Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

WOORD-IN-AKSIE 2012

TAFELBERG GEMEENTE

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 4: RIGTERS 3: 7-31 > DIE HERE GEBRUIK SWAKKE MATERIAAL

As ‘n mens Rigters 1: 11-15 & 1 Kronieke 4:13 bý Rigters 3: 7-11 lees, dan weet jy álles wat die Bybel oor die eerste rigter Otniël (leeu van God) sê. Sy vrou was ouer as hy en het op sy kop gesit. Sy het hom gedwing om grond by sy skoonpa te vra (1:14) en het hom verneder deur nog fonteine óók te vra. Sy was blykbaar ‘n soort terroris. Hul eerste kind se naam was “vreesbevange”. Otniël het 18 jaar lank onder haar gely – en toe sterf sy. Daarná het die Here vir Otniël gebruik om Sy volk te red uit die hand van die Mesopotamiërs. Hy het 40 jaar oor die volk regeer. Ja, toe die nood op die hoogste was, voorsien die Here die regte man – ondanks die huislike probleme waarmee hy te kampe gehad het. Let tog goed hierop: Ten spyte van die persoonlike kwellinge waarmee ‘n gelowige dikwels te kampe het, roep God hom/haar steeds vir ‘n taak. Die persoonlike kwellinge mag nie ‘n struikelblok wees in die weg van gehoorsaamheid en trou aan die Here nie.

Ná Otniël se dood, het die volk weer gestruikel. Toe gebruik die Here die Moabitiese koning Eglon om hulle te tugtig. Eglon verower Jerigo en sit vir 18 jaar daar in sy paleis en teer op die verbondsvolk se belastings. Stel jou voor: God se geredde volk is slawe van Eglon! Op die lange duur kan die Here dit egter net nie meer verdra dat Sy verloste mense so swaarkry nie. Daarom roep Hy vir Ehud as rigter. Ehud was ‘n afstammeling van Benjamin (“seun van my regterhand”) en hy was linkshandig. Dus effe onhandig vanuit ‘n regshandige persoon se oogpunt. In God se hand sou hy egter ‘n verlosser word. Die Here roep en gebruik dus ook diegene wat uit menslike oogpunt nie so fluks, rats en flink is nie.

Ehud was blykbaar ‘n betroubare man. Vir 18 jaar lank het hy die Israeliete se belastinggeld Jerigo toe geneem – vir Eglon se skatkis. In Jerigo het die vyand hom skynbaar vertrou. Soveel so dat hy díé keer toegelaat is om met die koning te praat! Slordige sekuriteitsreëlings, sou ‘n mens kon sê. Hulle deursoek hom nie eens nie – kyk net so bolangs. Hulle dink nie eens daaraan dat ‘n man wat onhandig links is, ‘n wapen aan sy regtersy kan dra nie. En dis presies wat Ehud gedoen het. Hy het ‘n swaard onder sy klere versteek. Om koning Eglon te vermoor! Toe hy by die koning kom, deel hy hom mee dat hy ‘n belangrike boodskap van God het. Eglon beveel almal om die vertrek te verlaat. Hy staan selfs op om die goddelike boodskap te hoor. Ja, as God praat, staan selfs ‘n heidense koning op. Oorgretig en nuuskierig om te hoor wat nét vir sý ore bedoel is! Toe steek Ehud hom met die dolk wat onder sy klere versteek was. Eglon was bitter vet en die vet peul uit die wond. Eglon sterf op slag. Ehud kom ongesiens weg. Die koning se personeel wag buite met die gedagte dat hy dalk besig is om sy “voete te bedek” (ontlas). Dit gee vir Ehud die kans om veilig weg te kom en die ramshoring te gaan blaas. Die horing van oorwinning. Die linkshandige agterryer word skielik generaal! Ehud neem die militêre leiding en die leierlose Moabiete word uitgewis. Israel is verlos! Niemand kon twyfel dat Jahwe se hand agter alles was nie. Onthou: Ehud was geen militêre strateeg nie. Eintlik kon alles skeefgeloop het. Die wagte kon sy swaard ontdek het of die koning kon ‘n sterwensgil gegee het. Tog het alles seepglad verloop. Die vraag is: Het óns ook die reg op tiranne te vermoor? Nee. Alhoewel God vir Ehud as rigter geroep het, het Hy nooit aan hom voorgeskryf hóé hy die volk moet red nie. Die moord was sy eie plan. Tog vang die gebroke en sondige werklikheid nie vir God onkant nie – Hy bereik Sy doel.

Van die derde rigter SAMGAR word bitter weinig gesê. Omtrent net ‘n grafskrif: “Hier lê Samgar die seun van Anat. Hy het 600 Filistyne met ‘n osdrywerstok doodgeslaan en Israel verlos. Net dit. Slegs een versie. Eintlik was dit geen oppervlakkige gebeurtenis nie. Dit was Israel se eerste kragmeting met die Filistyne – een van hulle latere mees gedugte vyande. Wat ons egter moet raaksien is: Die instrument in die Here se hand is van weinig belang. Sy besonderhede is onbekend. Sy naam sê nie veel nie. ‘n Mens hoef nie “iets” te wees om deur die Here gebruik te word nie. Ménse kom en vergaan – maar wat vir ewig bly staan is: God red. Dit is van Samgar belangrik: Dit was die HERE was verlos het. Ons moet tog nie deur die leed van die lewe mislei word nie. Ons swaarkry en moeite spreek níé die laaste woord nie. Die laaste woord is dat God verlos en voorsien.

CategoryRigters

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew