Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 3: RIGTERS 2: 11- 3:6 > GEEN WILLOSE PIONNE

Hfst 2 dien as ‘n soort “voorskou” van die hele boek. En, dit is geen suikersoet verhaaltjie nie! Dit eindig nie met die woorde “en hulle het toe vir altyd gelukkig gelewe” nie. Die skrywer kan ongelukkig nie volstaan met die goeie nuus dat God rigters gestuur het om Sy gemeente te red nie. Die skrywer word gedwing om óók te skryf: “na hulle rigters het hulle ook nie geluister nie.” (v 17). Die boek Rigters handel oor verbondsmense wat versleg van kwaad tot erger. Mense wat sonder enige meriete deur God gered word, en dan bly wegloop van Hom af. ‘n Mens moet egter nie ophou lees en jou neus optrek vir die gru-stories nie, want die verhale is eintlik baie bekend. Dit kom ontstellend naby aan jou eie lewensverhaal. Ons moet dus aanhou lees en sodoende iets leer van die onverklaarbare diepte van God se liefde. God is nie soos ‘n mens wat kwaad met kwaad vergeld nie. Sy diepste aard is om te vergewe. Dáárom sê vers 18 dat Hy rigters onderskraag het en vir die ongehoorsames goed was omdat Hy medelye met hulle gehad het vanweë hulle gekerm…..

Het die Here se medelye dan nie opgeraak nie? Met sekere individue, ja – dié wat in hulle verharding end-uit voortgegaan het en daarin gesterf het. Maar, nie met Sy vólk nie. Meer as ‘n 1000 jaar ná hierdie geskiedenis, het God die diepte van Sy medelye met Sy volk-uit-alle-volke getoon toe Sy Seun aan die kruis gesterf het – juis as gevolg van Sy volk se verharding, maar ook vír hulle verharding. Daardie dieptepunt van God se liefde moet ‘n mens deurentyd as agtergrond sien van al die verlossers en verlossings in Rigters. Wanneer ‘n mens dus in vers 19 lees van die toenemende bederf, moet dit jou wel op jou knieë bring omdat dit ook jóú verhaal is, maar dit moet jou nie wanhopig maak nie.

Die “tweede inleiding” (sien vorige lesing) eindig nes die eerste een: Israel woon nie alleen in die beloofde land nie, maar moet homself tussen heidene en afgode handhaaf en word deur die heidene verdruk. Die Here self sit egter hieragter, want hulle het die verbond oortree. God doen dit egter nie omdat Hy (soos ‘n mens) leedvermakerig is nie. Hy doen dit in hulle eie belang. Hy gebruik die heidennasies soos ‘n roede om Sy gemeente op te voed en te leer wat oorlog is.

Maar waarom het God nie net die hart van Sy kinders met één magsdaad verander nie? Hy kón tog! Hy is almagtig. Ja, Hy kon, maar Hy wou nie. Want Hy werk nie met mense asof hulle willose pionne op ‘n skaakbord is nie. Hy versit die wêreld vir Sy mense, maar Hy handel tog met hulle soos met verantwoordelike mense. Daarom verander Hy die kwaad in beproewings & geleenthede. Daarom verdryf Hy nie meteens die vyand nie. Dink maar hoeveel dinge Hy in ons lewens laat “oorbly”. Dink aan Paulus se doring in die vlees. Natuurlik is dit maklik vir óns – wat op ‘n veilige afstand van duisende jare – na die getoetsdes in Rigters kyk. Maar die Israeliete se probleme was ook dikwels baie ingewikkeld. Wat doen ‘n mens wanneer jou seun met ‘n meisie by die huis aankom en haar ouers sê hulle sal slegs toestemming tot die huwelik gee indien die paartjie in die tempel van Astarte trou – met alles wat dít meebring? Dán word dit moeilik om die Here se toets te slaag én nog jou kind te behou. Maar tog moes die Israeliete ook in sulke omstandighede steeds onthou dat die Here Abraham se geloof jare te vore op Moriaberg getoets het én vir Isak gespaar het (Gen 22).

CategoryRigters

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)