Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 18: RIGTERS 17 > GODSDIENS WORD SELFDIENS

Die laaste gedeelte van Rigters het ‘n totaal ander karakter as die eerste 16 hoofstukke. Hfste 1-16 vertel wat gebeur wanneer God telkens redders voorsien om Sy volk in krisistye te verlos. Hfste 17-21 vertel hoe dit gaan indien God níé voorsien nie. Vandaar die refrein: “in díé dae was daar geen koning in Israel nie: elkeen het gedoen wat reg is in sy eie oë” (17:6).

Het God dan heeltemal ophou voorsien? Nee. Hy sou nog die laaste rigter – Samuel – voorsien en Samuel sou die eerste twee konings (Saul en Dawid) salf. Uiteindelik sou Hy Sy Seun voorsien. Onthou: Rut speel ook in die Rigterstyd af. Dáár het Hy ook voorsien: ‘n losser wat Rut en Naomi loskoop en Obed, wat Dawid (en Jesus) se voorvader was. Hfste 17-21 is dus wel die slot van die boek Rigters, maar dit sluit nie in tydsorde die verhaal van die rigters af nie. Dit vertel egter wel van die sedelike en geestelike verval wat in die rigterstyd geheers het.

Die eerste van die laaste twee verhale handel oor Miga in die Efraimsberge en ook hoe die stam Dan na die noorde verhuis het. Miga is ‘n dief. Hy steel 1100 sikkels silwer van sy ma, maar toe hy die vreeslike vloek hoor wat sy ma oor die dief uitspreek, begeef sy moed hom en gaan gee hy die geld terug en erken sy skuld. Moeder is baie bly, maar ook skrikkerig vir die geld wat sy self vervloek het. In hierdie bygelowige geestesgesteldheid sien ‘n mens iets van die godsdienstige verval wat in die Here se gemeente ingetree het.

Toe spreek sy gou-gou ‘n seën oor Miga uit om die vloek te kanselleer en die geld te “heilig”. Sy sal dit maar vir die Here gee. Dit klink vroom, maar wat sou hieruit voortkom? Miga begin om sy eie privaat godsdiensie te bou. Hy het ‘n “godshuis” gehad, met ‘n skouerkleed (efod) en huisgode wat aangevul word met gegote beelde uit 200 van 1100 sikkels silwer. Hy doen dit ondanks die feit dat Jahwe dit verbied in Eks 20: 4-5. Op die koop toe stel hy sommer sy eie seun as priester aan. En siedaar: ‘n godsdiens wat hy self ontwerp het! Dalk is dit die rede waarom die skrywer Miga se naam voluit skryf aan die begin van die hoofstuk: Miga-Jahoe (wie is soos Jahwe?) maar later slegs “Miga”. Want nou gaan dit oor “wie is soos Miga” en nie “wie is soos Jahwe” nie. Miga wou letterlik die godsdiens sny uit die hout van sy eie grille en giere. Hoe maklik plooi ‘n mens die GODsdiens sodat dit SELFdiens word!

Blykbaar was Miga nie so veel in sy skik met sy seun as priester nie. Hy wou ‘n “regte” priester hê. Want onthou: hy was godsdienstig om twee redes: a) hy wou sy gewete salf en b) hy wou vir hom voorspoed verdien. Daarom was dit noodsaaklik dat sy godsdiens so “reg” as moontlik moes wees. Geen wonder dat hy amper omval toe ‘n rondloper Leviet eendag daar opdaag asof hy gestuur is nie. Die Leviet was uit die stam Levi (en mag dus priester wees) maar het in die stamgebied van Juda gewoon. Binne oomblikke was die kontrak tussen hom en Miga gesluit. Hý sou Miga se priester wees! ‘n Regte egte Leviet! Wat kon ‘n mens meer verlang? Só het die selfgemaakte heiligdommetjie in die berge van Efraim ontstaan. ‘n Saamraapsel van diewe, lasteraars, bygelowiges, beelde-aanbidders en werklose rondlopers by ‘n “godshuis” onder een dak! Dit is opvallend dat Miga aanvanklik wou hê die priester moes vir hom ‘n “vader” wees, maar uiteindelik was hy vir hom soos een van sy seuns. ‘n Ondergeskikte dus. Een van sy personeel. Hoe kon só iemand werklik onafhanklik en onbevrees die woorde van die Here kan oordra?

Maar Miga is doodgelukkig. Vir hom is godsdiens iets soos ‘n polis teen teëspoed. Daarom vryf hy sy hande van plesier en sê: “Nou weet ek dat Jahwe aan my goed sal doen, want ek het ‘n Leviet as priester.” Miga sorg net dat die VORM reg is: die godsdiens, skouerkleed en priester. Maar die INHOUD ontbreek totaal: Gód is nie in hierdie godsdiens nie.

Hierdie Skrifgedeelte moet ons help om selfondersoek te doen. Tot watter mate is ons geloofslewe ‘n polis teen teëspoed? Ons harte is diep verrot en ons word baie maklik mislei (Jer 17:9). Sien ‘n mens nie ook hier ‘n prentjie van álle mense wat nie die ware evangelieboodskap ken nie? Die onbereikte nasies? Dit lei tot skrikwekkende dwaling en misleiding.

Afgodsdiens gaan nie oor uiterlike beelde nie. Dit gaan oor die innerlike bedoeling vd mens se hart om godsdiens om te draai van hoe God dit bedoel. Afgodsdiens gaan oor die teenoorgestelde manier-van-redding as God se manier. God het net een manier om die mens met Hom reg te stel en reg te maak en dit is deur insluiting in wat Jesus gedoen het sónder énigiets wat die mens doen. Dit kan slegs geglo word. Ook in die OT tyd was dit die enigste manier. Die offers en rituele moes die mense na die komende Kruisoffer wys. Maar die Israeliete het hulle eie manier van reggestel-word-met-God verkies, naamlik dit wat húlle doen in die bring van offers, gebede, toewyding, lofprysinge, selfoorgawe, ywerigheid.

As mense ‘n manier van hulleself reg te laat wees met God handhaaf wat verskil van God se manier, is dit afgodsdiens. Gód se manier is slegs deur te aanvaar wat Christus gedoen het. Die mens se manier is sélfdoen: oorgawes, gebede, toewyding, bekerings, liefde, aanbidding, belydenisse. Geloof in Christus staan téénoor hierdie dade. Hierdie dade is nie maar net ‘n alternatiewe maníér van glo nie. Dade sluit geloof uit! (Gal 3:12) en niemand kan deur dade met God reggestel word nie (Gal 2:16). Hier het ons dus met ‘n vrome manier van afgodsdiens te doen – binne in die kerk!

Rigters 17 is dus glad nie so ver van ons verwyderd as wat ons mag dink nie.

CategoryRigters

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)