Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: JESAJA VIR VANDAG

DEEL 15: JESAJA 15 & 16

In die reeks Godsprake oor die heidennasies – wat by hfst 13 begin het – kom Moab nou aan die beurt. Die vraag wat die Here – deur Sy profeet – aan Moab stel is die volgende: Hoe sal Moab die opmars van genadelose Assiriese imperialisme oorleef? Jesaja antwoord sy eie vraag: Moab kan slegs op een manier oorleef en dit om skuiling te vind in die Huis van Dawid – dit is: by die Here se verbondsvolk. Hier is ‘n ope uitnodiging aan Moab om na die God van Israel te draai. Want God se beloftes aan Dawid was nooit eksklusief (om nie-Jode uit te sluit) nie, maar universalisties. Dit beteken dat énigiemand van énige nasie was welkom om deel van God se volk te word. Tewens, die beloftes aan Dawid sál eendag vir die hele wêreld vervul word. God se oogmerk was nooit slegs die volk Israel of die stam Juda nie. Sy fokus is die hele wêreld.

Moab se probleem is egter sy hoogmoed/trots. Hoogmoed staan lynreg téénoor die pad van geloof. Eintlik is dit die ontkenning van geloof. In die vorige lesing het ons gesien dat satan deur hoogmoed tot ‘n val gekom het. Wanneer God Sy alreeds-werkende-beloftes aan Moab bied, sê hoogmoed NEE. Hoogmoed stel die eie self in die plek van God. Wanneer die uitnodiging na die feesmaal gerig word, wys hoogmoed dit van die hand. Hoogmoed sluit altyd úít pleks van ín. Hoogmoed is in beginsel die pad van “ek loop my eie pad”.

Neem Moab as voorbeeld. Waarom sal ‘n nasie wat ‘n reuse weermag het, iets soos skúíling wil soek en dit nog by die nietsbeduidende Dawidshuis? Hoogmoed en geloofsvertroue sluit mekaar totaal uit!

Hoogmoed presenteer homself onder baie soorte dekmantels. Meesal baie subtiel. Kerkdenominasies se hoogmoed kan presenteer in ‘n houding van “ons is leerstellig so suiwer soos dit kan wees”. Huishoudelike hoogmoed kan presenteer in iets soos “ons kinders leef só met die Here, beter as talle ander wie ons ken”. Persoonlike hoogmoed kan presenteer in ‘n sindroom van “Ek kan cope” of “Ek moet self deur hierdie ding werk, ek kan dit hanteer”.

Hoogmoed is hoogste uitdrukking van verlossing deur werke. Dit is praktiese ateïsme. Dit presenteer wanneer ons nie meer ons bybel bestudeer nie en nie meer tyd aan gebed spandeer nie omdat ons selfgenoegsaam voel. Dit presenteer in eiegeregtigheid wanneer ons besluit wanneer ons tyd sal inruim vir die Here se kerk en Sy werk en onsself bó die geloofsgemeenskap verhef. Hoogmoed lag uit sy maag vir iemand met wie ander mense moeilik oor die weg kom of wat hardkoppig en eiesinnig is. Hoogmoed beteken in kort dat ons aan ons persoonlike almag glo. Dit is onmoontlik om op Christus as Here en Verlosser te vertrou en tegelyk aan jou eie almag te glo.

In essensie is dít wat die wortel van Moab se probleem was. “Skuiling soek by Dáwid se God? Wie? Óns Moabiete? Is jy van lotjie getik?”

Die evangeliese weg om hoogmoed hok te slaan is om die Waarheid aangaande jouself te begin glo, want ágter hoogmoed sit die leuen wat ons oor onsself glo. Ons moet ontdek wat God se opinie oor ons is naamlik: “As Een vir almal gesterf het, dan hét almal gesterf.” (2 Kor 5:14). Jy moet ontdek dat jy ingesluit is by Christus se dood en opstanding en dat jy daarom ‘n hoogmoedlose mens is. Sý geregtigheid en heiligheid is jou toegereken (2 Kor 5:21). Vryspraak voer héérskappy (Rom 5:21).

CategoryJesaja

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew