Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: JESAJA VIR VANDAG

DEEL 1: JESAJA 1

Die 12 stamme van Israel was sedert 975vC verdeel in ‘n noordelike koninkryk (genoem “Israel”) en ‘n suidelike koninkryk (Juda) a.g.v burgeroorlog. Die noordelike 10 stammeryk is in die omgewing van 740vC in ballingskap na Assirië (ongeveer noordelike deel van moderne Irak asook ‘n gedeelte van oos Turkye) weggevoer en het nooit weer teruggekeer nie. Die suidelike Koninkryk van Juda is ook in ballingskap weggevoer na Babilon (suidelike deel van moderne Irak) tussen 587 en 582vC, maar het 70 jaar later teruggekeer na Jerusalem. Die vervulling van God se belofte van ‘n komende Verlosser, sou immers deur die stam Juda plaasvind.

Voordat die Assiriese ballingskap plaasgevind het, het sommige profete hulle bediening op die Noordelike koninkryk (Israel) toegespits (soos Hosea en Amos) en ander op die Suidelike ryk (Juda). Jesaja se bediening was toegespits op Juda ná die Assiriese ballingskap (die noordelike 10 stamme was dus toe reeds weg) en vóór die Babiloniese ballingskap. Juda was dus nog nie weggevoer in ballingskap nie. Jesaja is dus ‘n “vóór-ballingskap” profeet.

Jesaja se bediening het plaasgevind vanaf ongeveer 740vC tot 680nC – dus 60 jaar lank.

DIE BOODSKAP VAN HOOFSTUK 1

1: 1-9

Die innerlike oorlog wat elke gelowige so goed ken, word hier beskryf. Aan die een kant is jy Sy bevoorregte – Sy kind (v2), Sy volk (v3) – aan die ander kant geneig tot skande (v 4). En tog het die gelowige ‘n nuwe natuur (vlg 1 Joh 3:9) en is dit daarom ónnatuurlik om die sonde te kies – soos dit vir ‘n bees natuurlik is om sy eienaar te ken en dit vir ‘n donkie natuurlik is om sy baas se voer te vreet. Die mees voor die hand liggende is dat ‘n gelowige volgens sy nuwe natuur sal leef. Dit is die onverklaarbare misterie: dat ‘n bevoorregte kind van God nog steeds sondig. Die goeie nuus is dat dit die Here self is wat Sy kind bewaar en behou (v9).

1: 10-20

So maklik kan uiterlike gedissiplineerde geloofshandelinge soos die bywoon van eredienste, viering van nagmaal, daaglikse gebed en Bybelstudie in pligpleging verval. Dan word dit maar net gewoontehandelinge, vormgodsdiens. In so ‘n geval gaan dit nie meer oor die inhoude wat die Here bedoel dit moet hê nie – dit gaan nie meer oor Christus wat die sentrale inhoud van alles is nie. Godsdienstigheid sonder ‘n verlange na die Here self, is betekenisloos en benadeel ‘n mens geweldig omdat jy by die Here self verbygaan en die Here sê vuriglik NEE vir alles wat Sy kind kan benadeel. Hy druk liewer Sy ore toe as wat Hy let op vormgodsdienstige handelinge. Hy is so passievol om Sy kind te herstel. Hy is nie kwaad en befoeterd nie, maar vír Sy mense se herstel. As hulle maar net wil luister (v19 – gehoorsaam = om te leef onder die invloed van wat jy hoor) sal hulle beleef dat hulle wit soos sneeu is.

1: 21-31

Dit maak nie saak hóé skrikwekkend sonde is nie, die Here speel self daarmee klaar. Ontrouheid, moord, opstand, korrupsie, omkopery, onreg – dit klink of dit nie maklik omgekeer kan word nie. Silwer wat lood geword het, word nie maklik herstel nie. Die Here is egter almagtig en sterk en Hy is passievol om sonde te vernietig. Hy sál die lood weer tot silwer suiwer. Hy sál die mense weer maak wat hulle vroeër was. Dan sal hulle reg-wees met Hom en getrou wees. Deur die oordeel heen, sal Hy Sy mense vrymaak. Let op hoe dit Hý is wat alleen handel in die herstelproses. ‘n Mens moet na hoofstuk 53 blaai om te sien presies hoe Hy hierdie dinge sal doen, maar wat hoofstuk 1 betref is dit belangrik om te sien hoe die kollig nie val op die vreeslike graad van die sonde van die mense nie, maar op die passievolle liefdevolle God wat gedetermineerd is om Sy mense te bevry en te herstel. Dit is wie Hy is.

CategoryJesaja

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)