Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 2: RIGTERS 2: 1-10 > ANTWOORD OP ‘N LEWENSRAAISEL

In hfst 1 het ons gesien hoedat die destydse Israel-gemeente aan die Here se belofte moes vashou en die beloofde land gaan inbesitneem. Die Here het immers Sy belofte op Sy erewoord gegee. Aanvanklik het dit goed gegaan, maar geleidelik het die gemeente teen die heidene se ysterwaens begin vaskyk en later in louheid die Here se wil verontagsaam deur die heidenvolke dienspligtig te maak pleks van uit te roei. Dáárom staan die Engel van die Here skielik tussen hulle. Dit is geen gewone engel nie. Dit is díé Persoon wat soms in die OT verskyn, wat gelyk is met God (Jahwe) en tóg ook van Hom onderskeie is. Sien ook Eks 3:2 e.v.; 23:20-23 en 33:2. Ons sou kon sê dit is Christus vóór Sy vleeswording. Díé Engel praat dus met gesag. En toe Hy klaar gepraat het, bars die hele gemeente in trane uit. Hulle huil. Daarom word die plek waar die Engel gestaan het BOKIM genoem – dit beteken HUIL/WEEN.

Waarom het die volk met ‘n geween op die Engel se woorde gereageer? Omdat die Engel se woorde lig werp op een van die lewe se diepste raaisels. Wie dít snap, wil huil. Wie dit nie snap nie, blý trots en eiesinnig. ‘n Mens verstaan dit beter deur die Engel se woorde te vergelyk met die gebeure in Genesis 2-3. Vergelyk Rigt 2:1 met Genesis 2:16: “Ek het julle uit Egipte laat trek en julle gebring in die beloofde land” ….. en …… “van al die bome in die tuin mag jy eet.” Vergelyk nou Rigt 2:2 met Gen 2:17: “Ek het gesê julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie”…. en……”Van die boom van kennis van goed en kwaad mag jy nie eet nie…” Vergelyk nou Rigt 2:2 met Gen 3: 9,13: “Maar julle het nie na My stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen?” ….. en …..”Waar is jy? Wat het jy nou gedoen?” Vergelyk laastens dít wat hieropvolgende gesê word in Rigt 2:3 en Gen 3: 15,17,19: “Ek sal die heidene nie voor julle uit verdrywe nie sodat hulle ‘n vyand vir julle sal wees en hulle gode vir julle ‘n strik” …… en…… “Ek sal vyandskap stel tussen die slang se saad en haar saad. Hy sal jou kop vermorsel en jy sal Hom in die hakskeen byt…vervloek is die aarde om jou ontwil. In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet.” Vergelyk dit ook met Natan se betoog teen Dawid in 2 Samuel 12: 7-9 – die ooreenkomste is identies. Die skuld vir die swaarkry in hierdie lewe lê nie by God nie, maar by ons. Wie so ver gekom het om dít te erken, leer om dít te erken, leer ook algaande dat vir díé wat God liefhet, die swaarkry nie straf is nie, maar loutering en beproewing.

Rigters het eintlik twéé inleidings. Vanaf 2:6 begin die verhaal weer van voor af. Dit hou verband met die verteltegniek wat die mense in daardie tyd gebruik het. Dit klink of die verhaal weer van voor af begin word, maar eintlik wil die skrywer iets anders beklemtoon (vgl die “twee skeppingsverhale” in Genesis 1:1 – 2:4 en 2:5e.v. In die tweede verhaal zoom die skrywer in op die méns se skepping).

In die “tweede inleiding” wil die skrywer fokus op die eintlike oorsaak waarom Israel so maklik kompromië gemaak het en die Here verloën het. Daar het naamlik ‘n generasiegaping ontstaan. Toe Josua en sy tydgenote dood is, het ‘n nuwe geslag Israeliete na vore gekom wat nie die Here se reddingsdade eerstehands ervaar het nie. Hulle het dit by hulle ouers gehoor en dit as oumensstories afgeskryf. Vir húlle was daar ‘n voor die hand liggende opsie: Om te maak wat almal rondom hulle doen. Dit wat mode was en aan die orde van die dag was, was die “lekker” godsdiens van die Baälaanbidding – die natuurgodsdiens. Maar, toe het hierdie tweede geslag wegloop-kinders van die Here agtergekom wat die verlore Seun (Luk 15) ook agtergekom het: naamlik dat indien ‘n mens jou rug na jou Vader draai, jou lewe ‘n stuk hel word. Jy word ‘n slaaf van die sonde en van ander mense. Toe die Israeliete hulle andersheid prysgee, was hulle nog slegter as die ander volke. Hulle het die ander volke se minderes geword. Hulle is deur die ander volke onderdruk. Dit was nie die sameloop van omstandighede nie. Gód het daaragter gesit. Hý het hulle oorgegee aan die vyand. Maar dan – en dit is die vreugdeboodskap van Rigters – as hulle in groot benoudheid kom, verwek God rigters wat hulle uit die hand van die vyand verlos. Dit het Hy gedoen omdat Hy die Vader van liefde is. Die Vader wat voorsien.

CategoryRigters

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)