Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG BYBELSKOOL 2010
Godsdienste & Kultusse No 5: Die Nuwe Apostoliese Kerk (NAK)

Die stigter was die Skotse prediker, Edward Irving (gebore in 1792). Hy het vurig gepreek dat die einde van die wêreld naby is en dat die Kerk swaar gesondig het deur nie al die ampte van Efes. 4:11 in te stel nie – veral ook die Apostelamp. Hierdie amp moes gou herstel word, voor die wederkoms, sodat die apostel die gelowiges kon verseël tot saligheid. In 1835 vind die wyding en afsondering van die eerste 12 apostels plaas. Die kerk brei uit na Europa – veral na Duitsland. In 1865 vind daar n afsplintering plaas oor die vraag of daar meer as 12 apostels benoem kan word. Hulle word genoem die Nuwe Apostoliese Kerk.

Hierdie Nuwe Apostoliese Kerk sit in 1892 voet aan wal in die Kaap in die persoon van Evangelis Klibbe en hy vestig die Kerk hier. Klibbe is egter vir ‘n vergadering na Duitsland. In sy afwesigheid neem ene Schlaphoff tydelik waar. Die boot waarmee hy sou gaan, het egter vergaan. Schlaphoff het gemeen dat Klibbe in die ramp oorlede is. Klibbe het egter met ‘n ander boot vertrek as wat gemeen is. As Klibbe dus terugkeer weier Schlaphoff om van sy apostelskap afstand te doen agv finansiële voordele van die amp.

Dit lei na ‘n hofsaak (1926). ‘n Skeuring vind plaas en ‘n nuwe kerk kom tot stand. Die regter bepaal dat die naam, die Ou Apostelkerk sal wees met Klibbe as die apostel. Die Ou Apostelkerk is dus ‘n latere afsplintering en die Nuwe Aposteliese Kerk is die oorspronklike kerk. Behalwe vir sekondêre verskille, is die twee kerke vandag nog baie dieselfde, maar baie vyandig teenoor mekaar en erken nie mekaar se apostels as ware apostels nie.

Ons moenie die AGS (Apostoliese Geloofsending) met die NAK/OAK verwar nie. Die AGS (“apostolies”) is ‘n Protestants-Christelike kerk terwyl die NAK/OAK nie hulself beskou as deel van die Protestantisme nie, maar as die enigste ware kerk(e) waardeur enigiemand salig kan word. Hulle glo nie werklik dat daar verlossing buite die NAK/OAK moontlik is nie. Die NAK/OAK het daarom ook nie bande met ander kerke nie. Deur die eeue het Protestantse kerke die NAK/OAK as nie-Christelike kultusse beskou omdat hulle op geen manier enigsins by die leer van die Skrif staan nie.

Voorts sal die fokus op die NAK geplaas word met dien verstande dat die OAK in hoofsaak dieselfde leer handhaaf. Die NAK is ‘n baie groot internasionale denominasie – en besonder groot in die Weskaap. Die grootste NAK kerkgebou in die wêreld is in Athlone, Kaapstad.

1. GESAG VAN DIE APOSTELAMP

Geloof in hedendaagse apostels, is die NAK se kerndwaalleer. Hulle glo dat die Here Jesus steeds Sy Kerk deur lewende apostels regeer. Hierdie apostels besit besondere magte, selfs om sonde te vergewe en met die Heilige Gees te doop. Hierdie apostels vorm saam met die sogenaamde “stamapostel” (hoofapostel) ’n gemeenskap wat aan die mensdom die Ewige Lewe bied, selfs aan afgestorwenes. Wanneer die lidmaat van die NAK dus die apostels as boodskappers van God aanneem en die sakramente uit hulle hand ontvang, word hulle ook kinders van God en nuwe skepsels uit die Heilige Gees. Die apostels word gesien as die godgewilde plaasvervanging van Jesus Christus in die vlees. Hulle is dus in ’n sekere sin Jesus Christus self!

Dit blyk ook dat die NAK-apostels se verlossingswerk selfs nie by hul dood ophou nie, maar in die hiernamaals onder die dooies voortgesit word. Die stamapostel “leef” ná sy dood in die lidmate voort wat daarop dui dat Stam-apostelverafgoding en -verheerliking geen grens het nie. Die stamapostel is die samebindende faktor. Hy is die sigbare hoof van die kerk en die hoogste gesag in alle aangeleenthede. Dus is hy die meeste bevoeg om die Skrif te verduidelik. Die stamapostel word dus in die praktyk letterlik verheerlik as God, as Christus en vrymagtige beskikker oor en skenker van die Heilige Gees.

WAT LEER DIE SKRIF? Die vereistes waaraan die oorspronklike apostels moes voldoen, dui daarop dat latere geslagte gelowiges nie apostels kon oplewer nie: Hand 1: 15-26 (moes teenwoordig wees tydens Jesus se openbare optrede vanaf die dag van Sy doop; getuie van Jesus se opstanding; die hemelvaart aanskou; deur die Here self aangewys en toegerus). Paulus was die uitsondering omdat hy ‘n bepaalde taak sou hê (evangelieverkondiging aan nie-Jode) maar ook hy is deur die Here self geroep en aangestel (Hand 9:1-16). Paulus was ook ‘n eerstehandse getuie van die opgestane Here. Die apostels was nie Christus-in-die-vlees nie. Hulle het niemand tot saligheid verseël nie en het nie die Gees uitgestort nie. Hulle was die grondleggers van die NT kerk (Efes 2:20). God self deel die heil uit – nie mense nie. Niks kan duideliker as 2 Kor 5: 18-19 wees nie. Die Skrif weet ook niks van ‘n “stamapostel” wat Christus op aarde is nie. Die Bybel weet ook nie van Petrus wat die eerste stamapostel (of pous) sou wees nie. Wat ‘n tragiese misverstand!


2. DIE GESAG VAN DIE SKRIF

Omdat hierdie apostels hulleself as goddelik sien, is dit verstaanbaar dat die Bybel vir die NAK ondergeskik gestel word aan die woord van die NAK apostels. Die Bybel is dus vir hulle ’n dooie boek, want dit is net die apostels wat beklee is met die “amp van die Heilige Gees” en net hulle wat die uitstorters van die Heilige Gees is. Sodoende is die apostels van die NAK die enigste wat God se wil vandag aan mense bekend maak en daarom kry ons: * dat die Bybel nie as die Woord van God en die manier waarop God vandag met die

mens praat nie, gesien word nie; * die preek van die lewende apostel is vir NAK lidmate “Gods Woord” is en kom dit slegs vanaf die Stamapostel in Duitsland.

Sonder lewende apostels was die kerk dan ook ná die dood van die oorspronklike apostels, in duisternis, want die woord van die

apostel was nie daar nie. Dit het die NAK in die 19de eeu kom herstel. Die belangrike lê

daarin dat die preek in alle NAK gemeentes tydens elke diens op Sondae en Woensdae

wêreldwyd presies dieselfde is—dit kom vanaf die Stamapostel, tans ene Jean-Luc Schneider. Slegs hy kan die Skrif onfeilbaar verklaar. (Herinner mens aan die Pous se mag

en invloed in die Rooms Katolieke Kerk). Die “lewende woord” is dus die woord van

die NAK apostels en die “verouderde woord” is die Bybel. Stamapostel Bischoff het in 1951

verklaar dat die wederkoms tydens sy leeftyd sou plaasvind. Wie dit nie glo nie, se name sou uit

die boek van die lewe geskrap word. Bischoff se dood in 1960 was die geweldigste slag wat die

NAK ooit kon tref, tog kleef hulle steeds vas aan die onfeilbare “apostelwoord”.

WAT LEER DIE SKRIF? Die Bybel getuig aangaande homself dat hy die Woord van God is – genoegsaam, absoluut gesaghebbend. God self praat deur die Bybel. 2 Tim 3: 14-17 is afdoende bewys hiervan. Maar kyk ook hoe Jesus self die Bybel beskou het in bv Mat 22:31-32, Joh 10:35.

3. VERSEËLING

Die NAK het ‘n 3de sakrament naamlik “verseëling” wat slegs deur ‘n apostel bedien kan word en is vir NAK lidmate van deurslaggewende belang. Die apostel salf die persoon met olie en lê hande op. Dit is die ontvangs van die Heilige Gees en die wedergeboorte. Hierdeur word die persoon kind van God. Hieruit word dit duidelik dat in die verseëling die verheerliking van die apostels ’n gruwelike uiterste bereik. Lidmaatskap van die NAK plus verseël-wees deur ‘n apostel, waarborg verlossing. Die grootste sonde is ook om die NAK te verlaat. Volgens stamapostel Bischoff word só iemand se naam uit die boek van die lewe gehaal.

WAT LEER DIE SKRIF? So-iets bestaan nie in die Skrif nie. Dit is ‘n mensgemaakte “sakrament”. Vrgl Galas 3:1,2,14 – Die Gees word deur die geloof ontvang. Uit gedeeltes soos Hand 2:14-18; Hand 10:44-48; Hand 8: 18-25 is dit duidelik van die apostel Petrus dat hy níé self die Gees uitgestort het nie, nie elke keer mense die hande opgelê het nie en nie die mag gehad het om sondes te vergewe en wedergeboorte te skenk nie!

4. NAGMAAL

Hierdie weeklikse gebeurtenis is vir NAK lidmate “’n onontbeerlike lewenswyse vir gees en siel” en word sonder wyn bedien (vgl Rooms Katolisisme) tot sondevergifnis. Die wat nie teenwoordig is nie, se sondes word nie vergewe nie. ’n Weeklikse nagmaal, en die wegbly daarvan wat beteken dat jou sonde nie vergewe word nie, het die uitwerking dat eredienste baie goed bygewoon sal word. Verseëlde en geredde NAK afgestorwenes kan elke Sondag saam met die lewendes deel in die nagmaal, want ook hulle het behoefte aan sielspyse en vergifnis. Verlore dooies wat by die stamapostel en apostels redding kom soek kan deel in die nagmaal by drie spesiale jaarlikse dienste vir dooies (sien punt 6 hieronder).


5. GELOOF


“Geloof” vir die NAK het ‘n totaal ander betekenis as wat dit in die Skrif het. Die NAK vind dit onmoontlik om vertroue te bou op ‘n onsigbare Christus en iets wat in die verlede op Golgota gedoen is. Die NAK “glo” in die sigbare openbaring van Christus van nóú, naamlik die apostels (veral die stamapostel). Die aanskou van, ontmoeting met, hoor van, aanraking deur die stamapostel, is vir NAK-lidmate die allersaligste “geloofsondervinding” denkbaar. Daarom hang daar foto’s van apostels in alle NAK huise, want die blote SIEN van die (stam)apostel versterk die “geloof”.

WAT DIE SKRIF LEER: Uit gedeeltes soos 2 Kor 4: 13-14; Joh 20:31, 27-29; Hebr 11:1-3 en Efes 2: 1-10 is dit duidelik dat ware geloof gebou word op dit wat in die Skrif staan, deur die Gees geskenk word en die historiese verlossingswerk van Jesus tot inhoud het.


6. REDDING VAN DOOIES

Die NAK bied aan afgestorwenes die geleentheid om tot redding te kom deur die troon van genade van die apostels. Dit is sonder twyfel een van die NAK se gevaarlikste dwalings. Die hoogtepunt op die NAK kalender is die drie spesiale dienste wat op die eerste Sondag van Maart, Julie en November plaasvind waartydens die stamapostel, wat daarop aanspraak maak dat hy die sleutels van die doderyk hou, die doderyk oopsluit om aan ontslapenes die geleentheid te bied om uit te kom en die aposteltroon te nader vir redding. Dit word moontlik gemaak deur die voorafgaande, toegewyde en verpligte gebede van lewendes en die getuienisse van afgestorwe “kinders van God” (NAK-geredde dooies) wat hierdie ontslapenes begelei na die troon van genade wat in die apostels gesetel is. Die stamapostel ‘bemiddel’ dan die versoening in belang van al die dooies wat kom redding soek en bedien die nagmaal aan twee priesterlike ampsdraers in die plek van die dooies.

WAT DIE SKRIF LEER: Dat afgestorwenes gered kan word is sonder meer ‘n onbybelse leerstelling. Vergl Hebr 9:27 asook Luk 16:19-31. Hierdie gebruik in die NAK is uiters gevaarlik omdat dit aan spiritisme grens en dus okkulties is. Bose geeste sal ongetwyfeld hierdie oop deur aangryp om die mense te belas en te bind.

Uit bostaande is dit verstaanbaar waarom ‘n gesprek tussen ‘n Christen en ‘n NAK-lidmaat prakties onmoontlik is: Die Christen redeneer slegs vanuit die Skrif terwyl die NAK nie deur die Skrif oortuig word nie en die woord van die NAK-apostels bó alles stel. Wat ‘n fatale flater!

Slegs die Heilige Gees kan in die NAK-lidmaat se hart werk om oortuig te word van sonde- en skuld en Jesus Christus deur die geloof op grond van die Woord as Verlosser aan te neem en dán die Heilige Gees inwonend as gawe te ontvang. Daarom moet die gelowige nie skroom om teenoor die NAK-lidmaat te getuig van persoonlike redding en geloofsekerheid nie, want juis hierdie getuienis kan deur die Gees gebruik word.

Dr Chris Saayman, Tafelberg Gemeente

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)