Die Christelike Seemansorganisasie met sy boodskap van Lewe het teen die einde van die
Tweede Wêreldorlog sy ontstaan gemaak. Die nood en lot van gewondes wat op troepskepe
die Kaap aangekom het, het plaaslike Kerke aangegryp. Vandaar die taak om na alle
seemanne uit te reik en met die Evangelie te bedien.

Vir CSO is die teks van Mat. 28:19 ‘n duidelike opdrag om die Evangelie aan alle volke te
bring. Die Christelike Seemansorganisasie leef hierdie opdrag op ‘n unieke manier uit deur
die Evangelie aan boord van besoekende skepe in ons hawens te verkondig en die seelui
met Bybels te voorsien.

Wat wonderlik is van hierdie manier van sendingwerk, is dat mense van alle nasies ons
hawens kom besoek, en word dit vir ons moontlik om elke seeman op besoek in SA te kan
bedien met die Evangelie. Die Wêreld kom na ons toe.

Daar is 5 Evangeliebedienaars by 5 van SA se grootste hawens daagliks aan die werk om hierdie
opdrag van die CSO te gaan uitvoer. Dit is in Kaapstad, Saldanha, Durban, Port
Elizabeth en Richardsbaai.
Elke dag is daar nuwe uitdagings en unieke omstandighede om aan te pak. Ons hoor by die
seemanne van hulle verlange na hul familie, hul moeilike omstandighede aan boord en lang
tye weg van die huis af.

Saam met die slegte, is daar gelukkig ook goeie terugvoer. Getuienis van bekering oor ‘n
enkele besoek ‘n paar maande gelede. Vreugde omdat ‘n seeman vir die eerste keer ‘n
Bybel in sy eie taal gratis kan kry.

Die lewe van ‘n seeman is nie maklik nie, en dit is nie iets wat baie van ons sal kan doen nie.
Maar vir ons by CSO is dit ‘n voorreg om elke dag met hierdie manne en vroue te kan werk.
Om hulle te bemoedig waar moontlik, en hulle te bedien met die Evangelie.

Vir meer inligting besoek gerus die CSO webblad by http://www.cso.co.za/ of ons Facebook
blad by https://www.facebook.com/CSOsending/

André saam met groep Fillipynse seelui

Fillipynse seemanne ingenome met hulle mooi serpe

Tyd vir ‘n vinnige selfie ook