Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

LEWE VAN OORWINNING DEEL 2: SOOS KINDERTJIES

Wat is die hoogste vlak wat ‘n mens in die Koninkryk kan bereik? Wat het Jesus verrassend geantwoord toe aan Hom gevra is wie die grootste (heel hoogste) in die Koninkryk is (Mat 18:1)? Hy het ‘n kindjie geroep. Wie hom/haarself só verneder, is die hoogste in die koninkryk. Ons kyk vervolgens na die kenmerke van die nederigheid van kindwees. Kom ons hou ‘n klein kindjie in ons geestesoog. Dan sien ons die volgende:

1.Hulpelose afhanklikheid van pappa & mamma. ‘n Kindjie kan niks doen nie. Hy/sy lewe letterlik ‘n lewe van totale afhanklikheid vir álles. Dis vernederend. Nederigheid is ‘n lewe van totale afhanklikheid van God vir/in alles. Dán kan die krag van God deur ons vloei. Gebrek aan krag is gewoonlik te wyte aan ‘n gebrek aan kinderlike ootmoed.

2. Totaal vry van alle bekommernis en angstigheid. ‘n Jong kind is hoegenaamd nie bekommerd of daar genoeg van alles in die huis sal wees nie. Totaal vry van besorgdheid. “Wees oor niks besorgd nie” (Fil 4:6) is sinoniem met “wees soos ‘n kind”. Ons is vol sorge en bekommernis omdat ons nie soos ‘n kind is nie. Dit beroof ons van die atmosfeer van die hemel in ons lewe. Het jy al ooit ‘n tweejarige gesien met stress en kepe in die voorkop?

3. Hulpeloos. Slaan ‘n kind en hy sal nie terugslaan nie. Hy kan homself nie verdedig/verweer nie. Hy bly net stil. Hy soek nie wraak nie. Dít is die grootste mens in die Koninkryk. Hoe maak ons wanneer iemand ons leed aandoen soos om agter ons rug van ons te praat? Verontrus dit ons? Wil ons terugkap? Namate ons geestelike vordering maak, kan ons bid “Here U verdedig my regsaak.” Wanneer ‘n kindjie vals beskuldig word/ verkul word, regverdig hy nie homself nie. Wees soos ‘n kindjie en jy sal die groot krag van God in aksie sien.

4. Gee niks voor nie. ‘n Kindjie gee nie voor dat hy beter/anders is as wat hy is nie. Hy sal nie voorgee dat hy in graad 2 is terwyl hy in graad I is nie. As ‘n dogtertjie Graad 1 gedop het en jy vra haar daarna, dan sê sy: “Ja, ek is Graad 1, ek het gedop.” Zero voorgee. Hoe wonderlik om soos ‘n kindjie te wees. Geen spanning en stress.

5. Dra geen griewe. As jy kwaad word vir ‘n 9 maande oue kind en hom met ‘n spelt steek, sal hy vir jou glimlag wanneer jy later weer by hom kom. Hy kan glad nie die vorige dag se seer onthou nie. Hy kan nie onthou dat dit jý was wat hom seergemaak het nie. Hoe wonderlik om soos ‘n kind te wees. Hy neem geen aanstoot nie en klaar! Mag ons daardie passie ontwikkel: Om nóóit aanstoot te neem nie en geen grief te dra nie. Verwerp dit wanneer dit in jou opkom.

6. Leerbare gees. ‘n Klein kind raak nie hardkoppig en weet van beter wanneer jy hom leer om ‘n woordjie te spel nie! Hy vertrou jou en leer graag. Gelowiges leer sáám met alle gelowiges die dimensies van Christus se liefde ken (Efes 3:18). Elke ander Christen in die liggaam van Christus is my meerdere wat die een of ander area betref. Wat dáárdie area betref, moet ek van hom/haar leer. Wanneer jy sê: “ek kan nie daai persoon verdra nie”, is jy die verloorder want hy/sy (indien gered) kon iets van die rykdom van Christus met jou gedeel het. ‘n Mens word baie verryk deur ‘n leerbare gees en deur te leer van élke ander Christen in die liggaam van Christus. Voorbeeld: Wanneer ‘n loodgieter aan jou huis se warmwatersilinder kom werk, is hy jou meerdere wat dit betref. Indien jy jou verneder met ‘n leerbare gees, kan jy by hom soveel leer, dat jy dit volgende keer self kan doen.

7. Oordeel nie oor ander mense nie. Klein kindertjies het nie opinies van ander mense nie. Hulle vergelyk nie hulleself met ander nie. Hulle fel nie oordele nie. Daarom sien ‘n mens byvoorbeeld geen rassisme by klein kindertjies nie. Kritiek op ander, help niemand verder nie. Dit verryk jou beslis nie geestelik nie. Dit besoedel eerder jou hart. Hoe wonderlik om deur die Gees verander te word om soos ‘n kindjie te word!

8. Sonder ambisie om geld te maak of beroemd te wees. Kindertjies het ‘n pappa wat vir al hulle behoeftes verantwoordelikheid neem. Hulle kry hulle status van hulle ouers af! Die gelowige wat soos ‘n kindjie geword het, is ambisieus vir die dinge wat die Koninkryk aangaan en daarom voorsien die Vader genoeg vooruitgang in aardse middele en posisie as wat nodig is. Maar, wanneer ons dit self najaag, verloor ons die regte perspektief. ‘n Klein kind dink nie aan alles wat hy bereik het nie. ‘n Kind wat begin kruip of loop het, roem nie op die prestasie nie. ‘n Pa staan by ‘n besige straat met sy twee seuns – een 2 jr oud en ander 14 jr oud. Watter kind sal veilig oorgaan? Die 2 jarige. Want hy sê: “Pappa ek is bang en ek kan nie alles nie. Vat my asseblief.” Vir die 14 jarige is dit ‘n skande om sy pa se hand te gryp en hy wil dit self doen. Dit is die Christen wat soos ‘n kind geword het wat sê: “Here, ek kan nie in hierdie wêreld leef nie. Die verkeer is te besig. Dra my asseblief.” So ‘n lewe is hemels.

This is Photoshop’s version of Lorem Ipsum. Proin gravida nibh vel velit auctor aliquet.
Aenean sollicitudin, lorem quis bibendum auctor, nisi elit consequat ipsum, nec sagittis sem nibh id elit.
Duis sed odio sit amet nibh vulputate cursus a sit amet mauris. Morbi accumsan ipsum velit. Nam nec tellus a odio tincidunt auctor a ornare odio. Sed non mauris vitae erat consequat auctor eu in elit.

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew