Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 20: RIGTERS 19 > VRYHEID SONDER GEBONDENHEID

‘n Leviet – dus ‘n man uit dié stam wat bestem was om die tempel te dien – vertoef as vreemdeling in die Efraimgebergte en het ‘n byvrou (dus nie sy eerste wettige vrou nie) wie se sedes nie bo verdenking was nie. Sy was uit Betlehem. As gevolg van haar manewales kom daar verwydering tussen hulle en sy gaan na haar ouerhuis terug. Ná ‘n tyd gaan die Leviet soontoe om haar te pamperlang. Opvallend is egter die buitensporige hartlike wyse waarop die Leviet en sy skoonpa mekaar vind. Op aandrang van laasgenoemde, kuier hulle vir 5 dae rondom die wynkan en ‘n oormatige etery (brassery).

In die woestyn het die Here die stam Levi as Sy besondere eiendom verkies en die Leviete aan Sy diens gewy (Num 3:12). Die optrede van die Leviete – soos Rigters dit beskryf – laat ‘n mens skaars vermoed dat hulle Godgewyde mense was. Die godsdienstige verval in Israel was ook duidelik by diegene wat in besonder die Here se werk moes doen, aanwesig. Dit gaan altyd so: wanneer daar ‘n agteruitgang kom, kan van die lelikste tekens by die besondere ampsdraers gesien word. Soms begin die verval juis by húlle. Daarom moet ampsdraers so versigtig wees dat die bose nie húlle as invalspoort gebruik nie.

Uiteindelik maak die Leviet aanstaltes toe die son reeds begin sak. Ná donker, word dorpe se deure en poorte gesluit. Daarom wil die Leviet se kneg hê hulle moet by die stad van die Jebusiete indraai en dáár oornag. Dit was die latere Jerusalem – ná die verowering deur Dawid. In die tyd van die Rigters was die dorp egter nog in die hande van Israel se vyande. Daarom wou die Leviet nie daar oornag nie, want daar sal hulle geen gasvryheid ontvang nie. “Dis nie óns mense nie…” Daarom stoot hulle maar aan na Gibea, waar die kinders van Benjamin (hulle eie mense) woon. Maar, toe hulle in Gibea kom, reik niemand na hulle uit nie! Niemand nooi hulle in nie. ‘n Vreemde gees heers in die dorp. Die Benjaminiete betoon geen gasvryheid aan hulle mede-Israeliete (mede gemeentelede) nie, wat nog te sê aan vreemdelinge. Van gehoorsaamheid aan God is daar geen teken nie (Eks 22:21). Die mense van wie die Leviet gasvryheid kon verwag, nooi hom nie binne nie. Hulle wil nie met hom opgeskeep sit nie (hoe oop is óns huise vir “vreemdelinge”?). Al opsie wat die geselskappie het, is om op die stadspleintjie te oornag.

Toe kom daar ‘n man aan wat glad nie ‘n Benjaminiet is nie. Hy kom uit die Efraimsberge. Hý is ánders. Hý is gasvry. Hy stel in hulle belang en reik uit en vra uit. Die Leviet gee ‘n interessante antwoord. Hy sê hy is op pad na die huis van Jahwe. Hy sê iets soos: “ons is haweloos en niemand reik na ons uit nie – en om te dink ons is op pad na die huis van die Here”. Waarskynlik sinspeel hy op sy levitiese amp om simpatie te wek. Die man nooi hulle na sy huis en toe begin die volgende sessie van eet-en-drink.

Terwyl die feesvieringe aan die gang is, omsingel die manne van Benjamin die huis. Nou stel hulle ewe skielik in die vreemdelinge belang. Veral in die mán. Hulle wil höm ‘n bietjie van naderby leer ken – hom bietjie “bykom”. Daar is geen twyfel dat hulle homoseksuele bedoelings het nie. Eintlik is dit ‘n herhaling van Sodom se geskiedenis (Gen 19). Dit is onvoorstelbaar gruwelik. Die Bybel sien homoseksualiteit in beide OT en NT as sonde (Lev 18:22, 1 Kor 6:10, Rom 1). Die Bybel beskou enige menslike gedrag wat daarop gemik is om God se skeppingsorde en die andersheid tussen man/vrou te verongeluk, as sondig. Enige persoon wat dus ‘n verhouding met iemand van die teenoorgestelde geslag aangaan en dit só inrig dat hy/sy God se skeppingsorde aantas, handel onverantwoordelikheid en sondig.

Die Efraimitiese huisbaas pleit by die manne om eerder sy dogter te neem of selfs sy gas se byvrou (soos Lot ook sy dogter aangebied het). Terwyl die huisbaas nog so staan en pleit, kom die Leviet en stoot letterlik sy byvrou by die deur uit tot in die kloue van die pervertiese Benjaminiete – sodat hulle haar kan mishandel en verkrag soos hulle wil. Toe sy uit is, gaan hy en die huisbaas rustig voort met eet en drink. Ag, was daar tog maar ‘n koning in Israel wat straf kon uitdeel – roep die Rigterskrywer onderlangs.

Buite vier die satan fees. Die vrou van losse sedes word nou in eie munt terugbetaal. Die Benjaminiete staan tou om haar te verkrag en te verrinneweer. Eers teen dagbreek laat hulle haar loop en sy strompel tot by die voordeur en val op die drumpel dood neer, met haar hand uitgestrek na hulp en haar Levitiese “man” wat binne lê en snork. Toe die man van God gereed is om sy reis voort te sit, lê sy byvrou dood voor die deur. Hy sê vir haar: “Staan op, laat ons trek”, maar niemand antwoord nie. ‘n Mens kan nie anders as om sy ruwe en onbeskaafde optrede raak te sien nie. Die ergste erg kom egter nog. Hy besluit om ‘n “telegram” die land deur te stuur as ‘n boodskap aan Israel oor wat Benjamin aangevang het. Hy maak van haar lyk ‘n telegram. Hy sny die liggaam in 12 stukke (12 stamme van Israel) om dit deur die land te stuur sodat die volk dit ter harte kan neem en kan besef dat daar ernstige optrede nodig is, want só kan sake nie agteruit gaan nie. So iets het nog nooit gebeur vandat die volk uit Egipte verlos is nie.

Ware vryheid word slegs in gebondenheid gevind. Vryheid sonder gebondenheid is losbandigheid – soos in hierdie geval. ‘n Vis is slegs vry binne water. ‘n Trein is slegs vry op die spoor. ‘n Christen se vryheid is geleë in sy/haar “ingebind-wees” in Christus se lyding/kruisiging/sterwe/opstanding.

Dit is soos uitvoervrugte wat in kortonne na Europa gestuur word. Die karton kry die stampe & stote & harde hantering sodat die vrugte dit nie kry nie. Die vrugte is ingesluit in die korton. Buite die karton sal die vrug tot niet gaan en nie die bestemming bereik nie.

Hierdie gebondenheid is iets wat God die Vader gedoen het. Die Christen bewerk dit nie self nie. Dit is egter moontlik dat ‘n mens in ongeloof hierdie insluiting verwerp of passief daarteenoor leef. Oënskynlik doen die meeste mense dit. Dan word vryheid ongebondenheid en losbandigheid en ontvang die mens die rowwe hantering wat Christus ontvang het.

CategoryRigters

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew