Erediens Tyd: Sondae 09:30
Woord in Klank
Naweekpos
Youtube
Facebook

TAFELBERG BYBELSKOOL 2011
DIE DOOP: DEEL 3: BLOED TOT WATER

‘n Sterk argument ten gunste van kinderdoop, is dat die “doop in die plek van die besnydenis gekom het”. Bedoelende dat kinders van gelowiges gedoop behoort te word net soos seuntjies in die bedeling vóór Christus se koms besny is. Nêrens in die NT staan daar egter pertinent dat die doop die besnydenis vervang nie. Dis ‘n afleiding wat gemaak word. Die mees prominente teks vanwaar dit afgelei word, is Kolos 2: 11-12 (lees dit). In hierdie verse sê die Apostel dat ‘n gelowige die éíntlike betekenis van die besnydenis by die doop ontvang het. Die ”wegsny van die ou lewe wat in diens van sonde gestaan het” is inhoudelik wat die besnydenis beteken het en juis dit het die gelowige by die doop ontvang. Dit impliseer dat die betekenisse van besnydenis en doop met mekaar verband hou alhoewel dit nie direk sê dat die een die ander vervang nie.

Wat presies word daarmee bedoel dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het? Kom ons sê eers wat dit níé beteken nie. Dit beteken nie dat iemand (soos die apostel Petrus) op ‘n bepaalde dag ‘n aankondiging (op gesag van God) gemaak het dat die besnydenis van dié dag af nie verder in gebruik sal wees omdat die doop dit vervang het nie. Só het die dinge nie in die vroeë kerk gebeur nie. Daar was ‘n geleidelike oorgang van een na die ander wat met baie verskille en onsekerheid gepaard gegaan het. Dink maar aan die vroeë Christene se houding teenoor die tempel. Vir baie lank het hulle nog getrou die tempel besoek. Dieselfde geld vir die pynlike oorgang van die Saterdagsabbat na die Sondagviering. Tot in die 3de eeu was daar nog Christene uit die Jode wat beide dae gevier het. Veral omdat die NT nie veel leiding hieroor gee nie. Ons sou ook kon noem die deelname van vroue aan die nagmaal, want in die OT het slegs mans die Pasga gevier. Nêrens in die NT lees ons van die definitiewe toetrede van vroue tot die nagmaal nie. Die doop-besnydenis kwessie is maar net nóg ‘n voorbeeld van hoe geleidelik die oorgang plaasgevind het.

Gaandeweg het die vroeë kerk egter die geestelik-teologiese verband tussen die besnydenis en doop begin verstaan en dít is die belangrike ding wat ons moet raaksien. As ‘n mens die betekenis van die besnydenis vergelyk met die doop se betekenis, word dit duidelik dat die doop in die NT-kerk die funksie vervul wat die besnydenis in die bedeling vóór Christus se koms vervul het. Eerstens pas beide in by die werkswyse van God deur alle eeue (sien vorige twee lesings). Dat beide as sakramente funksioneer, is ‘n feit. Beide sertifiseer die verlossing wat God gee – die einde van ‘n lewe in sonde en die opstaan in ‘n nuwe lewe (Kolos 2: 11-12). Tweedens was dit belangrik dat die vloei van bloed beeïndig moes word ná Christus se kruisdood. Net soos die offers beeïndig is. Die bloed van die besnydenis het vooruitgewys na Christus se bloed wat sou vloei. Die water vd doop dui op die vrug van Christus se bloedstorting naamlik die reiniging van sonde wat op die kruis plaasgevind het.

Die vraag is of kindertjies van gelowiges in die NT nog steeds ingesluit is by God se heilsbelofte? Die feit dat daar ‘n duidelike verband tussen besnydenis en doop is, beteken nie dat – omdat die besnydenis aan kindertjies van 8 dae oud bedien was – dit sonder meer ook in die bedeling ná Christus se koms gedoen moet word nie. Daar is nêrens só ‘n opdrag in die NT nie. Aan die ander kant is daar ook nie ‘n opdrag dat die insluiting van kindertjies – nadat dit duisende jare binne God se verbondsvolk die geval was – tot ‘n einde moet kom nie! Hoe dan nou gemaak? Hoe moet die kindertjies van gelowiges binne gemeenteverband gesien word? Moet hulle “ingeseën” word? Moet daar vir hulle gebid word? Ook híérvoor is daar geen opdrag of voorbeeld in die NT nie. Moet hulle gesien word as heidene, buite Gods verbond? Die NT gee min leiding in hierdie verband. Ons sal afleidings moet maak.

a) Volgens 1 Kor 7:14 is gelowiges se kindertjies “heilig” dit beteken “opsy gesit vir God”. Dit beteken dat hulle binne die invloedsfeer van die Heilige Gees is a.g.v. hul godvresende ouer(s).

b) In Efes 6 spreek Paulus ook die kinders aan wanneer hy ‘n brief aan die gemeente skryf. Hulle was dus deel van die gemeente.

c) Volgens Hand 2:38 is die belofte van die evangelie ook vir gelowiges se kinders bedoel. Afleiding? Daar is nie ‘n verskil met hoe dit in die bedeling vóór Christus se koms was nie.

d) In Hand 16:15 staan dit duidelik dat Lydia se huismense saam met haar gedoop is terwyl dit slegs sy alleen was wat tot geloof gekom het. Ons lei dus af dat iets van die verbondstruktuur van die OT-bedeling behoue gebly het.

Konklusie: Gesien in die lig van die feit dat die doop in die NT-kerk die funksie vervul wat die besnydenis in die bedeling vóór Christus se koms vervul het en dat kindertjies van gelowiges steeds ingesluit is by die heilsbelofte, lei ons af dat dit geoorloof is om die doop aan sulke kindertjies te bedien waardeur God aan hulle waarborg dat die dood & opstanding van Christus werklik hulle verlossing is en dat hulle dit hartstogtelik mag glo en na Hom keer.

CategoryDie doop

© 2020 Tafelberg Gemeente (Dolerend)