Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 8: RIGTERS 7 > MAGTIGE WEERMAG VAN …. 300!

Die Here se toesegging (met tekens verseël) (hfst 6) het vir Gideon moed gegee. Nou sien hy kans vir die Mideaniete wat 135000 man sterk was (8:10). Maar, o weë, Gideon se manne was slegs 32000! En dan sê die Here jou werklikwaar dat hulle te véél is! Indien hulle sou wen, sou hulle in hulleself roem. Die wat bang is, mag maar huistoe gaan. 22000 gaan toe dankbaar huistoe. Wat ‘n getuigskrif vir Israel. Maar die oorblywende 10000 is nog te veel vir Jahwe. Hy sal hulle maar self sif deur dop te hou hoe hulle water drink. Diegene wat die water met die hand skep en diegene wat die knieë vooroor buig. Die verdeling is toe 300 teenoor 9700. Met die 300 sal die Here Sy volk red. 300 teenoor 135000. Nadat die 31700 vertrek het, was daar seker net stilte soos op Nuweland wanneer die skare weg is en net die skoonmakers soos spokies tussen die afval beweeg. Die Here red nie met getalle of menslike bekwaamhede nie!

Die Mideaniete het soos springkane in die laagte gelê en hulle kamele was so ontelbaar soos die seesand (7:12). In die berg sit Abraham se 300 kinders en bewe. Gideon moes dink: “Here, wáár is U belofte aan Abraham dat híérdie land aan sý nageslag sal behoort en dat sý nageslag soos seesand in menigte sal wees? Die FEITE lyk dan so anders. Dáár is die menigte nou – aan die verkeerde kant – die kant van ongeloof!” Gideon was allesbehalwe ‘n stoere held. Hy het kleivoete gehad. Daarom gee die Here hom toestemming om sy bediende Pura saam te vat na die Mideaniete se laer – sodat sy bang hande sterk kon word. En Gideon vat sowaar vir Pura saam. God en Sy beloftes alléén is maar nét nie genoeg nie. Só gee Gideon ook vir ons nuwe moed, want indien dit nie vir Sy geduld was nie, was ons ook al lankal onderdeur. Gideon is geen “geloofsheld” na wie se optrede ons moet probeer strewe nie! Nee, hy kom staan langs ons met sy bange kleivoete – om ons moed te gee.

Toe Gideon en Pura tot vlak by die vyandelike laer sluip, hoor hulle hoe een Arabier aan sy maat ‘n droom vertel – van ‘n hardgebakte garsbroodjie wat van die berg af ‘n hele ent onderstebo rol. Toe sê sy maat met ‘n bewende stemmetjie: “Dis niks anders as die swaard van Gideon nie!” Toe het Gideon aanbid. Wat hy gebid het, weet ons nie, maar hy het sekerlik sy ongeloof bely en verder net dankie gesê. Maar juis dit is geloof: om met jou ongeloof na God te vlug. Luister na Gideon se geloofsbelydenis toe hy by die bende van 300 kom: “Kom, maak klaar, want Jahwe gee die Mideaniete in julle hand.” Nou het hy die Here se woorde styf in sy hart. Nêrens lees ons weer dat die Here hom met sakramente pamperlang nie. Gideon maak van die oorlog ‘n geloofsonderneming. Die 300 gaan glad nie eens veg nie! Daar is nie eens sprake van swaarde nie, want hulle gaan glad nie veg nie. Hulle gaan net KYK. Met ramshorings, leë kruike en fakkels, is die 300 toegerus. Toe hulle by die rand van die laer kom, blaas hulle die ramshorings, slaan die kruike stukkend en hou die fakkels omhoog. Toe roep hulle: “Die swaard van Jahwe en van Gideon”. Die fakkels was in hul linkerhande en die ramshorings in die regterhand. Daar was nie nog ‘n hand vir ‘n swaard nie. Die geroep van die paar honderd man was weinig meer as die klap van ‘n afsetterspistool. Die klem val op iets anders: hoe hulle bly staan het! Sonder om ‘n hou te slaan. Toe die Mideaniete die ramshorings hoor, was dit soos God se stem wat hulle heel waansinnig maak en het hulle sommer mekáár aangeval (7:22). Byna soos die spraakverwarring by Babel. Kamerade word skielik vyande.

Hierdie soewereine reddingsdaad van God moet volgens Jesaja 10:26 vergelyk word met die gróót verlossingsdaad van die Eksodus, die uitredding uit Egipte. Jesaja sê hierdie slagting van die Mideaniete is vergelykbaar met die Egiptenare wat in die see verdrink het toe God die water laat terugvloei het. Dit was dus asof die Here ‘n “kyk-weer” vir Sy volk wou gee – ‘n oudiovisuele les van wat destyds by die eksodus uit Egipte gebeur het. God red Sy mense man-alleen. Al aandeel wat die volk in die redding het, is om te murmureer en dit te probeer boikot! Die idee dat ons met God moet saamwerk (sinergisme) vir ons redding is gewoon kettery. God red ons – net omdat Hy wil – ten spyte van ons murmurering. Met Christus se koms het Hy dit wéér gedoen en ook finaal gedoen – toe Hy Sy Seun aan die kruis opgehang het. Só is ons eens en vir altyd gered. Maar bly ons nou maar so passief sit? Nee, indien van hartstogtelik gló wat God gedoen het, kom ons beslis in beweging. Dan word ons gehoorsame kinders – OMDAT ons verlos is! Dit is presies wat in Rigters 7:23 -25 beskryf word. Die redding is deur Jahwe volbring, maar nou word die volk opgeroep om dit op te volg. Efraim kry die opdrag: “Sny die Mideaniete van die driwwe en waters af. Blokkeer die ontsnaproetes!” Die seël word op die oorwinning geplaas wanneer twee vorste van Midian, Oreb (raaf) en Seëb (wolf) gedood word.

CategoryRigters

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew