Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 11: RIGTERS 10; 12: 8-15 > GOD SE GEDULD EN ONGEDULD

Sommige mense maak voorbladnuus en ander haal skaars die doodsberigte. Die voorbladmense is nie noodwendig gelukkiger as die onbekendes nie. Die Rigterboek vertel ook van ‘n klompie Rigters wie se name vir duisende jare met groot moeite oorgelewer is, maar hulle was totaal onbekend. Daar is weinig méér van hulle bekend as dát hulle wel gelewe het, rigters was en gesterf het. Geen koerant sou oor hulle berig nie. Waarom is hulle name nie maar net eenvoudig weggelaat nie? ‘n Mens kan verstaan dat Abimeleg se naam so ‘n prominente plek gekry het. Sy lewe was immers vol aksie. Hy het 69 manne se kele afgesny en 1000 mense lewendig verbrand. En toe verbrysel ‘n vrou sy kop met ‘n groot klip. Maar wat moet ‘n mens sê van Tola en Jaïr? En Absan, Elon en Abdon (12: 8-15)? Tola het in Samir gewoon en gesterf. Jaïr het 30 seuns gehad en is in Kamon begrawe. Waarom staan dit in die Bybel? Tola en Jaïr het die gemors opgeruim wat Abimeleg nagelaat het en die leisels vir ‘n tyd lank gehou. Maar, in die hele tyd doen hulle niks noemenswaardig nie. Tog het God gesorg dat hulle darem die doodsberigte haal. Hulle name staan in die Rigterboek. In Sy plan met Sy volk, het hulle ‘n plek gehad wat nie onvermeld mag bly nie. Al was hulle nie op die voorblad nie, staan hulle name vir ewig in God se boek geskryf. Hulle was die soveelste voorbeelde van die feit dat God genadig is en nie Sy verbondsvolk prysgee nie. In God se plan, speel die voorbladmense beslis ‘n rol, maar ook elkeen van ons “onbekendes” het ‘n taak te vervul wat net deur óns gedoen kan word, al haal dit nie die koerant nie. Ons gebed moet wees: “Here ek bid nie vir ‘n voorbladberig nie, maar vir ‘n inskrywing in U Boek – dat ek die taak wat U my gegee het, uitgevoer het.”

10: 6-18> Met eentonige reëlmaat vertel die skrywer dat Israel wéér en wéér gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here. Hy vertel dit nie oor en oor vanweë letterkundige onbeholpenheid nie. Hy vertel dit omdat dit regtig so wás. Die Here het gesorg dat dit in die Bybel opgeteken word, want dit is vir óns oë bedoel. Net so reëlmatig soos Israel se mislukkings, is ons s’n immers ook. Ons moenie moeg raak vir Israel se “weer en weer en weer” nie. Ons moet nadink oor wat óns die afgelope week vir die soveelste keer gedoen het wat God moedeloos maak. Daarom moet ons ons ore fyn spits. Wát het God gedoen nadat Israel wéér verkeerd gebeur het? Antwoord: Hy het kwaad geword en hulle aan die Ammoniete se gode verkoop (vv 6-17). So het hulle weer slawe geword. Dienspligtiges. Agtien jaar lank.

Toe roep die verbondsvolk die Here aan en sê: “Ons het teen U gesondig, want ons het die Baäls gedien.” Asof God dit nie geweet het nie! Só gaan dit met elke sondebelydenis – die kop hang en die gesig bloedrooi. In God se antwoord sit daar iets wat ‘n mens se keel laat toetrek. Wat antwoord Hy? “Ek sal julle nie meer verlos nie”, sê Hy. “Roep gerus maar julle nuwe gode aan.” Hierdie woorde gryp vooruit na die werklikheid van die uiteindelike ewige hel en verdoemenis en Godverlatenheid. Daar is mense wat die bestaan van die ewige verdoemenis ontken. Hulle sê ‘n God-van-liefde sal nooit só wreed wees nie. Hulle sê die Bybel ken net ‘n God wat vol genade is ten spyte van die sonde. Om so te praat, is om met God se heiligheid en genade te speel. God se geduld kan en sal uiteindelik opraak. As dit nie so was nie, was al Sy genade net kamma-genade. As God dus sê: “Ek sal nie verlos nie” is dit ‘n aanduiding van Sy heiligheid.

Maar God se volk val neer soos klein kindertjies aan die voete van hulle mamma wat – moeg gesukkel – dreig om weg te loop. Hulle sê: “U is God en U kan doen net wat U wil – solank U ons net verlos.” Byna soos ‘n kind wat desperaat vasklou aan sy ma se rok: “Mamma kan maar wegloop, vat my net saam”. Só bid die Here se mense. “U mág ons verwerp, want ons verdien dit deur en deur. U mag ons vir ewig verlaat, want ons verdien dit en U is regverdig. Maar, vat ons net saam asseblief.” En toe gaan hulle met bewende hande en verwyder konkreet al die gode.

Dan staan daar woorde wat ‘n mens se oë vol trane maak. Wonderlike woorde. Evangeliese woorde. Vers 16: “En Hy het ‘n end gemaak aan hulle slawerny.” Toe tel die Vader Sy vuil, stout seuntjie/dogtertjie op. Dit is die evangelie. En nou sal die oorlog teen die Ammoniete begin om die volk Israel uit hulle kloue te red. Maar, wie sal die veggeneraal wees? Dit sal Jefta wees. Daaroor volgende keer meer.

CategoryRigters

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)