Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

HOE OM IEMAND NA DIE HERE TE LEI – Deel 2

Ons behoort altyd op die uitkyk te wees vir geleenthede om met mense die Evangelieboodskap te deel en om hulle daadwerklik na die Here te lei waar die Gees hulle harte oopgemaak het. Daar moet ‘n altydblywende belastheid wees vir ander se redding. Wanneer ons lewensfokus in beginsel op Christus en ander se redding is, sal ons gedurig op die uitkyk wees vir geleenthede. Een van die moeilikste aspekte van persoonlike werk is egter om ‘n geskikte aanknopingspunt te kry. As ‘n mens se ore geoefen is, hoor jy dikwels hoe mense self aanknopingspunte skep. Ons moet dit net benut. Hier is ‘n paar riglyne:

1 Moenie die persoon laat voel dat jy die geestelike reus is en hy/sy die goddelose nie. Laat die ander persoon voel of jy veronderstel dat hy/sy wel ‘n kind vd Here is, maar vra vrae en gee jou eie getuienis wat die persoon self laat ontdek in watter gevaar hy verkeer. Dis gewoonlik nie moeilik om ‘n gesprek na “kerk” of “godsdiens” te swaai nie. Dan gee mense gewoonlik een of ander opinie. Ons gebruik dan dit as ons aanknopingspunt.

2 Hier is voorbeelde van aanknopingspunte: “Ek neem aan dat jy ook al in jou lewe op die punt gekom het waar jy absolute sekerheid gekry het dat jy hemel toe sal gaan wanneer jy sterf”. Indien die persoon ontwykend of vaag antwoord, gaan dan voort deur jou eie getuienis te gee. Begin so: “Weet jy, ek kan soveel met jou identifiseer, want vir baie jare van my lewe het ek ook gedink dat…. maar toe het dit-en-dat gebeur… Gee jy dalk om dat ek vir jou vertel hoe ek hierdie ontdekking gemaak het..?” Indien die persoon op die aanvanklike vraag positief antwoord, vra dan ‘n tweede vraag: “Dis wonderlik dat jy dit kan sê. Wat sou jy dink sal ‘n mens vir God moet antwoord om toegang tot die hemel te kry indien Hy sou vra: Waarom moet ek jou in my hemel toelaat?” Hierdie vraag toets die basis waarop die persoon hoop gered te wees. Die regte antwoord is: Christus en Sy kruisdood. Die verkeerde antwoorde sentreer altyd in iets wat die mens doen. Indien die persoon ‘n mens-antwoord gee – wat dalk daarop dui dat hy/sy nie die kern van die Evangelieboodskap verstaan nie – gaan net doodluiters voort met jou getuienis.

3 Belangrik: Moet nooit vir die persoon sê dat hy/sy ‘n verkeerde antwoord gegee het nie. Ook nie deur jou liggaamstaal nie. Selfs al raak die persoon die vreemdste goed kwyt. Moenie geskok lyk nie. Hou jou doelwit voor oë naamlik a) om jou eie getuienis te gee b) om die evangelieboodskap te deel. Moenie toelaat dat die persoon jou op ‘n syspoor rangeer nie. Moenie betrokke raak by twisvrae nie. Sê net beleefd “ja, ek kan absoluut hoor wat jy sê, maar…” en bring die persoon terug na jou onderwerp. Moenie dat die persoon die gesprek stuur nie, maar stuur dit self deur telkens terug te keer na die onderwerp.

4 Jou persoonlike getuienis is baie belangrik. Ons getuienis werk soms soos ‘n soutpil: dit maak mense dorstig. Ons wil nie iemand oordonder nie, ons wil net getuies vir die Here wees en die Gees vertrou om in harte te werk. Ons getuienis is nie ons bekeringsgeskiedenis nie, maar wil twee aspekte uitlig: 1) Dat ons sekerheid besit dat ons die ewige lewe het en 2) dat ons op Jesus Christus alleen vir die ewige lewe vertrou. Ons hou ons getuienis binne 3 minute en deel dit in drie dele in: 1) VOORHEEN 2) MAAR TOE 3) EN NOU. Voorheen was ons leeg en doelloos. Maar toe het ons die ewige lewe ontvang. En nou is dit wonderlik om te weet dat ons by Christus sal wees wanneer ons sterf.

Hier is ‘n voorbeeld: “Jy weet, daar was ‘n tyd toe ek ook maar baie soekende was en nie eintlik geweet het wat die sin van my lewe is nie. Ek het altyd gedink dis onmoontlik dat iemand soos ek ooit sal kan weet dat ek reg is met God. Bybellees, gebed en kerk was maar ‘n straf. En toe op ‘n dag hoor ek ‘n boodskap op radio en meteens het ek besef dat die ewige lewe ‘n geskenk is wat Jesus vir my verdien het en dat ek dit slegs in geloof kan aanneem. Sedertdien is dit so fantasties om met sekerheid te kan weet dat ek die ewige lewe besit en vir altyd by die Here sal wees.”

Oorgangssinnetjie (om van jou getuienis oor te gaan na die aanbieding van die Evangelieboodskap): “Gee jy om dat ek net in ‘n paar minute vir jou verduidelik hoe ek hierdie sekerheid ontvang het?”

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew