Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 6: RIGTERS 5 > SOOS DIE OPGANG VAN DIE SON IN SY KRAG

Hierdie lied moet in direkte aansluiting by hfst 4 gelees word – die oorwinning oor Sisera. Hfst 5 is Deborah en Barak (die heuningby en weerligstraal) se lofpsalm om die Here te eer (en niemand anders nie) omdat Hý Sy volk (wat verdien het om veroordeel te word) van die vyand verlos het. Dit is vir ons geen geringe taak om ‘n gedig te ontleed wat 3000 jaar oud is nie! Daarby kan verskillende woorde op verskillende maniere vertaal word. Tog mag ons nie – net omdat dit moeilik is – by hierdie loflied verbygaan in ons studie nie, omdat dit die Woord van God is en Hy vandag nog hierdeur met ons praat. Laat ons dus fokus op sekere kerngedagtes:

Verse 1-11: Slegs die HERE moet geëer word, want die oorwinning is Sýne. Hoe maklik kon Deborah en Barak dit miskyk, want húlle was immers die persone wat in die stryd opgetree het. Dit is altyd weer die versoeking: om op die méns te let. Maar, onder leiding van die Heilige Gees, behou Deborah en Barak die regte perspektief. Alhoewel Deborah die leiding geneem het (v 7) en die offisiere bereid was om te veg (v 9) is dit Gód wat handel. Wanneer sal die Here se mense tog leer dat, elke keer wanneer hulle vreemde gode kies, daar oorlog kom in plaas van vrede (v 8)? Dán word hulle óntwapen deur die gode wat hulle gekies het. Moeilike les om te leer.

Verse 12-17: Hier kom die vraende verwyt: Israel was nie eendragtig in sy stryd teen die vyand nie. Tewens, daar was al onmin en tweedrag onder Jakob se seuns van dié tyd af toe hulle in Sigem hulle pa se kleinvee opgepas het. Nou was dit steeds so, al was Jakob se seuns lankal dood. Toe die stryd teen Sisera begin, sit die stam Ruben droomverlore en musiek luister terwyl hul broers tot die dood toe veg (vv 15-16). Ruben kon dit nie verder bring as goeie voornemens nie. En wat van Gad en die halwe stam van Manasse? Hulle sit rustig oorkant die Jordaan. En Dan en Aser heg meer waarde aan hulle handeldrywery (eie belang). Maar nie Sebulon en Naftali nie. Met doodsveragting het hulle geveg. Selfs in die uur van sy triomf, was die Here se volk verdeeld. Is dit nie steeds die swakste skakel in die kerk nie?

Verse 19-23: Nou kom Deborah by ‘n digterlike terugblik op die geveg self. Die stryd tussen lig en duisternis. Die Here het letterlik Sy skepping (die elemente) ingespan aan Israel se kant. Sy geskape natuur is ook aan Sy volk se kant! Israel se swakker wapentuig is geen probleem as sterre en riviere aan hulle kant veg nie. Net soos met die uittog uit Egipte toe hemel en aarde letterlik voor die majesteit van God gebeef het. In hierdie geval het die Here die spruit Kison gebruik. Die sterre het nie regtig aan die geveg deelgeneem nie, maar onthou: dis ‘n gedig. Die digteres verlekker haar in die komplot tussen Jahwe en sy riviere. Soos die Here dit met Barak afgespreek het (4:7) het Hy vir Sisera na die Kison gelok en hom daar mét die rivier oorrompel. Maar dan weer die kontras: Die Israelitiese dorpie Meros het afsydig gebly. Daarom moet hy vervloek word. Hulle het die Here se mense nie in die stryd gehelp nie. Wat ‘n kontras: Sterre, wolke en riviere veg aan die Skepper se kant, maar sommige van Sy mense wat na Sy beeld gemaak is, bly afsydig. Dit is noodsaaklik om betrokke te wees in die (reeds oorwonne) stryd tussen lig en duisternis.

Verse 24-31: Meros word oor sy passiewe houding vervloek, maar nie Jael nie. Sý het Sisera gedood. Tog was Jael geen medestryder van Israel nie. Sy was Sisera se vriend, maar het skielik teen hom gedraai toe sy besef hy het die stryd verloor. Sy verwerf dus haar seën (deur Deborah) sonder verdienste. Die gedig eindig: Al Jahwe se vyande moet omkom. Geen gevoellose wreedheid, maar ‘n onderstreping van die erns van opstand teen God. Die dood van Sy vyande spreek egter nie die laaste woord nie. Nooit nie! Die laaste woord behoort aan díé wat Hom liefhet. Wie Hom liefhet ís soos die opgang van die son in sy krag. Glo ons dit van onsself? Hoe gemaak wanneer ons dit nié voel nie? Moet ons nie liewer vanuit die geloof ons vertrekpunt neem nie? Die geloof (wat op die Skrif gegrond is) wat sê: Ek is iemand wat Hom liefhet, daarom ís ek soos die son in sy krag.

CategoryRigters

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)