Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: JESAJA VIR VANDAG

DEEL 6: JESAJA 6


Jesaja 1-5 was die inleiding en agtergrond tot sy boek, maar in hfst 6 vertel die profeet hoe hy as profeet geroep is en wat die inhoud van sy prediking was. Die eerste deel fokus op Jerusalem en die komende Messias-Koning.

Ná die donkerte van hfst 5 wonder ‘n mens of daar hoop is. Jesaja se roeping sê JA – daar is hoop! God word nie geïntimideer deur Sy mense se verdwaaldheid nie. Hy is op die Troon waar Hy nog altyd was en Sy Woord bly steeds die lewende Woord wat lewe in dood skep. Die lig waarmee Hy die duisternis verdryf is vergifnis en vryspraak.

Dieselfde jaar wat Koning Ussia dood is (2 Kron 26) het Jesaja ‘n visioen van God gesien. Volgens Joh 12:41 het Jesaja vir Jésus gesien. Nie direk gesien nie (1 Tim 6:16) maar in ‘n visioen. God heers (troon) deur middel van die versoening wat Hy tussen Homself en die mens bewerk deur die offerhandes op die altaar (die soom van Sy kleed vul die tempel). Hyself verbind troon en tempel, heerskappy-deur-middel-van offerbloed. Sy absolute (driemaal) heiligheid beteken dat Hy 100% uniek is en dat Hy deur genade (eensydige versoening) heers. Dit is wat die Serafs (Hebreeus: “brandendes” – ‘n spesiale tipe engel wat in God se direkte teenwoordigheid diens doen) onophoudelik uitroep.

Jesaja se onmiddelike reaksie was om – in skerp kontras met hierdie heerlike visioen – sy eie sondigheid te besef. Hy besef dat sy tong nie geskik is om God se Woord te bedien nie.

Toe kom die grootste verrassing ooit. Jesaja verwag die dood en ontvang die lewe! Jesaja bely nie sy sondes met die doel om vergifnis in ruil daarvoor te kry nie! Hy verwag net eenvoudig hoegenaamd nie dat hy werd is om langer te lewe nie. Dit is wat hy uitroep. Iets soos versoening met God bestaan nie in sy gedagtes nie. En toe ontvang hy juis dít!!

In die tempel was die brandende altaar waar offerdiere ge-offer is in die plek van die mens sodat die mens as versoende mense met God kon saamleef. Een Seraf voer ‘n simboliese handeling uit deur ‘n kool van die altaar te neem en Jesaja se mond daarmee aan te raak. Hierdie simboliek is ‘n uitbeelding van die Blye Boodskap wat die hele Bybel vol staan, naamlik dat die offer van Christus die mens met God versoen het en dat hierdie realiteit tot elke mens moet deurdring. Dit moet gehoor en verstaan word. Dit moet geglo word. Toe Jesaja die heilige God in Sy majesteit sien, wou hy vlug juis omdat hy nie verstaan het dat juis hierdie God sy (Jesaja se) sondes weggebrand het nie!

Toe die realiteit van sy versoening met God (deur die eensydige genade van die offer) tot hom deurdring, hóór hy skielik God se stem en Sy roeping op sy (Jesaja se) lewe! Dit is asof die verstáán van die Goeie Nuus en die sekerheid dat hy reggestel is met God, Jesaja se ore oopmaak en hy skielik sy lewe en lewensroeping in ‘n ander lig sien. Toe hy die wáárheid oor homself ontdek (dat hy versoen is) ontdek hy meteens sy roeping en kan hy verstaan wat God sê.

Jesaja se roeping is om die gemeente tot doofheid te gaan preek! Of altans so klink dit. Dit klink of hy vir die gemeente moet gaan sê dat hulle doof en blind moet bly vir God se Woord totdat almal in ballingskap weggevoer is as gevolg van hulle doofheid en blindheid!

Wat eintlik bedoel word is dat God vir Jesaja voorberei op wat die effek/vrug van sy prediking gaan wees – naamlik dat hulle die Woord wat hy bring, nie sal glo nie en dat dit tot die ballingskap sal lei, wat uiteindelik tot herstel sal lei. Uit die ballingskap sal daar ‘n gewyde geslag kom – uit wie die Messias sal kom. Die kruis spreek nooit die laaste woord nie, maar die opstanding. Die Blye Boodskap wat blinde oë siende maak, lei tot meer blindheid wanneer die Woord nie met geloof ontvang word nie (Hebr 4:2).

CategoryJesaja

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)