Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 JOHANNES – REEKS NO 9
Skriflesing: 1 Johannes 3:4 – 10
Tema: Sonde en geregtigheid!

Almal wat al in gesprek was met mense wat nog nie werklik volgelinge van die Here Jesus Christus is nie, sou al die eienaardigheid teëgekom het dat diesulkes dikwels bely dat hulle alles glo wat Christene veronderstel is om te glo EN TOG glo hulle – tegelyk – ook dinge wat in stryd is met God se Woord.

Dit laat ‘n mens nogal kopkrap.

Die persoon sal byvoorbeeld iets sê soos dat Jesus beslis die unieke Seun van God is (wat waar is), maar dan voeg hy/sy by dat hy ook glo dat alle mense eintlik ook maar seuns van God is – soos Jesus is (wat ‘n dwaling is).

‘n Mens hoor hierdie verwardheid al hoe meer in ons dag, want die post-modernisme – met sy vals idee dat waarheid eintlik maar iets relatief is – het sy kloue diep ingeslaan binne ons huidige kultuur. Jy kan maar onversoenbare dinge glo, selfs goed wat lynreg teenoor mekaar is, dis alles reg so. Dit hang af hoe elke individu daarna kyk en wat vir hom/haar reg voel.

Dis egter opvallend dat die apostel Johannes presies juis NIE op hierdie manier praat nie. Kyk mooi na sy brief. Sy oogmerk is juis om waarheid en dwaling te onderskei en te skei. In die hele Bybel en so ook by Johannes die apostel, is die waarheid ABSOLUUT – en beslis nie relatief nie. En die ware kerk van Christus sal altyd die Skrif hierin naspreek en nadoen. Gebeur dit nie, het ons te make met ‘n manifestasie van ‘n vals kerk. ‘n Kerk (en individu) of OF apostolies OF nie apostolies nie.

Kyk maar net na die gelese gedeelte. Daar is niks daarvan dat die waarheid SO of SO geïnterpreteer kan word nie. Die Apostel SÊ wat die absolute waarheid is en daarmee is die saak afgehandel.

In die vorige vers (wat ons verlede week bestudeer het) het die apostel gesê dat Christus Jesus weer kom EN dat alle ware Christene Sy koms verwag EN dat hierdie verwagting daartoe lei dat gelowiges hulleself rein hou soos wat Hy rein is. Hulle maak erns met sonde in hulle lewens en maak erns met die pad van heiligmaking – hulle wil om lewe en dood alle sonde uit hulle lewens uitgesuiwer hê.

En nou – in verse 4-10 – haak hy aan by wat hy daar in vers 3 gesê het, naamlik die hele kwessie van die REINIGING. Sonde speel nog steeds ‘n rol in die verloste/nuutgemaakte mens se lewe. En op weg na die wederkoms en voleinding toe, ondergaan die ware Christen baie geestelike stryde en soms worsteling om die sonde uitgeroei te sien. ‘n Worsteling om regtig te LEEF vanuit die nuwe hart wat reeds ontvang is. Ek HET reeds ‘n nuwe hart ontvang – en nou BEUR ek om uit daardie nuwe hart in die praktyk van elke dag te leef – en dit gaan soms taai en die sweet loop. Soms voel dit of ek nog glad nie ‘n ware kind van die Here geword het nie. Soms voel dit of ek aan die duiwel behoort. Soms voel dit of ek nie weet WAAR ek staan nie.

In verse 4-10 kom wys die apostel vir die gemeente wat die sleutel is om hierdie stryd van heiligmaking reg te verstaan. Hy vergelyk kinders van die duiwel en kinders van die ware God met mekaar. Daar is net twee soorte lewens moontlik: OF jy leef onder die heerskappy/dwingelandy van sonde en duiwel OF jy lewe onder die heerskappy van Christus. Geen tussenposisie is moontlik nie.

Voordat ons na elke vers kyk, hier is ‘n opsomming van die apostel se boodskap:

No 1: Sonde is ‘n feit en dit is baie ernstig.
No 2: Jesus neem die sonde weg en Hy reinig.
No 3: Die band met hetsy Christus OF die duiwel bepaal of iemand onder heerskappy van God of onder heerskappy van sonde & satan leef.
No 4: Vrywaring van sonde en duiwel is slegs te vinde IN CHRISTUS. Die band met Hom is deurslaggewend. Daar is niks van eie vermoë nie. Die fokus is op die Here Jesus en nie op die Christen nie.

En dan natuurlik: Die Gnostici – Cerinthius en sy makkers – wou die gemeentes van hierdie genoemde kernwaarhede vervreem. Dit is een van die redes waarom Johannes alles so pynlik akkuraat uitspel.

Kom ons duik in by vers 4 (lees dit weer):

Ja, ware volgelinge van die Here Jesus Christus, kan ook steeds sondig teen God se wet/wil/wese en die Heilige Gees seermaak. En sonde is wetsoortreding. Sonde beteken letterlik om God se wil te verbreek, om Sy gebod ongehoorsaam te wees.

Die lewe van ‘n weergebore mens is nie vry van wetsoortreding nie en wanneer ‘n Christen-gelowige dit doen, is dit van presies dieselfde aard as wanneer ‘n verlore mens dit doen. Dit is en bly wesenlik dieselfde ding, naamlik wetsoortreding. Die verbreking van die wil van die heilige God. Kan ‘n mens jou indink hoe ernstig so iets is?

Voorbeelde is legio:
Is blydskap God se wil, dan wil ek sanik en kla. Is dankbaarheid God se wil, dan wil ek opstandig wees. Is dit God se wil dat alle mense met die Evangelie bereik moet word, dan wil ek by die huis sit en tone tel. Is afgodery teen God se wil, dan fantaseer ek oor die god wat ek in my verbeelding skep. Is egbreuk teen God se wil, dan begeer ek wellus. Is die samekomste van die gemeente God se wil, dan doen ek my eie ding. Is moord teen God se wil, dan bedink ek vyandskap teen mense. Is steel teen God se wil, dan bedink ek verskonings waarom ek nog nie dit-en-dat wat ek geleen het, kon teruggee nie.

Ensovoorts… Sonde is wetsoortreding.

En wetsoortreding is altyd strafbaar. Omdat sonde die verbreking van die oneindige God se wil is, is die straf ook dood-wat-nooit-eindig-nie. Dit is al wat toepaslik is.

Dit is eers wanneer hierdie feite tot ‘n mens deurdring, wat jy verlossing begin begeer, want jy besef meteens: “Ek is in ‘n groot penarie”. Op ‘n manier moet ‘n mens van hierdie wetsoortredingmonster verlos word, anders sak die gordyn vir jou en raak dit donker.

Weliswaar weet die kind van God dat hy/sy nie meer onder die dwingelandy van sonde leef nie en dat hy nie meer hel toe sal gaan nie en nie die ewige dood sal sterf nie. Daar is nie meer sondeheerskappy nie. Maar sonde duik wel op. En dit bedroef wel die Heilige Gees. En omdat die Christen God se eie lewe regstreeks in sy siel ontvang het, is dit ‘n onuithoudbare situasie. Dit werk nie! Die Christen wat God se wet oortree, voel of hy/sy kan weghardloop.
Vandaar die stryd om heiligmaking.

Is die heiligmaking ‘n uitsiglose stryd? Allermins! Kyk na vers 5….

Vers 5 (lees dit weer):

Die Christen weet met absolute oortuiging dat Jesus Christus in Homself geen sonde het nie en dat Hy – die sondelose – na die aarde gekom het om die sondes weg te neem. Nee, die sonde in die lewe van die Christen word nie geringgeskat nie, maar die verlossende krag van God in Christus is baie groter! En die Christen WEET dit, sê die Apostel.

Dit is net hier en ook in Joh 1:29 waar daar in die NT van die WEGNEEM van die sonde gepraat word. Daarmee word bedoel dat Jesus die MAG van sonde verbreek het – om die voortstuwing daarvan in die lewe van die nuutgemaakte mens, te stuit. Ja, die houvas daarvan op die gelowige te vernietig. Dit is voorwaar kragtig en groot! Wegneem!

Daarom word van sondes in die meervoud gepraat – met ander woorde, die werklike persoonlike individuele dade van wetsoortreding wat die gelowige in mismoedigheid dompel en hom soos ‘n gevangene laat voel. Van hierdie heerskappy, word die Christen verlos en bevry wanneer die Christen se oë daarvoor oopgaan dat ‘n lewende band met hierdie Verlosser regtig ‘n allerwerklike bevryding van die mag van sonde meebring. Die Christen konsentreer dan gevolglik op daardie band en nie meer op die sondes of op eie pogings om te oorwin nie. Vers 6 sê dit glashelder duidelik….

Vers 6 (lees dit weer):

Konsentreer op die band met Christus en iets wonderliks gebeur: Die aanhoudende val-in-sondes – soos ‘n vark wat in die modder lê – word stopgesit. En jy weet dit is nie ‘n krag in jouself nie. Dit kom van ‘n bonatuurlike bron!

Mense wat nie die Here regtig ken nie, wat nie daardie band het nie, hou aan en aan en aan met sondig. Hulle weet nie eens dat hulle in konstante wetsoortreding leef nie. Dis ‘n lewenswyse. En omdat almal dit doen, dink hulle dit is normaal en reg so. Hulle is ongesteurd.

Let op: Hy sê NIE: “Iemand wat in Hom bly, sondig nie meer nie”. Hy sê: “Wie in Hom bly, hou nie aan met sondig nie”. Dit is presies hoe dit in die Grieks staan. Die persoon wat in Christus is, kán wel sondig en doen dit ook, maar die sonde is nie meer ‘n lewenstyl nie. Dis nie meer ‘n patroon nie. Dit oefen nie meer heerskappy uit nie. Iemand by wie dit ‘n lewenstyl is, ken nie die Here nie, sê die Heilige Gees.

Wat sê vers 6 anders as dat ‘n band met Christus (aan die een kant) en ‘n stuk lewenstyl van sonde doen (aan die ander kant), onversoenbaar is. Of beter gesê: ‘n Verhouding tot Christus (aan die een kant) en sonde (aan die ander kant) is onversoenbaar.

Dit is waarom, WANNEER die Christus-gelowige wel sondig, dit soveel stryd en spanning en wrywing meebring. Met die gevolg dat die persoon homself net nog des te meer op Christus werp in absolute vertroue – wetende dat slegs HY die sondemag verbreek. Dit is ‘n proses wat nooit ophou nie. Daarom die apostel se aanhoudende herhalende oproep: BLY IN HOM! Met ander woorde: Fokus op die band met Christus. En moenie hieroor (deur die Gnostici) mislei word nie ! Christus is REG in lewe en die mens wat ‘n band met Hom najaag, sal ook REG in lewe wees. Dit is vers 7…

Vers 7 (lees dit weer):

Wat hier bedoel word met dat Christus Jesus REGVERDIG is, beteken dat Hy ten volle in ooreenstemming met die Vader se wil lewe. Hy is REG. Presies die teenoorgestelde van wat sonde per definisie is = wetsoortreding (nie reg nie). Soos vers 5 gesê het: In Hom is daar geen sonde nie.

Wat vers 7 dus leer, is dat die geloofsband met Christus ‘n geweldige kragtige uitwerking op die gelowige het, naamlik dat so ‘n mens self ook REGVERDIG gaan begin lewe. Dit beteken om dieselfde lewenskarakter te begin vertoon as wat Christus het = in ooreenstemming met die wil van die Vader leef. Dit raak ‘n passie, ‘n dors, ‘n honger en niks kan dit uit jou binneste verwyder nie: Jy WIL in ooreenstemming met die Vader se wil leef. En misluk jy, voel jy of jy in jou kamer kan gaan huil. En dit is ‘n klinkklare bewys dat die band met Christus reeds ‘n realiteit in jou lewe is en dat dit ‘n kragtige uitwerking op jou het. En dit kom glad nie uit die mens nie, maar geheel en al van Hom! Iemand wat nog ongered is, sal beslis nie oor sonde wat nog aankleef, in sy/haar kamer snikkend gaan neerval nie.

Ons skuif nou aan na vers 8 (lees dit weer):

Kyk mooi en sien hoe die apostel in verse 8-10 die gedagtestring van verse 4-7 herhaal.

Hier is die gedagtestring net weer:

No 1: Sonde is ‘n feit en dit is baie ernstig – OOK in ‘n Christen se lewe. No 2: Jesus neem die sonde weg en Hy reinig. No 3: Die band met hetsy Christus OF die duiwel bepaal of iemand onder heerskappy van God of onder heerskappy van sonde en satan leef. No 4: Vrywaring van sonde en duiwel is slegs te vinde IN CHRISTUS. Die band met Hom is deurslaggewend. Daar is niks van eie vermoë nie. Die fokus is op die Here Jesus en nie op die Christen nie.

In vers 8 begin hy weer by die sonde. Maar nie wat dit is nie (wetsoortreding) maar wat die oorsprong daarvan is, naamlik: dis uit die duiwel. Bedoelende: dis deur satan se verderwende invloed dat die mens in die eerste instansie in wetsoortreding gaan val het. Die satan dra nie die skuld daarvoor nie. Die mens dra die skuld, maar die duiwel het die invloed uitgeoefen. Tewens, dit is wat bedoel word met dat verlore mense “aan die duiwel behoort”. Dit beteken nie hulle is uit die duiwel gebore, soos wat verlostes uit God gebore is nie. Nee, dit beteken dat verlorenes onder sy invloed leef en sy wil doen (Efes 2:2).

Wat vers 8 leer is dus die volgende: Die oorsprong van sonde kom van die aanhitsing van satan en wie nog nie Christus-gelowiges is nie, leef konstant onder satan se invloed. Want dit is presies wat Satan van die begin af doen en aanhou doen: oortree God se wet en wil.

Maar, daar is goeie nuus, gaan vers 8 voort, die SEUN VAN GOD het na die aarde gekom met die spesifieke doel om satan se werk tot niet te maak. Sy kop te vermorsel, soos Gen 3:15 voorsê het. Dit is ‘n werklikheid, nie net ‘n moontlikheid nie.

Die mag van Satan is afgebreek en vernietig. Die mag van satan bestaan slegs in mense wat hom glo en ‘n band met Christus nie begeer nie. Maar, waar die Christen in ‘n band met Christus leef, kom daar iets wonderliks voort: die duiwel se mag is gebreek. Dit is IN DIE BAND MET CHRISTUS wat dit beleef word.

En voeg hierby nog: Die Heilige Gees wat inwoon en die geboorte uit God. Daardie drie dinge: Die band met Christus en die inwoning van die Gees en die geboorte uit God. Binne DAARDIE atmosfeer, is die duiwel se wiele pap. Gooi daardie drie realiteite in die duiwel se gesig, en kyk of hy langer aanhou om jou lastig te val.

Kyk vers 9 (lees dit weer):

Wat sê die woord OMDAT? Dit dui ‘n REDE aan. Die REDE waarom ‘n kind van God nie aanhou en aanhou en aanhou in sonde leef nie, is OMDAT die Heilige Gees in hom/haar woon en bly. En OMDAT hy/sy uit God gebore is (weergeboorte).

Letterlik staan daar GOD SE SAAD bly in die kind van God. God se saad? Wat ‘n vreemde uitdrukking!

Dit beteken letterlik dat indien God ‘n lewensverandering in jou teweeggebring het (geboorte), bly Hy aanhoudend in jou aan die werk (voortsetting van die nuwe lewe = saad). Daar is ‘n konstante, lewegewende werksaamheid in jou aan die gang. Die groeikrag van God is letterlik binne-in jou en hou aan met werk.

Nou verstaan ons waarom sommige vertalings sê “die Heilige Gees” woon in die kind van God en DIT is die rede waarom die persoon nie in sonde kan voortgaan nie. Want WIE is die Persoon wat die lewegewende werksaamheid (saad van God) in die Christenmens aan die gang hou? Die Heilige Gees natuurlik.

Daar is dus DRIE formidabele redes waarom die ware Christen nie meer onder satan se invloed leef nie en nie meer in ‘n lewenstyl van sonde kan en sal voortgaan nie:

1> Die band met Christus 2> Die saad van God/Heilige Gees hou nooit op met werk nie 3> Die geboorte uit God.

DIT onderskei die kind van God van die mens wat “kind van die duiwel” is > wat onder sy invloed aanploeter.

Vers 10 sê dit reguit:

LEES WEER VERS 10>

In die alledaagse lewe, kan die kind van God en kind van die duiwel uitgeken word.

Waar daar nie ‘n passie is om heilig te lewe nie en waar daar nie spesiale liefde vir Christene (broers) is nie – so ‘n mens behoort nie aan God nie, sê die apostel. Daar is ‘n spesifieke dryfkrag wat kenmerkend is van iemand wie God weergebore laat word het en in wie die Heilige Gees kom woon het. En dit is sigbaar na buite.

Iemand by wie daar nie die sigbare getuienis van die nuwe lewe en ‘n band met Christus is nie, het nie die reg om daarop aanspraak te maak dat hy/sy ‘n Christen is nie.

Die keersy van die munt is net so waar: Die opgewondenheid en blydskap wanneer ‘n mens by jouself WEL die vrugte van die nuwe lewe kan waarneem en wanneer ander mense ook daarvan getuig dat hulle dit by jou sien. Dit is ‘n groot aanmoediging om ernstiger te wees oor jou wandel met God.

Category 1 Johannes

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)