van God. DAAROM STAAN DAAR IN DIE SKRIF sê hy in vers 6. Wat hy so pas in vers 5 gesê het, staaf hy uit die Skrif, naamlik Jesaja 28:16 waar die profeet na die komende Messias as hoekklip of fondamentsteen verwys.

Jesus is die fondament op wie die ware kerk – die liggaam van Christus – gebou word. En die Een wat die bouwerk doen, is God die Vader self. Wat ‘n gerusstelling en troos! Dis nie predikers of kerkvergaderings of sinodes wat bou nie. Dis God self. Voor die skepping reeds het Hy Christus uitverkies en aangestel om die hoekklip te wees. Voordat daar nog mense was en voordat daar ‘n sondeval was. JESUS is die uitverkore hoekklip. Daar is nie vele paaie na God toe nie. Daar is slegs EEN. Die Here Jesus Christus. God het geen ander fondamentsteen gelê nie.

‘n Mens kan hóé godsdienstig en toegewyd wees, maar buite Christus is so ‘n mens absoluut verlore – vir ewig verlore. Daarom moet ons koorsagtig wees om die Waarheid by mense te bring. Dis dringend. Dis ‘n saak van lewe en dood.

Maar kyk nou na die volgende stelling wat Petrus maak: Wie in HOM glo, sal nooit teleurgestel word nie. Is dit nie wonderlik nie?! Die mens wat waaragtig op hierdie uitverkore fondamentsteen begin bou het, sal tot in ewigheid nooit spyt wees nie en God sal so iemand end uit dra. Dit is die glorieryke sekerheid wat elke egte kind van God mag hê. Dink net daaraan: Die waarheid van Christus sal jou nooit in die steek laat nie.

Helderder en duideliker as wat verse 7-8 dit uitspel, kan dit nie wees nie. Die hele mensdom bestaan uit slegs TWEE groepe mense: Die wat op Christus en Sy kruisdood ALLEEN hoop en diegene wie dit nie doen nie. Voor God bestaan die mensdom nié uit wit, swart, bruin, geel, boeddis, hindoe, ateïs, Europeër, Duits, Frans, Mandaryns, ryk, arm, bo-dorp, onder-dorp nie. Daar is slegs TWEE groepe. En ek en jy IS op hierdie oomblik deel van een van die twee.

In verse 7-8 is die Apostel steeds besig om uit die onfeilbare OT Skrif aan te haal. En hy sê: Sommige deel regtig in die eer wat die Here Jesus besit, maar ander struikel oor presies dieselfde Christus. Vir die een persoon is Christus die lewensgeur en vir ander ‘n doodsreuk – dit sê Paulus weer op ‘n ander plek.

Ja, juis hierdie Fondamentsteen wat deur Israel van ouds afgekeur was, juis HY het die heel belangrikste klip in die gebou geword – die fondamentsteen. En die mens wat op Hom begin bou het, LEWE eenvoudig – sonder ophou!

Maar, God het bepaal dat diegene wat die Evangelieboodskap ongehoorsaam is, hulle stamp teen die fondamentsteen. Hulle struikel. Die verlore ewigheid is God se bestemming vir mense wat ongehoorsaam is aan die Evangeliewoord. Dis ‘n voldonge feit. Hierdie is waarheidsrealiteite. Maar vir mense wat die Here ken, is dit ook ‘n ontsettende Woord, want ons besef ons groot verantwoordelikheid teenoor almal rondom ons. Stort trane vir ongehoorsame mense – soos Psalm 6 leer – en die Here sien en verhoor ons trane.

In skerp teenstelling tot die mense wat oor Christus struikel, is die NT-gelowiges God se uitverkore geestelike volk en nasie – bestaande uit alle etniese volke. Voor die skepping reeds is hulle in Christus gekies (Efes 1:4).

Petrus kom in vers 9 en hy gebruik Eksodus 19 en hy beskryf die NT-kerk met begrippe wat destyds op God se OT-volk van toepassing was. Dis duidelik dat die NT-kerk die volk Israel se rol oorgeneem het. Die mooiste beskrywings word gebruik. Van ALLE mense wat in Christus is, is die volgende waar. Luister net:

UITVERKIES > M.a.w. God se genade, God se inisiatief, God se besluit is die basis van alles. KONINGS > M.a.w ‘n Christen heers, hy is nie ‘n slagoffer nie, maar heers in Christus se gesag. PRIESTERS > wat ander dien en omgee en voorbidding doen en opoffer. Die twee sake gaan hand-aan-hand: Heers en dien. Koninklike priesterdom! Dis ‘n priesterdom wat aan die Koning behoort en in Sy diens is en regtig Sy eiendom is.

Een van die wonderlikste voorregte wat ‘n Christen het: Jy is werklik Iemand s’n. Want onthou: Hy het jou met ‘n magtige stem uit die duisternis na Sy wonderbaarlike lig geroep. En daarom kom ons in beweging. Dis die effektiwiteit van Sy roeping wat ons beweeg en verander. Nou moet en sal ons verkondigers van Sy redding word. Evangeliste. Bevoorregte mense kan tog onmoontlik nie stilbly nie. Die apostel sê ons MOET vertel en praat en probeer om ander geestelik te help. Omdat die Christen alreeds alles IS wat hier beskryf is, kán hy/sy ‘n getuie wees.

Kyk Petrus mors nie met woorde nie. Elke woord tel gewig. Elke vers is gepak met waarheid en betekenis. Vers 10 belig nou weer ‘n ander kant van die diamant naamlik dat die ware liggaam van Christus ‘n VOOR en ‘n NOU het. Dit geld ook vir die individuele Christen.

Petrus draai nie doekies om nie. VROEËR was julle op geen manier God se volk nie. Maar NOU is julle dit. VROEËR was julle onder God se oordeel. Maar NOU is julle voorwerpe van Sy guns en genade en vergifnis en saligheid en liefde en sorg. Die Bybel noem dit barmhartigheid.

Hierdie VROEËR en NOU was natuurlik letterlik waar van die vroegste NT kerk aan wie Petrus skryf. VOOR Jesus se kruisdood was hulle heidene en NA Jesus se opstanding was daar vir hulle saligheid. VOOR hulle tot geloof en bekering gekom het was hulle verlore. NA hulle tot geloof gekom het, was hulle vrygespreek en vergewe. VROEËR in die OT tyd was Israel God se volk. NOU na Pinkster, is die Christus-gelowiges uit alle nasies God se volk.

Pas gerus hierdie beginsel op u eie lewe toe. Is daar ‘n VROEËR en ‘n NOU in u lewe? VROEËR het u nie geloofsekerheid gehad nie, maar TOE het die Here wonderbaarlik kom ingryp en u op u naam geroep en NOU beheers die Heilige Gees u lewe. Dis so noodsaaklik dat ons ‘n duidelike getuienis moet hê. ‘n Christen moet ‘n duidelike, helder getuienis hê – en ‘n lewe wat daarmee klop.

Die apostel noem sy mede-gelowiges GELIEFDES. Dis so mooi en dis iets wat slegs in die Christelike Geloof te vinde is: Liefde vir mekaar. Familiewees. Voortspruitende uit God se liefde.

Maar moenie dink hierdie familiewees impliseer noodwendig maanskyn en rose nie. Want die KONTEKS waarbinne die familie leef, is die wêreld – die antichristus-sisteem wat niemand kan ontglip nie – wat nie vriendelik is met volgelinge van Christus nie. Hoe duideliker en helderder jy vir Christus leef en openlik vir Hom en die Waarheid opstaan, hoe meer vyandig word die konteks. Dis presies wat Petrus se eerste lesers beleef het. Hulle het trouens baie swaar gekry en selfs gely agv hulle verbondenheid aan die Drie-enige God.

Binne die konteks vd wêreld, is en bly ‘n Christen altyd ‘n vreemdeling en bywoner – bedoelende jy kan en sal en mag nooit deel wees van die sisteem nie. Jy is nie tuis nie en jy is net tydelik daar. ‘n Boot is in die water, maar die water is nie in die boot nie. Indien jy iewers heen reis en halfpad oorslaap, is die oorslaapplek nooit jou tuiste nie. Hierdie Christusvyandige wêreldsisteem is nooit die ware Christen se tuiste nie. Dis net ‘n tydelike pitstop. Indien jy tuis is in die wêreld en nie moeilikheid ondervind nie, is dit omdat jy OF nie werklik uit Christus gebore is nie OF omdat jy ‘n lewe van kompromie leef. Jy probeer dalk om in die geheim ‘n Christen te wees. Dis dodelik gevaarlik.

Terwyl die Christen tydelik in die wêreldsisteem leef, is dit kardinaal belangrik om HEILIG te leef, sê vers 11. Hoor hoe sterk kom die opdrag: “Ek dring by julle aan: MOENIE toegee aan vleeslike luste nie. Met selfdissipline moet die Christen die begeertes vd gevalle menslike natuur – wat die siel verwoes en stryd voer teen die gees – weier. So alleen kan die Christen ‘n impak op die wêreld maak. Vleeslike luste is alles wat soos gorillavegters onophoudelik poog om die Christen se vreugde en vrede en bruikbaarheid te vernietig. Daarom is die doelbewuste LEEF vanuit Christus se heiligheid – wat op die gelowige oorgeplant is – so noodsaaklik.

Dit gaan dus nie eerstens oor wat ‘n Christus-gelowige sê en praat nie, maar oor hoe jy lewe. Dis waarna die skeptiese wêreldse mense eerste kyk. Ja natuurlik moet jy PRAAT indien jy ‘n volgeling van Christus is. Woon die Gees in jou, sal jy dit verseker doen. MAAR – kyk wat sê die Apostel in vers 12: Hy sê niks oor praat nie. Hy praat oor ons GEDRAG. Hy sê: GEDRA JULLE goed onder die heidene. Verseker sal hulle van jou kwaadpraat en jou beskinder – asof jy ‘n misdaad gepleeg het. Maar, laat hulle dit maar doen. Dit tel net in jou guns. Punt is: Hulle moet niks teen jou lewe & optrede kan sê nie. Jou lewenswandel – wat hulle goed dophou, moet hulle veroordeel op die Groot Dag van afrekening – wat op hande is. Op DAARDIE Dag sal hulle die HERE moet verheerlik. Dit beteken hulle sal sonder verskoning wees en gedwonge aan die HERE die eer gee vir wat die waarheid is.

Ons kan dus duidelik sien dat ‘n Christen nie in ‘n klooster in afsondering moet leef nie. Maar voortgaan met die gewone lewe van leef tussen mense wat buite Christus is.
Maar IN hierdie omgewing, is die Christen se getuienistaak van groot belang – veral die lewenswandel – sonder om bang te wees vir mense se kwaadpratery – maar doelgerig met die Here te leef.

Category 1 Petrus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)