Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

1. Is die geloofslewe en die geloofsbelewenisse van ‘n Christen nie iets wat maar net sielkundig werk nie? Amper iets soos goed wat ‘n mens jouself inbeeld. Is die “betervoel” ná gebed, nie net ‘n sielkundige gevolg omdat ‘n mens hard glo dat Iemand jou verhoor het nie? Is die Christelike Geloof nie ‘n illusie wat ‘n mens vir jouself skep omdat jy ‘n behoefte het aan ‘n steunpilaar/kruk om deur die moeites van die lewe te kom nie? Iets soos ‘n oorlewingsmeganisme wat mense gebruik om die lewe te kan hanteer. Is die godsdiens nie gebaseer op innerlike, persoonlike gevoelens en ervarings nie?

2. Die Bybelse antwoord hierop is soos volg: Die kern hartklop van die Christelike geloofslewe het absoluut niks te make met ‘n soeke na meganismes om die harde lewe te hanteer nie en ook nie met vertroosting nie. Die kern van die Christelike Geloof gaan daaroor om as versoende sondaar met God as Vader te leef (al is die lewe hoe hard). Hierdie versoende verhouding is nie iets wat ‘n mens jouself verbeel of inprent nie, maar dit is histories deur Christus bewerkstellig (2 Kor 5: 17-21).

Luister na die volgende woorde van die Apostel Paulus en besluit self of dit enigiets te make het met die gebruik van die Christelike godsdiens as oorlewingsmeganisme ten einde die harde lewe te hanteer: “Ter wille van Christus het ek harder gewerk as die ander, ek was meer in die tronk, ek is meer dikwels geslaan, ek was dikwels in doodsgevaar. Vyf maal het ek van die Jode die gebruiklike straf van 39 houe gekry, drie maal het ek lyfstraf gekry en een maal is ek met klippe gegooi. Drie maal het ek skipbreuk gely en een maal het ek ‘n dag en ‘n nag in die oop see deurgebring. Ek was dikwels op reis en in gevaar: daar was gevare van riviere, gevare van rowers, gevare van my volksgenote en gevare van heidene; gevare op see en gevare onder vals broers. Daar was vir my harde werk en swaarkry, dikwels nagte sonder slaap, dikwels honger en dors en dikwels was ek sonder kos, sonder skuiling of bedekking teen die koue. Behalwe dit alles was daar nog die daaglikse bekommernisse, die besorgdheid oor al die gemeentes. As iemand swak is, voel ek asof ek self ook swak is, as iemand in sonde val, voel ek asof ek ook deur vuur gaan. Daarby is aan my gegee ‘n doring in die vlees, ‘n boodskapper van satan om my met vuiste te slaan. Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my weggeneem word. Sy antwoord was: ‘My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings en vervolgings ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.’” (2 Kor 11: 23-30, 12: 7-10).

Dit is beslis onwaar dat ‘n Christen ‘n Christen is net vir die voordele wat hy daaruit kan kry. Dikwels is die voordele ZERO (in HIERDIE lewe)!

Vir Paulus het die Christelike Geloof ‘n harde lewe tot gevolg gehad, wat wou ‘n meganisme om uit probleme te kom! Tewens, feitlik al die apostels en ooggetuies van die aardse Jesus, het as gevolg van hulle getuienis gely en is vervolg en gemartel. Hulle sou beslis nie hul getuienis uit die duim gesuig het nie, want dit het vir hulle swaarkry tot gevolg gehad. Nee, van sielkundige inbeeldings is hier geen sprake nie.

Die Christelike Geloof is geen “maklike uitweg” nie! Dit vertroos nie noodwendig (altyd) nie. Vir die persoon wat op soek is na ‘n troosryke geloofsisteem, is daar ‘n hele paar makliker opsies as om ‘n Christen te wees. So ‘n persoon kan veel eerder in die Oosterse Mistiek ronddelf waar a) ‘n mens glo dat lyding ‘n illusie is, b) dat daar nie so iets soos morele inperkinge bestaan nie en elke mens kan maak wat hy wil en c) dat alle mense (ook nie-Christene) op pad is na ‘n heerlike lewe na die dood.

Die Christelike Geloof is nie gebaseer op innerlike ervaring en gevoelens nie. Die Christelike Geloof is gebaseer op objektiewe historiese feite wat buite die mens lê en nie op innerlike ervaring nie. Gevoelens en emosies kan ‘n vangstrik wees (Jer 17:9). Die Christelike Geloof is nie waar omdat dit vrede en vreugde bring nie. Wat sou gebeur indien die emosies verdwyn?

Die Christelike Geloof is waar omdat Jesus Christus liggaamlik uit die dood opgestaan het (historiese feit) en aan ons Sy onfeilbare Woord gegee het. Ek is ‘n Christen omdat ek oortuig is dat Sy aansprake die waarheid is.

Dit wat die geloofsbelewing ‘n werklikheid maak, is die absoluut betroubare openbaring van God aan ons en dit kom dus na ons van buite af. Ons reageer maar net daarop. ‘n Mens kan in ieder geval nie getroos word deur iets wat jy jouself inprent nie. Jy kan slegs getroos word deur iets waarvan jy by voorbaat seker is dat dit die waarheid is. Voorbeeld: Jy het finansiële moeilikheid, maar jy is oortuig dat al wat jy moet doen is om 5 maal onder jou bed te gaan kyk. Jy sal daar genoeg geld kry wat al jou skulde sal dek. Is dit nie vertroostend nie!? Nee, glad nie. Waarom nie? Omdat jy geen rede het om te glo dat dit enigsins die waarheid is nie.

Die Christelike Geloof is ‘n troos omdat jy absoluut oortuig is van die waarheid daarvan omdat dit gegrond is op God se openbaring aan jou. Hy het Homself geopenbaar in Christus en in die Woord. Geloof reageer maar net daarop. Dit is nie waar dat geloof God ‘n werklikheid maak nie. Geloof reageer net op God wat Homself ‘n werklikheid maak in en deur Sy Woord (Rom 10:9). Dit is geen sprong in die duisternis nie. Jou verhouding met Hom is gegrond in dit wat ‘n werklikheid is en gegrond op harde feite.

CategoryUncategorized

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)