Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

BEPLAN DIE HERE VIR ONS VOORSPOED?

In Jeremia 29:11 lees ons die bekende vers wat ‘n mens dikwels hoor aangehaal word: “Ek weet watter planne ek vir julle het, sê die Here, planne om julle voorspoedig te maak en nie te benadeel nie – om vir julle ‘n hoop en ‘n toekoms te gee.”

Wat ‘n briljante belofte in die Here se Woord, is dit nie? Jy sien dit oral. By CUM of watter winkel ookal kan jy omtrent enigiets koop waarop hierdie vers gedruk is. Dis ‘n geliefkoosde vers. Want dit klink of dit ons net kan bevoordeel en ‘n lekker lewe kan gee. Daarom is dit – volgens navorsing – een van die Bybelverse wat die meeste op internet gesoek word!

Die probleem is die manier waarop ons geneig is om die gedeelte te gebruik. En die vraag is of Jer 29:11 regtig aan my en jou geadresseer is!?

Jy sien die vers kom voor in ‘n brief wat deur die profeet Jeremia aan Israel geskryf is in die tyd toe hulle in Babilonië as ballinge gesit het nadat hulle as ballinge weggevoer is deur die koning van Babel. Dit was die Here se tugtiging as gevolg van hulle onbekeerlikheid en sonde.

In vers 11 kom die Here dan na Israel met die versekering dat hulle nie deur die Babiloniërs uitgewis sal word nie – want dit is hoe dit vir hulle gevoel het! Wat hulle moes doen was om baie van gebed te maak en te bid dat hulle sou kon voordeel trek uit die welvaart van die Babiloniërs!

Dan sê die Here dat hulle tot Hom sal roep en dat Hy hulle verstrooide nasie sal herstel. Maar daardie presiese belofte sou nie vervul word vir die volgende 150 jaar nie! Om die waarheid te sê: Daardie Israeliete wat daardie brief van Jeremia gelees en gehoor het, was nie eens die geslag wat die vervulde belofte sou verkry nie!

Wat ons dus in hierdie vers het is ‘n stuk Woordverkondiging wat aan ‘n spesifieke nasie gegee is, binne ‘n spesifieke situasie – en wat die herstel van ‘n toekomstige geslag beloof. Dit was nooit geskryf of bedoel as ‘n belofte vir individue in 2018 wat vir hulle ‘n rykdom en gesondheid beloof nie. Want dit is hoe die hedendaagse Prosperity Gospel predikers die vers misbruik. Hebreërs 11:16 sê die OT-gelowiges het nie ‘n aardse erfenis begeer nie, maar ‘n hemelse. Dis totaal verkeerd om hierdie vers te neem en dan vir gelowiges vandag aardse welvaart en voorspoed te beloof!

Nou is dit natuurlik ook absoluut waar dat – vir mense wat vandag leef en wat die Here Jesus ken en liefhet en gehoorsaam volg, alle dinge ten goede meewerk – vir hulle wat volgens God se voorneme geroep is. Dit is Romeine 8:28. Die Here beloof inderdaad voorspoed en hoop! Maar dit is geestelike seëninge in die Here Jesus.

Dit is wat ons alles sien onder die vergrootglas van die Woord!

……………………………..

Met erkenning aan Gabe Hughes

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)