Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 9: RIGTERS 8 > SIMUL JUSTUS ET PECCATOR

Rigters 8 is ‘n raaisel: Hoe kan vroomheid én boosheid mekaar so afwissel in één gelowige se hart? Gideon is geroep deur God. Deur hom het die Here Sy volk gered. ‘n Mens sien hoe die Here se heerskappy in Gideon se lewe skitter. Die vrug van die Gees is duidelik sigbaar. Gideon is beslis ‘n geregverdigde kind v God – in NT taal. Ons sien die vrug van die Gees in sy lewe onder andere in die volgende:

a Die Efraimiete kom twis met Gideon omdat hy húlle nie eerder geroep het vir die oorlog nie. Hulle wil net die lewe vir Gideon moeilik maak. Van diepe ootmoed vir die wonder wat God gedoen het, is daar by hulle geen sprake nie. Hulle was ook vol hebsug: indien hulle gouer betrokke was, kon hulle meer gebuit het. Die mens is inderdaad ‘n nare ding – tot in sy diepste wese korrup. Gideon tree egter op in die gees van Spreuke 15:1: “’n Sagte antwoord laar woede bedaar.” Gideon het alle reg gehad om die Efraimiete kort te vat, maar hy paai hulle en plaas hulle op die troon. Hy oortuig hulle dat hulle optrede teen Oreb en Seëb van méér waarde was as sy eie dade. Oombliklik bedaar die Efraimiete se gemoed. Steeds bly dit die manier waarop ‘n gelowige sy teenstanders moet hanteer. Dit kom egter nie uit jouself nie. Dit is vrug van die Gees.

b Gideon is onkeerbaar in sy gehoorsaamheid aan die Here om die Mideaniete uit te roei. Hy agtervolg die oorblyfsel van die Mideanitiese leer (15000) wat o.l.v. Seba en Salmuna gevlug het. Hierin openbaar Gideon sy volle gehoorsaamheid aan die Here.

c Toe alles verby is, wou Israel vir Gideon koning maak. Dit was die hoogtepunt van sy loopbaan. Sy algehele oorwinning oor die Mideaniete was asemrowend. Die volk se natuurlike reaksie is om hom koning te maak. Watter mens sal nie só ‘n eer wil aanneem nie. Dit streel immers die mens se ego. Maar nie Gideon nie. Hy wys dit af en sê: “Jahwe sal julle Koning wees.” Hy is bereid om opsy te staan sodat die Here alleen Koning kan wees. Ongetwyfeld die vrug van die Gees.

d Blykbaar wou Gideon dat die Here (en nie ‘n mens nie) oor Israel regeer. Daarom maak hy ‘n Efod van goud. Die Efod was die priesterlike skouerkleed wat die Hoëpriester gedra het wanneer hy die Here raadpleeg (Eks 28, 39).

MAAR DAN DIE GROOT RAAISEL: DIESELFDE GIDEON TREE VANUIT DIE SONDIGE NATUUR OP:

a Hy straf die dorpies Sukkot en Pnuel omdat hulle nie aan sy manskappe brood wou gee tydens die stryd nie. Hy breek Pnuel se toring af en maak al die inwoners dood. Sukkot se leiers ransel hy af met woestyndorings en distels. Wie kan ontken dat dit onnodig wreed is?

b Gideon slaan albei oorblywende Mideanitiese leiers – Seba en Salmuna – dood omdat hulle sy broers doodgemaak het. Weer eens baie wreed. Dalk was dit die enigste taal wat primitiewe mense in primitiewe tye verstaan het. Vandag nog is dit ‘n gelowige se reg om uit selfverdediging ‘n lewe te neem. Wanneer dit uitloop op ‘n keuse tussen jou lewe en/of jou aanvaller s’n, mag die gelowige homself verdedig. Dalk was Gideon se optrede ‘n uitbeelding van Gód se wraak (Deut 32:35) oor goddelose nasies. Met hierdie wraak sal elke mens wat Jesus se dood geminag het, te doen kry (Hebr 10:29). Tog is dit ‘n vraag of Gideon werklik so wreedaardig moes optree.

c Toe Gideon met die Mideanitiese leiers klaarspeel, neem hy die “maantjies” om die nekke van die vorste se kamele vir homself. Hierdie maantjies was ornamente wat die heidene gebruik het vir die afwering van bose geeste. Die kiem van sonde en dwaling sit maar in Gideon se optrede, nie waar nie?

Hoe moet hierdie tweeslagtigheid verstaan word? Maarten Luther het van die gelowige gepraat as “simul justus et peccator” – tegelyk geregverdigde én sondaar. Met die klem op tegelyk. Dit is die stryd van die gelowige. Dit is die Romeine 7 stryd. Dit is nie normaal nie, maar ‘n stryd. Die oue mens gaan dood en ‘n nuwe word gebore. Terwyl jy stik aan die sterwe van die oue, val jy oor die lomp voetjies van die nuwe. Dit word nie goedgepraat nie, maar dit is gewoon ‘n realiteit.

Die grootste raaisel vind ons egter aan die einde van die hoofstuk. Gideon se goedbedoelde Efod word vir Israel ‘n strik. Hulle verruil die amptelike erediens rondom die verbondsark vir die “private tempel” wat deur Gideon se toedoen ontstaan het. Daarom sê die skrywer dat Gideon die volk godsdienstig laat “hoereer” het – teen Gideon se bedoeling in. As hy hom liewer maar net by militêre sake wou bepaal het. Die tragiese is egter: Net na Gideon se dood, het die volk weer met Baälaanbidding begin. Meteens was Gideon, wat so baie vir die Here se kerk beteken het, vergete. Hulle maak vir hulle ‘n god “Baäl-Berit” wat beteken “Baäl van die verbond”. Kon dit wees dat hulle vir hulle ‘n ánder verbondsgod wou skep? Meteens het hulle die ware God van die Verbond, wat hulle uit die mag van die Mideaniete gered het, vergeet. Dít is die grootste raaisel. Simul justus et peccator.

CategoryRigters

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew