Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG BYBELSKOOL 2010
GODSDIENSTE & KULTUSSE
NO 3: HINDOEÏSME

Hindoeïsme is die godsdiens van Hindustan (oftewel Indië). “Hindustan” beteken “plek van die Indus(rivier)”. Niemand weet wanneer die Hindoeïsme ontstaan het nie. Niemand spesifiek het daarin ‘n rol gespeel nie. Die eintlike naam van die godsdiens is Sanatana Dharma (ewige wet) wat ‘n sameflansing is van talle oer-Indiese godsdienstradisies en kulture wat tot 4000 jaar teruggaan. Daarom is dit ‘n baie ingewikkelde godsdiens en moeilik om kortweg te verduidelik. Ons let op enkele basiese konsepte:

1. Die kern van die Hindoegodsdiens: Hulle glo dat daar een universele onpersoonlik siel/gees/god is wat hulle Brahman noem. Brahman manifesteer homself op duisende maniere in verskillende gode en daarby is ‘n stukkie van Brahman in elke mens (atman), dier – hele skepping (panteïsme). Brahman deursuur letterlik alles en almal. Elke mens dra dus iets goddeliks in hom/haarself. Alle lewe is dus heilig/gewyd (vandaar dat Hindoes hoofsaaklik vegetariërs is). Die éíntlike mens is die onsterflike lewensiel wat voortbestaan in verskillende liggame deur ‘n proses van geboorte en sterwe (reïnkarnasie). Soms word die lewensiel ingebore in ‘n menslike liggaam, soms in ‘n plantliggaam, soms in ‘n diereliggaam afhangende van hoe die vorige lewe geleef was (karma). Slegte karma sal gevolge hê in die toekoms. Huidige swaarkry is a.g.v. slegte karma in die verlede. Tewens, élke ding wat vandag in jou lewe gebeur is die gevolg van jou karma in ‘n vorige lewe. Die strewe van die Hindoe is om die siklus van samsara (reïnkarnasie) te verbreek en dat die siel één met Brahman te word (moksha) soos ‘n druppel deel word van ‘n oseaan. Totdat moksha bereik word, sal samsara nooit eindig nie. Die Hindoe se godsdiens is daarop gemik om moksha te bereik deur suiwer geestelike kennis vd waarheid te verkry d.m.v. verskeie metodes. Die “waarheid” is die besef dat slegs Brahman werklik bestaan, niemand of niks anders nie. Vir die Hindoe is die fisiese bestaan ‘n illusie. Slegs die lewende siel en Brahman bestaan wérklik. Hierdie “waarheid” moet ten volle gerealiseer word.

2. Hulpmiddels om moksha te bereik (weg tot saligheid): a) Strewe om geestelike kennis van die verhouding van Atman tot Brahman te kry – om ten volle te verstaan wát eenheid met Brahman behels. Onkunde hieroor lei tot slegte karma. Onkunde beteken om te dink dat jy slegs ‘n méns is en nie te besef dat jy goddelik is nie. Dit is die gróót oorsaak van slegte karma. Die mens staar hom blind teen die fisiese werklikheid en besef nie sy eie goddelikheid nie b) Meditasie om die ware self in jou te ontdek en eenheid met Brahman te bereik, c) toewyding aan gode, d) goeie werke vlgs die morele wette (dharma) wat vir die verskillende sosiale kastes geld. Elke Hindoe word gebore in die kaste waaraan sy ouers behoort. Rofweg bestaan daar 4 kastes: Geestelikes/onderwysers; regeerders; handelaars & boere; arbeiders. Binen elke kaste is weer honderde onderafdelings.

Die dharma verskil van kaste tot kaste. In sommige kastes sal die eet van vleis en hertrou van weduwees byvoorbeeld verbode wees en in ander kastes nie. Sommige Hindoes kies doelbewus ‘n lewe van absolute askese om dalk in hierdie lewe reeds moksha te bereik. Dan versaak hulle letterlik die lewe-op-aarde-as-sulks. In Indië is daar tans letterlik honderde duisende mense wat hierdie asketiese lewe beoefen in die strewe om absolute eenwording met Brahman te bereik vóór die dood.

3. Gode: Brahman manifesteer homself in duisende gode. Elke Hindoe (gesin) kies vir hom ‘n spesifieke god/gode na gelang van spesifieke omstandighede, behoeftes, voorkeure ens. Die god(e) wat ‘n individu/gesin kies, word gedien deur gebede en offerhandes van kosse, vrugte, drinkgoed. In elke huis is daar ‘n heiligdom waar beeldjies van die spesifieke god is en waar offers neergesit word. Die beelde is hulpmiddels om die godheid konkreet te maak, want die mens se hart sukkel om iemand abstrak te aanbid (soos ‘n landsvlag ‘n land konkretiseer en ‘n mens oor die vlag emosioneel raak). Wanneer vuur by die heiligdom gebring word, kry dit “lewe”. Verskillende lede van ‘n gesin kan verskillende gode kies en dien, want al die gode is manifestasies van één Brahman-energie. Voorbeelde van gode: Brahma (skepper), Vishnu (onderhouer), Shiva (vernietiger), Hanuman (aapgod wat moed en krag gee), Ganesh (met olifantkop).

4. Yoga (om te verenig) is ‘n integrale deel van Hindoeïsme. Die een bestaan nie sonder die ander nie. Die doel is om eenheid met Brahman (jou hoër self) te bereik deur die gedagtes tot totale stilte te bring. Sodoende word die natuurlike mens ‘n volmaakte mens.


5. Transendentale Meditasie is in die vyftigerjare ontwikkel deur Maharishi Mahesh Yogi. Kortliks behels dit meditasie m.b.v. ‘n klank/mantra wat op verskillende maniere aangewend word. Yogi het Hindoegode se name as mantras gebruik. Weer eens is die doel om die self te ontledig en die “hoër self” te ontdek.

6. Inklusief en verdraagsaam: Hindoeïsme veroordeel nie ander godsdienste nie omdat daar geen sentrale waarhede in die Hindoeïsme is nie. Alle godsdienste kan die waarheid beethê. Hulle het daarmee vrede of ander godsdienste moksha volgens ander weë as die Hindoe dharma bereik. Dit is selfs vir ‘n Hindoe moontlik om Jesus “aan te neem” te same met al die ander gode. Daarom is hulle nie antagonisties teenoor Christene of geestelike gesprekke met Christene nie. Die waarheid is iets relatief.

7. Die New Age beweging is feitlik volledig op die filosofiese grondbeginsels van die Hindoeïsme gebaseer. Tewens, die Hindoeïsme is die mees geskikte voertuig om wêreldgodsdienste tot ‘n eenheid te smee – vanweë sy verdraagsame buigbaarheid. New Age aanhangers is dus onwetende besig met ‘n Westerse vorm van Hindoeïsme. In wese leer die New Age Movement ook dat die mens goddelik is en dit moet ontdek d.m.v. meditasie, yoga ensovoorts.

8. Evaluering: Wat leer die Skrif?

a) Godsbegrip: Die ware God is persoonlik, goed, liefdevol en wil in ‘n verhouding met mense leef. Hy is ook heilig en regverdig en elke mens is aan Hom verantwoordelik. Daarbewens het Hy die aarde vir ‘n goeie doel geskape.

b) Mensbegrip: Vlgs Hindoeïsme is die mens ‘n goddelike wese maar hieroor onkundig vanweë sy fokus op die materiële wêreld en dit lei tot slegte karma en eindelose reïnkarnasie. Vlgs die Skrif is die mens nie goddelik nie, maar juis van God vervreemd a.g.v. persoonlike skuld vanweë opstandige rebellie teen God wil en bedoeling vir ons menswees. Ten diepste is die Hindoeïsme gebou op presies dieselfde leuen waarmee die satan die eerste mensepaar mislei het: “jy sal soos God wees” (Gen 3:5).

c) Verlossing: In Hindoeïsme moet die mens homself verlos van reïnkarnasie. Vlgs die Skrif reik God na die mens uit en versoen Hý man-alleen die mens met Homself deur Homself te offer!! (2 Kor 5:17-21). Genade beteken nie net vergifnis & vryspraak nie. God se heiligheid éís dat die mens se skuld & sonde betaal moet word alvorens vryspraak verkry kan word (Rom 3:20ev). Hoe helder is die blye evangelie: God het uit vrye genade die offer gebring in Sy Seun wat mens geword het sodat ware vergifnis deur geloof ontvang kan word en alle skeidingsmure tussen ons en Hom afgebreek is (Efes 2: 1-10).


d) Afgodery en demone: Die “lewe” wat Hindoes in hulle tempels en heiligdomme in hulle huise ervaar wanneer hulle aan gode offer, is ‘n werklikheid, maar die bron daarvan is demonies en nie goddelik nie! In werklikheid skuil daar demone agter elkeen van hierdie gode (1 Kor 10:20). Dit is die demone wat die eer & aanbidding ontvang. Wanneer Hindoes tot Christus bekeer moet hulle bevryding ontvang van bose geeste en telkens manifesteer die demone met die name en liggaamsposisies wat die bepaalde gode het. By Hindoes kry ‘n mens dus baie erge vorme van duiwelbesetenheid juis omdat hulle hulself so blatant aan demone oopstel (veral deur Joga en meditasie).

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)