Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 JOHANNES – REEKS NO 3
Skriflesing: 1 Johannes 2: 1-2
Tema: Geroep tot heiligheid

Die apostel Johannes skryf nie die brief aan sy biologiese kinders nie. Met “my liewe kinders” verwys hy na sy kinders verbonde in die een ware geloof in die Here Jesus Christus! Dit is die gemeentelede van die gemeentes van Christus aan wie hy skryf. Mede-Christusgelowiges dus.

En hy skryf – aan die een kant – met die gesag van ‘n vader aan kinders, maar ook – aan die ander kant – met die gesag van ‘n apostel.

En dit kom presies net so oor na ons toe – al is ons histories 2000 jaar van mekaar verwyder. Ons hoor vanoggend ‘n stem na ons kom met die gesag van ‘n vader/pa en die gesag van die apostel van die Here Jesus.

Uit dit wat in hoofstuk 1 gesê is oor die realiteit van sonde-en-vergifnis in ‘n Christen se lewe asook die feit dat geen Christus-gelowige sonder sonde is nie, kan mense maklik sê dat die apostel sonde kondoneer. Dat dit maar okay is.

Mense sou hoofstuk 1 kon lees en sê: “maar indien alle Christene nog steeds kan sondig en God inderdaad vergewe, waarom dan enigsins so ‘n ernstige stryd teen sonde hê? Want wat ons ookal doen, ons sál steeds teen die majesteit van die lewende God sondig? Dus, waarom so bekommerd wees? Indien God vergewe, dan is die uitkoms mos gewaarborg. Dus: kalmeer!”

Dis egter opvallend dat Johannes self juis nie tot só ‘n konklusie kom nie. Dit klink logies om so te redeneer, ja, maar dit is nie Bybels korrek nie. ‘n Mens sien ook die teenoorgestelde by Jesus self – net terloops.

Kyk na die Meester se omgang met sondaars. Tollenaars, prostitute ensovoorts. Hy het wel in hulle geselskap gekom. Hy was genoem die vriend van sondaars. Maar nooit ooit het Hy hulle sondes kondoneer nie. Vir die owerspelige vrou sê Hy: “Ek hou nie jou sonde teen jou nie. Gaan en moenie weer sondig nie.” (Joh 8:11).

Hy was nie op só ‘n manier vriende met sondaars, dat Hy vol begrip was vir hulle sonde en almal saggies toegedraai het in die sagte kombersie van ‘Jesus se liefde vir almal net soos jy is’ en ‘wie is ons om te oordeel’ nie. O nee, Sy omgaan met die sondaars het tot lewensvernuwing en bekering en bevryding van die sonde gelei.

En Johannes, die apostel, handhaaf nie ‘n teologie wat verskil van die Here Jesus nie. Dit is presies dieselfde. En hy spel dit uit in 2: 1-2.

Hy sê duidelik en helder: “Ek skryf aan julle dat julle NIE moet sondig nie.”

Ja, die mens wat heerlik weergebore is deur die Heilige Gees, is glad nie meer onder die heerskappy/kontrole/baasskap van sonde nie, dit is 100% waar, kyk maar net na Romeine 6, maar die sondige natuur is steeds teenwoordig.

Johannes konfronteer die Christus-gelowiges met die realiteit van hulle inwonende sondigheid. Maar hy konfronteer hulle ook met die offerdood van Christus en die feit dat Hy – as die absoluut perfekte regverdige – die Christen se voorspraak by die Vader is. En DIT moet veroorsaak dat die sondaar nooit oppervlakkig met sonde omgaan nie en nooit daarvan iets lig maak nie en – byvoorbeeld – iets sê soos: “Here U ken my. Ek kan nie verhelp om maar net EK te wees nie. Maar U verstaan my en vou my toe in U liefde, sonde en al”. Nooit kan ‘n ware Christen so iets bid of sê nie. Nie as hy/sy die kruisoffer van Christus verstaan nie – en wat dit Hom gekos het om sondaars te verlos nie.

In plaas daarvan om Christene se sonde te kondoneer, kom die apostel dus met presies die teenoorgestelde oproep in verse 1-2. Hy roep alle volgelinge van Jesus Christus op tot heiligheid. ‘n Lewe van waarlik apartgesit/afgesonder te wees vir die Here en Sy saak. Heilig beteken opsygesit.

Beteken heiligheid dat die Christen ‘n punt van algehele sondeloosheid en perfeksie kan bereik? Nee. Om siel, gees en liggaam apartgeplaas te wees vir die Here beteken om – terwyl jy met vreugde aan jou Godgegewe status van reg-wees in Christus vashou – jou sonde te haat en daarmee na Hom te vlug vir voortdurende reiniging en inderdaad ook bevryding te ervaar.

Dit is byvoorbeeld nie onmoontlik om in oorwinning oor iets soos (om ‘n voorbeeld te noem) vuil gedagtes te lewe nie. Ja, versoekings sal kom en gaan, en jy kán struikel, maar die geredde mens kan daaroor heers deur dit te haat en na Jesus op te sien vir bevryding en dit sodoende te dood. Hy is immers ons Voorspraak by die Vader. Kan Sy voorspraak misluk? Onmoontlik. Nou waarom kan ek nie daarop bou en my rug draai op alles wat die Heilige Gees bedroef nie? Natuurlik kan ek. Ek MAG! En Sy krag is 1000 keer groter as myne!

Die oproep tot ‘n heilige lewe, word in verse 1-2 gebou op twee groot sekerhede:

1 > Die belofte van God om sonde in die reeds-verloste se lewe, te vergewe (reeds in hoofstuk 1 gestel)

2 > Die volmaakte werk wat die Here Jesus reeds verrig het ASOOK die werk wat Hy steeds verrig.

Op grond van hierdie twee sekerhede, kom die apostel Johannes en roep hy alle Christene op tot ‘n heilige lewenswandel.

NOMMER EEN: DIE BELOFTE VAN VERGIFNIS (vers 1)

Lees weer vers 1 …..

Waarna verwys die woord DIT aan die begin van die sin? DIT skrywe ek aan julle sodat julle nie moet sondig nie.

Dis logies dat die DIT terugverwys na wat hy in hoofstuk 1 gesê het. In die oorspronklike was daar nie hoofstukindelings nie. Alles was aaneen geskryf.

Maar, na wat presies in hoofstuk 1 verwys die DIT terug? Dit is sekerlik moontlik dat dit na álles wat gesê is, verwys. Maar tog, moet ons nie vergeet nie, dat daar in hoofstuk 1 ‘n sentrale tema/stelling/waarheid was, naamlik GOD IS LIG/HEILIG, maar veral ook die net voorafgaande vers in 1:9 wat sê dat God die Christen se sondes vergewe wanneer hy/sy dit bely.

Dus: God is sonder sonde, die Christen nie. Maar soos die Christen met sy/haar sonde in die lig wandel en dit bely, is God se vergifnis en herstel ‘n voldonge feit. God is lig en voortdurende reiniging en vergifnis is ‘n sekerheid.

DIT skryf die apostel aan die gemeentes, sodat hulle nie moet sondig nie (2:1).

Die vraag is: Hoe kan die versekering van God se vergifnis tot heiligheid (apartstaan van sonde) lei? Is dit dan nie juis die teenoorgestelde nie? Sal die Christen nie juis wil sondig omdat hy weet dat God vergewe nie?

Dit is ‘n logiese afleiding, maar verkeerd. Nie net weerspreek die hele Skrif dit nie, maar die kind van God se eie ondervinding weerspreek dit ook. Die kennis van so ‘n groot liefde en kennis van onverdiende vergifnis wat die Verlosser se lewe gekos het asook die liefde in die Christen se hart vir die Here, die nuwe weergebore natuur, veroorsaak dat die gelowige beslis nie wil sondig nie. Die mens wat bely dat hy/sy die Here ken, maar wat ligtelik met sonde handel, ken Hom beslis nie (reeds in hfst 1 gesê)!

Vergifnis en reiniging – wat jy eintlik vooruit al het – het ‘n heiligende uitwerking op die Christen!

‘n Deeglik-bekeerde Christenman het eens met ‘n toegewyde Christendame getrou. Sy lewe voordat hy ‘n Christen geword het, was egter minder goed. Hy was werklik ‘n slaaf van sonde. Hy was so bang dat daardie sondes weer kon opvlam en hy teen sy vrou sou sondig. Daarom gaan hy toe en vertel haar alles wat in sy verlede gebeur het.

Sy antwoord hom toe soos volg:

“John, ek wil hê jy moet een ding goed verstaan. Ek ken die Woord van God en ek ken die werking van Satan. Ek weet ook dat jy ‘n deeglik-bekeerde man is, maar ek weet ook dat binne-in jou daar steeds die ou sondige natuur skuil en dat die duiwel daarby aansluiting sal wil vind. Hy sal alles doen om versoekings oor jou pad te bring. Die dag mag selfs kom – mag God dit verhoed – wat jy sal toegee daaraan. Dan sal die vyand jou wysmaak dat alles verlore is en dat jy alles verbrou het en dat jy net sowel maar kan voortleef in sonde en dat jy my nie daarvan moet vertel nie omdat dit my te seer sal maak. Maar ek wil hê jy moet weet, hierdie is jou huis en dit is waar jy behoort. En ek wil hê dat jy moet weet dat – sover dit van my afhang – daar nou alreeds vergifnis is vir watter boosheid daar ookal in die toekoms in jou lewe sal kom.”

Waarop John toe uitroep: “As daar ENIGIETS is wat my altyd aan jou getrou sal hou, dan is dit DIT wat jy nou daar gesê.”

Dit is presies wat 1 Joh 2:1 leer.

God se belofte van herstel en reiniging en vergifnis stel Hy VOORAF reeds as ‘n gegewe. En Hy doen dit sodat ons nie moet sondig nie. So ‘n liefde is sonder perk en bo ons vuurmaakplek. Ons sal dit nooit kan kleinkry nie. En dit het ‘n uitwerking op ons. Ons WIL heilig en tot Sy eer lewe – altyd en onder alle omstandighede.

NOMMER TWEE: DIE WERK WAT CHRISTUS VERRIG HET EN WAT HY STEEDS VERRIG (verse 1-2)

Selfs ten spyte van die heerlike belofte hierbo genoem, gebeur dit dat toegewyde Christene wél faal en struikel en val en sondig. Kyk vers 1 se b-gedeelte: AS een van ons sondig. Die ONS is Christene. Dit kan dus gebeur en gebeur ook inderdaad!

Wat dan in so ‘n geval?

Antwoord: Dan kom die Christen na sy/haar Vader met berou en belydenis en leef in vergifnis – want ons mag te alle tye na die Vader kom deur die afgehandelde kruiswerk van die Here Jesus! En dit is juis op hierdie manier wat die kind van God heilig leef.

Heilig leef beteken nie om sondeloos-volmaak te wees nie, maar om met jou onheiligheid jou toevlug te neem tot die versoening van jou sondes en dit is Jesus Christus die Here. Die afgehandelde werk van die Here Jesus is die grond en basis van dit alles. Dit het niks met emosies en gevoelens te make nie. Jy kan soos ‘n harde, droë klip voel en steeds vergewe wees – net omdat Jesus se kruisbloed so suksesvol is. Dit het niks met ons te make nie, maar alles met Hom!

Die Apostel stel die vaste grond waarop ons bou soos volg: Hy sê ons het Jesus Christus, die Regverdige, as ons Voorspraak by die Vader (vers 1). Dit is die werk wat Hy STEEDS verrig.

Voorspraak beteken iemand wat praat tot jou verdediging. ‘n Advokaat dus. Die Grieks stel dit in die passief: Iemand wat geroep word om langs jou te staan en jou te help. En daardie “iemand” is presies wie die Here Jesus is. Sy werk met Sy mense was nie klaar toe Hy uit die dood opgestaan het nie. Hy dra almal wat Syne is, steeds op Sy hart.

‘n Mens sien dit toe die Here nog op aarde was. In Lukas 22:32 beloof Hy vir Petrus dat hy vir hom sal bid dat sy vertroue nie sal faal nie, ten spyte van hoe die duiwel hom wil sif.

En in Lukas 12:8 verklaar hy dat hy almal wat hom voor mense bely, ook voor Sy Vader sal bely. Hy tree vir ons in, sê Romeine 8:34.

Ons kan natuurlik nie die term VOORSPRAAK net so vergelyk met ‘n advokaat in ‘n hedendaagse hofsituasie nie. ‘n Advokaat verdedig die kliënt se saak op grond van enige meriete wat die kliënt moontlik self sou hê.

Maar in 1 Johannes 2 is daar geen sprake van enige meriete aan die kant van die Christen wat gesondig het nie. Niks. Alle meriete is aan die kant van die Voorspraak! Hy tree vir jou in op grond van SY meriete voor God die Vader! En Sy meriete slaag altyd! Konsekwent!

Kyk, vers 1 sê Hy is die REGVERDIGE! Hy besit al die nodige meriete wat vir die Vader aanvaarbaar is en wat die sondaar voor God aanvaarbaar maak! Sy hele karakter weerspieël die afwesigheid van enige onreg. Daar is geen onreg in Hom nie. Hy is REG in alle opsigte. Dit is wie/wat Hy is. En Hy is dit vir die Christen wat sonde bely se onthalwe. Nooit soek Hy sy eie belange nie. Hy soek die belange van die kind van God wat sonde bely. Hy is getrou. En hy is die regverdige in alle opsigte.

DIT is die vaste grond waarop die kind van die Here bou wanneer hy/sy met sondebelydenis na die Vader toe kom en strewe na ‘n lewe van heiligheid in lewenswandel, denke, gedrag, woorde ens.

Maar daar is ook ‘n tweede vaste grond waarop ons bou en dit is die WERK WAT CHRISTUS VERRIG HET (verlede tyd): Sien vers 2.

Wanneer ek – as reeds geredde mens na die Vader kom met sondebelydenis, bou ek nie net op dit wat Christus tans verrig nie – naamlik dat Hy my Voorspraak is nie. Ek bou ook op die feit dat Christus self die versoening vir my sondes is. Dis ‘n versoening wat Hy op die kruis suksesvol afgehandel het en daarom IS Hyself die lewende versoening hier en nou! Hy – wat hier en nou by my is – vergestalt die versoening!

Die Griekse woord wat hier met “versoening” vertaal word, is die woord hilasmos = ‘n versoeningsoffer wat God se wraak stil en Hom gunstig stem teenoor die oortreder.

Christus se kruisdood was ‘n offer wat God die Vader self voorsien het om God die Vader se wraak en toorn oor sonde te stil. In Christus se offerdood is die Vader dus nou gunstig gestem teenoor die mens wat in Christus is. En let op: God het dit self voorsien.

Dis nie die mens wat iets probeer doen om God se toorn af te wend, soos in die heidense godsdienste soms gebeur nie! Nee, God sélf stil Sy eie toorn sodat Sy liefde die sondaar omhels en ten volle verlos. God het self die weg gebaan waarlangs ‘n sondaar tot Hom mag nader. En die weg is Christus Jesus se kruisbloed.

Dit is wat die Christen soveel vrymoedigheid gee om tot God te nader met sonde. Om te weet jou Voorspraak bepleit nie jou onskuld nie. Nee, Hy erken jou skuld, maar Hy bied Sy eie plaasvervangende offer as die rede/grond/basis van jou vryspraak! Jy kom na die Vader met vrymoedigheid, want Christus se versoeningsoffer is die vaste grond onder jou voete. Wat ‘n heerlike boodskap!

Voeg daarby ook die feit dat Jesus nie net die versoening vir óns sondes is nie, maar ook vir dié van die hele wêreld – vers 2b. DIE HELE WÊRELD in die sin van: Vir Jode en nie-Jode/nasies wat ook nog deel van die ONS sal word en wat regoor die wêreld versprei is.

Met die begrip “hele wêreld” word nie bedoel dat elke individuele mens kop-vir-kop deur Jesus met God versoen is nie, want dit sou indruis teen die res van die Skrif wat nie leer dat alle mense versoendes is nie.

Dit kan ook nie beteken dat Jesus net ‘n potensiële versoening vir elke mens kop-vir-kop in die wêreld is nie – afhangende wie tot geloof in Hom sou kom nie – want ook dit sou indruis teen die res van die Skrif wat nie leer dat die kruisversoening net iets potensieël is nie. Die versoening is ‘n volbragte, afgehandelde versoeningsoffer. Dit moenie “geaktiveer word” deur ‘n mens se geloofsvertroue nie.

Die begrip “hele wêreld” beteken dus presies net wat die woorde sê: die hele aardbol. Want regoor die hele aardbol is daar (en sal daar) diegene (wees) wat deel van die ONS sal word – mense wat – soos Johannes en sy lesers – op Christus as Saligmaker begin vertrou en hoop – en vir HULLE is Hy inderdaad die versoening van hulle sondes!

Soos Openbaring 5:9 sê: “U is geslag en het deur U bloed mense vir God losgekoop UIT elke stam, taal en nasie.” Die hele wêreld is die bodem van waaruit Christus se bloed Sy verlostes losgekoop het. Almal wat ooit tot geloof sou kom!

Indien die Here Jesus dit alles vir ons – en alle ware gelowiges regoor die aarde – gedoen het, hoe sal dit ons dan nie aanspoor tot ‘n lewe van algehele oorgawe en toewyding en die najaag van ‘n heilige lewenswandel nie?

Category 1 Johannes

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)