Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG BYBELSKOOL 2011
DIE DOOP: DEEL 4: STORT OF BAD

Aangaande die metode van doop, was daar deur al die eeue verskil van mening binne die universele kerk – óók vanweë die feit dat die Skrif geen direkte aanduidings gee nie. Alles word dus op afleidings baseer.

Die volgende metodes word deur die eeue gebruik: besprinkeling, begieting en onderdompeling. In die vroeg Christelike kerk is die water dikwels met ‘n bak/kruik oor die dopeling gegiet. Veral waar daar min water beskikbaar was. Argeologiese opbrengste van kunswerke uit die eerste eeue bevat heelwat uitbeeldings van doopplegtighede – veral Johannes die Doper se doop van Jesus word uitgebeeld. By verreweg die meeste word begieting gebruik. Die dopeling staan gewoonlik kniediep in die water en die doper giet die water uit met ‘n bak, kruik of skulp. Indompeling is egter ook dikwels gebruik. In die moderne Grieks-Ortodokse kerk word suigelinge binne ‘n bak geplaas en óf onderdompel óf begiet (die Grieke verstaan baie goed wat die Griekse woord baptizo beteken!). Huidiglik gebruik kerke wat slegs gelowiges doop, onderdompeling as doopmetode. Die meeste van hierdie kerke aanvaar glad nie ander metodes as geldig nie en verwerp die kinderdoop wat met begieting/besprinkeling plaasgevind het asook kinderdoop as sulks.

Kerke wat slegs onderdompeling voorstaan, baseer hul siening gewoonlik op 3 argumente:

a) Die Griekse woord “baptizo” beteken “indompel”. Alhoewel dit die basiese betekenis van die woord is, is dit belangrik om te weet dat dieselfde woord “baptizo” in die NT baie meer soepel gebruik word. Byvoorbeeld in Mark 7:4 word dit gebruik van die reinigingsrituele van die Fariseërs en Luk 11:38 van Jesus se reiniging voor ete. In beide gevalle het die reiniging slegs die hande ingesluit. Die hele liggaam is nie onderdompel nie. Wanneer Jesus na die doop met die Heilige Gees (Pinkster) verwys, gebruik Hy ook die woord baptizo (Hand 1:5). Tog is niemand op Pinksterdag in die Heilige Gees onderdompel nie! ‘n Mens sou dus nie kon sê dat die woord “baptizo” in die NT sonder meer onderdompeling beteken nie.

b) Die feit dat Rom 6: 4-5 & Kolos 2:12 die doop in verband bring met die dood & opstanding van Christus word met die simboliek van “begrawe-word-in-water” in verband gestel – dus begrawe (ondergaan in water) en opstaan (opkom uit water). Hierdie verse trek egter nie ‘n eksplisiete verband tussen doopmetode en doopbetekenis nie. Dis ‘n afleiding wat gemaak word. Daarbenewens moet ‘n mens onthou dat dooies destyds sywaarts in grotte begrawe is en nie afwaarts in die grond nie! Dit is ‘n simboliek wat – goedbedoeld – vanuit óns kultuur in Rom 6 & Kolos 2 ingelees word, maar wat nie daar staan nie.

  1. Die voorbeelde in die NT waar dit lyk of baie water gebruik is (Joh 3:23) of waar beide doper en dopeling afgaan in die water (Hand 8:38-39). Nie in een van hierdie gevalle word daar egter pertinent gesê dat indompeling gebruik is nie. Dis ‘n afleiding wat gemaak word.


Kerke wat hoofsaaklik van besprinkeling of begieting gebruik maak, is gewoonlik baie meer soepel in hul beskouing en keur ook onderdompeling goed en is bereid om iemand d.m.v. onderdompeling te doop indien die persoon dit so verkies. Om praktiese redes word oorgieting egter verkies. Babas sal deurgaans met besprinkeling/begieting gedoop word. Veral vanweë die ryke simboliek van begieting – dink bv aan die wyse waarop die Heilige Gees op Pinksterdag van Bo neergekom het op die kerk.

Daar is veral twee Skrifgedeeltes waaruit afgelei kan word dat daar in die NT kerk ‘n soepelheid was aangaande die metode van doopsbediening:

1) Johannes 3:25: Terwyl Johannes besig was om te doop het daar ‘n woordewisseling ontstaan tussen Johannes se volgelinge en ‘n Jood oor die “reiniging” verwysende na die Joodse ritueel wat in Numeri 8 beskryf word. Johannes se doop het dus dááraan herinner. Volgens Joh 2:6 het Jesus – tydens die bruilof in Kana – beveel dat die kanne wat tydens die Joodse reiniging gebruik word, vol water gemaak moet word. Vir die Joodse reiniging – waaraan Johannes se doop die mense herinner het – is daar dus kanne/kruike gebruik. Die water is dus gegiet. Die afleiding is dat Johannes juis só gedoop het.

2) Handelinge 16:33: “Op daardie uur van die nag het die tronkbewaarder vir Paulus en Silas geneem en hulle wonde gewas. Hy en al sy mense is daar en dan gedoop.” Aangesien hulle in die middel van die nag binne die aardbewinggeteisterde tronk sit en die tronkbewaarder besig is om Paulus-hulle se wonde te was, is die afleiding dat Paulus die tronkbewaarder (en sy huisgesin) met die einste wondewas-water gedoop het (met oorgieting). Onderdompeling sou hoogs onwaarskynlik kon plaasvind.

‘n Mens kan verstaan waarom die NT nie voorskriftelik is t.o.v. doopsmetode nie. Die doop is immers gegee vir die universele kerk van Christus van alle eeue en plekke (katoliek) en daar moet dikwels in woestyne gedoop word, by die pole en in ysige omstandighede en soms waar daar tekort aan water is ensovoorts. Voorskriftelikheid sou prakties onhaalbaar wees.

Belangrikste om te weet is dat die metode van doop ondergeskik is aan die inhoud van die doop. Doop met/in water in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees is ‘n geldige doop. So eenvoudig soos dit. In & deur daardie eenvoudige handeling sê & doen die Here egter iets geweldig: die bloed van Jesus hét jou sondeskuld op die kruis afgewas – weet dit met sekerheid! Dit is die kern-inhoud van alle doop, kinderdoop sowel as belydenisdoop – hóé daar gedoop word en wíé gedoop word – dit is God se handeling waardeur Hy lewenslank aan die gedoopte die versekering gee dat sy/haar sondes op die kruis afgewas is. ‘n Versekering wat eis om hartstogtelik gegló te word.

CategoryDie doop

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)