Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 21: RIGTERS 20 > BENJAMIN WORD WEER BENONI

Die Leviet se grusame “telegram” het één goeie gevolg gehad: die héle volk het saamgekom – behalwe die beskuldigde Benjaminiete. Alhoewel Benjamin van die vergadering geweet het. Die vrou se lyk was immers in TWAALF stukke verdeel en rondgestuur. Benjamin was dus met opset afwesig. Opvallend dat hulle “by Jahwe in Mispa” vergader het. Dis asof die vrou se grudood die kerklos mense weer laat kerktoe gaan het. Vir jare lank het hulle gedoen soos dit in eie oë goed is, maar nou was hulle raadop. Die Leviet moes die nare verhaal vertel. Opvallend hoeveel klem hy op homsélf plaas. Dit gaan oor sý lewe wat in gevaar was, maar hy vergeet dat hý haar aan die boewe oorgegee het. Tog in daardie tyd was ‘n vrou se status nul en moes hy die klem plaas op sý lewe wat in gevaar was, anders sou dit nie genoeg gewig dra nie. In die lig van Levitikus 18 was die vrou se dood ‘n skanddaad wat met die dood strafbaar was. Dit was iets wat onder heidene tuishoort, nie onder God se volk nie. Daarom besluit die volk daar en dan om die stam Benjamin te gaan straf – ‘n heilige oorlog. Die sonde moet uitgeroei word.

Dit is duidelik dat die volk – alhoewel hulle “by Jahwe in Mispa” vergader het – nie ernstig na die Here se wil gevra het nie. Hulle het vooraf klaar besluit. Hulle het ook op hulle getalle vertrou. Maar, bloed is dikker as water. Toe hulle by Gibea kom, besluit hulle om eers te praat voordat hulle skiet. Daarom stuur hulle boodskappers deur die land van Benjamin (ongeveer 10 by 20km groot) met die billike versoek dat hulle die slegte manne moet uitlewer. Maar, Benjamin is hardkoppig. Toe is burgeroorlog onafwendbaar. Benjamin het 700 linkshandige manne gehad wat sekuur met ‘n slinger kon gooi, maar die volk het 400000 man gereed gehad. Die vraag is: by wie staan die Here… en…. wie staan by Hom? (Let op Josua 5: 13-14 > Die Here is aan niemand se kant nie. Vraag is: Wie is aan Sy kant?).

‘n Mens moet mooi let op die oorlog self. Die Here is heelpad betrokke. Hy is van plan om álbei kante te tug, want beide is skuldig. Die gánse volk was kerklos. Boonop was die Leviet aandadig aan sy byvrou se dood. Maar, Benjamin was nét so skuldig. Dus: ál 12 stamme moet getug word. Daarby moes die 11 aanvallende stamme geleer word om uit genade te leef en nie roem op getalle nie. Sien hoe verander die 11 stamme se houding teenoor die Here namate die oorlog voortgaan. Aanvanklik het hulle ‘n totale getalsoorwig en raadpleeg hulle die Here sommer so haastig en terloops. Die selfversekerde 400000 reken hulle sal met gemak oor Benjamin se 26000 loop. Tot hulle stomme verbasing verslaan die Benjaminiete 22000 van die 400000. Hulle moes die les leer dat Gód voorsien en dat Hy met klein getalle oorwin. Maar, hulle leer nie die les nie. Hulle vertrou op hulle eie dapperheid en getalle en hou hulself sterk en kom wéér hulle moses teë. Hulle kla voor die Here en vra óf hulle teen Benjamin moet optrek. Klaarblyklik ‘n selfbejammerende soort huil. Hulle huil nie oor hulle eie sonde nie. Toe verloor hulle nóg 18000 man. ‘n Mens sien hoe die Here self die 11 stamme in die neerlaag inlei. Hy beveel hulle om aan te val, maar Hy verswyg die uitslag. Hou Hy hulle dan vir die gek? Nee, Hy tugtig hulle eers vir húlle afvalligheid voordat Benjamin aan die beurt kom. Niks gebeur toevallig nie. God voorsien. Daar bestaan nie so iets soos noodlot nie. Selfs in teëspoed, is die gelowige nie aan die noodlot oorgelewer nie.

Iets hiervan het die 11 stamme geleer ná die tweede neerlaag. Hulle kom weer na Jahwe terug, maar hierdie keer in sak en as. Almal gaan na Bet-El (huis van God) toe. Nou is daar baie meer egtheid in hulle godsdiens. Dis nou nie maar by die eerste en beste plek gou-gou hoor wat die Here sê nie. Hulle gaan na Bet-El waar die Ark van die Verbond staan en ‘n priester uit Aäron se nageslag, diens doen. Dis soos dit hoort (Lev 8:1 – 9:22). Hulle bring ook offers wat heeltemal uitbrand en waardeur die offeraar homself volledig in diens van God stel. Dis ook offers wat profeteer van die laaste offer wat op Golgota gebring sou word. Hierdie keer besluit hulle nie sommer (vooraf) self wat om te doen nie. Die Here het hulle gelouter en hulle geleer om uit Sý genade te lewe.

Op die Here se bevel trek die 11 stamme weer op. Nou sal Benjamin getug word. D.m.v ‘n hinderlaag, word Benjamin uitoorlê en 25000 Benjaminiete sterf. Byna hulle hele weermag. Die Here het hulle verslaan (v 35). Wat ‘n aaklige afloop het sonde tot gevolg! Gelowiges, van een kerk, vernietig mekaar. As mense, wat bymekaar hoort, in teenoorgestelde kampe beland, beveg hulle mekaar dikwels met groter venyn en drif as waarmee hulle hul “natuurlike” teenstanders bestry. Op die ou end sterf meer as 60000 verbondskinders as gevolg van kerklike afvalligheid, louheid, permissiwiteit. Seshonderd gehawende Benjaminiete sit en wonde lek op die rots Rimmon (afgodsnaam wat beteken “god van storm”). Die patetiese oorblyfsel van Jakob en sy geliefde Ragel se “seun van my regterhand”. Ragel het op haar sterfbed die baba “Benoni” (seun van my smarte”) genoem, maar Jakob het sy naam verander na “Benjamin” (seun van my regterhand). Miskien het Ragel tóg in haar sterwensoomblikke meer profetiese insig gehad as Jakob. Want nóú is Benjamin sy aanvanklike naam waardig. Alles as gevolg van die sinneloosheid van ‘n lewe wat weggedraai het van die lewende God.

Vraag: Is die huidige kerklike verval werklik so onskuldig? Sal dit nie ook op die ou end wrange vrugte tot gevolg hê nie? Toe die Here die teken van Sy verbond aan ons gegee het, het Hy dit absoluut ernstig bedoel – só ernstig dat selfs die oordeel daarvan sal getuig.

CategoryRigters

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)