Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

WOORD-IN-AKSIE 2012

TAFELBERG GEMEENTE

REEKS: RIGTERS VIR VANDAG

DEEL 1: RIGTERS 1 > GOED BEGONNE HALF GEWONNE

Agtergrond van die boek Rigters: Die rigtertydperk val tussen die intog in Kanaän en die koningstydperk. Eintlik is die woord “rigter” misleidend. In die Hebreeus beteken dit REGTER of REGEERDER. Die volk het geen koning gehad nie en die Here het “regters” gebruik om die volk te “rig” en te “red” in tye van nood. Rigters is níé die geskiedenis van magtige helde wat met spierkrag die vyand verslaan het nie. Dis die verhaal van ‘n primitiewe volkie wat baie gou hul wonderbaarlike uitredding uit Egipte vergeet het en by elke moontlike geleentheid die “lekker godsdiens” (natuurgode) van die heidene wou aanhang. Maar, dan laat die Here hulle nie aan hulleself oor nie, maar roep ou mense, vrouens, banges, buite-egtelikes en onbekendes om die volk te red. Daarmee illustreer Hy dat dit Gód alléén is wat red en nie die mens nie! Rigters is geen heldeverhaal nie, maar is die verhaal van korrupsie, verraad en geloofsontrou in die ergste graad. Dit vertel van burgeroorlog, moord en geweld tussen die kinders van die verbond! Die laaste 5 hoofstukke is ongehoord skandalig. Daar is baie raaisels in Rigters – net soos in die lewe as sulks. Waarom het God dit en dat toegelaat om te gebeur? Wat was Sý aandeel in alles? Hoe kon Hý opdrag gee dat uitwissingsoorloë gevoer word? Een ding weet ons: dat Hy déúr al die wandade heen werk en met krom stokke reguit strepe trek en vir Sy mense Sy koninkryk laat kom. Hy is besig om Sy heilsplan te laat ontvou tótdat die kruis op Golgota staan en die PinksterGees wrede harte verander en die heil ook na die heidene laat deurbreek. Juis dáárin lê die diepe troos van die boek Rigters. Naamlik dat Gód red en voorsien het en dat Hy dit sal aanhou doen. Hý het die boedel beredder, al het die mense geknoei en verbrou. Die skuld van Sy volk was nie vir Hom te veel nie. So word Rigters die dekor vir die kruisgebeure – toe verraderlike moordenaars Sy Seun aan ‘n kruis opgehang het, maar Hy juis dáármee (met die moord) hulle skuld betaal het en hulle gered het. Rigters is geskryf vir mense wat moedeloos is omdat hulle so dikwels struikel en wonder of God se geduld met hulle nie al op is nie…

Nadat Josua die 12 stamme die Beloofde Land ingelei het, het die Here die land verdeel en aan elke stam uitgewys wat sý erfdeel sal wees. Maar, die erfdele moes nog verower word, want daar het oral heidense mense gewoon. Wat God gegee het, moes gelowig in besit geneem word. Onthou: God is besig om Sy belofte van Genesis 3:15 (die moederbelofte) tot uitvoering te bring. Daarom berei Hy nou ‘n LAND waar die Verlosser gebore kon word. Die land moes nou in besit geneem word. Tot ‘n groot mate vertel Rigters hoe Israel hierdie taak uitgevoer het. Die verhaal begin met die stamme Juda en Simeon wat optrek om hulle erfdeel los te veg. Die Here het Besek in hulle hand gegee. Terwyl die Here ‘n land gereed maak waar Hy Sy verlossingsplan kan voltrek, tref Hy die afgodsdienaars en heidene wat – net soos alle mense – die dood verdien. Die loon van die sonde is die dood (Rom 6:23). Die Here het begin om die bose mag van die heidendom te verbreek. Hy was besig om ‘n pad oop te breek vir Sy Vredevors wat op Kersdag sou kom. ‘n Hele aantal stede se name kom in die veroweringslys voor. Vir ons – wat 3000 jaar later leef – het dit nie die gevoelswaarde wat dit daardie tyd gehad het nie. Gedagtig aan ons eie destydse oorlog in Angola, moes dit die trefkrag gehad het van die volgende koerantopskrif: “Luanda van in SA hande”. Die eerste deel van Rigters 2 lyk soos ‘n indrukwekkende lys verowerings deur ‘n onstuitbare weermag…..

Maar dan verskyn die eerste krakie. Vers 19 > “Juda kon nie die bewoners van die laagte verdryf nie, omdat hulle ysterwaens gehad het.” In dieselfde vers word gesê dat die Here mét Juda was. Maar, sy moed het hom begeef toe hy die vyand se ysterwaens sien. Juda – uit wie die Verlosser ‘n paar geslagte later gebore sou word – het vir ysterwaens teruggedeins. Die Here se kinders wou nie end-uit die pad stap wat die Here alrééds voor hulle oopgemaak het nie. Alhoewel daar in die res van hoofstuk 1 sprake is van nóg oorwinnings – byvoorbeeld oor Hebron (Kirjat-Arba) en Bet-El, lees ons 7 keer in 7 verse die woorde “nie verdrywe nie”. Die Israeliete het die heidene nie finaal oorwin nie, maar oral met hulle bondgenootskappe gesluit en hulle dienspligtig gemaak deur hulle vir hulle te laat werk en belasting betaal. Een lang ry van ongelowige kompromieë. Is dit nie die groot swakplek van menige Christen nie? ‘n Geloofslewe wat gerysmier word deur kompromieë met God se vyande?

CategoryRigters

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew