Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 16: RIGTERS 15 > VAN KAKEBEENHOOGTE TOT ROEPERSFONTEIN

Op die lange duur is Simson se verlange groter as sy woede en keer hy terug na sy bruid van weleer, maar haar pa versper die ingang. Simson se strooijonker het haar as vrou geneem, want hulle het gedink Simson het haar verwerp toe hy so woedend weggestorm het. Haar pa bied egter haar mooier sussie vir Simson aan. Dalk het hy gehoop op ‘n tweede bruidsprys. Maar Simson stel nie belang nie. Nóú gaan hy die Filistyne tweede laat kom. Hy vang 300 jakkalse (!) en met fakkelsterte jaag hy hulle in die Filistyne se ryp koring in. Dalk was die jakkalse reeds in hokke vir die een of ander afgodiese ritueel, maar Simson kón hulle ook werklik gaan vang het, want dit is die Here wat deur hom Sy volk verlos. Hierdie episode berokken die Filistyne onmeetlike skade. Hulle besluit hulle gaan vuur met vuur beantwoord. Dit is mos die pa en dogters se skuld! Daarom gaan verbrand hulle die pa en sy dogters.. Dalk ook die strooijonker-skoonseun. Ongelukkig het hierdie optrede nie die saak opgelos nie, want tóé is Simson éérs kwaad! Hy vlieg met groot geweld onder die Filistyne in sodat jy net hakskene sien soos hulle halsoorkop die hasepad kies. Hulle het agtergekom: As jy met Simson te doen kry, veg jy teen méér as ‘n sterk man. Dit is Israel se God, die lewende God, wat die wapen vir Sy volk opneem.

Ná hierdie slagting het Simson in die rotskloof van Etam sy emosies tot bedaring gebring. Die Filistyne het die mense van Juda gaan bestorm op soek na Simson. Die Judeërs moes baie vinnig dink om te bewys dat hulle nie vir Simson weggesteek het nie. Toe gebeur die onverklaarbare. Hulle (sy eie mense) besluit om vir Simson aan die vyand uit te lewer sodat hy sterf en nie hulle nie. Simson se reaksie is nog meer merkwaardig. Hy gee homself aan hulle oor om geboei te word nadat hy hulle laat belowe het dat hulle hom nie sal doodmaak nie. Slegs boei. Simson, die sterk man, wat hulle lendelam kan foeter, vra en verkry die plegtige belofte: “Toemaar, ons sal jou nie seermaak nie.” Toe bind hulle hom met nuwe toue. Wat presies gebeur hier? Sou Simson iets verstaan het dat hy ‘n Goddelike sending het ten bate van die hele volk Israel? Of moet ‘n mens Simson sien as voorloper van die komende Christus? Kyk na die parallel: Die volk van God verstaan nie die dade van God nie. In hulle dwase ywer probeer hulle God se reddingsplanne dwarsboom, maar dan span God húlle in by Sy reddingsplan. Simson en Jesus se eie mense lewer hulle oor aan die vyand en dink hulle doen God ‘n guns. Intussen span die Here hulle dwaasheid in by Sy plan. Die Judeërs het hier oor Simson gevoel soos die Joodse Raad later by monde van Kajafas oor Jesus: “Julle moet besef dat dit tot julle voordeel is dat een man vir die volk sterf en nie die hele nasie verlore gaan nie.” (Joh 11:50). Simson word ook deur sy eie mense aan die Filistyne uitgelewer omdat hulle oordeel dat dit beter is dat hý sterwe as hulle almal.

En later sóú Simson ook vir die verlossing van sy mense sterwe.

Toe sy eie mense vir Simson geboeid te voorskyn bring, gaan daar ‘n gejuig onder die Filistyne op. Uiteindelik! Dáár is die skurk wat soveel ellende veroorsaak het! Toe Simson die vyand se gejuig hoor, was dit vir hom een te veel. Hy ondergaan ‘n totale verandering. Hy raak buite homself. Die Gees van Jahwe het oor hom vaardig geword (v 14). Toe die Gees besit neem van één man, doen hy wat geen mens kan nie. Hy verrig ‘n bo-menslike taak. Dit is nie ‘n mens wat verlos nie. Dit is God. Hy gebruik net Sy instrument. Dit laat ‘n mens dink aan die Kategismus: “Hoe ‘n middelaar en verlosser moet ons dan soek? Só een wat ware mens is en nogtans ook sterker as alle skepsels – dit is – ook ware God.” (Sondag 5). Toe die Filistyne hul weer kom kry, smelt die toue om Simson se arms en bene soos garingdraad in ‘n kersvlam en hy gryp die eerste ding wat voorhande is – ‘n eselskakebeen – en begin onder hulle slaan. ‘n “Nuwe” kakebeen, staan daar. Die klem val egter nie op die gedugtheid van die wapen nie, maar juis op die lompheid daarvan. Die “nuwe” dui net daarop dat die been nog nie bros was nie. Die strekking van die teksgedeelte is egter dat God nie gedugte wapens nodig het nie. Hy veg met één man en ‘n eselskakebeen teen ‘n hele leër. Dit is wat Simson wil sê met sy woordspeling – nadat die laaste gillende Filistyn oor die heuwel verdwyn het – “’n Eselskakebeen, net ek alleen, en duisend man is daarmee heen.”

Dit blyk uit vers 18 dat Simson goed geweet het waar sy krag vandaan kom. Maar, hy VRA al weer iets. Ons lees nêrens dat hy DANKIE sê nie. Dit lyk asof daar nie veel sprake is van ‘n dankbare afhanklikheid by hierdie verlosser nie. Sy verlossingswerk sowel as sy persoon was maar net voorlopig en onvoldoende. Eers toe die God-mens Jesus Christus verskyn het, was die verlossing volkome en finaal en Sy Persoon was volmaak.

Simson is dors. Soos Jesus ook op kopbeenheuwel (Golgota) dors gehad het (Joh 19:28). Tog is die verskille meer as die ooreenkomste. Simson was ondankbaar en was gedryf deur wraaklus en woede. Sy geroep vir water was ook nie juis ‘n baie nederige gebed nie. En tog hoor die Here en voorsien. Dalk met ‘n glimlag. Dalk glimlag Hy vir hierdie sterke man wat duisend man in ‘n ommesientjie verslaan, maar nie self in sy eie basiese behoeftes kan voorsien nie. Soos om sy dors te les. Dít moes hom laat besef het hóé afhanklik hy in werklikheid van God is. Met ons werk dit soms ook so. Ons dink dat ons sekere groot dinge self doen, maar dan vind ons dat ons nie eens in staat is om in ons eie klein behoeftes te voorsien nie. Dan leer ons om van genade alleen te lewe.

CategoryRigters

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew