Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG BYBELSKOOL 2010

GODSDIENSTE EN KULTUSSE NO 2

Boeddisme

Streng gesproke is Boeddisme nie ‘n godsdiens nie, maar ‘n filosofiese lewenskode waarin geen godheid enige rol speel nie. Boeddisme leer dat die bron van blydskap (nirvana) binne in die mens self geleë is. Die begrip “buddhi” beteken “om te ontwaak”. Siddartha Gotama was ‘n Nepalese prins wat 500 jaar vC geleef het en soekende was na die sin vd lewe. Hy het besef dat materiële dinge nie ware geluk waarborg nie en wou die sleutel tot lewensgeluk ontdek. Hy het lewensbeginsels ontwikkel het en sélf tot “ontwaking/verligting” gekom. Hy was dus die eerste Boedda. Hy was nie ‘n god nie, hy was slegs ‘n leermeester wat “waarheid” (dhamma) vanuit eie ondervinding aan ander geleer het. Boeddiste aanbid nie beelde van Boedda nie, maar buig in die rigting van hierdie beelde uit dankbaarheid/respek vir sy leerstellinge. Die doel van die beelde is om Boeddiste te herinner aan wat Boedda geleer het en hulle aan te spoor om innerlike liefde & vrede te ontwikkel.

Boeddisme wen groot veld onder westerlinge van wie baie ontnugter is met die sinneloosheid van ‘n gejaag na materiële dinge. Hulle vind in Boeddisme ‘n rus en ‘n lewenskode wat help om innerlike vrede (nirvana) te ondervind. Boedda het baie klem daarop gelê dat materiële dinge nie geluk waarborg nie. Die Boeddisme is ook verdraagsaam teenoor ander godsdienste – geen sendingwerk word gedoen nie, niemand buite die Boeddisme gaan “verlore” nie en geen ander godsdiens word as vals afgemaak nie. Dit maak die Boeddisme baie aantreklik vir mense wat ontnugter is met Christelike kerke en moeg is vir konflik en wrywing – veral diegene wat nooit vrede kon vind binne Christelike kerke nie vanweë wanbegrip van wat die Evangelieboodskap behels. Boedda se leringe kan ook in die praktyk getoets word. Boedda het gesê dat niemand sy leringe sonder meer as waarheid hoef te aanvaar nie, maar dat alles eers getoets moet word om te bepaal of dit “werk” of nie. Dit vra begrip, nie geloofsvertroue nie. Daarby draai alles om die méns & selfontwikkeling sonder die “inmenging” van enige godheid. Boedda het geleer dat die oplossing vir probleme in hierdie lewe binne die mens self geleë is – nie van enigiets/iemand buite die mens nie. Daarom bevat Boeddisme nie ‘n vasgestelde stel leerstellinge (dogmas) wat iemand vooraf moet aanvaar om ‘n Boeddis te kan wees nie. Enige individu kan die “waarhede” wat Boedda geleer het, op eie stoom bestudeer, uittoets en op eie manier implimenteer. “Waarhede” wat nie “werk” nie, kan ook goedskiks gelaat word. Dit hang van die individu se keuse af. Boeddisme is dus ‘n manier van lewe wat die mens soos ‘n handskoen pas. Dit is úít die mens, vír die mens.

Die “vier edele waarhede”

EERSTE > Die lewe is lyding/swaarkry/dissatisfaksie: Fisies (pyn, oudword, siekte, dood) en emosioneel (frustrasie, eensaamheid, teleurstelling, woede). Rede: Nie die mens óf wêreld is perfek & blywend nie. Alles is onvolmaak en nie-blywend. Niemand kan enigiets permanent behou nie. Blye oomblikke gaan verby, die mens gaan verby. Die vraag is hoe lyding vermy kan word en ware blydskap verkry kan word – dít is perfeksie (nirvana).

TWEEDE > Lyding word veroorsaak deur die mens se onophoudelike begeertes na dinge wat nie blywend is nie en die illusie dat materiële dinge (ook mense) blydskap gee/nie gee. Behalwe stoflike dinge sluit dit ook nie-konkrete dinge soos idees & gedagtes in. Die oorsaak vir swaarkry is begeerte en najaag van tydelike dinge, strewe om “iets” te wees/bekom/besit. Om te kry wat jy begeer, waarborg nie blydskap nie, want jy verloor een of ander tyd dit wat jy besit. Dit waaraan mense verkleef is, is tydelik en verbygaande. Verlies veroorsaak lyding. Die stryd om te verkry wat jy begeer, moet getemper word, want begeertes beroof ons van tevredenheid en geluk.

DERDE > Lyding kan oorkom word en blydskap en tevredenheid is moontlik d.m.v. nirodha. Nirodha beteken die tot-niet-maak van gehegtheid aan enigiets. Enige vorm van verkleefheid aan enigiets moet vernietig word. Die mens kan dit self doen deur die oorsaak van swaarkry te verwyder. Om geen-begeerte te bereik en te vervolmaak is ‘n proses wat uit verskillende vlakke bestaan maar uiteindelik uitloop op nirvana – vryheid van alle bekommernisse, probleme. Leer om elke dag een dag op ‘n slag te leef – nie te konsentreer op die verlede of toekoms.

VIERDE > Die geleidelike agt-voudige pad van selfverbetering is die weg wat lei tot die beëindiging van swaarkry en lyding. Soos wat hierdie 8-voudige weg bemeester word, verdwyn begeertes en passies (en hul gevolge) gaandeweg.

Die “agt-voudige weg”

EEN: KORREKTE INSIG: Om dinge te sien en verstaan soos dit regtig is (insluitend die 4 edele waarhede). Die nie-permanansie en onvolmaaktheid van alles moet deurgrond word. Korrekte insig vd wêreld sal lei tot korrekte gedagtes en optrede.

TWEE: KORREKTE VERSTANDELIKE EN GEESTELIKE ENERGIE WAT OPTREDE BEPAAL: Hierdie energie kom voort uit wilsbesluit en “commitment” tot selfverbetering, begeertes te weerstaan, welwillendheid, woede weerstaan, skadeloos te wees, medelye ontwikkels ensovoorts.

DRIE: KORREKTE WOORDE: Korrekte etiese optrede begin by wat jy praat. Woorde kan maak of breek.

VIER: KORREKTE LIGGAAMLIK OPTREDE: Verkeerde dade lei tot verkeerde gedagtes.

VYF: KORREKTE VERKRYGING VAN LEWENSONDERHOUD: Verkry jou brood en botter op die regte wettige manier. Vermy handeldryf met wapens, prostitusie, diere (met die doel om geslag te word), slawe. Vermy werk in slaghuise en die vleisbedryf. Vermy die verkoop van gifstowwe soos alkolhol en dwelms.

SES: KORREKTE WILSINSPANNING: Wilsenergie moet gebruik word om te voorkom dat onheilsame toestande posvat en toestande wat alreeds posgevat het te verban. Heilsame toestande moet opgewek en behou word.

SEWE: KORREKTE VERSTANDELIKE HELDERHEID: Om verstandelik dinge te sien soos dit werklik is. Aanvanklike indrukke word blitsvinnig deur die verstand/brein verwerk sodat ‘n mens dikwels met ‘n obskure beeld van die oorspronklike indruk sit. Die verstand moet beheers word d.m.v. bepeinsing/kontemplasie.


AGT: KORREKTE KONSENTRASIE: Die verstand moet leer om slegs op een plek in te fokus naamlik op heilsame gedagtes en dade d.m.v. meditasie.

Die totale leer van Boedda kan opgesom word met een sinnetjie: “Tem die verstand/gedagtes”. Indien die “hart” oorwin kan word, sal die hele lewe verbeter. Japanese ZEN Boeddisme probeer hierdie ideaal verwesenlik deur uiterste dissiplines van konsentrasietegnieke. Alle klem val op die denke wat moet leeg word d.m.v. ure se sit-in-een-posisie, opsê van mantras ensovoorts – alles o.l.v. Zen-meesters.

Wat hierbo beskryf is, is die klassieke THERAVADA Boeddisme wat steeds in groot dele van die wêreld bedryf word. ‘n Meer liberale vorm van Boeddisme, wat wêreldwyd veld wen, is die MAHAYANA Boeddisme wat uit vele verskillende skole en tradisies bestaan en wat makliker maniere van die bereiking van Nirvana ontwerp het. Mahayana behou tot ‘n groot mate die basiese filosofiese grondslae van Theravada, maar is baie meer liberaal en beïnvloed deur ander godsdienste, o.a. die Christelike Geloof. Mahayana wil dit vir álle mense maklik maak om ewige geluksaligheid te verkry – so maklik dat elke mens dié aspekte kan uitkies wat vir hom/haar die beste werk. In Mahayana Boeddisme sal ‘n mens heilige skrifte aantref, mitiese godheid/gode, tempels waarin mense ‘n paar keer per jaar feeste hou ens. Boedda word ook soms vergoddelik en aanbid alhoewel hy self ‘n ateïs was.

n Baie misleidende vorm van Mahayada Boeddisme – wat waarskynlik beïnvloed is deur oosterse vorme van Christendom – is die sg. “Pure Land” tradisie wat soms te same met Zen beoefen word. “Pure Land” leer dat ‘n mens slegs Amitaba Boedda moet vereer om Nirvana te bereik. Amitaba Boedda is ‘n mitiese hemelse boedda wat oneindige perfekte lig bewoon. Slegs deur vertroue op Amitaba te stel, kan jy “ingebore” word in die paradys wat hy bewoon. Amitaba help jou om Nirvana te bereik. Hierdie vorm van Mahayana Boeddisme sal terme soos “genade, geloof, vertroue, wedergeboorte” algemeen gebruik, alhoewel die filosofiese wortel steeds die oorspronklike Boeddisme is.

Evaluering

Vanuit bybelse perspektief is dit duidelik dat die Boeddisme – soos alle nie-Christelike godsdienste & kultusse – ‘n selfverlossings-sisteem is. Die mens is sy eie verlosser sonder om ooit die verlangde ideaal te bereik. Binne die Boeddisme mág die mens homself verlos omdat dit waarvan hy verlos moet word slegs maar lyding is. Bybels gesien is verlossing van buite nodig omdat dit waarvan die mens verlos moet word so groot en diep is: sonde & skuld. Dáárvan kan geen mens homself verlos nie. ‘n Verlosser van buite is nodig. Wat Boeddiste nie besef nie, is dat – a.g.v. die sondeverlorenheid van die mens asook sy korrupte & gevalle natuur, dit onmoontlik is om die 8-voudige weg te volg! Die wáre aard van die mens se ellende maak dit onmoontlik die hart te tem! Pragtige voorskrifte help nie! Daarom dompel die Boeddistiese sisteem die mens in ‘n diepe slawerny: eindelose probeerslae sonder enige sukses. Wie egter die ware menslike nood begin verstaan (Efes 2:1-10) sal die Verlosser, Jesus Christus, sonder meer aangryp. Hoe heerlik bevrydend dat ‘n mens nou reeds met sekerheid kan wéét dat jy die ewige lewe hét: wie die Seun het, hét die lewe (1 Joh 5:12).

© 2018 Designed with ❤ by Web Crew