Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 14: RIGTERS 13 > DIE NASIREËRSGELOFTE

As die Here met Gideon se bendetjie beklemtoon het dat Hý die een is wat veg en verlos, sou Hy dit met Simson nóg meer beklemtoon. Want Simson was maar net één man. Nie eens ‘n bende van 300 nie. En daarby het Simson meesal ánder motiewe gehad. Hierdie spesiale taak wat God vir Simson op Sy agenda gehad het, verklaar die uitvoerige manier waarop die Gees oor sy ontvangenis en geboorte praat. Byna soos in Jesus se geval. Dit was ‘n wondergeboorte. Manoag en sy vrou was kinderloos. God alleen kon dit verander. Daarom was die kind wat gebore sou word, van sy ontvangenis af ‘n belydenis dat nét God verlos. Dat Hy voorsien.

Om alle misverstand te voorkom, bring die Engel van Jahwe self die boodskap. Hoewel die vrou Hom nie herken nie, neem sy kennis van die gesag in Sy stem en opdragte. Die spesiale opdrag is: Die seun moet as nasireër vir God opsygesit word. Mense wat hom sien optree, moes weet dat hy in opdrag van God optree. Sy lang hare, sy dieët, sy geheelonthouding van drank – alles moes dáárvan spreek. Die Nasireërgelofte word in Numeri 6:21 gereël. “Nasireër” beteken “gewyde”. Deur middel van hierdie gelofte het ‘n gelowige hom/haar aan die diens van die Here afgesonder. So ‘n persoon was in die omgewing ‘n lewende voorbeeld van wat God kan doen en soms het die mense só ‘n persoon irriterend en lastig gevind (Amos 2: 11-12).

Byna soos in die geval van Gideon, hanteer Simson se ouers die belofte van die Engel baie onbeholpe en lam van die skrik. Die vrou vertel vir haar man met groot oë van haar ondervinding, maar blykbaar doen sy dit só onsamehangend dat Manoag vir ‘n “kykweer” vra. Geduldig sê die Engel nog ‘n slag alles oor. In besonderhede. En dan, soos by Gideon, die wonder van die offer. Manoag kon nie anders nie. Hy móés die Engel se Naam vra. Maar die Man sê: “Na alles wat gesê is, weet julle nog steeds nie wat julle praat nie. My Naam is wonderbaar. Onuitspreeklik. Hoër as mensename omdat My gedagtes hoër is.” Toe die vlam uit die altaar opstyg, het die Man daarmee saam vertrek.

Met hierdie geweldige ervaring altyd in hulle gedagte, het Manoag en sy vrou vir Simson grootgemaak – nasireër – man van bestemming. Altyd sou hulle onthou hoe die Here na hulle persoonlik gekom het – nie om te verdelg nie, maar met ‘n belofte. Vir ouers wat nooit kon dink dat hulle tóg ‘n kind sou hê nie, was dit asof die son van God se genade nog nooit só geweldig op hulle geskyn het nie. Vir hulle was die Here se beloftes net té goed om waar te wees. Dalk was dit die rede waarom hulle hom “Simson” genoem het. Dit hou verband met die Hebreeuse woord vir “son” – letterlik “sonnekind”. Toe die tyd ryp was, het God se Gees hierdie sonnekind begin drywe (letterlik: stoot). Hy het mos belowe.

Uit hierdie Skrifwoorde moet ons die volgende raaksien: a) die lyn wat deurloop na Christus (geboorte) b) die manier waarop die Here se verbond werk: Sy inisiatief, belofte, sigbare teken (vlam) c) elke verbondskind is ‘n sonnekind – word groot met al die geleenthede, voorregte d) Manoag & sy vrou maak kind groot vanuit totaal ánder verwysingsraamwerk as ander ouers e) vraag: Is óns ook nog so verwonderd (soos Manoag-hulle was) oor die feit dat die Here Hom net so persoonlik aan ons verbind het?

CategoryRigters

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew