Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 22: RIGTERS 21 > HUNKERING NA DIE WARE KONING

Die uitwissingsoorlog is verby. Broer het broer uitgewis. Slegs 600 man van die stam Benjamin is oor. Soos die soldate terugkeer, hef hulle ‘n klaagsang aan: “Waarom o Here, moet daar vandag een stam uit Israel vermis word?” So asof dit God se skuld is. Ja, die Here het hulle beveel om aan te val en dit was Hý wat die hele volk hierdeur getugtig het. En tog was alles die gevolg van hulle eie sondige afvalligheid. Die oorlog was nie Sy skuld nie. Net so min as wat die snit wat ‘n chirurg met sy skalpel maak om ‘n pasiënt se lewe te red, sý skuld is. Veral indien die noodoperasie deur die pasiënt se nalatigheid veroorsaak is. In Rigters 21:15 word die skuld vir die ramp in Israel mooi netjies voor die Hére se deur gelê. “Die Here het dit gedoen”, sê die mense, “nie ons sondes nie.” Dit is ‘n duidelike lyn in die laaste hoofstukke van Rigters: Die jammerlike gebrek aan enige ware sondebesef en skuldbesef. Eintlik roep die hele boek Rigters na ‘n Koning – díé Koning wat alles sou kom heelmaak met Sy eie lewe. Wanneer dié Koning kom, sal dit duidelik word dat God se genade tóg sterker is as die sonde. Dit is ironies dat die boek Rigters moet eindig met die klaagsang oor die uitwissing van ‘n stam van Israel (deur Israel self) nadat die boek begin het ‘n klaagsang oor die heidene wat nié uitgewis is nie. Só is die sondaar. Hy draai in sy dwaasheid alles onderstebo en verwyt dan vir God daarvoor.

Maar nou sit die Israeliete met ‘n yslike probleem. Net 600 mans van Benjamin is oor en hulle het geen vrouens nie. Hulle volksgenote het al die vrouens doodgemaak. Hoe sal hulle die stam weer opbou? Die Israeliete kan nie hulle eie dogters aan die Benjaminiete gee nie, want hulle het voor Jahwe ‘n eed gesweer dat hulle nooit weer een van hulle dogters met ‘n Benjaminiet sal laat trou nie (Rig 21:1). Skynheilige dwaasheid! Nes die owerpriesters nie geweet het wat om met die geld te maak wat Judas teruggebring het nie. “Dis bloedgeld”, het hulle gesê, “ons kan dit nie in die skatkis stort nie.” Maar, toe hulle die geld uit die skatkis uitgehaal het om Jesus se bloed daarmee te koop, het dit niemand gepla nie. (Mat 27: 1-10).

Toe besluit die Israeliete om self ‘n plan te maak om die 600 oorblywende Benjaminiete aan vrouens te help. Hulle raadpleeg nie eens die Here nie. Hulle mag nie ‘n eed breek nie, maar hulle het nie besware teen moord nie. Hulle sal die inwoners van Jabes gaan vermoor en die ongetroude meisies vang en wegvoer. Die verskoning vir die moorde: die Jabesiete het nie die volksvergadering in Mispa bygewoon nie. Hierdie mense was óók kinders van Israel – uit Manasse se stam. Hulle het ‘n ooreenkoms met Benjamin gehad en dáárom nie die vergadering in Mispa bygewoon nie. Maar, nou moet hulle dood, want hulle meisies moet gaan diensdoen in Benjamin. Hier word die boosheid van die mens se hart geteken soos op min ander plekke in die heilige Skrif. Die mens vind vreemde uitweë om homself te red uit dilemmas waarin hy homself laat beland het. Uiteindelik was daar net 400 ongetroude meisies en húlle is aan die 600 mans van Benjamin gegee. Wat ‘n ontsettende toedrag van sake! Seshonderd man is sonder vrou en kinders. Almal is dood. Vierhonderd jongmeisies wag vir hulle. Ook húlle ouers, grootouers, broers en susters is dood. Almal is in rou, maar vind mekaar as vreemdelinge om ‘n nuwe begin te maak. Maar, jammer vir die 200 mans wat te ver agter staan en nie betyds ‘n vrou kon gryp nie. Kyk hoeveel smart bring die sonde.

Die probleem is egter nog nie opgelos nie. Daar is steeds 200 man wat vrou soek. Maar, daar is niemand meer oor wie die Israeliete met ‘n wettige verskoning kon gaan uitmoor om nóg meisies te kry nie. Die oplossing? Menseroof! Al wat die 200 oorblywende Benjaminiete mans moes doen was om by Silo (waar die Here se ark was) se wingerde te gaan wegkruip en wanneer die meisies hulle koordanse dans, elkeen vir hom ‘n meisie gryp. Maar, is menseroof dan nie teen die Wet van die Here nie? “Ja, maar…. ons sal die ding reg plooi. Kyk, indien hulle ouers en broers kom kla, dan sal ons sê: ‘Ag, skenk tog maar die meisies aan ons.’ Dan gee óns die meisies aan die Benjaminiete. Daar is mos niks in die eed wat ons verbied om ánder mense se dogters aan die Benjaminiete te gee nie.”

‘n Mens moet daarteen waak om die evangelie in hierdie laaste hoofstuk mis te kyk. Selfs toe Sy volk hierdie uiterste laagtes bereik het, het die Here hulle nie verlaat en verwerp nie, maar hulle in stand gehou sodat Hy uiteindelik die Koning uit hulle kon laat voortkom, soos Hy in Genesis 3:15 beloof het. Dit is die wonderbaarlike evangelieboodskap van Rigters: God voorsien. Hy sou nog ‘n Samuel voorsien. Daarná ‘n Saul en dan ‘n Dawid. Ná Dawid sou alles weer afdraend begin loop – onder Salomo se bewind reeds. Toe het die Here (tydelik) Sy geduld verloor en die volk laat wegvat uit die beloofde land. Maar, ná ‘n kort tydjie, het Hy weer genade betoon en verlossing bewerk en profete gestuur – totdat die Seun van Dawid gekom het. Hý sou die verskrikking van die korrupte hart van die sondige mens (soos in Rigters geopenbaar) op Homself neem en deur Homself te offer ‘n ewige verlossing bewerk. Dan sal Hy na Sy Vader teruggaan en die Heilige Gees stuur om sondaars te troos – al die dae – tot met die voleinding van die wêreld wanneer Jesus weer sal kom.

CategoryRigters

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)