Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: JESAJA VIR VANDAG

DEEL 16: JESAJA 17-18

Die godsprake teen die nasies – wat in hfst 13 begin het – gaan steeds voort.

Agtergrond van hfste 17-18: Damaskus was die hoofstad van Sirië/Aram en is in 732vC deur Assirië verwoes. Dis wat hfst 17 voorsien. Efraim/Israel was die noordelike 10 stamme van die Godsvolk wat in afgodery betrokke was. Hulle het ‘n alliansie met Sirië gevorm téén Assirië – pleks van om op die Here te vertrou. Daarom word hulle betrek by hierdie godspraak. Kus was Etiopië in Afrika – suid van Egipte – wat op daardie stadium deel was van die Egiptiese dinastie. Die Etiopies-Egiptiese dinastie het vir Israel aangemoedig om teen Assirië op te staan. In 701vC het Assirië egter die Egipties-Etiopiese magte verpletter.

Die Here is aan die werk in die wêreld. Hy is onbeskryflik soewerein en daar is almagtigheid slegs in wat Hy praat. Die nasies van die wêreld gaan rusteloos te kere soos die see, maar dit lê in die Here se mag om hulle slegs aan te spreek en hulle sal wegvlug soos tolbosse voor ‘n stormwind. Daar is soveel gesag en mag in die Here se praat, dat die magtigste nasies kan verdwyn tussen sonsondergang en sonsopkoms.

Belangrik is om die doel van die Here se tugtiging raak te sien. Hy gebruik nie Sy almag en soewereiniteit maar net na willekeur nie. Sy tugtiging bewerkstellig iets baie spesifiek: Dit verskuif die vertroue van die mens se hart wég van sy eie handewerke af ná die Here toe!

Elke mens se hart is ‘n afgodefabriek (Luther). Die belangrikste afgod is eie meriete. Wat die mens gelukkig stem is om sy eie verdienste voor sy god te kan bring om sy god gunstig te stem – eie handewerke. Die Here se tug en dissipline is altyd daarom afgestem om die mens hiervan los te maak en die mens se vertroue te verskuif.

Hand aan hand hiermee gaan die menslike neiging om “in ‘n ongelyke juk met die ongelowiges” te trek (2 Kor 6:14). Dit was Efraïm se posisie deur op Damaskus te steun en uiteindelik saam met Sirië onder te gaan. Wanneer ‘n mens op jou eie handewerke vertrou, verdwyn die sigbare onderskeid wat daar tussen gelowige en ongelowige behoort te wees, baie maklik.

Ja, ‘n mens lees in Jesaja 17-18 van vernietiging en verwoesting en dat dit die Soewereine hand van die Here is wat dit meebring: Assirië sal Sirië-Efraim platloop. Assirië sal Egipte-Etiopië platloop. Assirië sal self ondergaan. Alles binne-in die mens wat teen die Here in opstand is en op eie meriete in plaas van op genade vertrou – sal uitgesmelt word. Só lief het Hy Sy maaksels. En die uiteinde van hierdie smeltkroes sal geloof wees. Die dag word selfs voorsien dat Etiopië aan die Here eer sal toebring en as gelowiges na Sion sal kom!

CategoryJesaja

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)