Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1 JOHANNES – REEKS NO 15
Skriflesing: 1 Johannes 5: 13-21
Tema: Herversekering!

Vanaf 1:1 – 5:12 het die apostel Johannes net een lang argument gehad:

Hy waarsku die gemeentes aan wie hy skryf, oor sekere mense wat voorheen deel van die gemeentes was, maar toe sekere dwaalleer en kettery begin aanhang het en hulle toe van die gemeentes afgeskei het. Hulle het egter aangehou om die lidmate se koppe deurmekaar te krap. Die mense val gevolglik in twyfel oor hulle eie saligheid. “Kan dit wees dat ek regtig ‘n kind van die Here is?”

Die apostel waarsku dus (aan die een kant) teen die dwaalgeeste, maar (aan die ander kant) hy wil ook die gemeentelede herverseker van hulle saligheid.

Dit is baie belangrik dat alle Christene sekerheid van hulle verlossing moet besit. En hulle KAN dit ook besit. Want sekerheid van redding is nie geanker in enigiets binne-in die mens nie (want dan sou niemand ooit sekerheid kon besit nie!). Dit is geanker BUITE die mens in God se beloftewoord en God se trou. Dit wat GESKRYF is en dit wat Christus op die kruis perfek gedoen het, DIT is die anker vir ons sekerheid.

Luister byvoorbeeld na ‘n teks soos Johannes 1:12 > “Aan almal wat vir Christus aangeneem het, wat op Sy Naam vertrou, aan hulle het God die reg gegee om kinders van God genoem te word.”

Hier in vers 13 van ons Skrifgedeelte, sê die apostel Johannes in soveel woorde wat die doel van sy brief is.

LEES WEER VERS 13

Die woord SODAT dui tog op die DOEL van sy brief. En WEET beteken sekerheid hê!

“Ek het hierdie brief geskryf SODAT julle (nie alle mense nie) wat op Christus Jesus vertroue stel, kan WEET dat julle die ewige lewe (nou reeds) HET!

Met ander woorde: Waarop moet die Christene hulle sekerheid van redding & saligheid bou? Antwoord: Op dit wat geskryf is. Op wat in die brief geskryf is. Op die Skrif. Op die hele Skrif (nie net 1 Johannes nie). NIE op hulle eie gevoel nie. Maar op dit wat God gesê het.

Indien iemand betroubaar vir jou ‘n whatsapp stuur en sê: “Ek kom Dinsdagmiddag 4nm by jou kuier”, dan het jy onmiddelik sekerheid dat die persoon presies 4nm sal opdaag en jy tref voorbereidings en sien daarna uit.

Waar kom daardie sekerheid vandaan? Jy glo die persoon se belofte wat hy/sy swart op wit geskryf het. Die betroubare persoon se WOORD is jou sekerheid! Dis nie ‘n gevoel binne-in jou nie. Hy/sy het gesê. En ek glo hom. En die sekerheid wat ek het, produseer outomaties vrug: Ek gaan tref voorbereidings en sorg dat ek tuis is. Die sekerheid lei tot spontane aksie. Indien jy geen voorbereidings tref nie of nie by die huis is nie, is dit die bewys dat jy nie die persoon glo nie.

Die betroubare God se WOORD is my sekerheid dat ek – wat my vertroue op Jesus se kruisdood begin bou het – die ewige lewe nou reeds besit. Want Hy sê swart op wit in Sy Woord: Wie hartsvertroue op Jesus se kruisdood begin bou het (in Sy Naam glo) HET die ewige lewe! En die feit dat Sy “whatsapp” my sekerheid is, lei tot spontane aksie. Die afwesigheid van aksie, bewys dat ek nie Sy whatsapp glo nie!

Verse 13-21 van hoofstuk 5 het nie dieselfde toon/styl as die voorafgaande 1:1 – 5:12 nie. Want die apostel se hoofargument en sy strydgesprek teen die dwaalprofete is afgehandel. Al wat oorbly is ‘n paar slotopmerkings oor die behoeftes binne die spesifieke gemeentes in Efese aan wie sy skryf. Hulle moet aangemoedig word. En hy verpak die aanmoediging binne ‘n klompie versekerings.

Hy verseker hulle dat hulle beslis die ewige lewe besit. Hy verseker hulle dat God hulle gebede beantwoord. Hy verseker hulle dat God hulle sal bewaar van ‘n lewe van aanhoudende sonde. Hy verseker hulle dat hulle wel die waarheid ken.

Kom ons loop kortliks vers vir vers deur hierdie lys versekerings. Die eerste het ons reeds na gekyk in vers 13. Vervolgens verse 14 en verder.

LEES WEER VERS 14

Dink net daaraan: Wie die ewige lewe het en sekerheid daarvan besit, het ook groot vrymoedigheid om na God te gaan in gebed. Nie ‘n hoop-so houding nie, maar vrymoedigheid! Die woord beteken in die oorspronklike: vryheid van spraak. Soos die reg wat mense in ‘n demokratiese bestel het om vryelik hul mening oor iets te mag lug. Die Christen kan op soortgelyke manier in gebed na die Here gaan.

En daar is net nie ‘n beter manier om te bid as om oor ‘n oop Bybel te bid nie. Bedoelende om dit wat die Skrif swart-op-wit sê, ná te bid. Dit terug te bid na God toe. Skrif en gebed behoort hand aan hand te loop. Sodoende bid ‘n mens binne God se wil. En bid jy binne Sy wil, word jy verhoor. Dit is die eksplisiete belofte van vers 14.

Vers 15 bevestig dit.

LEES WEER VERS 15

Skitterende vers en wonderlike waarheid.
Gebed gaan natuurlik hoegenaamd nie net oor VRA nie. Maar in hierdie spesifieke vers gaan dit oor VRA.

VRA die Christus-gelowige iets wat volgens die Skrif God se wil is, dan ONTVANG jy dit en kan jy WEET dat jy dit ontvang het – al is daar geen sigbare teken of gewaarwording of gevoel dat jy dit ontvang het nie. Sê die Skrif dit-en-dat is God se wil en jy bid daaroor, dan is die saak afgehandel. Jy weet met sekerheid dat jy dit ontvang het omdat hierdie teks dit sê en God hou woord.

LEES WEER VERS 15

Praktiese voorbeeld: Sê die Skrif dat jy Jesus Christus moet aanneem as persoonlike Verlosser en Saligmaker? Ja! Waar? Johannes 1:12.

Bid jy dus – met jou vinger op daardie Skrif – om jou vertroue op Jesus Christus se kruisdood te mag plaas, wat het dan gebeur? Antwoord: God sê jy het ‘n kind van God geword. Hoe weet jy dit? Moet jy dit kan voel? Moet jy wag vir ‘n vibrasie? Nee, jy glo God se Woord wat sê dat – indien ons enigiets vra wat volgens Sy wil is, verkry ons wat ons vra!

Dieselfde geld vir iets soos die vervulling deur die Heilige Gees. Is dit God se wil dat ek deur die Gees beheers moet wees? Ja. Hoe weet ek dit? Efes 5:18. Bid ek dus vir die beheersing deur die Gees, wat ontvang ek dan? Antwoord: Die beheersing deur die Gees. Hoe weet ek dit? Want Hy sê dat – indien ons enigiets vra wat volgens Sy wil is, verkry ons wat ons vra!

Verse 16 & 17 gee nou een praktiese voorbeeld van om volgens God se wil te bid.

LEES WEER VERSE 16-17

Uiteraard is dit nou nie van die maklikste tekste om te verstaan nie. Dis duidelik dat die eerste lesers presies geweet het wat die apostel bedoel en daarom verduidelik hy dit nie, maar ons in 2021 moet ‘n bietjie kopkrap.

Gelukkig kan ‘n mens nie verkeerd gaan deur die konteks in ag te neem nie.

Daar is twee kontekste: Die konteks van die brief self en die breëre konteks van die hele NT. Die goue reël is mos: Die Skrif verklaar die Skrif! Kom jy moeilike gedeeltes teë, dan sal daar ander gedeeltes wees wat daarop lig werp.

Gebed fokus nie eerstens op ‘n mens self nie, maar op ander, sê die Heilige Gees deur die apostoliese pen. Dit is die Here se wil om vir ander te bid. Veral om vir hulle saligheid te bid. Met “broer” word in hierdie geval nie bedoel medegelowige nie, maar iets soos “buurman” – algemene naaste. Die persoon vir wie gebid word, besit immers nog nie lewe nie (in die Grieks staan nie “ewige lewe” nie, maar net “lewe”). God sal moontlik aan die persoon die lewe skenk.

Jy weet met ander woorde van iemand wat nie die Here ken nie en wat in sonde leef en jy bid dat hy/sy die lewe mag ontvang. Dit is binne die wil van die Here om te bid vir die redding van mense, dus sal God baie beslis verhoor.

Maar sommige vir wie jy bid, word nie gered nie en gaan uiteindelik verlore – hulle uiteinde is die dood. God skenk hulle NIE die lewe nie – al het jy ook vir hulle redding gepleit. Jou voorbidding – in hulle geval – was – volgens jou oordeel – tevergeefs. Ook in hierdie geval het jy egter binne die wil van God gebid en het Hy dit verhoor – Sy antwoord was dat Hy aan so ‘n persoon nie die lewe skenk nie. Dit is wat Jesus noem die “sonde teen die Heilige Gees” – waar ‘n persoon end-uit volhard in weerstand teen Christus en uiteindelik in daardie toestand sterf (Sien Mat 12: 31-32). Vergelyk ons Skrif met Skrif, dan is daar slegs een sonde wat tot die dood lei (verlore gaan) en dit is om nie aan Christus te onderwerp nie.

Alle mense pleeg van nature die sonde teen die Heilige Gees. Geen enkele mens sal ooit na Christus draai vir saligheid tensy God nie besluit om aan jou die lewe te skenk nie. Buiten die skenking van lewe, sal alle mense tot by hulle sterwe aanhou om die sonde teen die Heilige Gees te pleeg – die sonde wat tot die dood lei – en dit is om nie tot bekering te kom en op Christus te begin hoop nie! Dit is slegs die skenk-van-die-lewe/lewendmaking wat jou op hierdie pad stuit en laat omdraai.

Sommige mense hou dus tot by die einde van hulle aardse lewe aan om DIT te doen wat hulle sedert geboorte doen – om die sonde wat tot die dood lei, te pleeg. En daardie sonde is om in ongeloof en onbekeerdheid te volhard.

Daar is slegs EEN sonde wat tot die dood lei – en dit is om tot by jou sterwensoomblik onbekeerd te bly. ALMAL doen dit van nature en sal daarmee voortgaan TENSY God soewerein ingryp en aan sommige die lewe skenk. Die skenk-van-die-lewe veroorsaak by die persoon bekering en geloof in Jesus Christus. Dit is juis waarvoor gebid word.

Skenk God egter nie die lewe nie, volhard die persoon in die sonde teen die Heilige Gees tot die einde toe en erf die ewige dood. Ook DIT is antwoord op gebed. En hier het die apostel natuurlik in besonder die vals leraars/Gnostici onder leiding van Cerinthius in die oog. Hulle is besig om die sonde teen die Heilige Gees te pleeg.

Mense wat sonde doen wat nie tot die dood lei nie – is dus mense wat wel sonde doen wat tot die dood lei (dit is om in weerstand teen Christus aan te hou leef) – maar wat deur God begenadig word en aan wie Hy die lewe skenk/lewendmaking.

Mense wat sonde doen wat tot die dood lei – is mense wat sonde doen wat tot die dood lei (dit is om in weerstand teen Christus aan te hou leef) – en wie deur God – in absolute regverdigheid – in daardie toestand gelaat word en aan wie Hy in Sy absolute regverdigheid nie die lewe skenk nie. Hy is immers nie die saligheid aan enigiemand verskuldig nie.

Gelowiges bid dus vir ongeredde mense. Dit is God se wil. In sommige se geval is dit egter asof daar glad nie gebid word nie, want die persoon kom nooit tot lewe nie.

Die biddende gelowige moet dus weet: God se wil staan BO alles. Vir sommige sal jy bid en hulle sal die lewe ontvang. Vir ander bid jy en hulle gaan die dood tegemoet en dit voel vir jou soos tevergeefse gebed. Maar dit is nie. Want die Here se wil geskied en Hy gebruik jou gebed daartoe.

Die apostel sê dus NIE dat die bidder moet gaan sit en besluit wie watter sondes doen en watter sondes vergewe kan word en wat nie. En wanneer jy oordeel DAARDIE of DAARDIE ding wat ‘n persoon doen, is onvergeeflik, dan staak jy maar jou voorbidding, want wat help dit tog?! Nee, ‘n mens kan mos nou sommer dadelik hoor dat so ‘n gedagte heeltemal met die leer van die Skrif bots.

Nee, Johannes sê: Bid vir die ongeredde mense, maar berus daarin dat nie almal tot lewe sal kom nie. Moenie dink dit is jou voorbidding wat so wonderlik en kragtig is nie. By sommige gevalle sal dit vir jou voel of gebed tevergeefs is. Maar wees gerus: Die Here se wil seëvier altyd. Hy sê dus NIE: Moenie vir so-en-so bid nie! Maar hy sê: Weet by voorbaat dat nie almal lewendgemaak sal word nie.

Maar wat dan nou van Christus-gelowiges wat steeds kan sondig? Dis almal. Gaan hulle ook die dood tegemoet? Johannes weet dat – na aanleiding van wat hy so pas gesê het, dit is ‘n vraag is waarmee die ware Christene kan spook.

LEES WEER VERS 18

Eintlik is hier ‘n herhaling van wat Johannes reeds vroeër in die brief gesê het: Geen mens wat uit God gebore is (vir wie Hy die lewe geskenk het) kan aanhou en voortgaan in ‘n patroon/lewenstyl van sonde nie. Die werkwoordtydsvorm van “nie meer sondig nie” beteken “nie meer voortgaan met sondig nie”. Dit gaan dus nie oor sondelose perfektheid nie, maar oor ‘n lewenstyl van sonde wat nie meer bestaan nie. Sonde voer nie meer heerskappy/bo-toon nie.

Met ander woorde: Die persoon wat uit God gebore is (die lewe van Hom ontvang het) lewe nie meer in die sonde wat tot die dood lei (verse 16-17) nie. Iemand wat in die sonde teen die Heilige Gees lewe, lewe in ‘n lewenstyl van sonde en is nie eens daarvan bewus nie en beslis ook nie daaroor bekommerd nie. Maar by iemand wat uit God gebore is, is daardie lewenstyl verbreek.

En nog meer: Die Here Jesus bewaar so ‘n persoon. Nog meer: Satan kry nie meer ‘n houvas op hom/haar nie.

Dit beteken nie dat alles altyd rooskleurig gaan nie en ook nie dat Satan nie so ‘n persoon kan/sal lastigval nie. Maar die ewige uiteinde van die weergebore mens is gewaarborg en seker. Hy/sy word bewaar en Satan besit geen houvas nie. Jesus beloof in Joh 10:28: “Niemand kan hulle uit my hand wegruk nie, want my Vader is groter as almal”.

Dit is dus so duidelik dat daar ‘n reuse verskil is tussen mense aan wie God die lewe geskenk het (aan die een kant) en die res van die wêreld wat vasgevang sit in die sonde teen die Heilige Gees. Mens kan dit nie miskyk nie.

LEES WEER VERS 19

Die mens aan wie God die lewe geskenk het, besit ‘n innerlike onwrikbare sekerheid: EK WEET DAT EK AAN GOD BEHOORT. Ek behoort nie meer aan myself of die wêreldsisteem nie, maar ek behoort aan my getroue Saligmaker (Heidelbergse Kategismus Sondag 1). Ek is in die magshand van God. En die wêreldsisteem is in die magshand van die duiwel. Ook diegene wat godsdienstig is, wat mooi lewens leef, wat goeie mense is, maar wat steeds die sonde teen die Heilige Gees (sonde wat tot die dood lei) pleeg: onbekeerd en ongered.

Vers 19 spel weer eens uit: die ENIGSTE TWEE GROEPE waaruit die hele mensdom bestaan: Wie in Christus aan God behoort en wie tot die wêreldsisteem behoort en in die mag van Satan is.

Die apostel is byna desperaat om sorg te dra dat die gemeentes met alle sekerheid weet dat hulle NIE meer in die mag van die bose lê nie. Want hulle is uit God gebore.

Dis nie so ‘n maklike saak nie, want daardie Christene het dit moeilik gehad. Die uitlewing van hulle verbondenheid met Christus, het vir hulle baie probleme besorg. Dit het regtig soms GEVOEL of die bose hulle beet het.

Maar Johannes verseker hulle: Dit is nie so nie. Julle behoort aan die Here. Julle is INGESLUIT by die Here. Kyk vers 20

LEES WEER VERS 20

Kyk mooi wat hy sê! Dis die magtigste herversekering! Ons is IN die ware God. Ons is IN Sy Seun Jesus Christus. Let op die woord IN. Dit beteken ingesluit/ingereken by. Dit is heeltemal die teenoorgestelde van om in die mag van die duiwel te wees.

Dit is ‘n waarheid waarvan die NT vol is. Die gelowige is INGESLUIT by Jesus Christus. Moeilik vir ons om dit te verstaan. Maar God het die kind van die Here met Christus vereenselwig. Alles van Hom TEL vir die kind vd Here. Dit is die nouste band denkbaar.

En nee, Jesus is NIE net ‘n gewone mens wat ‘n spesiale taak van God gekry het nie. Hy IS die ware God en die ewige lewe!

LEES WEER VERS 20 b….

Kinders van die Here het nie nodig om ontsteld te wees oor die feit dat die hele wêreld in die mag van die bose lê nie. Hulle kan maar net rustig hulle toevlug tot Christus neem. Want Hy gee hulle die verstand om reg te kan onderskei en om God te ken. En wie HOM ken, is in die wenspan.

Maar, moenie val vir die vals Jesus wat die vals leraars aan julle kom voorhou nie. Dit is afgodery!

LEES WEER VERS 21

WAT ‘N SLOTSIN VIR SO ‘N GEWIGTIGE BRIEF!
Is die brief nou regtig afgesluit – net met hierdie vermaning?
Ja, dit is.

Maar dit is ‘n samevatting van die hoofrede waarom die apostel die brief geskryf het. Want was dit nie vir die invloed van Cerinthius en sy bende vals leraars op die gemeentes in Efese nie, sou Johannes nooit die brief skryf nie.

Met AFGODE verwys hy na hierdie vals profete se vals leer wat ‘n vervalsing van die ware Here aan die mense gaan voorhou het. En dit verbreek die eerste twee gebooie van die Wet.

Meteens sien ons HOE ernstig vals leer in God se oë is. Dit is in wese afgodery. En ware Christene moet daarvan totaal wegvlug.

1 Johannes opgesom in ‘n neutedop is DIT:

Is jy in Christus weergebore?
Dan moet jy:
1 Sekerheid besit van jou redding
2 Vlug van alle vals leer

Category 1 Johannes

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)