Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS OOR 1 PETRUS
NR 1: Uitverkore vreemdelinge
SKRIF: 1 Petrus 1: 1-12

Petrus was ‘n apostel van die Here Jesus Christus. Hy was dus een van die unieke groep manne vir wie die Here persoonlik tot die apostolaat geroep het (Mat 10) en uitgestuur het (Joh 20). Ná Jesus se opstanding en hemelvaart, moes die apostels die grondleggingswerk van die NT-kerk verrig (Efes 2:20). Ná hulle, was daar nooit weer apostels nie, want ‘n fondasie kan slegs een keer gelê word. Ons besit wel die apostoliese LEER, want dit is in ons NT vervat.

Die ganse ware NT kerk is dus op die leer van die apostels gebou. Die apostel Petrus onder andere.

Die mense aan wie Petrus skryf is die uitverkorenes van God wat vreemdelinge in die wêreld is en wat oral verspreid is. Eintlik sê hy net dat hy vir ware Christus-gelowiges skryf wat oral in allerlei plekke in die destydse wêreld woon. Ja, Christus se kerk is verspreid (katoliek). En hulle is IN die wêreld, maar nie VAN die wêreld nie. Vreemdelinge in die wêreld. Soos ‘n boot IN water is, maar die water is nie in die boot nie! ‘n Mens wat uit die Heilige Gees gebore is en in wie die Gees woon, kan nie en mag nie tuis wees in die wêreldsisteem wat buite Christus is nie. Op geen manier nie. Jy is gewoon uitgered uit die wêreld soos wat Israel uit Egipte gered was.

Van God se verloste mense is dus twee dinge waar: 1 Hulle het oor die aarde versprei en 2 hulle is vreemdelinge in die wêreld. En hulle moet só LEEF.

Maar daar is ook ‘n derde kenmerk van alle ware gelowiges: Hulle is deur God uitverkies. Voor die skepping reeds leer Efes 1:4 en 2 Tim 1:9. Dis juis ómdat hulle voor die skepping reeds deur die Vader gekies en aan die Seun gegee is, dat hulle enigsins tot verlossing in Christus kón kom! Ons kom tot geloof en bekering OMDAT ons uitverkies is voor die grondlegging van die wêreld – en nie andersom nie! Uitverkiesing beteken dat slegs God se genade in Christus die REDE vir ons verlossing is. Die rede is glad nie in onsself nie. Daar kan geen groter troos en sekerheid vir God se kinders wees nie, as om te weet: My verlossing/vryspraak/reggestel wees met God is in God self, in Sy keuse vir my, gegrondves. DIT spoor my aan om Hom met groter en groter toewyding lief te hê en te dien en gehoorsaamheid na te jaag.

Dit is duidelik dat die Apostel Petrus nie met alle mense praat nie. Hy praat spesifiek met Christus-gelowiges. En oor hulle het hy iets besonders te sê. Hy sê hulle is wat hulle is slegs omdat God die Vader dit vooraf so bestem het en hulle gekies het om Sy kinders te mag wees.

“Deur God se voorkennis” sê vers 2. Dit beteken nie dat God net alwetend is en voor die skepping vooruit geweet het wie in die verre toekoms tot verlossing sou kom nie. Nee, voorkennis beteken dat Hy dit doelbewus en daadwerklik so beplan en besluit en ontwerp het – voordat daar nog tyd was.

In vers 20 gebruik hy dieselfde woord “voorkennis” en daar praat hy van hoe God voor alle tye Jesus se verlossingswerk uitgewerk het. God het nie net vooruit geweet dat Jesus die verlossing sou kom bewerk nie, nee God het dit vooruit bedink en beplan en besluit.

Dis darem net té groot vir ons denke en begrip, nie waar nie! Om net te dink dat die EINTLIKE rede waarom ek iewers in my lewe onrustig en soekende begin word het en geestelik lewend geword het en op die punt gekom het om geloofsvertroue op Christus se kruisredding oor te plaas en absoluut passievol begin word het om Hóm te gehoorsaam in plaas van myself-en-die-wêreld en ek gereinig kon word van skuld en sonde deur Sy bloed en vandag genade en vrede kan beleef – om te dink die EINTLIKE rede wat agter dit alles lê is ‘n stuk beplanning wat God gedoen het nog voordat daar ‘n heelal was, voordat daar tyd was. Sjoe! Ja! TOE het Hy my reeds op die naam geken. Dis die vaste grond waarop my hele verlossing staan. Onwankelbaar! Die feit dat ek nou so sterk begeer om HOM as Koning en Here te gehoorsaam en dat ek my hoop op Sy kosbare bloed fokus en dat daar vrede in my heers, dit alles is net enkel en alleen die vrug/resultaat van Sy uitverkiesende liefde waarsonder ek sonder enige twyfel vir ewig verlore sou wees!

En ek suig nie hierdie dinge uit my duim nie. Kyk gerus na verse 1- en jy sal die volgende daar sien: Die Heilige Gees neem diegene wat voor die skepping reeds deur Vader se beplanning & besluit tot saligheid uitverkies is – Hy neem hulle – en NET hulle – en Hy sit hulle apart – OM (die doel) aan Christus gehoorsaam te word en met Sy bloed gewas te word.

Is jy dus vandag aan Christus gehoorsaam en met Sy bloed gereinig, dan is jy só omdat die Heilige Gees jou kom vat en jou opsygesit (geheilig) het daartoe. En waarom het Hy jou kom vat en opsygesit? Omdat jy voor die skepping reeds daartoe verkies is. En waarom is jy verkies? Omdat God dit in Sy voorkennis so beplan en bewerk het. En wanneer jy dit ontdek, kom ‘n reuse onbedwingbare blydskap oor jou.

Ja, die Christelike Geloof is een groot lofprysing. Lof aan die Vader vir wat Hy in Christus Jesus bewerk het. Verse 3-4 spel dit uit. Die voorwerp van die lof is spesifiek God die Vader. Want Hy is die Bron van alle verlossing en Christus is die Een in/deur wie die Vader dit doen. Dit is die Vader se reuse ontferming oor mense wat regtig die helse straf deur en deur verdien, wat alle lof waardig is.

Kyk, om darem aan jou VYANDE die weergeboorte en nuwe lewe te skenk – as ‘n vrye gawe – DIT is enorme groot ontferming! Nie vir jou vriende nie, maar jou vyande. Ja, die weergeboorte en nuwe lewe is ‘n geskenk. Dis nie iets waaraan die mens ‘n aandeel het nie. Die mens kan nie en hoef nie vir God ‘n handjie te gee nie. Hy doen dit eiehandig. So spel verse 3-4 dit uit.

Die Gees leer deur Petrus se pen dat die Vader die nuwe lewe deur middel van Jesus se opstanding uit die dood bewerk het. Daardie nuwe onverganklike lewe waarin Jesus uit die dood opgestaan het, is presies dieselfde nuwe lewe wat God as ‘n geskenk aan ons gee! Dis te wonderlik vir woorde!

Op ‘n misterieuse wyse was alle mense wat ooit tot geloof sou kom, alle uitverkorenes, ingesluit by Jesus se opstanding. Nou kyk, dit is iets wat slegs God alleen kan vermag. Dis ‘n absolute bonatuurlike nuwe lewe wat in jou gekom het en tot gevolg gehad het dat jy geglo en bekeer het.

Daarom, sê die Apostel, het ons nou ‘n lewende en sekere toekomsverwagting. Want daar is ‘n erfenis wat vir alle in-Christus-verloste-mense in die hemel in bewaring gehou word. Dis 100% seker. Dis ‘n toekoms wat nie kan en sal vergaan nie. Dit kan nie soos ‘n blom verwelk nie. Dit kan nie besmet word deur sonde of duiwel nie. En dis nie óns wat dit in bewaring moet probeer hou nie. Dis HY wat dit bewaar. Met super almag. Hy is volkome in staat! Daarom is die toekomshoop so seker en so vas. En dit is die rede vir die lofprysing!

KAN jy vir een oomblik dink dat dit die eenvoudige eertydse visserman is wat hier skryf?! Petrus! Hoe kón hy sulke dinge bedink? Die transformasie wat hyself ondergaan het deur sy eenheid met die opgestane Here Jesus en die reuse verskil wat die inwoning van God die Heilige Gees in sy lewe teweeggebring het, was onbeskryflik. Kyk die diepte van insig waarmee hy hier skryf. Al wat ons kan konkludeer is dat hierdie brief waarlik God se Woord is. Die apostel Petrus was regtig meegevoer deur die Heilige Gees toe hy skryf.

Hy verseker ons in vers 5 dat daar ‘n saligheid is wat aan die einde van hierdie bedeling deur God bekendgemaak, oopgemaak sal word. Dit geld slegs vir diegene wat werklik Christus-gelowiges is. ‘n Groot saligheid is aan’t kom. Eintlik is dit nou reeds daar, maar dis nog nie geopenbaar nie. Dis soos ‘n standbeeld met ‘n doek oor en die doek word verwyder wanneer die beeld onthul word.

Die dag van onthulling is natuurlik by Christus se tweede koms na die aarde. Die voleinding.

Maar, wát is hierdie saligheid?

Wel, dit is die finale en volle verlossing van al God se ware kinders in Christus. Dán sal hulle Hom sien van aangesig tot aangesig en nie meer net deur geloof in Sy Woord nie.

Maar kyk nou hierna: Dis God se eie enorme krag wat die gelowige veilig bewaar vir daardie saligheid. Dis DAAROP wat ons vertrou! En vertrou is glo. Glo is vertrou. Die twee loop hand-aan-hand. God se krag bewaar – en ons vertrou Hom daarvoor. En die vertroue kom ook uit Sy krag voort. En op hierdie manier gaan God se ware kinders voort en voort in volharding tot die einde toe!

Dis darem moeilik om hierdie eerste klompie verse te lees en nie die bruising te hoor nie. Die lof-bruising! Die vreugde. Die apostel gee eintlik ‘n bevel in vers 6: VERHEUG JULLE! Dis ‘n opdrag. Christene MOET bly wees oor die nuwe lewe wat God hulle so vryelik uit genade geskenk het in/deur Christus se opstanding uit die dood en dat Hy die finale groot saligheid vir hulle in veilige bewaring hou. Kyk, dit is GROOT sake hierdie!

Maar nou maak vers 6 die gordyn oop dat ons kan sien WAAROM Petrus nou eintlik die brief geskryf het. Wát het hom beweeg om te skryf. Wel, hy sê baie van sy lesers het allerhande soorte beproewinge beleef – net omdat hulle Christene was – volgelinge van Christus. Hulle het loutering en beproewing deurgegaan as gevolg van hulle verbondenheid aan Christus!

Deur alle eeue heen het Christene – wat opreg die Here wil dien in alle gehoorsaamheid – dit nie maklik nie. In die vroegste Christelike kerk het dit ook bitterlik rof gegaan.

Wat die Heilige Gees nou sê, is die volgende: Die sekere verwagting op die ewige hemelse erfenis wat God in bewaring hou, moet die Christene versterk in hulle beproewing en stryd. Romeine 8:18.

Dit is die Here se wil en opdrag: Christene wat beproef word MOET versterk word deur hulle toekomsverwagting wat in Jesus vasgemaak is. En let net op wat hy sê: Selfs al duur die stryd lewenslank, is dit net ‘n kort tydjie in vergelyking met die duur van die ewige saligheid. Dit kan byna nie eens vergelyk word nie. Die beproewing is kortstondig, maar die saligheid sal nooit ophou nie.

Die Gees van die Here gaan in vers 7 verder deur die REDE te gee waarom dit nie altyd met God se verloste mense so wonderlik gaan nie. Waarom gaan hulle beproewing deur as gevolg van hulle getuienis vir die Here Jesus Christus? Waarom laat die Here dit dan toe?

Petrus sê: Die Here toets die suiwerheid en egtheid van hulle geloofsvertroue. Die voordeel van so ‘n vuurproef baat nie vir God – die een wat die proef doen nie – maar dit baat die beproefde gelowige – die een wat beproef wórd. Want wanneer die kind vd Here DEUR ‘n beproewing kom en geestelik gegroei het en nog steeds net hegter en hegter op Christus hoop, dan weet daardie persoon met groter sekerheid dat sy/haar kindskap van God werklik eg is.

Dink maar aan die klassieke voorbeeld van Abraham wat sy seun Isak moes gaan offer – in opdrag van God. Of aan Job. Wanneer goud die vuurtoets deurstaan het, weet ons dit is egte goud. So werk dit ook geestelik, sê die Apostel. ‘n Geloofsvertroue op Christus wat werklik deur die Heilige Gees geskep is, kan nie en sal nie vergaan of deur swaarkry vernietig word nie. Dis onmoontlik. ‘n Plant wat deur God self geplant is, kan nie ontwortel word nie (Mat 15:13).

Die gevolg hiervan is dat daar reuse blydskap en lof sal wees op die dag van Christus se wederkoms. Ons moenie vergeet nie: Die wederkoms beteken nie net die finale oordeel vir onverlostes nie, maar terselftertyd ook ‘n beloning vir die kinders van God. Ja, Hy SAL jou beloon vir iets wat HY in jou gewerk het. Dis loon wat HY veronderstel is om te ontvang, maar dan kry JY dit. Asemrowend is die genade.

Dus, wat veroorsaak hierdie borrelende blydskap waarvan die apostel praat? ‘n Onuitspreeklike blydskap sê hy in verse 8-9. Onuitspreeklik beteken dit is onmoontlik om dit te beskryf of te verwoord. WAT veroorsaak dit? WAT is dit wat die onverloste mense op geen manier kan verstaan en kleinkry nie? Dis DRIE groot realiteite, sê die Heilige Gees in verse 8-9:

1 → Die feit dat die gelowige bonatuurlik in staat gestel word om Jesus lief te hê, al kon hy/sy Hom nie sien toe Hy op aarde was nie. Vir die onverloste mens gaan alles oor wat sigbaar en tasbaar is. Maar die wonder van die nuwe lewe deur die Gees is dat geestelike oë in die mens se binneste oopgemaak word – oë van geloofsvertroue gebou op die Woord.

2 → Die feit dat die gelowige bonatuurlik in staat gestel word om op Jesus te hoop, al kan hy/sy Hom nie op hierdie oomblik sien nie. Jy het Hom nie gesien toe Hy op die kruis gehang het nie en jy sien Hom ook nie vandag nie. En tog het jy Hom lief en skarnier jy aan Sy verlossingwerk van 2000 jaar gelede vir jou ewige saligheid. DIT is die resultaat van die werk van die Heilige Gees.

3 → Kinders van die Here deel nou reeds in die saligheid. Ja, dit is ‘n saak van die toekoms wanneer die verlossing volkome sal wees, maar dis ook ‘n saak van vandag, nou, want in Christus geniet jy alreeds volle vergifnis en oorwinning oor die mag van sonde. Sonde heers en oorheers nie meer soos in die tyd toe jy nog verlore was nie.

Dit is die drie groot realiteite wat die blydskap veroorsaak! Onverlostes verstaan daar niks van nie, maar verlostes het vreugde!

En om te dink dat hierdie waarhede (alles wat in verse 1-9 gesê is – die hele saligheid) nie iets nuuts is wat die NT apostels nou skielik uitgedink het nie. Nee, dis vasgesement diep in die OT-Skrifte. Daar is ‘n absolute naatlose eenheid tussen die OT en NT. Tussen die OT profete en die NT apostels. Dis EEN Heilige Gees wat almal meegevoer het. DIT is die vaste fondament waarop die gelowige moet vertrou in stede van op gevoelens en emosies en omstandighede te let. Vertrou op die rotsvaste SKRIF en die blydskap sal vanself kom!

Verse 10-11 stel dit duidelik dat “Ou Testament” maar net verwys na die bedeling VOOR die vervulling van God se beloftes in Christus se koms na die aarde. Maar dit was die Gees van Christus, die Heilige Gees, wat die hele OT-bedeling bestuur het en die profete meegevoer het. Daarom het die OT profete JESUS CHRISTUS verkondig, Sy genade verkondig asook die saligheid, die verlossing – presies dieselfde saligheid wat NT gelowiges in Jesus geniet – DIT het die OT profete vooruitgesien onder leiding van Christus se Gees se magtige meevoering wat in hulle gewerk het. Die Gees was IN hulle en die Gees het DEUR hulle gespreek en baie honderde jare die toekoms in, die lyding en dood en verheerliking van Jesus verkondig.

Ja, dis waar dat die OT profete en gelowiges nie alles so duidelik verstaan het nie, want die OT-bedeling was die bedeling van die BELOFTE. Maar die Heilige Gees het kragtig in hulle getuig en hulle het probeer vasstel waarop presies die dinge dui waarvan die Gees in hulle getuig het. Hulle het gewonder oor die wie, hoe en wat – net soos ons vandag wonder oor wat die detail van die wederkoms sal wees.

Maar die dinge wat die OT-profete nagevors het, is nie aan hulle geopenbaar nie, maar wel aan óns wat die volledige Bybel het. Die OT-profete se prediking moet sáám met die prediking van die NT-apostels verstaan word. Dít wat die OT-profete in belóftevorm verkondig het, het die NT-apostels in vervúlde vorm verkondig. En die “dit” is natuurlik die glorieryke verlossingswerk van Christus. Die OT-profete se boodskap was dus eintlik op ONS gemik – bedoelende alle NT gelowiges. Of anders gestel: Die NT-apostels het die OT-profete se boodskap as basis gebruik in hoe hulle die lyding en verheerliking van Christus (wat hulle as ooggetuies met hulle eie oë gesien het) verstaan en verkondig het. En vir ons is dit noodsaaklik om die apostels en profete SAAM te lees en te verstaan.

Dieselfde Heilige Gees wat die profete meegevoer het, het ook alles aan die apostels bekendgemaak. En uiteindelik is alles vir ONS heil en saligheid bedoel. Dit is die basis van ons vreugde. Nie vir die ENGELE se saligheid nie, maar vir ONS s’n.

Dink daaraan: Indien jy iemand is in wie die Heilige Gees woon en werk, het jy méér insig in die Waarheid as wat die engele van God het! Die engele besit nie die insig in die Evangelieboodskap nie – want hulle benodig dit nie. Maar ons wel.

Alle eer aan die Here!

Tafelberg Gemeente (Dolerend)
Buitenkantstraat 39, Kaapstad
www.tafelbergkerk.co.za
Dr Chris Saayman

Category 1 Petrus

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)